United States United States
Search:   
Magazines
Tandemsprong na die dood
Tandemsprong na die dood
Jaco Hough-Coetzee


HULLE wou die meeste uit die laaste Saterdag van hul vakansie haal. Toe besluit Sam Samuels en sy vrou, Jo-Ann, daardie oggend op die ingewing van die oomblik om Graskop toe te ry en die Big Swing-kabelswaai in Panoramakloof te gaan beproef.

Die gogga om aan ’n kabel oor duiselingwekkende hoogtes te swaai, het hulle maande tevore gebyt toe hulle hul eerste tandemsprong in Margate in KwaZulu-Natal uitgevoer en ’n sertifikaat huis toe gebring het. Die paartjie wou weer die adrenalien deur hul are voel bruis . . .

Dit was hul laaste kans voor hulle Maandag moes teruggaan werk toe – Sam (28) na die 7 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon in Phalaborwa en Jo- Ann (29) na haar onderwyspos by die Hoërskool Frans du Toit op die dorp. Maar toe word die dag wat hulle met soveel geesdrif aangepak het, nie net hul laaste vakansie-Saterdag saam nie, maar ook hul heel laaste dag saam – want sekondes nadat hulle hand om die lyf van die Big Swing-platform afgespring het, het iets verskrikliks skeefgeloop.

Drie uur later het paramedici Jo-Ann se lyk uit die kloof gehaal en ’n erg beseerde Sam na die Medi-Clinic in Nelspruit geneem. “SY WAS my engel; sy sal altyd my engel bly,” sê Sam drie dae later uit sy bed in die hoësorgeenheid van die hospitaal.

Hy praat moeisaam. Sy een arm is gebreek, sy ribbes is gekraak en sy lyf is vol beserings. As hy praat oor sy vrou met wie hy drie jaar lank getroud was, loop die trane vrylik oor sy wange. Op party vrae skud hy net sy kop terwyl hy op sy lip byt. Hulle was die dag baie opgewonde, onthou hy.

Hulle was albei buitelugmense, lief vir avontuur, altyd reg om nuwe dinge te ervaar en onbekende plekke te verken. “Ons het altyd alles saamgedoen. Ek en Jo-Ann het voluit gelewe. Maar elke keer as ons in ons karretjie geklim het, het ons die Here saam met ons geneem.”

Dit was bewolk toe hulle vroeg die oggend in Graskop vir koffie en pannekoek stilhou, maar nie eens die weer kon hul geesdrif demp nie. Teen elfuur het die mistigheid opgeklaar en Sam en Jo- Ann is na Panoramakloof buite die dorp. “Dit was ’n pragtige oggend.

Elke oggend wat ek saam met Jo-Anntjie kon wees, was vir my pragtig,” sê Sam. “Die personeel by Big Swing het ons gewys hoe dit werk en wat om te doen. Toe gespe hulle ons saam in die tandemharnas vas en maak vir oulaas seker alles is vas wat moet vas wees.” Sam onthou hoe hulle langs mekaar agteroor van die stellasie afgespring het.

Onder hulle het die kloof 70 m ver gelê. “Ons was deur die eerste lang swaai. Dit is al wat ek kan onthou van die sprong. Dis al. Toe lê ons onder in die kloof, nog vas in die harnas. “Jo-Anntjie het . . .’’ Hy bly stil, kyk weg. Dit neem ’n rukkie voor hy weer sy emosies kan beheer.

“Jo-Anntjie het nog in my arms gelê . . . daar was bloed orals . . . sy het nie gepraat nie. Ek het na haar geroep, maar sy het niks gesê nie.” Sam het mond-tot-mondasemhaling op haar toegepas. “Dit is al wat ek kon doen. Dit is al wat ek kan onthou. Al waaraan ek gedink het, is dat sy oukei moet wees,” sê hy.

Reddingswerkers moes ’n pad deur die digte plantegroei na hulle oopkap. Drie uur later het hulle Sam en Jo-Ann met draagbare teen die helling van die kloof uitgesleep na die wagtende noodhelikopter. “Ek het vir hulle gesê om haar eerste uit te vlieg, want sy is die ergste beseer,” onthou Sam. “Maar toe vat hulle my eerste.

“Ek het eers in die helikopter weer gepraat. Ek het die paramedikus gevra hoe dit met haar gaan. Toe sê hy . . . sy het dit nie oorleef nie.” Luke Martin, hoof van die provinsiale ambulansdiens in Nelspruit, was deel van die reddingsoperasie.

Dit was ’n baie moeilike en gladde gebied, vertel hy. Toe hulle onder kom, was Jo-Ann reeds dood, maar Sam was by sy bewussyn. “Ons kon dadelik sien dit was ’n baie ernstige ongeluk. In daardie stadium wou ons nie die beseerde man verder traumatiseer nie: Daarom het ons nie toe vir hom vertel sy vrou is dood nie.”

Die polisie ondersoek die voorval. Vermoedelik het iets met een van die katrolle skeefgeloop, want die kabels het nie gebreek nie. Hy is nie kwaad of verbitterd oor die ongeluk nie, net hartseer, sê Sam. “Ek mis haar ontsettend baie . . .” Die paartjie het mekaar in 2002 in Potchefstroom ontmoet. Jo-Ann het onderwys gestudeer en Sam het pas by die weermag begin werk.

Dit was liefde met die eerste oogopslag, vertel hy. Hulle het in 2005 verloof geraak en is die volgende jaar in haar tuisdorp, Klerksdorp, getroud. “Sy het soos ’n engel gelyk,” onthou hy hul troudag. Hy vind nou troos by die Here en by die personeel van die Medi-Clinic “sonder wie ek nie deur hierdie ding sou kon kom nie”.

En vriende ry elke dag van so ver as Klerksdorp, Potchefstroom, Pretoria en Phalaborwa na Nelspruit om hom te ondersteun. Die vrouetydskrif Sarie het in Augustus vanjaar op hul webtuiste ’n liefdesgedig geplaas wat Jo-Ann vir Sam geskryf het: Toe ek jou ontmoet, het ek geweet die Vader is goed.

Veiligheid is die gevoel wat jy by my wek, ons het so baie lawwe tye – mense dink ons is gek. Ek soen jou en druk jou, my sielsgenoot, styf; prins van my drome. Styf teen my lyf. Sam onthou Jo-Ann as ’n wonderlike mens. “Sy was uniek in alles wat sy gedoen het. En sy sal altyd my engel bly. Altyd.

“Ek weet Jo-Ann is vandag in die hemel. Die Here het met haar ’n doel op aarde gehad; dit wat sy vir Hom hier moes doen, dit het sy gedoen. Daarom kon sy nou gaan. “Maar ek . . . ek moet nog iets vir die Here doen. Daarom is ek nog hier.”

-Die eienaars van Big Swing wou nie kommentaar lewer op die voorval nie.

HOE VEILIG KAN JY SWAAI OF SPRING?

Maatskappye wat hierdie waaghalsige sportsoorte aanbied, moet almal aan internasionale veiligheidsreëls en -regulasies voldoen, sê Kobus Kruger, die eienaar van Bungee Mogale in Krugersdorp. “Omdat elke terrein verskil wat ligging en struktuur betref, moet veral die toerusting aan internasionale standaarde voldoen,” verduidelik hy. Tog is daar geen beheerliggaam wat toesien dat alles reg verloop en reëls nagekom word nie. Hier is ’n paar wenke vir voornemende waaghalse voor hulle ’n reksprong of kabelswaai aanpak:

• Moenie skaam wees nie. Vra die operateurs uit oor hul veiligheidsmaatreëls.

• In die verlede is rekspronge uitgevoer met net een kabel om die enkels. Deesdae word die springers met minstens twee kabels vasgemaak – een om die enkels én een aan ’n harnas om die lyf vir ingeval hul voete tydens ’n reksprong loskom. Die goue reël vir rekspronge of swaaitoue is dat daar altyd ekstra veiligheidsmaatreëls moet wees.

• Lees die vrywaringsvorm aandagtig deur voor jy dit teken. “Baie mense teken sommer net, sonder om regtig te lees wat daar staan,” waarsku Kobus. By Bungee Mogale is die maksimum gewig byvoorbeeld 120 kg en geen kinders onder 14 jaar word toegelaat nie. “Vra as jy onseker is oor medisyne wat jy gebruik of as jy ’n nek-, heup- of rugprobleem het.”

• Vertrou jou instink en moenie bang wees om om te draai as jy onseker is nie. “As jy by ’n plek aankom en jy voel nie gemaklik nie, draai eerder om en stap weg. Voorsorg is altyd beter as nasorg,” sê Kobus.