
Jaco Hough-Coetzee
HULLE wou die meeste uit die laaste Saterdag van hul vakansie haal. Toe besluit Sam Samuels en sy vrou, Jo-Ann, daardie oggend op die ingewing van die oomblik om Graskop toe te ry en die Big Swing-kabelswaai in Panoramakloof te gaan beproef.
Die gogga om aan ’n kabel oor duiselingwekkende hoogtes te swaai, het hulle maande tevore gebyt toe hulle hul eerste tandemsprong in Margate in KwaZulu-Natal uitgevoer en ’n sertifikaat huis toe gebring het. Die paartjie wou weer die adrenalien deur hul are voel bruis . . .
Dit was hul laaste kans voor hulle Maandag moes teruggaan werk toe – Sam (28) na die 7 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon in Phalaborwa en Jo- Ann (29) na haar onderwyspos by die Hoërskool Frans du Toit op die dorp. Maar toe word die dag wat hulle met soveel geesdrif aangepak het, nie net hul laaste vakansie-Saterdag saam nie, maar ook hul heel laaste dag saam – want sekondes nadat hulle hand om die lyf van die Big Swing-platform afgespring het, het iets verskrikliks skeefgeloop.
Drie uur later het paramedici Jo-Ann se lyk uit die kloof gehaal en ’n erg beseerde Sam na die Medi-Clinic in Nelspruit geneem. “SY WAS my engel; sy sal altyd my engel bly,” sê Sam drie dae later uit sy bed in die hoësorgeenheid van die hospitaal.
Hy praat moeisaam. Sy een arm is gebreek, sy ribbes is gekraak en sy lyf is vol beserings. As hy praat oor sy vrou met wie hy drie jaar lank getroud was, loop die trane vrylik oor sy wange. Op party vrae skud hy net sy kop terwyl hy op sy lip byt. Hulle was die dag baie opgewonde, onthou hy.
Hulle was albei buitelugmense, lief vir avontuur, altyd reg om nuwe dinge te ervaar en onbekende plekke te verken. “Ons het altyd alles saamgedoen. Ek en Jo-Ann het voluit gelewe. Maar elke keer as ons in ons karretjie geklim het, het ons die Here saam met ons geneem.”
Dit was bewolk toe hulle vroeg die oggend in Graskop vir koffie en pannekoek stilhou, maar nie eens die weer kon hul geesdrif demp nie. Teen elfuur het die mistigheid opgeklaar en Sam en Jo- Ann is na Panoramakloof buite die dorp. “Dit was ’n pragtige oggend.
Elke oggend wat ek saam met Jo-Anntjie kon wees, was vir my pragtig,” sê Sam. “Die personeel by Big Swing het ons gewys hoe dit werk en wat om te doen. Toe gespe hulle ons saam in die tandemharnas vas en maak vir oulaas seker alles is vas wat moet vas wees.” Sam onthou hoe hulle langs mekaar agteroor van die stellasie afgespring het.
Onder hulle het die kloof 70 m ver gelê. “Ons was deur die eerste lang swaai. Dit is al wat ek kan onthou van die sprong. Dis al. Toe lê ons onder in die kloof, nog vas in die harnas. “Jo-Anntjie het . . .’’ Hy bly stil, kyk weg. Dit neem ’n rukkie voor hy weer sy emosies kan beheer.
“Jo-Anntjie het nog in my arms gelê . . . daar was bloed orals . . . sy het nie gepraat nie. Ek het na haar geroep, maar sy het niks gesê nie.” Sam het mond-tot-mondasemhaling op haar toegepas. “Dit is al wat ek kon doen. Dit is al wat ek kan onthou. Al waaraan ek gedink het, is dat sy oukei moet wees,” sê hy.
Reddingswerkers moes ’n pad deur die digte plantegroei na hulle oopkap. Drie uur later het hulle Sam en Jo-Ann met draagbare teen die helling van die kloof uitgesleep na die wagtende noodhelikopter. “Ek het vir hulle gesê om haar eerste uit te vlieg, want sy is die ergste beseer,” onthou Sam. “Maar toe vat hulle my eerste.
“Ek het eers in die helikopter weer gepraat. Ek het die paramedikus gevra hoe dit met haar gaan. Toe sê hy . . . sy het dit nie oorleef nie.” Luke Martin, hoof van die provinsiale ambulansdiens in Nelspruit, was deel van die reddingsoperasie.
Dit was ’n baie moeilike en gladde gebied, vertel hy. Toe hulle onder kom, was Jo-Ann reeds dood, maar Sam was by sy bewussyn. “Ons kon dadelik sien dit was ’n baie ernstige ongeluk. In daardie stadium wou ons nie die beseerde man verder traumatiseer nie: Daarom het ons nie toe vir hom vertel sy vrou is dood nie.”
Die polisie ondersoek die voorval. Vermoedelik het iets met een van die katrolle skeefgeloop, want die kabels het nie gebreek nie. Hy is nie kwaad of verbitterd oor die ongeluk nie, net hartseer, sê Sam. “Ek mis haar ontsettend baie . . .” Die paartjie het mekaar in 2002 in Potchefstroom ontmoet. Jo-Ann het onderwys gestudeer en Sam het pas by die weermag begin werk.
Dit was liefde met die eerste oogopslag, vertel hy. Hulle het in 2005 verloof geraak en is die volgende jaar in haar tuisdorp, Klerksdorp, getroud. “Sy het soos ’n engel gelyk,” onthou hy hul troudag. Hy vind nou troos by die Here en by die personeel van die Medi-Clinic “sonder wie ek nie deur hierdie ding sou kon kom nie”.
En vriende ry elke dag van so ver as Klerksdorp, Potchefstroom, Pretoria en Phalaborwa na Nelspruit om hom te ondersteun. Die vrouetydskrif Sarie het in Augustus vanjaar op hul webtuiste ’n liefdesgedig geplaas wat Jo-Ann vir Sam geskryf het: Toe ek jou ontmoet, het ek geweet die Vader is goed.
Veiligheid is die gevoel wat jy by my wek, ons het so baie lawwe tye – mense dink ons is gek. Ek soen jou en druk jou, my sielsgenoot, styf; prins van my drome. Styf teen my lyf. Sam onthou Jo-Ann as ’n wonderlike mens. “Sy was uniek in alles wat sy gedoen het. En sy sal altyd my engel bly. Altyd.
“Ek weet Jo-Ann is vandag in die hemel. Die Here het met haar ’n doel op aarde gehad; dit wat sy vir Hom hier moes doen, dit het sy gedoen. Daarom kon sy nou gaan. “Maar ek . . . ek moet nog iets vir die Here doen. Daarom is ek nog hier.”
-Die eienaars van Big Swing wou nie kommentaar lewer op die voorval nie.
HOE VEILIG KAN JY SWAAI OF SPRING?
Maatskappye wat hierdie waaghalsige sportsoorte aanbied, moet almal aan internasionale veiligheidsreëls en -regulasies voldoen, sê Kobus Kruger, die eienaar van Bungee Mogale in Krugersdorp. “Omdat elke terrein verskil wat ligging en struktuur betref, moet veral die toerusting aan internasionale standaarde voldoen,” verduidelik hy. Tog is daar geen beheerliggaam wat toesien dat alles reg verloop en reëls nagekom word nie. Hier is ’n paar wenke vir voornemende waaghalse voor hulle ’n reksprong of kabelswaai aanpak:
• Moenie skaam wees nie. Vra die operateurs uit oor hul veiligheidsmaatreëls.
• In die verlede is rekspronge uitgevoer met net een kabel om die enkels. Deesdae word die springers met minstens twee kabels vasgemaak – een om die enkels én een aan ’n harnas om die lyf vir ingeval hul voete tydens ’n reksprong loskom. Die goue reël vir rekspronge of swaaitoue is dat daar altyd ekstra veiligheidsmaatreëls moet wees.
• Lees die vrywaringsvorm aandagtig deur voor jy dit teken. “Baie mense teken sommer net, sonder om regtig te lees wat daar staan,” waarsku Kobus. By Bungee Mogale is die maksimum gewig byvoorbeeld 120 kg en geen kinders onder 14 jaar word toegelaat nie. “Vra as jy onseker is oor medisyne wat jy gebruik of as jy ’n nek-, heup- of rugprobleem het.”
• Vertrou jou instink en moenie bang wees om om te draai as jy onseker is nie. “As jy by ’n plek aankom en jy voel nie gemaklik nie, draai eerder om en stap weg. Voorsorg is altyd beter as nasorg,” sê Kobus.

Lucia Swart-Walters
TOE hulle ’n advertensie vir ’n surrogaat-ma plaas, het hulle vas geglo dat hul jare lange droom om ’n kind saam te hê uiteindelik bewaarheid gaan word. Op 46 het Doret Botha, ’n tipe 1-diabeet, se ouderdom en gesondheid teen haar getel, maar sy wou steeds verskriklik graag vir Leon – met wie sy vyf jaar gelede getroud is – sy eie kind gee.
Toe Claudine du Randt die advertensie lees en instem om die baba vir hulle te dra, het sy gedink sy gee die Bothas die grootste geskenk denkbaar. Maar nou is sy ses maande swanger en pleks daarvan dat dit ’n verhaal met ’n gelukkige einde is, het dit vir haar én die voornemende ouerpaar in ’n nagmerrie ontaard.
‘‘Ek het eers ná die inseminasie besef ek het met my eie eiersel swanger geraak,’’ sê Claudine, ’n 23-jarige ma in ’n lesbiese verhouding in haar huis in Thabazimbi. ‘‘Ek is nie ten volle oor die proses ingelig nie. Ek gaan beslis nie my kind weggee nie,’’ sê sy terwyl sy beskermend oor haar boepie vryf. By hul huis in Pretoria is die Bothas net so geskok en hartseer.
‘‘Ons het die hele proses aan haar verduidelik. Sy het ingestem om haar eiersel vir ons te skenk. Hoe sou ek my man se spermselle dan net so weggee sonder om seker te maak sy verstaan die proses?’’ vra Doret en haar oë skiet vol trane. Albei partye glo hulle is geregtig op die kind. En vasgevang in die middel gee die babameisietjie ’n paar skoppe in Claudine se maag, amper asof sy weet van die storm wat oor haar bestaan losgebars het.
DORET en Leon (38) besit saam ’n vervoermaatskappy, en vandat hul verhouding nege jaar gelede begin het, droom hulle al van ’n kind. ‘‘Ons het ’n dokter gaan spreek en hy het surrogaatskap voorgestel. ’n Hele paar mense was bereid om dit vir ons te doen: Leon se niggie, my susterskind en twee ander.
Maar elke keer het iets voorgeval.’’ Hulle het in Februarie vanjaar besluit om ’n advertensie vir ’n surrogaat-ma in ’n paar plaaslike koerante te plaas. Claudine, wat die publiek help deur motorlisensies en rybewyse te bekom deur namens hulle te gaan toustaan, het uit blote nuuskierigheid op die advertensie gereageer. ‘‘Ek wou hulle ontmoet en hoor hoe dit werk,’’ sê sy.
Sy het Doret en Leon in die Spur in Thabazimbi ontmoet. ‘‘By hulle was nog ’n vrou. Hulle het vir my gesê sy is ’n ginekoloog en ’n geregistreerde vroedvrou.’’ Nee, sê Doret, hulle het Claudine nooit onder die indruk gebring dat die vroedvrou ’n ginekoloog is nie. Sy is ’n sielkundige.
‘‘Ons was vooraf by die maatskaplike dienste en het uitgevind hoe ons met surrogaatmoederskap te werk moet gaan. ‘‘Hulle het ons aangeraai om Claudine te laat evalueer om seker te maak sy sien kans om die kind ná die geboorte vir ons te gee vir aanneming. Aangesien die vroedvrou ook ’n geregistreerde sielkundige is, het ons haar saamgevat om met Claudine te praat.
Sy het ons verseker Claudine verstaan die proses en is ’n geskikte surrogaat- ma.’’ Met die ontmoeting is aan Claudine verduidelik sy sou die biologiese ma wees, hou Doret vol, maar Claudine ontken dit. ‘‘Ek het verstaan hulle sou Doret se bevrugte eiersel in my inplant.’’ Claudine het haar ovulasiesiklus gemonitor en vir Doret laat weet sy is reg vir die inseminasie.
‘‘Ek het verstaan dit sou in ’n hospitaal gedoen word en was baie verbaas toe ons by die vroedvrou se huis stilhou,’’ vertel Claudine. Sy het op ’n bed gaan lê en die vroedvrou het ’n spuit met Leon se semen gevul en in haar leeggemaak. ‘‘Eers nadat die semen ingespuit is, het ek besef iets is nie reg nie.
Ek het vir Doret gevra hoe haar eiersel dan in die spuit gekom het. Toe eers het ek besef wat hulle beplan,’’ sê Claudine. Doret skud haar kop. ‘‘Ons het nooit vir haar gesê ons gaan na ’n hospitaal toe nie. Sy het geweet wat ons gaan doen. Sy weet hoe werk die blommetjies en die bytjies. Ons het voor die tyd vir haar verduidelik dit gaan haar eiersel wees,’’ hou sy vol. Claudine het al ’n paar dae tevore ’n kontrak met die egpaar onderteken.
Sy sê sy was onder die indruk daarin word gesê Doret se eiersel sal gebruik word, maar erken sy het dit nie gelees nie. Marius Botha, ’n prokureur wat later na die kontrak gekyk het, sê die kontrak bepaal dat die voornemende pa se sperm gebruik sal word en die voornemende ma, Doret, se eiersel.
“Maar die kontrak is gebrekkig,” sê hy. Claudine erken sy het ’n fout gemaak om nie die kontrak te lees nie. ‘‘Ek was dom; ek erken dit. Maar ek sou dit nooit onderteken het as ek geweet het ek teken my kind weg nie. ’n Kind is ’n geskenk van God, nie iets wat ’n mens net weggee nie.’’ Sy kyk hoe haar driejarige seun, Dyllan, op die gras voor haar en haar vriendin se huis speel.
‘‘Ek wou hulle help deur net ’n kind vir hulle te dra. Ek het nie besef ek gaan my eie kind moet weggee nie.’’ Al het sy besef ‘‘iets is fout’’, het sy haar nog drie keer met Leon se semen laat ‘‘inspuit’’. ‘‘Ek het aangehou om dit te doen, want ek was bang omdat ek die kontrak onderteken het.’’
Sy het nie geweet of sy nog kon kop uittrek nie. ‘‘Ek het ’n fout gemaak, ’n fout waarvoor ek nou duur betaal,’’ sê sy nou en knip haar oë om die trane te keer. Sy het in Mei swanger geword. Sy en Doret het in verwondering saam gelag en gehuil. ‘‘Toe ek uitvind Claudine is swanger, het ek dadelik die kind my eie gemaak.
Ek was so opgewonde,’’ verduidelik Doret. In die kontrak het hulle ooreengekom om vir Claudine se kraamdrag en die bevalling te betaal. Hulle het ook by drie geleenthede vir haar R2 000 as geskenk gegee.
Die verhouding tussen haar en die Bothas was aanvanklik goed, tot Claudine vir haar seuntjie verduidelik het sy moet die baba wat in haar maag is, weggee. ‘‘Ek het skielik besef ek kan dit net nie doen nie. Ek kan nie my kind weggee nie.’’ Claudine het by ’n prokureur gaan aanklop en dié het Doret laat weet Claudine gaan die kind hou. Doret was verpletter. ‘‘Ek kon dit nie glo nie. Ek was heeltemal verslae,’’ vertel sy.
Die Bothas het op hul beurt ook ’n prokureur gaan spreek. ‘‘Ek sal eerder doodgaan voor ek toelaat dat Claudine die kind hou. Dis óns kind. “Net so min as wat ons ewe skielik ná die kind se geboorte kan besluit ons wil die kind nie meer hê nie, net so min kan sy skielik besluit sy wil nie meer die kind vir ons gee nie. “Dis my man se spermsel – dit is ons kind,’’ herhaal Doret driftig.
CLAUDINE het al ’n babakamer ingerig in die huis wat sy met haar maat van die afgelope sewe jaar, Simoné van Huyssteen (25), deel. Sy haal die pienk babaklere versigtig uit die laaikas. ‘‘Ek sal tot die uiterste gaan om hierdie kind te behou. Ek het ’n les hieruit geleer. Soms doen die Here drastiese stappe om jou terug te ruk aarde toe. En ek is hard teruggeruk.’’
Hulle gaan die baba Dené noem, vertel Simoné trots. ‘‘En niemand sal haar van ons wegneem nie,’’ voeg sy by. Die Bothas glo op hul beurt weer vas die baba – wat hulle Leoret wil noem – sal by hulle bly. ‘‘Ons wou dit diskreet hanteer, maar nou het dit lelik geraak,’’ sê Leon. ‘‘Al wat ons wou hê, is ons eie kind. En ons sal baklei daarvoor. Ons het ’n bindende kontrak.’’
Doret sê hulle wil bewerings oor Claudine ondersoek en probeer om haar as ’n onbevoegde ma te laat verklaar. ‘‘Ek wil nie hê sy moet Dyllan verloor nie, maar ons sal doen wat ons moet om ons kind te kry. Ek glo die Here sal reg laat geskied in hierdie situasie. Ons los dit nou in Sy hande.’’ Sy is lief vir kinders, sê Doret.
By haar voete speel die 13 maande oue Jerome, of Bokkie, soos hulle hom noem. Hulle is besig om die seuntjie aan te neem en glo hy sal binnekort ’n sussie hê. Claudine gaan net so hard baklei vir haar regte om die kind te hou.
‘‘Ek sal Leon nie toegang tot die kind weier nie. As hy die kind wil sien, sal hy seker ook onderhoud wil betaal en ek sal nie nee sê nie, maar ons kom baie goed reg sonder hul geld,’’ sê Claudine. Albei se prokureurs gaan nou die kontrak na om te kyk aan wie se kant die reg is. En eindelik sal ’n regter soos koning Salomo van ouds moet beslis wie eindelik Dené of Leoret se ouers gaan wees.
MOETS EN MOENIES VAN SURROGAATSKAP
Surrogaat-moederskap kan wetlik ’n turksvy wees en jy moet baie versigtig wees, sê Rina Pienaar, ’n Pretoriase prokureur. “Kunsmatige inseminasie word deur die Wet op Menslike Weefsel gereguleer en alle wetlike vereistes moet nagekom word. Volgens dié wet kan jy nie bloot iemand met ’n ander se semen inspuit nie – dit moet deur ’n wettige mediese praktisyn in ’n geregistreerde instituut gedoen word.’’
Die regte prosedure is nie in Claudine du Randt se geval gevolg nie, sê Rina. “Die surrogaat- ma moet ten volle ingelig word oor die implikasies van die besluit. ’n Prokureur en maatskaplike werker moet aan haar die prosedure en haar regte verduidelik.’’ Sy moet ook vir ’n reeks evalueringsessies by ’n sielkundige gaan om seker te maak sy is goed op die proses voorberei.
“Dit kan nie in een sessie gedoen word nie.’’ Die surrogaat-ma sal ook mediese toetse moet ondergaan om seker te maak sy is gesond. “As sy instem om haar eiersel te skenk, sal haar eierselle ook getoets moet word om te bepaal of dit geskik is.”
Die Wet op Menslike Weefsel bepaal dat niemand betaling vir menslike weefsel – dit sluit eierselle en sperma in – mag ontvang nie. ’n Surrogaat-ma mag wel vir haar verlies aan inkomste tydens die swangerskap vergoed word, en kostes soos medies en kraamdrag mag gedek word. Sy mag ook geskenke van die voornemende ouers ontvang.
“Die beste is dat ’n prokureur ’n waterdigte kontrak opstel wat albei partye beskerm.’’ ’n Ingeligte prokureur moet jou met al die stappe bystaan om te verseker dit word reg en wettig uitgevoer. As die wet nie nagekom word nie, is die kontrak onwettig met regsimplikasies vir al die rolspelers.
As al die partye die kontrak gesluit het terwyl hulle geweet het hulle oortree die wet, kan hulle regsaanspreeklik wees. Veral die vroedvrou kan strafregtelik vervolg word. “Ek sal nie verbaas wees as die hof dit in ’n baie ernstige lig beskou nie. Dis ’n ernstige oortreding en sulke gevalle moet dadelik aangemeld word,” sê Rina.

Lara Atson
BRYAN HABANA staan uitgevat in sy ontwerperspak op die trap van ’n kapel op ’n pragtige landgoed in Centurion. Hy loer kort-kort na sy horlosie. Nee, senuagtig is hy glad nie, sê die blitsige Springbokvleuel vir almal wat vra; net emosioneel.
Vandag is immers sy en sy groot liefde, Janine Viljoen, se troudag. “Going to the chapel and we’re gonna get married,” trek hy los tot groot vermaak van sy vriende wat voor die kapel rondstaan.
“Ek is so opgewonde.” Later is die voormalige internasionale rugbyspeler van die jaar – en een van Suid-Afrika se grootste sporthelde – kamtig kwaai met Percy Montgomery toe dié in ’n wit pak opdaag.
“Net die bruid mag wit dra!” raas hy goedig. Hierdie sonnige Sondag is die volmaakte dag vir ’n troue, veral dié van een van Suid- Afrika se bekendste glanspaartjies.
Die besonderse kapel, met muurskilderye wat Bybelse tonele uitbeeld, is vol roosblare gestrooi. By die ingang brand kerse en die troukoek kruip in die voorportaal onder ’n stuk fyn wit materiaal weg vir al die nuuskierige oë.
Die veiligheidsmaatreëls is streng. Die lede van die veiligheidsmaatskappy ADT, geklee in pers hemde met Bryan en Janine se voorletters daarop, kwyt hulle goed van hul taak. Niemand mag by die landgoed inry nie en selfone en kameras moet in jou voertuig bly.
Van die ingang af word gaste met statige, wit Lexus-motors na die kapel aangery. Die gastelys is indrukwekkend – die Wie’s Wie van die sportwêreld en talle ander bekendes is hier.
Onder die 270 gaste is die Springbok-kaptein, John Smit, talle ander Bokke soos Victor Matfield, Pierre Spies en Morné Steyn, asook die afrigter, Peter de Villiers, wat opgewek buite met Bryan gesels.
Die Blou Bul-senter Wynand Olivier is een van die drie strooijonkers. “Waar’s die ring?” vra die sjarmante bruidegom ewe terloops vir ouboet Bradley, ook ’n strooijonker. Dié lyk ietwat benoud en soek in sy sakke rond voor hy bieg:
Hy’t die ring vergeet by die plek waar hulle vroeër aangetrek het. Bryan lyk raadop, maar Bradley haas hom om die ring te gaan haal.
’n Paar minute later is hy terug en almal slaak ’n sug van verligting. Later wys Bradley die ring met sy diamante vir die hofknapie, Reece de Beer (4), en dié is duidelik beïndruk. “Dis groot!” laat Bryan se peetkind grootoog hoor.
“En dit blink vreeslik.” Van net ná een die middag begin die gaste aankom, terwyl die bruid al van vroegdag af elders op die landgoed onder groot geheimhouding gepamperlang word.
Sy en haar drie strooimeisies, Nadia Beukes, Wilma du Toit en Tina Kruger, het die aand hier deurgebring. Nou wag die gaste opgewonde op haar verskyning.
Bryan en sy gevolg stap die kapel binne om daar op sy bruid te wag. Kort ná halfdrie, ’n goeie halfuur laat, hou die bruidskoets wat deur vier wit perde getrek word, voor die kapel stil. Die sanger Ansua Steyn val weg met die liedjie Finally en die bruidegom en gaste loer kort-kort oor hul skouer.
Die strooimeisies in hul pruimkleurige chiffonrokke loop die kerk een-een binne en die afwagting word vir Bryan te groot. Hy trap ongemaklik rond, maar glimlag darem van oor tot oor. Dan verskyn sy bruid in die deur.
Almal snak hoorbaar na hul asem en Bryan vee ’n traan weg. Janine lyk soos ’n feëprinses en sprankel nes die Swarovski- kristalle op haar spierwit trourok van dupion-sy en ingevoerde Franse koordkant.
Die Johannesburgse ontwerper Biji en haar helpers het drie maande aan hierdie skepping van ongeveer R40 000 gewerk en ook die strooimeisies se pragrokke ontwerp. Die Kaapse modeontwerper Charlene Sauerman het Bryan se ma, Faith, en sy suster, Alycia (22), se deftige rokke gemaak.
Op ’n wit tapyt met kerse wat aan weerskante brand en met wit rose besaai is, stap die fyne Janine haar ma, Freda Herbert, tegemoet, wat haar wit sluier oplig. Toe sy uiteindelik by haar bruidegom kom, fluister Bryan saggies iets vir haar.
En almal weet: Die troue van die jaar het nou amptelik begin . . . DIE bruidspaar staan nie soos gewoonlik met hul rug na hul gaste gedraai nie, maar kyk na hulle terwyl past. Charlotte Cronk roerend oor liefde en eenheid preek.
Sy ken Bryan en Janine al jare lank en hulle noem haar liefderik “Ma”. Dat hulle vandag hier voor die kansel staan, is deel van God se plan, sê sy. Hulle is nou ’n paartjie, weg van hul ouers, en moet hul eie besluite neem.
“Wanneer julle trou, word julle een.” Later sing Bryan en Janine met oorgawe saam met die gaste Hosanna van die groep Hillsong United. Toe hulle hul troubeloftes aflê, kyk hulle diep in mekaar se oë. Bryan beloof eerste ewige trou en raak daarna haastig om die ring aan sy bruid se vinger te steek – tot groot vermaak van die gaste. Maar eers moet Janine haar troubelofte aflê.
En dan breek die oomblik aan waarvan hulle so lank gedroom het: Charlotte verklaar hulle amptelik man en vrou. Hulle soen mekaar innig terwyl die gaste hande klap. Ma Cronk roep die paartjie na die tafel waar sy tydens die seremonie gesit het.
Sy’t ’n geskenk vir hulle – ’n Bybel wat sy maande gelede reeds met die woorde Bryan en Janine Habana laat graveer het.
Voor hulle die huweliksregister teken, breek Bryan vir hulle brood en drink hulle wyn, ’n gewyde nagmaal net vir die bruidspaar. Maar die intieme seremonie is nog nie verby nie.
Faith en Janine se ma, Freda, word na vore geroep waar hulle elkeen ’n kers aansteek en dan nog twee groter kerse om aan Bryan en Janine te oorhandig, waarmee hulle dan saam ’n groot, wit kers aansteek.
Hulle blaas hul onderskeie kerse uit as ’n simbool van twee mense wat pas een geword het. Nou kan die volgende hoofstuk in hul liefdesverhaal begin . . . Toe die bruidspaar die kapel verlaat, reën wit roosblare op hulle neer.
“Mnr. en mev. Habana,” sê Bryan en lag. “Dit klink so mooi!” Nog voor die onthaal sny hulle die pragtige troukoek net daar in die voorportaal van die kapel.
Die koek weeg ’n allemintige 80 kg en is te swaar om rond te dra. Dit bestaan uit vyf lae Amerikaanse sponskoek, waarvan drie met aarbeie en room versier is en die ander twee met Amarula-likeur en sjokoladefudge gegeur is.
Dit het 12 uur gekos om te maak, vertel die meesterbrein agter die koek, Jonathen Kershaw van Le Pâte à Choux.
Terwyl ’n duidelik verliefde Bryan en Janine en hul gesinne vir Huisgenoot se flitsende kameras poseer, beweeg die gaste na ’n reuse markiestent voor die onthaalsaal waar ’n spesiale skemerkelkkroeg ingerig is.
Kelners in pers-en-silwer uitrustings, in pas met die kleurskema van die glanstroue, meng voortdurend skemerdrankies en sit dit voor op silwerskinkborde. Een daarvan, Eternal Bliss Martini, is spesiaal vir die bruidspaar gemaak.
Terwyl die gaste rustig op wit banke en by ronde tafels kuier, sorg die rocker Karen Zoid vir die musiek.
Dan is dit tyd vir die onthaal. Die deure van die onthaalsaal word oopgemaak en die gaste snak weer na hul asem. Dis ’n sprokie van pruimkleurige drapeersel, reuse rangskikkings met wit lelies en rose en kerse wat by die hooftafel brand.
Die sagte beligting van imposante kandelare dra by tot die romantiese atmosfeer.
Die seremoniemeesters, Bryan se pelle Theo Jantjies (Xander van 7de Laan) en Deon Nobrega, sorg soos wafferse skoolmenere dat al die gaste hul sit kry.
Hierna word foto’s uit die bruidspaar se kinderjare op ’n groot skerm vertoon. Skielik verskyn ’n video van Bryan en Janine daarop met ’n spesiale dankieboodskap aan almal wat hul groot dag met hulle meemaak.
“Ons is getroud!” sê Janine opgewonde in die video. “Mnr. en mev. Habana. Uiteindelik!” “I got a feeling . . . ” begin Bryan op die skerm sing voor die Black Eyed Peas se trefferliedjie met dieselfde naam begin speel en die paartjie die saal onder luide applous binnekom.
TERWYL die gaste weglê aan ’n buffet van onder meer oesters, seekos en vichyssoise, is dit tyd vir die toesprake. “Janine, jy lyk waarlik soos ’n prinses, maar eintlik mooier as ’n mens,” sê Freda. Sy vertel hoe Janine altyd briefies en kaartjies vir haar geskryf het. “Jy was 27 jaar lank net vir my ’n plesier.
Jy is ook my beste vriendin, my sielsgenoot, maar ook my gebedsvennoot. Ek het al jou briefies mooi verpak en gee dit graag aan jou en Bryan.
Glo my, julle sal dit geniet. Bewaar dit vir jul kinders. Hulle sal dit beslis ook geniet.” Een van die strooimeisies oorhandig dié spesiale geskenk aan die bruidspaar. Freda draai na haar skoon seun.
“Baie dankie dat jy hierdie mooi dag so spesiaal vir Janine en ons almal gemaak het. Ek wil opreg sê ek het nie vandag ’n dogter verloor nie, maar ’n seun gewen.
Wat God vandag bymekaargevoeg het, kan geen mens skei nie.” Janine bedank namens haar en Bryan hul trouekoördineerder, Juanita Beukes van Event Setters, wat gesorg het dat die dag seepglad verloop.
Janine het self ’n spesiale boodskap vir haar man. “Ek kry vanaand ’n goeie man en ek is baie dankbaar vir hom,” sê sy. “Bryan, ek is lief vir jou.”
Al het hy en die seremoniemeesters heeltyd die gaste laat skater met hul sêgoed, is Bryan ernstig toe hy voor die mikrofoon inskuif. “Wat sê ’n mens as jy ’n nuwe hoofstuk van die gelukkigste tyd van jou lewe begin?
“Vandag het ons afgewyk van ’n paar tradisies. Die kerkdiens was iets unieks, iets wat regtig deel van ons is, iets wat ons wou hê julle almal moet waardeer.” Faith, Alycia en Bradley is almal in trane toe Bryan sy gesin bedank vir alles wat hulle vir hom beteken het.
Hy verklap hoe stresvol dit was om die troue te beplan – veral omdat hy die afgelope nege maande so druk besig met sy rugby was.
Gelukkig het sy ouers hom met die beplanning gehelp. Sy ma het die week voor die troue nog tot laatnag die stoeloortreksels vir die onthaal gemaak.
Vir sy pa, Bernie, sê hy spesiaal dankie vir sy steun die afgelope nege jaar van groot rugby. “Pa, dit was ’n ongelooflike reis. Ek moes grootword, die dinge van die wêreld leer en dit was nie altyd maklik nie, maar ek het iemand van onberispelike karakter gehad om te volg. Iemand van baie unieke statuur was daar om my te lei.
Toe ek nie drieë gedruk het nie, het jy selfs oorsee gevlieg om vir my te kom sê jy is steeds lief vir my, en jy sal altyd daar wees om seker te maak ek word die beste wat ek kan wees,” sê Bryan voor hy weer moet trane afvee.
“Wat jy my geleer het, die man wat ek oor die afgelope 26 jaar geword het, wat jy my gegee het, is iets wat ek nooit sal kan terugbetaal nie. Ek is lief vir jou. Dankie vir al jou liefde en ondersteuning.”
Dan draai hy na die nuwe mev. Habana. “En Janine, my vrou. Jis, dit klink goed,” sê hy onder luide applous. “Interessant genoeg het sy sewe jaar gelede nie veel kennis geneem van my nie. Ek was net ’n normale ou op universiteit wat met ’n pragtige meisie probeer gesels het.
Dit het my twee jaar geneem om haar te beïndruk. Salomo sê in Spreuke: He that findeth a wife findeth a good thing,” sê Bryan. En tydens hul verhouding die afgelope vier jaar en nege maande het hy in Janine die volmaakte mens ontdek. “
’n Goeie vriend het vir my gesê goeie goed kom in klein pakkies. En jy is beslis ’n ongelooflike klein pakkie en jy is so goed en dit het my laat besef jy is die een . . . “Jou prag en skoonheid toe jy vandag by daardie kapel instap op maat van ’n liedjie wat so intiem vir ons albei is, is ’n oomblik wat ek vir die res van my lewe in my hart sal koester.
As ek met woorde moet beskryf hoe jy vanaand gelyk het . . . geen woordeboek in die wêreld sou genoeg woorde hê nie. Jy lyk absoluut pragtig,” sê hy terwyl hy na haar kyk. “Om te weet dat jy die eerste en laaste gesig sal wees wat ek van nou af elke dag gaan sien . . . ” sê hy en sy stem raak weg.
“Jy is regtig ’n prinses en ek wil regtig die res van ons lewe saam jou prins wees, jou opdra aan die Here vir alles wat jy vir my beteken.
Ek is lief vir jou, Janine Habana,” sê hy onder luide applous. Dan laat hy so ewe hoor: “Vat asseblief die mike weg voor ek weer huil!” Dis tyd om die dansbaan te open. Bryan dra Janine op sy skouer na die dansbaan en hulle doen ’n volmaakte dansroetine op maat van Taylor Swift se romantiese liedjie Love Story.
Tot kort ná middernag bly die paartjie saam met hul vriende op die dansbaan. Dan vertrek hulle lughawe toe vir hul wittebrood by ’n geheime bestemming. Maar jy weet sommer: Waar die twee hulle ook al bevind, sal hulle gelukkig wees as hulle net by mekaar kan wees.
MAAK BRYAN EN JANINE SE SKEMERDRANKIE
Bryan en Janine se spesiale skemerdrankie, Eternal Bliss Martini, is nie-alkoholies en kan binne ’n paar minute gemaak word, sê Shai Evian van LiquidChefs. Al wat jy nodig het, is vars rooi druiwe, laventelstroop, vars lietsjies, lietsjiesap, ’n vars lemmetjie en ’n skemerkelkstamper.
Vir een drankie: Kneus met die stamper eers drie druiwekorrels, 25 ml laventelstroop en drie lietsjies. Voeg nog drie lietsjies by, kneus verder en voeg 60 ml lietsjiesap by.
Sny ’n lemmetjie in kwarte en voeg een kwart se sap by die mengsel. Gooi in ’n skemerkelkmenger met ys. Skud tot dit koud is, gooi deur ’n sif in ’n Martini-glas en rond dit met ’n pers lelieblaartjie af.

Annelene Moses, Emma Liwela en Yvonne Beyers
DAAR'S niks besonder meisierigs aan die kamer wat sy in ’n studentehuis op die kampus van die Universiteit van Pretoria deel nie. Dis yl versier en daar is nêrens valletjies of plakkate van sexy ouens nie.
Maar dis ongetwyfeld ’n jong vrou wat snags hier slaap. Die duvet-oortreksel is met blomme versier, ’n sagte tier, ’n hondjie en ’n dodo rus teen die kussing, daar is ’n silwer raam met ’n foto van twee glimlaggende meisies op die boekrak en alles is op sy plek. “Caster hou nie van ’n deurmekaarspul nie,” sê Zintle Sinqe (18), Caster Semenya se kamermaat en ’n mede-atleet by Tuks.
“En sy is dol oor mooi goed. “Sy dra meestal sweetpakbroeke omdat sy altyd oefen, en sy het in gr. 9 laas ’n rok gedra. Maar sy het nou die dag gesê sy wil noupyp-jeans en spykerhakskoene koop en sy wil graag vir ’n manikuur gaan.”
Zintle en haar huismaat die Banyana Banyana-sokkerspeler Simphiwe Dludlu (21) plof op die bed neer.
Hulle trek net hul skouers op oor die opskudding weens die Internasionale Amateuratletiekfederasie (IAAF) se besluit om geslagstoetse op hul 18-jarige vriendin te laat doen. Hulle twyfel immers nie oor haar nie. Maar hulle weet ook dié dinge sal Caster nie koud laat nie.
“Sy is baie sterk, maar sy is net ’n mens,” sê Simphiwe. “Vroeër of later gaan sy huil oor alles wat hulle oor haar sê.” Voor sy Duitsland toe is, het Caster juis vir haar gesê dalk moet sy in klein broekies en ’n bra begin hardloop sodat mense kan sien sy is ’n vrou . . . En al probeer sy mense se opmerkings aflag, hou sy nie daarvan nie. “Sy vind dit baie ontstellend, hoewel sy probeer aanvaar dat mense haar altyd anders sal behandel.
“Ons wil haar net gelukwens en ondersteun,” sê Zintle met ’n glimlag. “Ek gaan vir haar sê: ‘Jy is nou nog meer beroemd as Barack Obama!’ ”
Dalk nou nie heeltemal nie, maar Caster se naam is skielik wêreldwyd op mense se lippe midde-in die grootste sportskandaal wat Suid-Afrika getref het sedert die Zola Budd-affêre. Laas met daardie rampspoedige wedloop in die Olimpiese Spele in 1984 toe Zola oor haar aartsvyand, die Amerikaner Mary Decker, gestruikel en albei se medaljedroom net daar beëindig het, het ’n Suid- Afrikaanse atleet soveel omstredenheid veroorsaak. Suid-Afrikaners het skaars kans gehad om Caster se blitsige oorwinning in die 800 m by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Berlyn te vier voor die drama ontplof het.
Sy word nou deur ’n onseker toekoms in die gesig gestaar. Selfs al slaag sy die IAAF se toetse en kan sy steeds as vroulike atleet deelneem, meen kenners sy sal altyd eerder vir die vrae oor haar geslag onthou word as vir haar talent. Ook Huisgenoot se fotograaf het hom lelik misgis met die atleet met die sterk liggaamsbou, manlike gelaatstrekke en diep stem toe hy haar moes gaan afneem kort ná haar sukses in Mauritius (Blitsig op Pad na Roem, 13 Augustus).
Nadat hy by Tuks iemand om die baan sien oopmaak het, het hy die kantoor gebel. “Daar’s nie ’n vrou hier nie,” het hy gesê, “net ’n ou wat oefen.” Simphiwe erken sy het ook oor Caster se geslag gewonder toe sy haar ontmoet het. “Ek het haar gevra of sy ’n seun of ’n meisie is. Sy het nie beledig gevoel nie; sy verkies om moontlike misverstande uit die weg te ruim.”
Maar vir Zintle is Caster bloot die vrygewige kamermaat en vriendin wat graag pap vir aandete maak, pienk sokkies dra, lekker met Rihanna en Beyoncé saamsing en eerder saam met vriende by die huis kuier as om in Pretoria se klubs te jol.
“Ek het vir haar ’n SMS gestuur nadat sy gewen het, maar ek is nie seker wanneer ek haar weer gaan sien nie,” sê sy. Simphiwe knik. “Toe sy Duitsland toe is, was sy niemand. Nou het alles verander en haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.”
Albei vroue is bekommerd oor hoe hul vriendin die geslagstoetse en al die vrae sal verwerk. “Sy is nie ’n laboratoriumrot nie!” sê Zintle ontsteld. “As sy sê sy is ’n meisie en haar ma sê sy is ’n meisie, dan is sy ’n meisie.
Mense moet haar uitlos.” Pilgrim Gumbi, nog een van Caster se vriende en een van die mansatlete wat saam met haar oefen, sê dis meestal mans wat teen haar diskrimineer. “Hulle voel bedreig omdat sy so ’n goeie atleet is. Ek twyfel nie daaraan dat sy ’n vrou is nie – sy is net ’n superster!”
IN CASTER se tuisdorp, Masetlong in Moletji, Limpopo, praat almal net oor haar. Baie van die dorpenaars het die lang pad na die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Gauteng aangepak om hul meisie ’n heldeontvangs te gaan gee. Die dorp is nou danksy haar bekend, sê hulle, en almal hier het ’n storie oor haar te vertel.
Al stem die dorpenaars saam Caster was nog altyd seunsagtig, is daar geen twyfel dat sy as ’n meisie gebore is nie.
Vra maar net die vroedvrou wat haar in die lewe help bring het. Sy onthou die dag asof dit gister was, vertel Martina Mpati. Sy het die baba gevang, die naelstring geknip en vir haar ma, Dorcas, gesê: “Dis ’n dogtertjie!” Toe het sy haar gewas en haar in haar ma se arms neergelê.
Caster, Dorcas en Jacob se derde dogter, het baie na haar pa gelyk toe sy gebore is. Martina steur haar min aan die herrie oor Caster.
“Dit ontstel ons nie. Daar was nog nooit by iemand enige twyfel dat sy ’n meisie is nie.” Ezekiel Ramahotsoa, Caster se eerste afrigter in Masetlong, sê hy het geweet sy is in ’n klas van haar eie toe hy haar die eerste keer sien hardloop het.
“Sy het saam met ’n seun geoefen omdat dit duidelik was die meisies is nie opgewasse teen haar nie.” Toe begin sy wedlope wen en die reuk van toekomstige glorie het swaar in die lug gehang. Terselfdertyd het haar manlike voorkoms ’n ál groter klippie in die skoen begin word.
“Sy het verlede jaar van ’n toernooi in Botswana af teruggekom en sy was baie ontsteld,” vertel hy. “Die meisies was naar met haar en wou nie in dieselfde slaapsaal as sy slaap nie. Hulle het gesê sy is ’n seun.” Ons vra rigting na die Semenya-gesin se nederige huis. Shirley Rammabi, wat langsaan woon, skerts dat sy nie eens omgegee het om Generations mis te loop om die bus lughawe toe te haal sodat sy Caster kon sien huis toe kom nie.
“Ons is so trots op ons meisietjie,” sê sy. “Die gerugte pla ons nie. Caster het rokke gedra toe ons naweke na die Zion Christian Church toe gegaan het. Dit was eers in haar tienerjare dat sy geweier het om rompe te dra.” Maar dit was van kleins af al duidelik Caster is ’n rabbedoe.
Shirley onthou hoe sy as vyfjarige van die huis af weggedwaal het en ’n paniekbevange Dorcas haar later gekry het waar sy saam met die seuns sokker speel. Seuns was nooit meer as speelmaats vir Caster nie. Paballo Choshi (19), een van haar niggies, sê ouens voel te geïntimideerd om Caster te nader. Makwena Semenya (19), nog ’n niggie, is dalk die een mens wat beter as enigiemand anders weet hoe Caster voel.
Sy het ook manlike gelaatstrekke en sê self sy lyk nie soos ’n tipiese meisie nie. “Mense neem aan ons is seuns,” sê sy. “Ek weet hoe Caster voel; dis ’n gevoel wat ons deel.” Makwena se haarstyl, sweetpakke en seunsagtige houding laat mense dikwels twee keer kyk, en die gevoel dat hulle uitgesonder word, het ’n hegte band tussen die niggies laat ontstaan.
“Ons stel nie op daardie manier in seuns belang nie,” sê Makwena, hoewel sy ook vinnig uitwys dat hulle nie lesbiërs is nie. Daphné Semenya (17), ook ’n niggie, sê Caster het niks van die toetse te vrese nie. Dan voeg sy rondborstig by:
“Sy is ’n meisie; sy het ’n vagina, weet jy. As almal eers die waarheid weet, hoop ons die vrae sal ophou. Dan kan sy weer net hardloop.”
TYDLYN
2006 Op 15 jaar presteer Caster uitstekend by ’n skoolatletiekbyeenkoms in Limpopo. Plaaslike beamptes doen navraag om seker te maak sy is vroulik.
2008 Sy neem aan die Junior Wêreldkampioenskapsbyeenkoms deel en wen ’n goue medalje in die 800 m.
Sy is eerste by daardie jaar se Statebond-jeugspele met ’n tyd van 2:04.23.
31 Julie 2009 Caster verskyn skielik op die internasionale toneel toe sy by die Afrika-Junior Kampioenskapsbyeenkoms in Mauritius die jaar se vinnigste tyd in die 800 m met ’n blitsige 1:56.72 opstel. Die Internasionale Amateuratletiekfederasie (IAAF) vra Suid-Afrikaanse baan-en-veldowerhede om ’n geslagsbevestigingstoets uit te voer. Huisgenoot skryf oor haar kort nadat sy Zola Budd se 25 jaar oue rekord in Bambous, Mauritius, verbeter.
16 Augustus Caster wen haar uitdunne by die Wêreldkam- pioenskapsbyeenkoms in Berlyn.
Haar verstommende opgang van onbekende tiener tot gunsteling in die 800 m gebeur amper oornag. Die IAAF se geslagstoets, wat verskeie weke kan neem, kan nie betyds vir die eindronde voltooi word nie. Morris Gilbert, ’n mediakonsultant vir TuksSport, die Universiteit van Pretoria se sportdepartement, sê die kwessie van Caster se geslag is nooit by die universiteit, waar sy ’n student is, geopper nie.
19 Augustus Vrae oor haar geslag maak opslae in die wêreldmedia.
Die Sydney Morning Herald berig sy moet geslagstoetse ondergaan en sy word net ’n paar uur voor die eindronde vir verbode middels getoets. Dieselfde monster sou ook vir geslagstoetse gebruik kon word. Sy wen ’n goue medalje in die 800 m met ’n blitsige tyd van 1:55.45. Die verdedigende kampioen, Janeth Jepkosgei, is tweede en Jennifer Meadows van Brittanje derde.
21 Augustus Leonard Chuene, voorsitter van Atletiek Suid-Afrika, bedank uit die IAAF.
Hy sê hul hantering van Caster is “rassisties” en hy dreig om ’n klag by die Verenigde Nasies te lê.
24 Augustus Die IAAF vra verskoning vir hoe die saak hanteer is. “Al wat ek kan doen, is om haar (Caster) verskoning te vra en te beloof om prosedures in te stel sodat geen ander atleet dieselfde vernedering sal moet deurmaak nie,” sê Lamine Diack, voorsitter van die IAAF.
5 Augustus Caster kry ’n heldeontvangs toe sy in Johannesburg aankom. Sy weier om oor die toetse te praat en prys eerder haar afrigter, Michael Seme. “Ek het my afrigter gebel en hy het vir my gesê: ‘Jy kan dit doen, man,’ ”sê sy.
TOETSE WAT CASTER SE GESLAG SAL BEPAAL
Caster is as ’n vrou grootgemaak, sy en haar ouers dink aan haar as ’n vrou en sy het vroulike geslagsdele, maar steeds wonder mense of sy nie dalk ’n man is nie. Om eerlik te wees – haar voorkoms en stem is inderdaad ietwat manlik. Kan dit wees omdat Caster as ’n interseks-mens gebore is?
WAT IS INTERSEKS?
Mans word met die XY-chromosoom en vroue met die XX-chromosoon gebore, en elkeen het onmiskenbaar die geslagsdele wat by seuns of meisies tuishoort. Maar interseksbabas ontwikkel nie soos normale babas nie.
In party gevalle sal ’n babaseuntjie wel testikels hê, maar sy liggaam kan nie die testosteroon benut wat hom in ’n man sal laat ontwikkel nie, of dit is ongevoelig vir die hormoon wat die liggaam se sensitiwiteit vir testosteroon beheer, sê dr. Ross Tucker, ’n oefening-fisioloog aan die Universiteit van Kaapstad.
So ’n seun sal dan nie ’n penis ontwikkel nie en die skrotum kan verdeel en soos ’n vagina lyk. Dit word dubbelsinnige geslagsdele genoem, en dit is dan baie moeilik om net op grond van ’n fisieke ondersoek te sê of die persoon ’n man of ’n vrou is.
Dit beteken die kind het XY-chromosome, wat hom geneties ’n man maak, maar hy kan as ’n meisie grootword. Tog kan manlike aspekte soos ’n diep stem, gesighare en ’n gespierde liggaamsbou ná puberteit ontwikkel. In ander gevalle word interseksbabas met albei stelle geslagsdele gebore. So kan ’n penis wat nie volledig gevorm is nie, ook soos ’n groot klitoris lyk. In dié geval weet baie ouers nie eens hul kind het dele van manlike sowel as vroulike geslagsdele nie omdat dit dikwels binne die liggaam sit.
Daar kan byvoorbeeld testikels in ’n meisie se liggaam wees. By mans kan daar geen gesighare wees nie en hulle kan ’n hoë stem hê weens hoë vlakke van estrogeen, maar hulle word steeds as ’n man grootgemaak.
As ouers weet hul babas is interseks gebore, kan hulle besluit as watter geslag hulle die kind wil grootmaak. Maar soms sal mense met dié toestand dit eers in puberteit agterkom as daar skielik ’n groot toename in die afskeiding van die testosteroon of estrogeen is wat tieners se lywe laat ontwikkel. Maar in baie gevalle weet sulke mense nooit hulle is interseks nie.
In party gevalle word ’n vroulike fetus in die baarmoeder aan hoë vlakke van testosteroon blootgestel. “Dan kan vroue manlike eienskappe ontwikkel,’’ sê Ross. Seksuele ontwikkelingsafwykings kom vermoedelik meer onder topatlete voor, voeg hy by.
“Een moontlikheid is dat iemand wat geneties ’n man is, bloot nie manlike geslagsdele ontwikkel het nie.
Maar daar is ook bewys dat suksesvolle vroue-atlete dikwels van nature meer testosteroon vervaardig.’’ Omdat vroulike atlete dalk nie eens weet hulle is interseks nie, is daar vyf toetse om uitsluitsel oor hul geslag te gee:
• In ginekologiese en inwendige toetse sal bepaal word of sy manlike of vroulike voortplantingsorgane soos testikels of eierstokke en ’n baarmoeder het.
• In ’n endokrinologiese toets sal die vlakke van verskeie hormone in haar liggaam gemeet word (veral testosteroon en estrogeen).
• In ’n sielkundige toets sal vasgestel word of sy haarself as ’n man of ’n vrou beskou en sal gekyk word na verskille in die brein wat die gevolg van testosteroonafskeiding is.
• In ’n genetiese toets sal haar DNS ondersoek word om te kyk of sy XX- of XY-chromosome het.
Die toetse word gedoen om regverdige mededinging te verseker, sê Ross. ‘‘Daar moet ’n onderskeid tussen manlike en vroulike atlete wees, anders sal die gelykwaardigheid van die kompetisie tussen vroue in die gedrang kom. Word dit nie gehandhaaf nie, kan jy net sowel met die geslagskategorieë wegdoen en almal teen mekaar laat meeding. Dit is duidelik nie reg nie; daarom moet die skeidslyn bly.’’
WAAR DIT ALLES BEGIN HET
Laboratorium- en genetiese geslagstoetse in atletiek is vir die eerste keer by die Olimpiese Spele in 1968 in Mexiko-stad ingestel. Die eerste atleet wat egter so ’n toets gedruip het, was die Poolse naelloper Eva Klobukowska – nadat sy reeds die vorige jaar getoets is.
Sy het by die vorige Olimpiese Spele in 1964 in Tokio ’n goue medalje in die 4x100-afloswedren gewen. Geslagstoetse was oor die jare omstrede en daar was geen glashelder riglyne oor hoe om met die resultate om te gaan nie. So het die Spaanse hekkiesatleet Maria Patino in 1985 ’n geslagstoets gedruip en sy is toe verbied om deel te neem, maar sy is weer toegelaat nadat kenners besluit het sy is tog nie ’n man nie.
In die vroeë negentigerjare het die IAAF roetine-geslagstoetse laat vaar weens kritiek dat dit as te vernederend beskou is. Vandag word geslagstoetse uitgevoer wanneer dit lyk of die omstandighede dit regverdig. In Caster Semenya se geval het haar verstommende verbetering binne een jaar, waarin sy haar persoonlike beste vertoning in die wedren met meer as agt sekondes verbeter het, die IAAF genoop ’n geslagstoets aan te vra.
WAT BETEKEN DIT VIR CASTER?
“Ons weet nie of Caster Semenya van haar titel as 800 m-kampioen gestroop sal word as toetse wys sy is nie geneties ’n vrou nie,” sê dr. Ross Tucker, ’n oefening-fisioloog aan die Universiteit van Kaapstad.
“Sy het nie werlik gekul nie – sy glo sy is ’n vrou.” Toe 3 000 vroulike atlete in die Olimpiese Spele van 1996 geslagstoetsing moes ondergaan, het agt gedruip – maar sewe is steeds toegelaat om teen ander vroue mee te ding omdat hul toestand hulle geen beduidende voordeel bo die ander gebied het nie.
As dit blyk Caster het uitermate hoë vlakke van testosteroon, kan dit verpletterend vir haar selfbeeld wees, meen Piérre Nel, ’n sportsielkundige van Bloemfontein. “Dit kan haar nog verder traumatiseer. Sy is maar 18.
Sy kan op die ou end haar talent wegsteek omdat dit te seer maak om deel te neem en sy kan dink sy is ’n frats en haar afsonder.
Sy kan selfs ophou om haarself as ’n vrou aan te bied en dit kan tot ’n identiteitskrisis lei.” Die hele debat oor haar geslag kan nie maklik vir Caster wees nie, sê hy, veral omdat sy so jonk is. “Sy is in ’n stadium waar sy baie vatbaar is vir wat ander van haar dink. Sy het iets wonderliks gedoen, maar nou word dit geneutraliseer deur die groot debakel.
“Dit moet ’n geweldig vernederende ervaring vir haar wees. Potensieel kan dit ’n groot effek hê. Haar ganse geslagsidentiteit as vrou kan in twyfel getrek word.” Caster sal definitief vir berading moet gaan, ongeag die uitslag van die toetse, meen hy. “Sy het iemand met insig in die sportwêreld nodig en ’n ervare terapeut met insig in die laat adolessente stadium, want die vestiging van jou identiteit is in hierdie stadium baie belangrik.”
Dr. Marlene Wasserman, ook bekend as die radio-seksterapeut dr. Eve, meen tog haar selfbeeld sal nie ingrypend deur die gebeure verander word nie. “Caster beskou haarself al haar lewe lank as ’n vrou. Dit is waarmee sy gemaklik en vertroud is. Sy sal waarskynlik aanhou om haarself as ’n vrou te ag, ongeag die toetsuitslae. Jou geslag word bepaal deur hoe jy jouself sien en ons moet dit respekteer en aanvaar.” Piérre sê Caster moet haar oorwinning aanvaar en dit vier.
“Sy moet nie so baie aandag gee aan wat ander dink nie, maar innerlike vrede kry oor haar vermoë.” “Sy moet ook mentors kry. As sy weer deelneem, gaan daar altyd iemand wees wat onsekerheid wil saai. Sy moet geleer word hoe om dit te hanteer. As mense haar gelukwens met haar prestasie, moet sy die kompliment aanvaar as eg. Sy moet vir haarself sê dis wie ek is, ek is ’n wêreldkampioen.” Molatelo Malehopo, bestuurder van Atletiek Suid-Afrika, sê Caster gaan nou eers op haar studie fokus. “Ek kan dus nie sê wanneer sy weer gaan deelneem nie, want ek weet nie. Ná alles wat gebeur het, weet ek ook nie of sy weer gaan deelneem nie. En wie kan haar blameer?”
Maar so iets sal ’n reuse verlies vir atletiek en vir haar persoonlik wees, want Kaai Preller, een van Suid-Afrika se voorste afrigters, sê hy glo Caster kan nog groot hoogtes in haar loopbaan bereik. “Om sulke vertonings te lewer is iets besonders.
Dit gaan ’n ramp wees as sy na dié hele ding besluit sy wil nie meer hardloop nie,” sê die afrigter van Bloemfontein. “Ek dink sy kan nog die wêreldrekord verbeter. Sy het ongelooflike talent en ongelooflike tye. Ek is seker sy kan goud wen by die volgende Olimpiese Spele.”

Alet van Zyl
HULLE is dolverlief, soos enige pasgetroude paartjie. Sy buk vooroor en fluister liefies in sy oor, en hy giggel stout. Dan hurk Chantelle Howard (19) voor haar man, gooi haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen. Dit is hoe hulle vry, wys die egpaar van Witbank.
Want as Chantelle regop staan, rank sy soos ’n reus bo Henry uit en kan hy maar net haar bene liefies omhels. Henry is ’n diastrofiese dwerg – ‘‘dit beteken ’n dwerg met meer as duisend gebreke,’’ verduidelik hy vinnig – en hy staan net meer as ’n meter in sy spesiale skoene.
Met sy geboorte het die dokters hom slegs ure gegee om te leef (Dwergkind met die moed van ’n reus, 9 Julie 1992), maar dit was nou al 25 jaar gelede, en ná 12 operasies leef dié rekeningkundige klerk by ’n ouditeursfirma ’n normale lewe saam met ’n normale vrou.
Eenkeer het ’n dwergmeisie vir hom ogies gemaak, maar hy het altyd vas geglo hy gaan ’n gewone meisie met groen oë, blonde hare en ’n lang, lenige lyf kry.
‘‘My ma-hulle het my normaal grootgemaak,’’ vertel hy. “Die ligskakelaar in my kamer en die wasbak in die badkamer was laer, maar ek was in ’n normale skool met normale vriende. “Ek het van die begin af die ideaal gehad om ’n normale vrou te hê en kyk nou net,’’de, lenige vrou met die groen oë waar hulle in die sitkamer van hul woonstel agter sy ouers se huis gesels.
Hulle is vandag net mooi ’n maand getroud. ’N JAAR gelede was Henry moedeloos moeg vir meisies wat hom net wou gebruik om aandag te trek. Al is hy ’n dwerg, kom jy vinnig agter hy voel nooit jammer vir homself nie.
Dié jeugleier van die AGS Reyno Rif-gemeente lewer gereeld getuienis by kerke oor hoe hy baie fisieke en geestelike terugslae oorkom het. Hy het selfs al ’n DVD van dié getuienis gemaak en hy versprei dit onder die mans op die dorp. En dit was danksy dié einste DVD dat Chantelle verlede Oktober uit die bloute vir hom ’n SMS gestuur het: ‘‘Haai jy.
Jy ken my nie, maar jy het jou DVD vir my pa gegee, ek het dit gekyk en sal jou graag beter wil leer ken.’’ Henry studeer B. Compt.Rek. deur Unisa en moes eintlik swot vir ’n eksamen die volgende dag, maar daardie dag het meer as 200 SMS’e tussen die twee gevlieg. Teen die aand het hulle toe besluit om mekaar die volgende dag vir middagete te ontmoet.
Die oomblik toe sy uitgestap kom by die juwelierswinkel waar sy werk, het Henry in haar groen oë opgekyk en geweet dis sy trouvrou. Toe hulle daardie eerste keer soos langeraat en duimpie in die straat afstap, het dit vir haar eienaardig gevoel, bieg Chantelle, maar die gevoel was gou weg, want ‘‘toe ons begin gesels, het ons net gekliek’’.
Henry kon nie glo so ’n mooi meisie wil saam met hom kuier nie. Op haar beurt was Chantelle benoud dat hy nie sou belangstel nie – juis omdat sy nie ’n dwerg is nie. Maar sy’s gelukkig nie ’n meisie wat beskroomd is nie. Die volgende dag het sy vir hom gevra hoe hy oor haar voel, en toe hy nie dadelik wil antwoord nie, het sy prontuit gesê: ‘‘Toe ek jou op die DVD sien, was ek verlief, maar nou is ek lief vir jou.’’ ‘‘ ’n Regte voor op die wa vroumens,’’ lag Henry uitbundig en vat Chantelle se lang vingers in sy dwerghandjie vas. ’n Week later was hulle ’n vaste paartjie.
En kort voor hy in Desember vir drie weke saam met sy ouers aan die KwaZulu- Natalse kus sou gaan vakansie hou, het hy gaan ouers vra. Chantelle het geen woord daarvan geweet nie, maar die troukoors het intussen ewe hoog by haar opgevlam.
Met Henry weg see toe, het sy al die ringe in die juwelierswinkel aangepas, die mooiste een gekies en met haar selfoon ’n foto vir hom gestuur. Hy probeer toe die ring by die winkel se tak op Shelley Beach koop, maar die enigste een was in Witbank.
En toe hy vra dat hulle dit na hom toe stuur, het Chantelle sowaar vir die ander winkelassistent gevra om te sê sy hou dit vir ’n ander kliënt uit, lag Henry.
Hy moes dit toe maar in Witbank gaan koop toe Chantelle een oggend af was, maar sy het dadelik agtergekom die ring is weg. Toe gaan kyk sy of dit sy handtekening op die kwitansie is, vertel Henry. Chantelle lag verleë. Daar moes darem steeds ’n verrassing wees en Henry het omtrent planne gemaak om Chantelle om die bos te lei die dag toe hy haar sou vra om te trou.
Eers het hy vir haar gesê hulle gaan na ’n familiebyeenkoms op Middelburg, maar toe het hy gemaak asof hy skielik moes werk. ’n Vriendin het haar toe na ’n braairestaurant op die dorp geneem, waar die paartjie gereeld gekuier het. Daar het ’n kelner vir haar ’n koevert met ’n leidraad gegee wat haar na nog een van hul gunsteling-restaurante gelei het.
So het dit aangehou tot sy uiteindelik by Cappuccino’s was, waar hulle daardie heel eerste dag middagete geëet het. Hier het Henry vir haar gewag met ’n bos rooi rose – maar pleks van die groot vraag te vra, maak hy toe asof al die moeite bloot ter viering van hul driemaande- herdenking was.
Toe bel die werk kamtig weer met iets dringends – dié keer kamtig “regtig’’ – en die vriendin moet weer tot die redding kom. Toe sy vir Chantelle uit eindelik by sy huis aflaai, was daar ’n roosblaarpaadjie wat sy moes volg tot waar Henry met die ring vir haar gewag het. Ses maande en ’n dag later is Chantelle en Henry getroud. En toe hulle die dansvloer open, was dit op die maat van ’n stadige dans met sy gesig styf teen haar maag gedruk.
HENRY kan eintlik alles doen, maar Chantelle maak darem die lewe vir hom heelwat makliker. As hy byvoorbeeld êrens wil opklim, tel sy hom sommer op en sit hom daar neer. ‘‘As ons in die straat loop, sal hy op die sypaadjie loop en ek in die pad,’’ vertel sy.
Hulle is mal daaroor om saam kos te maak, en wanneer Chantelle voor die stoof staan, klim Henry op sy spesiale plastiektrappie om saam in die potte te roer. En ja, mense bly maar nuuskierig oor hul sekslewe. Waaroor Chantelle reguit sê: “Net soos normale mense. Jy weet, dis net my man se arms en bene wat korter is.’’
En hulle wil graag ’n gesin hê, al is die kans 50 persent dat ’n kind ook ’n dwerg sal wees.
Dit sal steeds haar kind wees en sy sal hom of haar net so liefhê soos vir haar Henry, sê Chantelle. ‘‘Wanneer ek na hom kyk, sien ek ’n normale man, presies wat ek wou hê . . . net ’n bietjie korter,’’ sê sy liefdevol en kyk 75 cm laer af tot in haar liefling se oë. lag hy en loer trots vir sy blond.

Pieter van Zyl
HY IS die beste ding wat in jare met die Springbokke gebeur het, meen rugbykenners. En wanneer die Cheetahs-flank ’n kans gegun word in die Bokspan, gryp die 23-jarige Heinrich Brüssow dit met albei hande om die rugbybal aan.
Laas toe Huisgenoot oor Heinrich geskryf het (G’n Bok vir ’n Ophef, 6 November 2008), het hy pas gehoor hy gaan as flank saam met die Bokke in Brittanje toer. Daar het hy slegs ’n paar minute se speeltyd gekry, maar homself reeds in die span begin inburger. Maar eers toe Schalk Burger beseer en toe later vir ’n tyd geskors is, het Heinrich kans gehad om sy staal behoorlik te wys.
En hy’t dit dubbel en dwars benut.
Dis nie baie maande later nie, maar hy word deesdae selfs as een van die wêreld se voorste balstelers beskou en het heel moontlik vir hom ’n blywende plek in die Springbokke se beginspan oopgespeel. Met ons besoek aan sy tuisstad, Bloemfontein, het hy ’n blaaskans van 10 dae voor die span vir die wegwedstryde van die Drienasies-reeks oorsee vertrek. In sy kamer in sy ouerhuis in Universitas staan sy Bok-rugbytoksakke reeds gepak.
Die platskerm- TV teen die muur is byna pal op ’n sportkanaal waarop ’n rugbywedstryd uitgesaai word. In ’n hoek staan ’n tafeltjie met onder meer ’n foto van hom en sy spanmaat Tewis de Bruyn. Onder staan geskryf: Efesiërs 4:2.
En as jy dit naslaan in die Bybel, lees jy: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde. Volgens hierdie wyse woorde probeer Heinrich leef én rugby speel. Pols hom maar; hy spog nie oor sy prestasies nie.
Vra hom oor die statistieke wat wys hy’s die nuwe superman van Suid- Afrikaanse baljagters en dat geen ander flank in wêreldrugby meer as sy 185 duikslae in vanjaar se Super14 kon uitvoer nie, en hy trek net skouers op en sê: “Ag, dis maar net omdat ek in al die games gespeel het.”
En wat dan van daardie lekker debuutdrie wat hy teen die Britse en Ierse Leeus in Durban gedruk het om die oorwinning van 26-21 te verseker? “Ek het die lekker werk gedoen; die ander in die span het die harde werk gedoen om die bal tot daar te bring . . . ”
Hy vra ook sommer verskoning dat dit “so ’n bietjie deurmekaar lyk” hier by die huis. “Ons is besig met die afrondingswerk van die bouery. Kom kyk na die huis wat ek gebou het,” nooi hy opgewonde. In die ruim agterplaas staan die eerste van twee drieslaapkamerhuise wat hy saam met sy pa bou om later te verhuur. Die bouery aan die tweede een begin binnekort.
“Wanneer ek oorsee is, hou my pa maar ’n ogie. Maar ek het darem die meeste van die afrondingswerk behartig,” vertel Heinrich terwyl hy ons deur die ruim leefarea neem. “My pa het gesê sodra ek weer terug is, sal ek moet help gras plant waar dit deur die bouery verniel is.” Maar vir eers ontspan hy tot hy saam met die span oorsee vertrek.
En as hy kan, wil hy nog gou ’n draai gaan maak op sy swaer se plaas buite Luckhoff. En dalk die veld invaar om te gaan jag. Net om sy visier so ’n bietjie in te stel . . . MET ons besoek later aan Greykollege, sy alma mater, word hy sommer met die intrapslag met lofprysings oorval. “Jou yster,” sê ’n onderwyser.
“Ons is so trots op jou,” sê ’n ander. “Jong, jy speel darem ’n barshou,” meen die sekretaresse. “Dankie, Tannie,” sê Heinrich skaam. “Dit is lekker om terug te wees by die huis. Vir die kort rukkie.”
“Hy is ’n wonderlike ambassadeur vir die skool,” spog die skoolhoof, Johan Volsteedt. “Kan jy nie net een keer weer ’n game vir ons kom speel nie?” vra hy in Heinrich se rigting. Terwyl ons tussen die indrukwekkende sandsteengeboue deurstap, beduie Heinrich in die rigting van die geilgroen rugbyvelde hier in die hartjie van ’n doodgerypte Vrystaat. Hy duik by ’n deur in die middel van die hoofpaviljoen in.
“Gewoonlik mag net eerstespanspelers hier inkom,” vertel Heinrich. By die ingang van die aantrekkamer hang ’n foto van hom saam met ’n klompie ander jong Springbokke van Grey-kollege: Frans Steyn, Ruan Pienaar en Bismarck du Plessis.
En sy naam pryk reeds teen die eerstespankamer se heldemuur. Hy is Grey-kollege se eerste nommer 6 – oopkantflank – in die Sprinkbokspan. “Van die dag toe hy hier by die A-veld aangemeld het, het ek geweet hy is ’n buitengewone speler,” vertel sy skoolafrigter, Dries van der Wal.
“Sy benadering tot die spel het my beïndruk. Ek het nooit nodig gehad om hom aan te spoor nie. Hy het net so hard gespeel as wat hy geoefen het.” Dis hierdie werketiek wat hom ’n plek in die Bokspan besorg het.
Maar Heinrich besef harde werk lê nog voor. “Om die span te haal is moeilik, maar om in die span te bly is nog moeiliker,” sê hy. Intussen word hy gereeld opgeweeg teen die wêreld se bestes en byna nooit te lig bevind nie.
Hy het al vir die All Blacks se Richie McCaw ore aangesit deur meer balle uit die losskrum te steel as hy. Teen die Wallabies was hy ook ’n beter baljagter as die veteraan George Smith. G’n wonder die kenners is entoesiasties nie.
“Elke keer as George speel, hou ek sy spel fyn dop,” verklap Heinrich. “Hy weet hoe om die bal goed te versprei en hoe om die wedstryd te lees. George het al 100 toetse gespeel. Ek kan nog baie by hom leer.” George was self vol lof vir Heinrich oor die impak wat hy gemaak het in die afwesigheid van Schalk Burger in die Drienasies- wedstryd waarin Suid- Afrika die Wallabies met 29-17 geklop het.
“Heinrich speel tans besonder goed, maar Schalk bring weer iets anders na die spel,” het hy in ’n onderhoud ná die wedstryd gesê. Heinrich en Schalk kan goed in dieselfde lostrio ingespan word, het hy bygevoeg.
Dis juis dié groot vraag wat Suid-Afrika se afrigter, Peter de Villiers, op die toer in Australië en Nieu-Seeland sal moet beantwoord: Heinrich of Schalk of albei? Schalk se skorsing weens roekelose spel in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus verstryk op 22 Augustus, en hy sal op 29 Augustus vir die eerste wedstryd teen die Wallabies in Perth beskikbaar wees.
Maar dié jong speler laat hom nie van stryk bring deur hierdie gedurige vergelykings tussen hom en Schalk nie. “Ek en Schalk is verskillende spelers en bring elk iets anders na die span. Schalk het al 50 toetse vir die Bokke gespeel.
Ek het pas begin,” sê hy. Schalk is meer van ’n baldraer en hy doen goeie kruisverdediging. Op sy beurt wil Heinrich die balle so vinnig moontlik by sy span uitkry en hy verdedig sodat die lyne kan oopbly vir die ander spelers om te gaan punte aanteken.
Maar Heinrich se toekoms lê nie net in rugby nie – hy het ook pas sy B.Com.-graad in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. “Ek is bly ek het na my ma geluister toe sy daarop aangedring het dat ek my studie klaarmaak.
Ek weet nog nie wat ek later wil doen nie, maar dit gee my iets om op terug te val as ek nie meer rugby speel nie. En ek het darem ook die eiendomsontwikkeling waarmee ek besig is.” Maar hopelik bly hy nog jare lank die man wat ’n rugbybal tot tussen ’n tronk se tralies deur kan steel.

Danél Blaauw
DIT was ná die tweede chemoterapie- behandeling dat sy net in ’n hoekie wou kruip en sterf. Soos die vorige nagte het Wendy Swanepoel haar kussing en duvet badkamer toe gesleep, en wanneer sy nie oor die toilet gehang het nie, het sy net daar in ’n hopie lê en slaap.
En toe die wanhoop dreig om haar te verswelg, bel sy haar jonger suster, Norma Crampton. As een mens sou verstaan, was dit Norma. Aan die ander kant van die telefoonlyn net ’n paar straatblokke verder in Nelspruit was Norma net so dodelik siek, en sy het inderdaad die wanhoop in haar suster se stem maar te goed begryp.
Hoe dan anders, as daar skaars drie weke ná mekaar by jou en jou ousus albei aggressiewe borskanker gediagnoseer is? Kanker was ongelukkig geen vreemdeling in dié gesin nie. Twaalf jaar tevore is hul pa, Tinker Curling, op 66 jaar aan prostaatkanker oorlede, en net ’n paar maande voor hul diagnose ook hul broer, Eric, op net 55 jaar. Van die gesin van vyf was net hul ma nog gesond.
En nou was die susters se lewe in die weegskaal. Dié nag kon Wendy net nie verby die syfers kyk nie. Met gr. 2-borskanker was haar kans om oor vyf jaar nog te leef maar 70 persent.
Vir haar kleinsus, met gr. 3-kanker, was dit net 30 persent. Alles het so duister gelyk . . .
Dit was toe dat Norma haar met ’n enkele vraag na die werklikheid terugruk: ‘‘Sus, sê my, is jy gemiddeld?’’ Wendy, ’n rekenmeester, vertel dit het haar soos ’n bom getref: Sy was nog altyd ’n gogetter! ‘‘Ek het besluit ek sou almal wys ek is nie gemiddeld nie, ek sou leef,’’ vertel sy vandag, twee jaar ná daardie keerpunt in haar lewe. ‘‘Ons het oor die telefoon ’n pakt gemaak en gesweer om te veg vir die lewe,’’ sê Norma.
En hulle veg steeds. En leef met volkome oorgawe, asof elke dag kosbaar is. Want albei is in remissie, maar leef met die werklikheid saam dat die kanker enige dag weer kan toeslaan. So het die twee susters toe volgens hul eie wenslysie begin leef – Wendy en Norma se persoonlike emmerskop-lysie. Norma se seun Shaun het hulle vertel van die fliek The Bucket List, waarin twee sterwende mans ’n lys van hul drome maak en hulle najaag.
En wat eers net ’n spottery oor hul eie droomlys was, het hulle later ’n rede gegee om soggens op te staan. Hulle het besluit daar is nog te veel dinge wat hulle wil doen voor hulle self die emmer skop, spot Wendy. En dis juis met humor en hoop dat hulle die stryd tot dusver gewen het en vol moed kan voortsit.
KANKER is eerste by die blondekop Norma (48), wat saam met haar man ’n onderneming bedryf, gediagnoseer. Sy is haar lewe lank ’n fiksheidsfanatikus wat gesond leef, sy spog met provinsiale kleure in ses verskillende sportsoorte en het al 11 Comrades-marathons kafgedraf.
Toe dié ma van twee dus in Oktober 2007 ’n marathon vyf minute stadiger as gewoonlik draf, het sy vermoed iets skort. Nadat sy dieselfde aand toevallig ’n harde knop in haar regterbors gevoel het, het sy die nag skaars geslaap. ‘‘Ek het half vermoed dis kanker. Ek het dadelik op die internet meer oor borskanker gelees en van wat ek kon aflei, was dit ernstig,’’ vertel Norma.
Sy is die Maandag dokter toe. Die gewas was 2,6 cm in deursnee en die kanker het reeds na haar kliere versprei. ‘‘Ná my pa en broer se dood wou ek net daarvan ontslae raak,’’ vertel sy.
Vier dae later het sy ’n mastektomie ondergaan, en sewentien kwaadaardige kliere is onder haar regterarm uitgesny. Toe was daar agt chemo-sessies elke drie weke. Wendy (50) was ná ’n selfondersoek seker sy is buite gevaar. Maar die vroue by haar drafklub was skielik baie bewus van borskanker en het almal vir mammogramme gegaan.
Drie weke later is sy saam met ’n bang vriendin vir ’n mammogram – net om te moet hoor sy het ook borskanker wat al na haar kliere versprei het. Daar was dae dat die susters so siek was dat die dood na ’n genadiger opsie gelyk het. Nog ’n verskriklike dag was toe Wendy haar bos donker hare moes laat afsny.
‘‘Die voordeel is darem dat jy al jou lyfhare verloor en nie hoef te skeer nie,’’ spot Norma. Wendy het vas geglo haar suster sou sterf. Sy wou Norma se drome vir oulaas bewaarheid en het haar gevra om ’n droomlys op te stel.
Norma wou graag saam met dolfyne swem, gaan diepsee-visvang, op ’n wildrit gaan en in ’n tent in ’n wildtuin slaap. En sy wou weer gaan draf, maar ai, die kaalgeskeerde kop . . . ‘‘Ek het op ’n dag met my bandana op die kop in die parkeerterrein van die drafklub gesit, te bang om uit te klim,’’ vertel sy.
‘‘Ek het net sit en huil. Ek wou nie die vrou met kanker wees nie.’’ Wendy het haar suster omgepraat om tog uit te klim en toe sy by die klubhuis kom, het ál die mans en selfs ’n paar vroue hul hare afgeskeer en met bandanas om die kop vir haar gewag.
‘‘Hulle het selfs wedlope met bandanas gedraf sodat ek en Wendy nie as die ‘kankersusters’ sou uitstaan nie,’’ vertel sy. Wendy het ’n roerende brief aan Radio Jacaranda 94.2 geskryf en sedert borskankermaand verlede jaar het die stasie Norma se wense die een ná die ander bewaarheid.
Die twee susters het self hul tentjie opgeslaan en in die Krugerwildtuin geslaap toe hulle ná al die chemo-behandelings weer krag gehad het om ’n wedloop in die wildtuin te draf. ‘‘Dit was wonderlik. Ons het daar geslaap terwyl ons die diere om ons kon hoor,’’ vertel Norma. Hulle is ook vir ’n week Loskopdam toe.
‘‘Ons het te voet, op ’n boot, te perd en op vierwielmotorfietse gery terwyl ons wild gekyk het. Dit was wonderlik,’’ vertel Wendy. En hulle is vir ’n week Mosambiek toe, waar Norma in die diepsee ’n dorado van 12 kg ingekatrol het.
Vir Wendy was die hoogtepunt toe sy Norma gevat het om naby Malelane op olifante te gaan ry. ‘‘Dit was net toe ons hare begin uitval het en ek wou iets doen wat ons sou opbeur. Ek wou graag aan ’n olifant raak, want ek glo dat diere genesende krag het,’’ sê sy. ’n Produksiespan het daarvan gehoor en die susters na ’n olifant- bewaringsentrum geneem om ’n dokumentêre program oor die genesende krag van olifante te maak.
‘‘Ons het hulle kos gegee, hanteer, gewas, op hulle gery en net met hulle gespeel,’’ vertel Norma. ‘‘Ek het as ’n nuwe mens van die olifante afgeklim en was reg om die lewe weer aan te pak,’’ sê Wendy. ‘‘Dit was asof God vir my sê: ‘Ek verstaan.’ ” Maar natuurlik is daar dae dat die vrees hulle steeds bekruip.
‘‘Dan gaan ry ons weer op die olifante en voel beter.’’ Volgende jaar wil Norma haar 12de Comrades hardloop. En Wendy wil nog as ’n lugwaardin op ’n vliegtuig klim. ‘‘Al is dit net om te vra: Hoender of beesvleis?’’ lag sy. ‘‘Siek of gesond, ons moet almal ’n droomlys hê,’’ sê Wendy. ‘‘En ons moet dit uitleef, want die lewe is kort.’’

Deur Sulaiman Philip
DIE lug is onheilspellend donker en kinders haas hulle huis toe voor dit begin reën. Hulle spring oor plasse buite die hoë mure van Mickey Arthur se huis in die spogbuurt Nahoon in Oos-Londen. Afgeëts teen die lig in die voordeur wag die Proteas se afrigter met ’n gul glimlag. ‘‘Ons was met vakansie. Drie weke in Umhlanga, louter genot.’’
Die afrigter van die nasionale krieketspan lei ons deur die huis wat hy met Yvette en hul dog-ters, Brook-Leigh (16), Kristin (14) en Ashton (11), deel, verby die tafel besaai met die meisies se huiswerk na die bastion van manlikheid in dié huis vol vroue: sy kroeg in die woonkamer.
Op ’n ereplek staan ’n houtstandbeeld van ’n krieketspeler met sy kolf gereed en sy oë op die bal. ‘‘Dis my kosbaarste besitting,’’ sê Mickey van die geskenk wat Yvette hom gegee het.
‘‘Ek het dit 12 jaar gelede in Kimberley gekry,’’ sê sy en kyk trots na haar man van 18 jaar. ‘‘Ek het dit gesien en gedink Mickey sal altyd dol wees daaroor.’’
Die Proteas het ’n uitsonderlike jaar agter die rug: hul toetsoorwinnings oor die Engelse en die Australiërs, en die hoogtepunt om die seisoen af te sluit as die nommereen-eendagtoetsspan en die naasbeste toetsspan.
‘‘As Engeland en Australië nou net gelykop wil speel in die toets om die As, kan ons nommer een wees,’’ mymer Mickey.
Die werk aan dié hoogtepunt het al 18 maande gelede begin. ‘‘Ek en Graeme (Smith) het gaan sit en beplan en toe in die rigting van ’n paar groot doelwitte begin werk.’’
Hy kyk na die medaljes en pryse om hom en spog: ‘‘Ons speel met die selfvertroue wat kom van voorbereiding vir die groot oomblikke. Die oorwinnings in Engeland en Australië het die span met ’n oorweldigende gevoel van prestasie vervul.’’
Hy skiet ’n stoffie van die toonbank af. ‘‘Die span het die land trots gemaak, daarom is dit irriterend dat daar steeds gesê word ons kan nie druk hanteer nie,’’ sê hy vieserig oor Suid-Afrika se nederlaag teen Pakistan in die halfeindronde van die Internasionale Krieketraad se Twintig20-wêreldbekerkriekettoernooi.
‘‘Die beste span het ons eenvoudig uitgestof. Dit was ’n bitter pil, maar ons kan nie alles wen nie. Soms moet die ander ou wen.’’ En hy glimlag weer.
MICKEY steek sy hand uit na sy glas sap en sluk diep. ‘‘Dit is vir my as afrigter die grootste uit-daging om ’n omgewing te skep waarin spelers kan presteer,’’ sê hy nederig.
‘‘Ek moet die spelers stimuleer en uitdaag en hulle dan uitstuur om te gaan speel.’’
Hy het ’n holistiese benadering tot spanbestuur. ‘‘Ek glo ek lewer nie net krieketspelers nie, maar ook manne, en die span se gewildheid oor die wêreld heen is ’n bewys dat ons iets reg doen.’’
Sy benadering het hom die hartverskeurendste oomblik in sy afrigtingsloopbaan besorg toe hy vir Herschelle Gibbs moes sê hy is sy plek kwyt in die span wat einde verlede jaar Australië toe is. Krieket SA het Hersch, die stoutseun van Suid-Afrikaanse krieket, voor die ultimatum gestel om hulp te soek vir sy drankprobleem of nooit weer vir Suid-Afrika te speel nie.
‘‘Dit was nie ’n lekker gesprek nie, maar dit het oor die mens gegaan en nie die krieketspeler nie. Ek het vir hom gesê ons kan nie meer sy gedrag verduur nie. Maar hy verdien lof omdat hy sy probleme oorkom het.’’
Met sy terugkeer het hy bewys hy is steeds op sy stukke, en hy het 110 aangeteken om die tuisbeen van die eendagtoetsreeks teen Australië te help wen.
‘‘Dit was ’n emosionele oomblik toe hy in Port Elizabeth uitstap en vir ons die reeks wen.’’
In ’n ereplek tussen sy aandenkings is die geraamde en getekende hemde wat Mark Boucher, Jacques Kallis en Graeme Smith verlede jaar met die toetsoorwinning in Edgbaston, Engeland, gedra het. Tussen die hemde hang Graeme se medalje vir man van die wedstryd.
‘‘Ek was verras toe hy dit vir my gee,’’ erken Mickey. ‘‘Hy het dit die hele pad terug na die hotel om sy nek gedra en dit toe afgehaal en vir my gegee.’’
Hy glimlag. ‘‘Laat ek vir jou sê, ons het daardie aand omtrent partytjie gehou. Vroegoggend het die brandalarm afgegaan en party spelers het net hul kussing oor hul kop getrek en verder geslaap. Gelukkig was dit net iets kleins!’’
’n Groot faktor in die span se sukses was die jonges. Hulle het die senior spelers gedruk.
‘‘Ouens soos Mack (Makhaya Ntini), Bouch (Mark Boucher) en Jacques (Kallis) het fenomenale loopbane gehad. Maar die jong spelers wat om hul plek meeding, dwing hulle om hul spel te vernuwe.’’
Die twee uitblinkers vanjaar was JP Duminy en AB de Villiers, en Mickey sê hy was eerlikwaar nie verras nie. ‘‘Ek moet erken ek was bekommerd toe Ash (Ashwell Prince) in Australië sy vinger breek. Hy was nog altyd die rots in die middelorde. Maar JP het sy kans afgewag en gewys hy is van wêreldgehalte.’’
AB is ’n heel ander saak, gee Mickey toe. ‘‘Hy is so ongeërg oor sy talent, maar hy gaan nog die beste kolwer ter wêreld word.
‘‘Maar dis ’n spansport, en daar is ’n span van mense wat dinge laat gebeur. Spelers soos Roelof (van der Merwe), Paul (Harris) en Johan Botha is die onbesonge helde van die span.’’
Hy is omring deur van die beste spelers ter wêreld, maar wie beskou hy as die beste? ‘‘Ek sal vir almal redes kan aanvoer,’’ sê hy diplomaties, maar voeg dan by:
‘‘Jacques is die beste veelsy-dige speler ter wêreld en Mark is nog ’n onbesonge held.’’
Mickey is ook vol lof vir sy inspirerende kaptein. “Graeme is iets spesiaals. Toe hy in Australië onder staande toejuiging op die veld stap, het ek hoendervel gekry. Op daardie oomblik het ek geweet ons het al die doelwitte bereik wat ons 18 maande tevore gestel het.’’
DIE egpaar raak liefdevol aan mekaar se hande toe Yvette kombuis toe stap. Sy het drie besige dogters om kos te gee.
‘‘Toe ek met hierdie werk begin het,’’ sê Mickey, ‘‘was ek gretig om al die wonderlike tennisplekke in Engeland en Australië vir my kinders te gaan wys.
Maar nou is dit nie meer genoeg nie. Kersfees saam met Pa is oukei, maar Oujaarsaand kry hulle koers saam met maats. Waaroor gaan dit?’’ wonder hy met ’n glimlag.
Dan’s dit weer krieket: ‘‘Toe ek die eerste keer Indië toe is, was ek nie gek oor die plek nie, maar ek was dol daaroor om daar te wees. Die aanhangers is passievol.
Wanneer die span by die hotel uitgestap het, het duisende buite gewag om hulle te sien.’’
Hy sien ’n nuwe uitdaging op die horison. ‘‘Indië het al hierdie jong spelers wat deur die IPL kom wat eendag vir die nasionale span sal speel. In die komende jare sal Suid-Afrika en Indië vir die nommereenplek in krieket teen mekaar kolf. Dit is ’n watertand-vooruitsig.’’ En jy sien sommer: Mickey lek sy lippe af . . .

Pieter van Zyl
BYNA almal brom soggens in die hysbak oor hul tog van die huis af tot hier. Daar word gebreek en gebou op die snelweë en lughawens met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi en terwyl niemand sal stry dat dit nodig is nie, is dit ’n geween en ’n gekners van tande om betyds by die werk of by afsprake te wees.
Dit het Huisgenoot laat wonder: Hoe is hierdie daaglikse trek vir diegene wat nie soggens in ’n motor klim nie? En so word ek en ’n fotograaf gestuur om op treine, busse en minibustaxi’s te gaan ry. Is dit goedkoper? Is dit maklik en vinnig?
Of is dit nou eers ’n nagmerrie?
VANDAG haal ek ’n trein na Soweto en almal probeer my afraai. Selfs ’n kollega wat in Soweto grootgeword het en nou nog daar woon. “Baie vroeg in die oggend of teen huistoegaantyd is dit veilig, maar deur die dag is daar baie tsotsi’s,” waarsku hy.
Maar hier is ek en die fotograaf Fani Mahuntsi op ’n snerpend koue winterdag in Johan- nesburg met die nou nog onderontwikkelde openbare vervoerstelsel op pad na die onlangs voltooide Orlandosokkerstadion in Soweto.
Naby Johannesburg se berugte Parkstasie in die middestad is daar reeds tekens van die snelbusdiens waaroor die taxibedryf en die owerheid steeds vassit: staalkonstruksies vir die bushaltes en betonbakens waar die busbane gaan wees.
Met net R100 in my broeksak om vandag aan vervoer te bestee, is ek baie dankbaar daar is minibustaxi’s wat van Sandton af sowat 20 km tot hier na die stasie toe kan ry.
Dit het maar R9 gekos. Met slytasie, versekering en petrol sou ek byna R60* met my eie motor gehoes het. Omtrent in elke straat in die middestad kan jy ’n minibustaxi na ’n ander bestemming haal, maar altyd van ’n spesifieke straat af.
Dit verg kophou en die hulp van ’n medereisiger soos Fani. Maar as jy eers hierdie netwerk onder die knie het, kan jy baie goedkoop rondrits. En my en Fani se derdeklastreinkaartjies van die Johannesburg- stasie na Soweto kos maar R3,50 elk.
As ons ’n metertaxi net vir ons twee sou haal van byvoorbeeld Melville na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, wat ongeveer dieselfde afstand as tussen die stasie en Soweto is, sou dit R200 gekos het. Ons staan op platform 6 en wag vir die 11:55-trein.
’n Karnaval-atmosfeer heers hier. Kaaskrulle, lekkers en neute lê oral in hopies gepak en jy betaal 50c vir ’n hand vol. Pendelaars staan in ’n kring en kyk hoe ’n verlamde man toertjies op sy hande doen. Die waarderende gehoor gooi blink munte voor hom neer.
Die trein kom stiptelik by die stasie aan. In die geharwar om op te klim laat ek my treinkaartjie val. ’n Man tik my op die skouer. “En hier gebeur dit nou, ek gaan met ’n mes beroof word!” skiet dit deur my gedagtes.
Maar dis ’n glimlag en my kaartjie wat my begroet. Die wa is tot barstens toe vol. Net bejaardes en kreupeles het sitplek. Die jonges hang aan die oorhoofse handvatsels. Langlaagte se mynhope flits buite verby. Elke paar minute beur smouse deur die passasiers wat soos sardientjies ingeprop is.
“Twenty pegs for R3! Air freshener for R5! ” En ’n blinde kitaarspeler word deur die treinwaens gelei terwyl hy sy liedjie sing: “Siyabonga Amakhosi Amakhosi . . .”
’n Sjokoladeverkopertjie kondig aan: “Mamele, luister. Ek gaan vir julle my storie vertel.” Dan sien hy my raak. “Ek sal dit maar in Engels vertel sodat my vriend daar my ook kan verstaan.”
Dis asof my medepassasiers my vir die eerste keer raaksien, en ek kry erkenning met tientalle glimlagte.
“Ander het hul matriek in die skool gekry, ek het myne in die tronk gekry,” begin die storie. “Ek het mense soos my wit mfeto daar beroof. Maar die Here het my gered en nou verkoop ek lekkers. Kom koop by my. Ek wil nie teruggaan misdaad toe nie . . .”
Teen 12:45 kom ons in Orlando- Wes aan. Op die stasie koop ons ’n pakkie geroosterde grondboontjies vir R1 en sommer vir die snaaksigheid ’n pakkie gedroogde mopaniewurms by ’n stalletjie. “Oe, die man is honger,” lag die vrou en stop my sommer nog ’n pakkie grondboontjies in die hand. Om 12:52 staan ons voor die indrukwekkende sokkerstadion.
Van daar af is dit nog sowat vyf minute se stap tot by die Soweto-snelweg waar ons ’n minibus-taxi teen R7 per persoon terug na die stasie toe haal. Terwyl ons om 13:40 weer afklim in Lovedaystraat in die Johannesburgse middestad en die gospelmusiek uit die taxiradio nog in my ore dreun, is dit asof die polsslag van my land deur my lyf vibreer.
Dit sal so hartseer wees as hierdie unieke, vinnige en bekostigbare manier van vervoer deur iets steriels en geolie verswelg word. Dink net: Vandag het ek vir R16 van Sandton tot in Soweto en terug middestad toe gery.
Die volgende dag is ek in Krugersdorp en ek wil Sandton toe. Om 06:30 haal ek ’n Metrobus van die Westgate-winkelsentrum af. Dis die naaste busstop so vroeg uit die Wes- Rand na Sandton. Dit kos my R13,70 en teen 07:50 klim ek Deur Pieter van Zyl by Sandton City af.
Daar is nog meer as genoeg tyd vir brekfis. Maar hoe lank sal ’n mens op die busse hier in Jozi kan staatmaak voor ’n staking pendelaars dwing om voetgangers te word? Ek is vandag nog van die gelukkiges wat met die bus werk toe kan ry voor die bestuurders byna sewe weke lank staak.
KAN jy in Kaapstad vir minder as R100 ’n dag lank na van die gewildste plekkies langs die kus ry? Ek betaal R5 om van my woonstel in Seepunt tot by die Kaapse stasie te kom. Ek was gelukkig, want ek was die enigste passasier in die minibustaxi.
By die stasie kos dit kophou om by die kaartjiekantoor uit te kom. Daar word gebreek en verbou en die mengelmoes stalletjies en luidrugtige verkopers is ’n bietjie oorweldigend so vroeg in die oggend. Maar die stasie en treinwaens wemel van polisielede en sekerheidswagte wat my dadelik op my gemak stel.
Binne vyf minute kry ek en die fotograaf Martin de Kock vir R8,50 elk ’n derdeklas-retoertreinkaartjie na Vishoek. Op die digitale inligtingsborde sien ons ons trein vertrek om 10:49 van platform 6. En nie ’n sekonde later nie rol ons trein oor die treinspore. Die stasies waardeur ons ry, lyk almal skoon en opgeknap. Oor die luidsprekers nooi vriendelike stemme:
“As jy hulp nodig het of bekommerd is oor ’n ander passasier se gedrag, moenie huiwer om dit aan te meld nie . . .” Ek tel minstens ses wagte wat opklim en selfs raas as jy met jou voete op die banke sit. Teen 11:05 stop ons ’n hanetree van die Nuweland-rugbystadion. Ek gaan nooit weer met my kar hierheen kom en ure lank in die verkeer sit nie.
Ek is reeds treinbekeer. Sowat 25 minute later ry ons verby die rietlandskap en mere van Lakeside. ’n Pelikaan wat verbyvlieg, die see in die verte en die berge omskep die treinvensters in poskaartskilderye. Om 11:35 lê die golwe van Muizenberg aan my linkerkant, besaai met branderplankryers.
Die asemrowende tonele hou nie op nie: St. Jamesstrand met sy helderkleurige houtaantrekhokkies, witgekalkte rotspoele met kinders wat daarin plas, die Brass Bell-restaurant in Kalkbaai waar jy van die platform af by die kroeg kan instap . . .
Byna presies ’n uur nadat ons in Kaapstad opgeklim het, klim ons langs die duine van Vishoek af. En toe ek sien dit kos R6 per uur om hier te parkeer, is ek bly ek het my motor veilig by die huis gelos. Kort ná twee is ons terug op die Kaapse stasie.
En dit kos R5,80 per persoon om met die bus van Riebeeckstraat naby die stasie tot in Kampsbaai te kom en R6,50 om met ’n minibus- taxi oor Kloofnek weer terug te kom stad toe. Ons beland op ’n regte ou skorokoro – ’n rammelkas van ’n ou bussie – waarin ek kon sweer ek sien die teerpad deur die gate. Ander taxibestuurders moes ons eers help om hom aan die gang te stoot. “Ek soek ’n discount,” skerts die mama hier langs my.
En die bejaarde bestuurder begin in Xhosa preek oor hoe die Here hom uitgespaar het om nog te kan werk terwyl sy jong familielede leeglê. Hierdie is sy daaglikse brood.
Ons sal veilig by ons bestemming uitkom. Met ’n gestotter en geskud en te midde van een van die tannies agterin se “Amen”, kom ons binne 15 minute weer by die stasie aan. Tydens die tog het almal getrou hul geld vorentoe aangegee. Ek kan nie glo die bestuurder of sy “guardjie” (deurwagter) kry dit reg om kop te hou met wie nie betaal het nie. “Glo my, hulle weet,” waarsku een van die passasiers. “Die anderdag het die driver almal by die brug afgelaai toe daar R2 short was. Ons moes al die pad stap.”
Dit vat nie lank om ’n minibustaxi vir R3,50 na die Waterfront te kry nie. Dit kos R3,70 en vat minstens 10 minute langer om met die bus tot daar te kom. Vol stories om by die huis te gaan vertel, klim ek en Martin by die Waterfront af.
Ons hele dag se gerits het ons elkeen net R29,30 gekos! Op die Waterfront se reuse aftelbord na die Wêreldbeker staan 360 dae, 9 uur, 23 minute, 27 sekondes.
Dis nie veel tyd om ons openbare vervoerstelsel so vaartbelyn te maak soos elders ter wêreld nie. Maar intussen wag heerlike avonture op reisigers wat bereid is om die kar in die garage te los . . . * Die bedrag is geraam volgens die Automobiel-Assosiasie se berekening van R2,92 per kilometer.

Hannelie Booyens
DIE premier van die Wes-Kaap het ’n effens afwesige trek in haar oë toe sy ons verwelkom by Leeuwenhof, die imposante herehuis in die hartjie van Kaapstad waar sy pas ingetrek het.
Helen Zille is besig om deur stapels ou familiefoto’s te delf om te besluit wat om waar te hang in die leefkamer van haar nuwe woonplek, en haar gedagtes kuier kennelik nog ver.
Sy koer skaamteloos oor kiekies van haar twee seuns toe hulle nog klein was. ‘‘Kyk net so ’n oulike mannetjie. Tom was die sagste, troetelbaarste ou babatjie met sy goue lokkies. Nou’s hy ’n uitgevrete blok van ’n man!’’
Die trek het haar kans gegee om behoorlik bestekopname te doen, en Helen het daarop aangedring om alles self te pak. Die luuksheid en ruimte van die historiese huis is nog heeltemal oorweldigend, sê sy terwyl sy tee maak in die reuse kombuis.
Sy lig elke koppie en piering op om seker te maak sy gebruik nie die kosbaarste breekgoed nie. ‘‘Kyk net al die grênd name: Royal Doulton, Royal Albert, Wedgwood. Sjoe . . .’’
Helen en haar man, Johann Maree, en hul seun Thomas (20) het Leeuwenhof die afgelope week soos opgewonde kinders verken. ‘‘Kom kyk net hier,’’ roep sy en gaan wys vir ons ’n yskas so groot dat jy daar kan inloop. ‘‘Dis koel, nè? Ek het nog nooit so iets gesien nie. Om nie eens te praat van die hysbak nie!’’
DIE leier van die Demokratiese Alliansie en die voormalige burgemeester van Kaapstad het swaar afskeid geneem van haar huis in Rosebank waar die gesin 25 jaar gewoon het.
‘‘Een week bly jy nog langs die treinspoor en die volgende week bly jy in seker die mooiste huis in Kaapstad,’’ sê sy laggend. Maar dis nie net ’n kultuurskok nie; dit was vir haar traumaties om haar gesin te ontwortel, bely Helen.
Sy soek ’n SMS van haar oudste seun, Paul (24), wat haar tot trane gedryf het. ‘‘Paul het dit vir my gestuur die laaste aand wat ek en Johann in ons ou huis geslaap het.
Hy’t vir my dankie gesê dat ek ons huis ’n tuiste gemaak het en dat dit so ’n gelukkige plek was.’’ Paul, ’n onderwyser, en van sy vriende bly nou in hul ou huis, maar Thomas, wat nog studeer, het saamgetrek en bly nou in ’n woonstelletjie op die Leeuwenhof- landgoed.
Sy woelige rottweiler, Keiser, begroet Helen uitbundig toe ons in die tuin uitstap. ‘‘Dis ’n paradys vir ’n hond, maar Keiser mag nie in die groot huis kom nie.
Netnou verwoes hy iets waardevols,’’ sê sy streng. ’n Mens raak skoon verdwaal in die huis met sy byna koninklike onthaalsaal en deftige sitkamers, sê Helen toe sy ons op ’n begeleide toer neem. Sy’t haar nog nie eens mooi vergewis van al die besonderse kunswerke in die huis nie, maar sy herken wel die Pierneefs en die skilderye van Thinus de Jongh en Thomas Baines.
‘‘Daai blompot kom sweerlik uit die Ming-dinastie. Ek ys om te dink wat dit kos.’’
Een ding wat haar vreeslik gespanne maak, is die kosbare besoekersboek met handtekeninge van die Britse koninginmoeder Elizabeth, die huidige koningin Elizabeth, Helen Keller, Jan Smuts en Nelson Mandela – almal op dieselfde bladsy. ‘‘Ek gaan dit onmiddellik argief toe stuur; dis te kosbaar om hier aan te hou,’’ sê sy.
Sy is baie bewus daarvan dat die historiese huis openbare eiendom is en sy wil so min moontlik verander. As tydelike besoekers gaan hulle hul ‘‘voetspoor’’ baie lig hou, belowe sy. ’n Week ná haar intrek het Helen al ’n goeie verhouding met Leeuwenhof se huishouers en personeel. Haar eie huishoudster en vertroueling, Grace Voyiya, kom ook binnekort hier bly.
Tot dusver het sy nog net een spesiale versoek gehad – dat ’n ketel na die leefkamer oorkant haar en Johann se slaapkamer gebring word sodat sy nie die ‘‘kilometers’’ na die kombuis hoef aan te durf om saans laat vir haar ’n koppie tee te maak nie.
’n Strykplank staan in die een hoek gereed vir wanneer sy vinnig ’n uitrusting moet regkry en in die ander hoek staan ’n klein yskas. ‘‘Dis vir bier wanneer ons rugby kyk,’’ verduidelik sy met ’n vonkel in die oog.
Sy het ook ’n spieëltafel met ’n haardroër en grimering na die leefvertrek geskuif sodat sy nie soggens vir Johann steur as sy al douvoordag begin regmaak vir werk nie.
Met Leeuwenhof se berugte spook het Helen ook al skrams kennis gemaak. Sy het laataand alleen by die kombuistafel sit en tee drink toe sy ’n harde geluid in die spens hoor. Sy’t gaan ondersoek instel, maar kon nie sien wat die klank veroorsaak het nie.
‘‘Toe hardloop ek darem bitter vinnig by die trappies op, hoor!’’ vertel sy laggend. Sedertdien verkies sy om nie alleen in Leeuwenhof te wees nie.
Haar gunsteling-plek in die huis is ’n donker pakkamertjie met rye vakkies met hope plek vir dokumente en bokse. ‘‘Dit gaan my leer om netjies en georganiseer te wees. Dis presies net die ruimte wat ek nodig het om al my dinge agtermekaar te kry.’’
Sy maak ’n kasdeur in hul slaapkamer oop en wys hoe sy en haar man verskil. ‘‘Kyk hoe netjies is al Johann se klere gepak. En jy kan seker wees dit gaan net so bly.’’
Sy verkyk haar aan die uitsig oor Tafelbaai en skakel die lig af om vir ons te wys hoe mooi die stadsliggies flonker. ‘‘Ek maak nooit ons gordyne toe nie.
Dis net te mooi om in jou bed te kan lê en die hawe en die see te kan sien. Dis elke oomblik van die dag bekoorlik.’’ DIS vir haar lekker om vir haar man so ’n wonderlike plek te kan bied, sê Helen. ‘‘Deur ons hele huwelik was ek druk besig en hy het baie vir my opgeoffer en nooit, ooit gekla nie. Nou het hy afgetree en kan hy die volgende vyf jaar in hierdie pragtige omgewing geniet. Dis baie spesiaal.’’
Nie dat dit ‘n uitgemaakte saak is dat hulle vyf jaar sal bly nie, voeg Helen vinnig by. “Geen van die ses premiers wat sedert 1994 hier gewoon het, het ’n volledige termyn uitgedien nie.
Vergeet van die spook van Leeuwenhof; hier’s dalk eerder ‘n vloek! Ons sal die beste van elke oomblik moet maak.” In hul eerste week in Leeuwenhof was dit die mooiste, sonnigste wintersdae, sê Helen.
‘‘Toe ons laat een aand klaar uitgepak en geswoeg het, het ek en Johann in die tuin gaan stap. Die volmaan het so tussen Duiwelspiek en Tafelberg gehang en die hele hemelruim was helder.
Ons het na mekaar gekyk en besef hierdie oomblik sal ons nooit vergeet nie.’’ Sy moet nou maar vir haar man gaan aandete maak soos dit ’n goeie vrou betaam, spot Helen.
Sy skakel haar selfoon aan om te sien wie haar almal gesoek het in die anderhalfuur dat sy oor haar huis geklets het. Die 276 nuwe SMS’e maak haar glad nie gespanne nie.
‘‘As ek nou by my lessenaar gaan sit om te werk, kyk ek op en sien die mooiste prentjie in die wêreld. Wie kan dan nou kla?’’

Jaco Hough Coetzee
HY HET met ’n hengse kopseer in sy huis in Johannesburg wakker geword, en eers ná 20 minute kon hy mooi begin registreer wie en waar hy nou eintlik is. Die huis was in ’n chaos, meubels omgekeer, blompotte stukkend gegooi en daar was ’n sny oor sy neus.
Hy moes by sy meisie hoor hy’t haar die vorige aand in sy woede met sy skouer gestamp. Hulle was by ’n partytjie, die akteur Deon Coetzee was oudergewoonte smoordronk en soos gewoonlik kan hy nou niks daarvan onthou nie.
Dit was toe dat die besef hom ruk: Hy is besig om homself dood te maak. En net daar het hy besluit, dis nou genoeg. Sedert daardie dag is hy skoon, vertel ’n dankbare Deon by ’n ghofbaan in Roodepoort waar hy nou-nou saam met sy seun gaan afslaan. In daardie donker tyd was twee tot drie bottels drank per dag niks snaaks nie.
En dwelms – hy het ‘‘die hele spektrum’’ gedoen. Maar dié oggend nou vier jaar gelede was “die begin van die res van my lewe’’, sê hy. Tog, al is hy nou skoon, dra hy steeds swaar aan die etiket van vroueslaner wat steeds om sy nek gehang word. Nou weer nadat die joernalis en voormalige ontkleedanseres Karin Eloff in haar biografie, Stiletto, vertel het hoe hulle verlede jaar binne dae verlief geraak het en hoe gewelddadig hul verhouding uiteindelik was.
‘‘Ek is die vark in die verhaal wat nou die houe moet vat,’’ sê hy gelate. Intussen is hy op ’n ontdekkingsreis in sy lewe, sê hy, en heeltyd op soek na antwoorde.
DIE rolle stroom deesdae in vir die eens werklose akteur. Hy is in die sepies 7de Laan en Villa Rosa te sien, hy was pas in twee verhoogstukke by die Innibos-kunstefees en in September is hy by die Aardklop-kunstefees in Deon Opperman se toneelstuk My Sarie Marais op die verhoog.
Hy is besig en het min vrye tyd, maar waar hy tevore ’n blaaskans met ’n bottel sou vier, pak hy nou sy gholfstokke.
‘‘Gholf is die enigste ding wat ’n mens se kop skoonmaak,’’ sê Deon terwyl hy opgewonde sy stokke op die gholfkarretjie laai, al skertsend met sy jongste seun, Werner (22).
Bekyk jy hulle so, is dit amper ondenkbaar dat Deon se lewe vir ses lange jare amper tot stilstand gekom het. Die man wat in die tagtigs agt jaar lank vir drie verskillende provinsiale spanne rugby gespeel het en toe in die negentigs in die sepie Egoli gespeel het, het die pad lelik byster geraak.
Wat het dan skeefgeloop? ‘‘Ek het maar so ’n effense systappie gemaak om te kyk hoe die donker kant van die lewe lyk,’’ vertel hy op pad na die eerste putjie. Dit was sy egskeiding in 1999 wat hom geruk het.
‘‘Ek kon dit glad nie verwerk nie. Daar was die verwerping. Die gevoel van ek is nie meer goed genoeg nie.’’ Toe gooi hy alles oorboord. ‘‘Ek wou net vlug. Ek wou ontslae raak van myself.’’ En daar was baie kans in die sosiale kringe waarin hy toe beweeg het – drank en dwelms was volop. ’n Jaar later het hy sy werk by Egoli verloor. Hy verstaan hoekom.
‘‘Ek het laat opgedaag op stel en nooit voorberei nie.’’ Later wou niemand meer vir hom werk gee nie. Weens wan voeding het sy tande uitgebreek.
Hy was twee keer in die hospitaal ná oordosisse. ‘‘Ek het vir my pa gesê as hy nie ophou nie, gaan ek vir my ’n ander pa soek,’’ vertel Werner. Deon vroetel in die gholfsak op soek na die regte stok. ‘‘Maar ek wou nie hoor nie.
Ek het maar net aangegaan.’’ Ook die twee keer in die polisieselle kon hom nie op sy pad van selfvernietiging stuit nie. Die eerste keer was in 2001 toe sy meisie ’n aanrandingsklag teen hom gemaak het; daarna weer in 2005.
Ná ’n woeste drinksessie wat heeldag aangehou het, het hy op pad huis toe in vier karre vasgery en is hy ‘‘skoppend en skreeuend’’ in die polisieselle in Bellville naby Kaapstad toegesluit. Ook daarvan kon hy later niks onthou nie. Deon skud sy kop.
‘‘Dit was ’n chaosbelaaide tyd.’’ In dié tyd het hy nie net twee huise verloor nie, maar ook homself. ‘‘Maar jy kom dit nie agter terwyl jy val nie – jy moet mos eers die grond tref voor jy dit besef.’’ En toe dié besef uiteindelik kom, het hy hulp gaan soek.
Hy was by Alkoholiste Anoniem en by sielkundiges, psigiaters en rehabilitasieklinieke. Hy kry steeds hulp: ‘‘Dit is ’n lang pad wat ek nog moet stap om alles in my kop uit te sorteer. Maar dit is nie drank wat my probleem is nie – dit is my humeur.’’
En so vertel Karin in haar boek dat Deon (sy noem nie sy naam nie) haar in sy woedebuie met goed gegooi het. Sy sinspeel daarop dat hy ook teenoor haar gewelddadig geraak het.
Maar hy het haar nooit aangerand nie, sê Deon beslis. En voeg by: ‘‘Ek het nog nooit enige vrou met my vuis geslaan nie. Wat sy skryf, is haar persepsie van die waarheid en ek het geen probleem daarmee nie. “Dit is ’n merkwaardige boek en Karin is ’n merkwaardige meisie, ongelooflik talentvol.
En as dit haar manier is om antwoorde op haar eie kwelvrae te kry, dan is dit goed so. “Maar onthou, daar is altyd ’n ander kant van die saak. Daar is altyd ’n rede waarom dinge gebeur. Daar is nooit een onskuldige persoon in ’n situasie nie.
Niemand is perfek nie. Dit is so maklik om ander mense te veroordeel, maar intussen weet jy nie waarmee hulle worstel nie.’’ Ja, hy het wel in sy woede haar selfoon stukkend gegooi en haar uit sy huis gejaag. ‘‘My woede is altyd gemik teen myself en my eie dinge. Jaloesie was ’n baie afbrekende emosie in ons verhouding. Karin het my voortdurend daarvan beskuldig dat ek ontrou was. Maar ek was nie.’’
HERMAN, Deon se karakter, vind liefde in die Laan. En Deon self? “Nee wat, ek is nie beskikbaar nie,’’ sê hy beslis. ‘‘Ek is besig met 7de Laan en verhoogwerk.
Ek speel gholf en bring tyd saam met my seuns deur. Dit is dinge wat nou vir my belangriker is.’’ By die agtste putjie waai die yswind skielik sterker en Deon trek sy mussie stywer oor sy kop. Hy en Werner bespreek taktiek oor hoe om die volgende hou teen die wind in te dryf. Sy seuns – daar is ook die 24- jarige Renier – is die enigste mense voor wie hy nie ’n masker hoef te dra nie, sê hy. Hulle aanvaar hom onvoorwaardelik. Hy aanvaar alle blaam.
‘‘Ek is skuldig aan die meeste goed wat oor my gesê word, maar daar moet ook na die ander kant van die saak gekyk word.’’
Hy plaas die balletjie en tik-tik met die gholfstok op die grond. ‘‘Gaan mense my nou voortdurend kruisig oor dit wat ek in die verlede gedoen het?’’ Hy is oor niks spyt wat in sy lewe gebeur het nie, behalwe oor die mense wat hy seergemaak het.

Deur Annelene Moses
SY SIT vooroor gebuk met sy hande oor sy oë. Dan kom hy regop, en hier in sy buurman se sitkamer rol die trane onbe- skaamd oor sy wange.
Daniël Labuschagne het nie die moed om na sy eie woonstelletjie te stap waar klein Daniël jr. se wiegie leeg staan nie. Die 20-jarige pa skud sy kop in ongeloof.
Die laaste paar dae is soos ’n nagmerrie waaruit hy net nie kan ontwaak nie. Dae tevore het die ma van sy vier maande oue babaseun hul kind eers versmoor en toe op ’n teerpad meters van hul blyplek neergelê sodat ’n voertuig oor die klein lyfie kon ry.
Toe het sy die oorblyfsels van haar kleinding in ’n oop stuk veld aan die brand gesteek. ‘‘Ek kan nie daar binne wees nie, die plek maak my mal,’’ sê hy oor die woonstel in Vanderbijlpark wat hulle tot nou die dag nog gedeel het.
Hy is stukkend van verdriet, en woedend – so woedend dat hy sy vriendin van die afgelope agt jaar met sy kaal hande wil vermoor. Hy was nie in die hof in Vanderbijlpark toe Miemie Kraft (23) daar verskyn het nie.
Hy weet nie of hy haar ooit weer wil sien nie. Wat haar tot hierdie onbeskryflik wrede daad gedryf het, is vir hom ’n raaisel.
‘‘Ons het ons argumente gehad, maar ons het nie daardie aand gestry nie. Ons het so kwart voor tien vir mekaar nag gesê, en Daniël was toe nog vas aan die slaap in sy wiegie.’’ ’n Buurman het hom vroeg die oggend wakker geklop vir werk.
Dit was eers toe dat hy ontdek het Miemie lê nie meer langs hom nie, en Daniël se wiegie is leeg. ‘‘Sy bottels en klere was daar, net sy kombersies was weg.
Ek het na oom Gert toe gehardloop en gevra hy moet my help soek.’’ Sy buurman Gert de Beer was buite – sy motor is gesteel. Nou was die jong pa eers bang.
‘‘Ek het gedink wie ook al oom Gert se kar gesteel het, het vir Miemie en Daniël ontvoer.’’ Die mans het Miemie en klein Daniël dadelik as ver- mis by die polisie aangemeld, en hulle is saam met speurinsp.
Tinus Oosthuizen Sasolburg toe, waar Miemie se ouers bly, maar hulle was nie tuis nie. Dit was net toe hulle Vanderbijlpark weer binnery, dat hulle Miemie doodluiters in die pad aangestap sien kom saam met ’n vreemde man. Klein Daniël was nêrens. Die bekommerde pa het uit die kar gespring en op haar afgepyl. Toe sien hy die bloedvlekke aan haar klere . . .
DIE jong pa vertel: ‘‘Ek het op haar begin skree: ‘Waar is Daniël, waar is Daniël?’ ’’ Miemie het gesê sy het die baba in sy sorg gelos.
‘‘Ek het haar begin skel en gesê sy lieg, sy weet mos hy is nie by my nie, sy het hom dan gevat.’’ Tinus het haar beveel om in die voertuig te klim en hulle is terug woonstel toe. Toe hulle daar aankom, het Miemie alleen met die polisieman gepraat, en hulle is toe saam in die motor na ’n padstal daar naby.
’n Verskriklike toneel het die polisieman se oë begroet. Naby die padstal, tussen turksvyblare, het klein Daniël se verbrande lykie gelê.
Sy swart verbrande kombersies was ook daar, en stukkies van sy kliniekkaart en geboortesertifikaat het in die wind gefladder. ‘‘Dit was nie ’n aangename gesig nie,’’ vertel Tinus.
‘‘Sy kop was verbrysel, hy het brandwonde aan sy beentjies en een armpie gehad en sy ma het net daar gestaan, koud en sonder enige teken van emosie.’’
Daniël se skouers begin ruk wanneer hy oor sy kleintjie praat. ‘‘Hy het net begin oulik raak, en die geluidjies wat hy gemaak het, was so mooi.
Ek het na die beste van my vermoë probeer om ’n goeie pa te wees. Wanneer ek nie geld gehad het nie, het ek geld geleen vir melk.’’ Ja, geld was ’n probleem.
Hul rusies het gewoonlik maar oor geld gegaan, en oor Miemie wat nie mooi huisgehou het nie. ‘‘Wanneer ek van die werk af gekom het, was die huis vuil en Daniël se tietiebottels en klere was nie gewas nie.
As ek ’n klein blik melk gekoop het, het dit twee weke gehou. En as ek ’n groot blik gekoop het, het dit ook net twee weke gehou.’’ Hy is steeds verbys-ter oor wat gebeur het, dat die ma van sy kind so uit die bloute, so sonder waarskuwing so ’n gruweldaad kon pleeg . . .
Hy het immers geen teken gesien dat sy enigiets behalwe liefde vir die kleintjie gevoel het nie. ‘‘Alles het orraait gelyk. As sy dalk depressief was, het sy niks laat blyk nie.
En ek sou ook nooit kon dink sy haat ons kind nie.’’ Die paartjie het ook ’n driejarige dogtertjie wat in pleeg- sorg by ’n gesin in Middelburg is.
Maar hieroor wil Daniël niks meer sê nie, behalwe dat dié kind veilig is. Op die kleinhoewe waar die paartjie se tweevertrek-woonstel is, gons dit oor die gru-dood van die onskuldige kleintjie. Kennisse vertel hulle het Miemie altyd met haar baba sien stap. Oral waar sy gegaan het, was klein Daniël.
Almal was wel bewus van die paartjie se armoede. Van die bure en ander weldoeners het met kos, klere en benodigdhede vir die baba gehelp.
Daniël werk vir ’n kontrakteur by ’n staalfabriek, en van sy karige salaris van nagenoeg R2 500 maandeliks het nie veel oorgebly nadat hy R1 000 vir ’n dak oor hul kop moes betaal nie. Miemie was ’n huisvrou.
By sy werk word nou kollektelyste omgestuur vir geld vir die begrafnis. Die gebroke pa se oom, Eugene Herholdt, is besig om ’n doodskissie te maak.
‘‘Nie een van ons het ooit kon dink sy het dit in haar nie,’’ sê Eugene. ‘‘Ons is kwaad, ons wil net weet hoekom? As ons die antwoord kry, sal dit miskien beter gaan. Daniël se hart is stukkend.
Sy ma, Manda, het oornag oud geword.’’ Dit gaan ook nie goed met die vrou op wie hul hoop vir antwoorde gevestig is nie: Miemie het al twee keer probeer selfmoord pleeg sedert die dood van haar kind. Sy word nou streng bewaak.
Daniël bewe van woede toe hy weer praat. Dan gryp hy sy oom en klou bedroef aan hom vas. Dit sal maar ’n eenvoudige begrafnis wees, sê hulle. Nes klein Daniël se kort lewetjie was.
HOE KAN 'N MA SO IETS DOEN?
Dit is ongehoord dat ’n normale ma haar kind eenvoudig sal vermoor, sê die sielkundige Annemi Scheepers van Kempton Park. In die geval van Wilhelmina (Miemie) Kraft (23), wie se baba met ’n verbryselde kop gevind is en toe ook aan die brand gesteek is, het die ma vermoedelik heeltemal kontak met die werklikheid verloor toe sy tot die daad oorgegaan het.
Sy het dalk reeds voor die koms van haar baba met depressie geworstel. Die kleintjie en die moeilike omstandighede waarin sy en haar lewensmaat hulle bevind het, het dit waarskynlik vererger en uiteindelik tot ’n ineenstorting gelei, sê Annemi.
‘‘Die paartjie se eerste kind is uit hul sorg verwyder. Miskien het sy nie die nodige ouerskapvaardighede of die lewenswysheid om die spanning wat ma’s beleef, te kon hanteer nie.
’n Mens moet ook vra of sy ’n ondersteuningsnetwerk gehad het.’’ Die feit dat die ma die lykie en die kind se dokumentasie daarmee saam verbrand het, is insiggewend.
‘‘Dit was asof sy doodseker wou maak dié mensie kom nooit weer terug nie. Dit is ’n teken van die absolute desperaatheid en waansin wat sy ervaar het. Dit is ontsaglik hartseer.’’
Die tragedie moet ’n wekroep vir die samelewing wees, sê sy. ‘‘As sy wel depressief was, hoekom het niemand opgelet sy praat minder sinvol, of praat, eet of slaap nie meer nie?
‘‘En het sy genoegsame voeding gekry tydens haar swangerskap en daarna? Voeg hierby die fisieke eise wat ’n baba stel en ’n ma kan breekpunt bereik.’’
Dit kan soos ’n laaste oorlewingsmeganisme wees, sê Annemi: Raak ontslae van die baba en fokus die bietjie beskikbare reserwes op jouself.

Deur Hannelie Booyens
AS DIRK Prinsloo Russies goed kon verstaan, sou hy waarskynlik
effens gespanne gevoel het as hy by ’n plakkaat van die polisie in Minsk, hoofstad van Belarus, verbygeloop het.
Maar die Russiese woorde vir “ons is altyd naby jou” sou vermoedelik nie veel indruk op hom gemaak het toe hy op 12 Junie na ’n internetkafee in die stad gestap het nie.
Minute later het ’n polisieman sy hand op die 39-jarige Dirk se skouer gesit – en in daardie oomblik is die raaisel opgelos oor waar in die wêreld Suid-Afrika se mees gesoekte seksmisdadiger hom bevind.
En nou is daar gissinge dat dié berugte voortvlugtige hom die afgelope paar jaar in Belarus met seks aan die lewe gehou het.
Daar word ook nou gesê van Dirk se minnaresse wat hom onderhou het, was vermoedelik prostitute.
Daar word selfs beweer dat hy by dié land se florerende sekssluikhandel betrokke was.
As dit so was, was sake in die seksbedryf dalk nie te florerend nie. Anders sou dit sekerlik nie vir die gewese advokaat nodig gewees het om ’n bank te probeer beroof wat tot sy uiteindelike inhegtenisneming gelei het nie.
Dis nie bekend of Tatiana, die vrou saam met wie hy die afgelope ses maande gewoon het en wat die ma van sy een-jarige dogtertjie is, ook ’n prostituut is nie.
Sy het vir die polisie gesê sy het geen benul gehad dat hy beplan het om ’n bank te beroof in dieselfde straat in die stad Baranowitsji waar hulle woon nie.
Haar ouers was gekant teen haar verhouding met Dirk, en sy het dikwels by hulle oorgebly. Swetlana, die ma van Dirk se tweejarige seun, woon in die dorpie Soligorsk, 132 km van Minsk, en sy het geruime tyd nie meer kontak met Dirk nie.
Belarus, ’n voormalige republiek van die Sowjetunie, het ’n reputasie wat dit vir seks-misdadigers aanloklik maak – dit is een van die top-10-sekshandelslande in die wêreld.
Vir Dirk, wat volgens sy eertydse minnares Cézanne Visser, oftewel Advokaat Barbie, ’n obsessie met seks gehad het en in Suid-Afrika weens onder meer kinderpornografie en seksdade met minderjariges gesoek word, sou dit dalk na ’n goeie plek vir sake gelyk het.
Was Dirk die afgelope tyd by internetpornografie in Belarus betrokke?
Hy het gereeld en om geen ooglopende rede nie na Rusland gereis, iets wat ondersoekers nou laat wonder of hy dalk by sekshandel betrokke was.
TOE Dirk in 2005 uit die land is, het hy gevlug van een van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende verhore, waarin hy en Cézanne op 16 aanklagte van onder meer verkragting, onsedelike aanranding asook die maak van kinderpornografie teregstaan.
Waarmee hy hom die afge-lope vier jaar besig gehou het, bly duister, maar Dirk moes uiters desperaat gewees het om op 10 Junie ’n bank te beroof in die straat waar hy woon.
In ’n dramatiese e-pos aan verskeie joernaliste in Suid-Afrika het Dirk nog op 2 April vanjaar gespog dat Interpol heeltemal op die verkeerde spoor is en hom nooit sal opspoor nie.
‘‘My kind se ma is nog nooit deur Interpol genader nie omdat hulle heeltyd al die verkeerde mense op my telefoonlys nader en ondersoek – hulle weet duidelik nie wat my private telefoonnommer is nie.’’
Hy sluit sy e-pos af deur te sê hy moet gaan roomys koop vir sy kind. ‘‘My kind kan al swem en hulle het so ’n paar minute gelede uit die see gekom.’’
Omdat hy nie veel Russies kon praat nie, het hy nie baie kontak met sy bure gehad nie. Hy het drie keer per week gim toe gegaan en ’n gim-instrukteur was sy enigste vriend, het die polisie in die stad gesê.
‘‘Die enigste manier waarop ek gevang sal word, is as ek besluit ek wíl gevang word, of as die een of ander groot ongeluk of natuurramp my tref,’’ het hy op 27 Maart in ’n brief aan joernaliste geskryf.
Hy het toe ook gesê dat hy met ’n baie moeilike en gevaarlike proses besig is en ‘‘dit lyk of my einde naby is’’.
Profetiese woorde . . .
In dieselfde e-pos beskryf die voortvlugtige grootprater hom-self as ’n eenvoudige man wat ’n bestaan probeer voer in ‘‘bi-sarre en folterende omstandighede en gebeure wat ’n Hollywood-draaiboekskrywer nie eens sou kon uitdink nie’’.
Skaars drie maande later loop Dirk toe sy rieme styf, en inderdaad op ’n manier wat ’n toneel uit ’n Hollywood-aksie-fliek kon wees.
Maar anders as in ’n fliek, lyk die hoofkarakter nie meer soos die skoongeskeerde advokaat wat hy eens op ’n tyd was nie.
Nou is hy net ’n slonserige, ongeskeerde boef met ’n onver-sorgde boskasie – en een wat deur lang, lang jare agter tralies in die gesig gestaar word.
Die dag van die mislukte bankroof het Dirk net ná middagete met ’n mus oor sy kop die bank binnegestorm en op die drie kassiere begin skree.
Ooggetuies sê hy het die vroue rondgestamp en geslaan en vir hulle in Russies geskree om die kluis oop te sluit. Hy het een vrou op haar bobeen geskop.
Die polisie het later ’n afdruk van sy skoensool op dié vrou se rok gekry.
Toe die bankpersoneel hom nie verstaan nie, het hy ’n briefie met ’n spelfout vir hulle gegee: ‘‘Geld op die tafel’’.
Een van die vroue het geval en haar kop teen ’n toonbank gestamp, maar sy het gelukkig betyds die alarmknoppie gedruk gekry. Sy moes later behandeling ontvang vir haar kopbeserings.
’n Kliënt is aangerand en ook weens kopbeserings in die hospitaal opgeneem.
Toe die bank se noodsirene begin loei, het Dirk op die vlug geslaan en alles net so gelos – die klapmus, die speelgoedgeweer, die gasspuit en ’n metaalstaaf waarmee hy die deure versper het.
Twee dae later het polisie hom in die internetkafee in Minsk opgespoor.
Dirk was stomgeslaan. Hy was oortuig daarvan dat niemand hom tydens die mislukte bankroof herken het nie. Maar soos in ’n toneel uit ’n fliek is die hoofkarakter se ondergang bepaal deur ’n toevalligheid.
’n Tienjarige seun wat met sy hond gespeel het, het Dirk uit die bank sien hardloop en hom as een van sy bure geëien.
Die kind se akkurate beskrywing, saam met ’n stel vingerafdrukke, het Interpol na Dirk gelei.
Hy het nog sy Suid-Afrikaanse paspoort by hom gehad toe hy in hegtenis geneem is.
BELARUS sou dalk om meer as een rede aantreklik gewees het vir ’n man wat, as Cézanne se getuienis in haar hofsaak waar is, genot daaruit geput het om vroue te hiet en gebied.
In vergelyking met Westerse vroue is die vroue van Belarus nog baie onbevry, sê ’n joernalis van dié land.
‘‘Hulle leef vir hul mans en baie min van hulle besef hulle kan op hul eie voete staan. “Hulle verwag van ’n man om hulle te beskerm en na hulle om te sien. Hul onderdanigheid maak hulle baie gewild onder sekere konserwatiewe Westerse mans.’’
In sy laaste e-pos wat Dirk op 11 April aan die Suid-Afrikaanse media gestuur het, het hy geskimp dat iemand dalk vir hom toutjies getrek het toe hy na Rusland gevlug het. In hierdie e-pos het hy spesiaal dankie gesê aan sy ‘‘vriende by die Russiese ambassade in Suid-Afrika wat bewys dat alle KGB-agente nie sleg is nie’’.
Of hy in die tronk in Belarus nog steeds sulke mooi woorde vir eertydse KGB-agente sal hê, is te betwyfel.
Die tronke daar is van die primitiefstes op die vasteland, en die man wat vier jaar gelede van die Suid-Afrikaanse gereg gevlug het, gaan dalk vorentoe nog baie hard wens hy het liewer maar net hier gebly ...

Deur Danél Blaauw
DIE lang, swart Moslem-gewaad bedek haar lyf van kop tot toon. Haar ligblou oë dwaal verward deur die leë hofsaal op soek na bekende gesigte.
Dan val Roxanne Hillier (22) se blik op haar pa, Freddie, en albei slaak ’n sug van verligting. Sy dogter se oë verklap haar spanning, maar Freddie kan genadiglik ook sien die seks-nagmerrie waarin Roxanne haar nou bevind, gaan sy dapper dogter nie knak nie.
Wanneer sy die kans kry, fluister sy ’n paar woorde en verseker hom sy is oukei – al sit sy sedert 16 Mei in ’n tronksel in Khor Fakkan in die Verenigde Arabiese Emirate opgesluit.
Waar Freddie in ’n hofbank sit, vreet die laaste paar dae se spanning aan hom. Hy staan magteloos teen die Emirate se wetgewing. Hy is moedeloos en bekommerd soos net ’n ouer kan wees.
En hy is briesend – woedend omdat Roxanne, wat sedert November as reddingsduiker in Khor Fakkan in die emiraat Sjarja gewerk het, van buiteegtelike seks met haar baas beskuldig word. En omdat die Suid-Afrikaanse konsulaat skaars ’n vinger verroer het om hulle te help.
In die hof het hy nie veel verstaan nie, behalwe dat sy ná ’n verskyning van drie minute aan die seksklag skuldig bevind is. Nadat net drie eenvoudige vrae aan haar gestel is, waarop sy alle skuld ontken het.
Op 1 Junie is sy tot drie maande tronkstraf gevonnis, met net die vae hoop van ’n appèlsaak tussen haar en die tralies. Wanneer sy vrygelaat word, sal sy gedeporteer word. Maar van ’n werkvisum in die buiteland kan sy dogter nou maar vergeet, meen die ontstoke pa. Nie met ’n misdaad-rekord agter haar naam nie . . .
VIR Roxanne, ’n avonturier in murg en bloed, was die pos van twee jaar by die duiksentrum ’n droom wat bewaarheid is. Nooit het sy gedink ’n tronkhel wag op haar toe sy haar tasse vir die avontuur gepak het nie.
Die aand toe haar lewe ontspoor het, het sy en haar werkgewer baie laat teruggekeer ná twee moeilike duike gedurende die dag. ‘‘Sy wou nie op haar eie na haar woonstel gaan nie, want dit is taamlik ver van die duiksentrum en dit was reeds laat,’’ vertel Freddie, wat in Albanië as ingenieur werk.
Boonop is teëlwerk in Roxanne se badkamer gedoen en daar was probleme met die water.
Sy het toe in ’n kamer op die boonste verdieping van die sentrum gaan slaap en die deur gesluit. Later het sy deur die tronktralies aan Freddie vertel hoe polisiebeamptes haar opgetrek het van waar sy opgekrul in ’n hoekie geskuil het toe sy die nag ’n geraas gehoor het, uit-gepluk en vir mediese toetse na ’n hospitaal geneem het.
Freddie se stem word hees toe hy Roxanne se woorde aan hom herhaal: ‘‘Pappa, ek was so bang; hulle het al wat ’n ding is in my opgedruk.’’
Ongeag die mediese uitslae, wat negatief vir seksuele omgang was, is sy skuldig bevind aan seks met haar werkgewer. Sy het die nag in die hospitaal nie ’n woord verstaan van die ondervraging nie. ‘‘Sy het later net ‘ja, ja’ geantwoord sodat hulle haar kon uitlos,’’ vertel Freddie. Sy is toe gedwing om ’n Arabiese verklaring, waarvan sy nie ’n woord verstaan het nie, te onderteken.
Freddie en sy vrou, Ina, praat daagliks met hul kinders. Toe hulle niks van Roxanne hoor nie en ’n bekommerde Maxine (20), haar suster wat in Aboe Dhabi werk, later bel en sê sy kan haar nie opspoor nie, het hulle onrustig geraak.
Hulle was rasend toe Maxine uiteindelik bel met die nuus dat Roxanne in hegtenis geneem is.
‘‘Ek het dadelik die ambassade se noodnommer gebel, maar geen antwoord gekry nie.’’ Freddie was op die eerste vlug Doebai toe, maar Ina moes agterbly omdat sy nie ’n visum gehad het nie.
Die verhouding tussen Roxanne en haar werkgewer is platonies en niks meer nie, sê Freddie.
Hy en Ina het hul dogters geleer om ander mense te re-spekteer en sê ferm sy dogter sou nie die Moslem-wet wat buite-egtelike seks as ’n misdaad beskou, minag nie.
‘‘Ons het sewe jaar in Tanzanië gewoon, oorwegend ’n Moslem-georiënteerde land. Ons het die meisies geleer om alle mense te respekteer, ongeag hul kleur, geloof of kultuur.’’
Met hul eerste besoek aan hul dogter het sy broos gelyk in ’n denim en T-hemp, maar sy het dapper geglimlag en hulle verseker sy kan die situasie hanteer.
Roxanne is die enigste Suid-Afrikaner in die tronk en sukkel om die ander te verstaan. ‘‘Gelukkig is daar een ander meisie wat Engels verstaan en vir haar tolk.’’
Op 22 Mei toe sy haar 22ste verjaardag gevier het, was dit agter tralies. Daar was geen spesiale etes, ’n verjaardagdrankie of ’n koek om dit te vier nie. Net die tronkkos vol speserye wat haar gestel so omkrap, vertel haar pa.
Sy mag net twee keer per week vir vyftien minute besoek ontvang, maar die ondersteuningsgroep wat haar vriende op Facebook begin het en die boodskappe wat hulle uitdruk en vir haar neem, maak haar sterker en dra haar deur dié tyd, sê Freddie.
‘‘Dis vir ons verskriklik moeilik. Ons weet sy is onskuldig, maar ons kan dit nie bewys nie.’’
Snags wanneer hy in die bed kruip, voel hy sy dogter se pyn. ‘‘Ons sal nie ophou baklei nie. Sy is onskuldig en ons sal aanhou baklei tot ons haar on-skuld bewys.’’
Ina en Maxine was ’n paar dae gelede in die hof toe ’n prokureur namens Roxanne appèl teen haar vonnis aangeteken het. ‘‘Dit was baie moeilik. Alles is in Arabies en ons het niks verstaan nie. Dit klink bisar, maar ek weet nie op watter gronde ons geappelleer het nie,’’ vertel Ina.
Haar dogter sou op 21 Junie hoor wat haar lot is wanneer die regters uitspraak sou lewer. Sy dogters is buitelugkinders en lief vir die see en water, vertel Freddie, en hy spog dat albei as oopwater-duikinstrukteurs gekwalifiseer is.
Roxanne is met sakke vol drome na die Emirate, waar sy toe die pos by een van die beste duikplekke in die Emirate gekry het. Sake het nog rooskleurig gelyk toe Maxine haar in Februarie volg om in Aboe Dhabi te werk.
‘‘Dit was hul grootste droom en nou het dit hul grootste nagmerrie geword. Roxanne wou nog altyd eendag haar eie boot besit en skubaduikers op die see uitvat.’’ En hopelik sal geen tronk dié droom vernietig nie . . .
OOK AGTER TRALIES OOR ‘SEKS’ IN DIE EMIRATE
In Februarie is die Brit Marnie Pearce (40) tot drie maande tronkstraf in Doebai gevonnis nadat haar Egiptiese eksman beweer het sy verkul hom.
Sy het helder oordag ’n koppie tee vir ’n vriend gemaak terwyl hy ’n e-pos in ’n ander vertrek gestuur het toe die polisie by haar woonstel instorm en haar in hegtenis neem. Marnie het toesig oor haar twee seuns verloor en sou onmiddellik ná haar vrylating in April gedeporteer word.
Dié bevel is intussen uitgestel terwyl Marnie probeer om toesig oor haar kinders terug te kry. Enkele jare gelede het die polisie ’n Franse sakevrou, Touria Tiouli, in hegtenis geneem nadat drie mans haar ure lank om die beurt verkrag en sy die saak by die polisie gaan aanmeld het.
Een van die mans het erken daar was seks, maar aangevoer dit was met haar toestemming, waarop sy toe daarvan aangekla is dat sy seks buite die huwelik gehad en ’n vals verkragtingsklag aanhangig gemaak het.

Deur Yvonne Beyers
HY ONTHOU steeds haar ouerhuis se telefoonnommer . . . selfs al het 20 jaar verbygegaan sedert hy sy eksmeisie die laaste keer by dié nommer gebel het.
En toe die Amerikaanse akteur en sanger David Hasselhoff verlede jaar besluit om ’n album met duette op te neem, het hy op die ingewing van die oomblik besluit om te kyk of die nommer dalk nog werk.
Hy’t immers ’n paar jaar gelede by ’n gemeenskaplike vriend verneem sy het sedert hul laaste ontmoeting in 1989 ’n Suid-Afrikaanse sangsensasie geword. Miskien sou sy instem om ná al die jare ’n liedjie saam met hom op te neem?
En toe David (56) die nommer skakel, antwoord Patricia Lewis (41) se ma sowaar!
‘‘Ek kon dit nie glo toe ek Linda se stem weer hoor nie – en sy het my dadelik onthou!’’ grinnik die akteur wat kultusstatus verwerf het met sy rolle in die reekse Baywatch en Knight Rider.
‘‘Toe vertel Linda my Patricia het vir haar ’n Mercedes gekoop, en haar jonger sussie het kanker oorleef, en dit gaan goed met die ander sussie, en ons gesels sommer 45 minute lank oor ditjies en datjies voor ek Patricia se nommer vra,’’ sê die hemelbesem met die breë skouers.
Hy knipoog vir Patricia, wat giggelend na haar ekskêrel luister waar hulle saam in ’n ateljee in Germiston ’n blaaskans neem tussen opnames. Mark Whitfield, Patricia se man, kyk geamuseerd toe en lag kort-kort vir die uitbundige David se staaltjies.
Hy’s glad nie jaloers op die bruingebrande spook uit sy vrou se verlede nie, selfs al het Patricia spesiaal voor David se koms 5 kg verloor sodat sy op haar beste kon lyk vir die herontmoeting. Mark en David het sommer groot pelle geword nadat hy die Amerikaanse ster by die lughawe gaan haal het. ‘‘Mark is ’n regte guy’s guy; hy’s ’n koel ou,’’ verduidelik David.
David het Patricia al in November gevra om saam met hom ’n liedjie vir sy beplande album, The Romantics, op te neem, maar sy was in daardie stadium depressief en lusteloos weens haar onderaktiewe skildklier en sy het die projek uitgestel.
Maar toe dit onlangs ná dokterstoetse blyk daar’s ses gewasse op haar skildklier en sy sal moontlik nooit weer kan sing ná die operasie wat binnekort gedoen word nie, het sy besluit om dit wat moontlik haar laaste liedjies sal wees, saam met haar voormalige liefde op te neem (Ek sing dalk nooit weer, 14 Mei).
‘‘Toe kry ek ’n e-pos van Mark waarin hy my vertel Patricia sal dalk nooit weer kan sing nie en ons moet die liedjies so gou moontlik opneem,’’ sê David.
‘‘Dit was ’n aangrypende, hartverskeurende brief,’’ sê hy en vee dramaties die kamma-trane weg om sy punt te benadruk.Hy’t ’n paar weke later spesiaal hierheen gevlieg om twee duette, die Engelse liedjie As I Am en die liedjie Miss Kiss Kiss Bang, saam met Patricia op te neem. Laasgenoemde het ’n Engelse titel, maar Afrikaanse lirieke.
‘‘Ek’s nie eintlik bekommerd daaroor dat ek die liedjie in Afrikaans moet sing nie. Toe ek en Patricia saam was, het ek ’n paar Afrikaanse woorde geleer. Om die waarheid te sê, die sekerheidskode vir my huis in Kalifornië was die afgelope vyf jaar ‘baie dankie’. Jy sou net by my huis kon inbreek as jy Afrikaans kon praat!’’
DIS die eerste keer dat Patricia en David mekaar sien sedert hulle in 1989 agt maande lank in ’n verhouding was. Dit was in die dae voor haar eerste album uitgereik is en sy was toe nog die aanbieder van Toyota Top 20 op die destydse TV4.
Die twee het mekaar by Sun City ontmoet toe David hier was om ’n fliek te verfilm en hy kon sy oë nie van die vietse blondine afhou nie.
Hulle het saam in Duitsland, Oostenryk en Amerika gerinkink en David was hier saam met Patricia op safari. ‘‘Maar die verhouding het geëindig. Ons het in mekaar belanggestel, maar het nog meer in ons eie loopbane belanggestel!’’ sê David.
‘‘Toe ek in Amerika was, het ’n Baywatch-vervaardiger my gevra of ek ’n rol in die reeks wou speel,’’ sê die sanger met
die blonde lokke. “Maar ek moes terugkom hiernatoe, want ek het nie ’n werkpermit gehad nie.’’
‘‘Jy sou baie gewild gewees het as jy op Baywatch was!’’ roep David uit. ‘‘Jy was daardie jare . . . jy’s steeds beeldskoon, maar daai tyd . . . Jy was ’n Baywatch-meisie; jy kon soos Pamela Anderson gewees het!’’
‘‘David het vooraf op die internet ’n foto van my gesoek om te kyk hoe ek deesdae lyk. Toe kom hy af op ’n foto van my met ‘n wit rok en ’n cowboyhoed, en hy laat weet toe ek lyk nes Dolly Parton,’’ sê Patricia laggend.
‘‘Ag, jy was nog altyd oulik,’’ antwoord hy blitsig.‘‘Dankie dat jy in jou outobiografie oor my geskryf het,’’ sê Patricia skielik. ‘‘Dit het vir mense hier gewys ek het nie gejok toe ek destyds gesê het jy was verlief op my nie.’’
‘‘Maar ek wás verlief op jou!’’ val David haar in die rede. ‘‘Patricia was daardie jare so ’n oulike dingetjie. Sy het toe al in my oor gefluister sy wil eendag ’n sanger word. Ek het gedink: Ag, hoe oulik . . .
‘‘Toe ek jare later by ’n vriend hoor sy het ’n suksesvolle sanger geword, het ek gedink: ‘You go, girl!’ Ek het altyd geweet sy gaan suksesvol wees.’’
Hoe’t hulle dit reggekry om deur die jare kontak te hou? ‘‘Ons het nie eintlik nie,’’ erken David.
‘‘Ons het die afgelope twintig jaar net een of twee keer oor die telefoon gesels. Maar ons sou by ander mense hoor hoe dit met die ander een gaan. Dis hoe ek uitgevind het sy’s intussen getroud en sy’t ’n kind gehad. En iemand het vir my gesê sy het toe die Pamela Anderson van Suid-Afrika geword!’’
David was al vier of vyf keer tevore in Suid-Afrika en hy wil moontlik volgende jaar weer kom kuier. Sy tienerdogters, Taylor-Ann en Hayley, wil albei sangers word en hy wil hul eerste album moontlik ook hier kom bekendstel.
‘‘Skynbaar is die Hoff groot nuus in Kaapstad – daar’s glo selfs Hoff-feeste!’’ sê hy opgewonde.
Mense herken hom steeds oral op straat, sê hy. ‘‘Toe ek in die 1980’s hier was, kon ek die lughawe amper nie verlaat nie omdat duisende mense soontoe gestroom het.
"Ek was toe op ’n kol in Umhlanga en wou so graag my voete in die Indiese Oseaan steek, maar toe ek my venster oopmaak, was daar honderde mense in die straat voor die hotel wat gegil het: ‘Daaaaaviiiiiid!’ ’’
Sy bors swel van die trots. ‘‘Ek het Charlize Theron in ’n televisie-ateljee in Amerika ontmoet, en sy’t vir my gesê sy het destyds in Bloemfontein vir my ’n houtkameelperdjie gegee toe ek daar was. Sy was toe elf jaar oud.’’
Patricia straal terwyl sy praat oor die goeie tye wat sy en die Hoff destyds gedeel het. ‘‘Ons het ’n heerlike tyd gehad. Ons het so baie gelag; David het gedink ek’s baie snaaks,’’ sê sy.
Hy loer met ’n glimlaggie na haar. ‘‘Ek dink nog steeds so!’’
• Patricia en David se duette verskyn op haar jongste album, Net Soos in Drome, wat binnekort heruitgereik word.

Deur die Huisgenoot-verslagspan
HULLE woon nog in die-selfde miljoenêrshuis, hulle ry nog met dieselfde luukse motors, en hulle koop nog by die-selfde winkels. Joost van der Westhuizen is terug agter die mikrofoon as rugbykommentator in Engeland vir die Britse Leeu-toer, en sy vrou, Amor, se nuwe CD is op pad. Maar die skindertonge sê dit gaan nie goed met hul geldsake nie.
Die voormalige Springbok-rugbykaptein se beursie raak glo ál leër...
Joost sê dis onsin dat die omstrede Joost-seksvideo wat in Februarie aan die lig gekom het, sy geldsake deurmekaar kom krap het.
‘‘Ek het niks verloor ná die videostories nie en ons sukkel nie finansieel nie. Dit gaan beter as ooit tevore,’’ sê hy baie beslis.
Maar dis nie die prentjie wat ingeligte kennisse skets nie. Hulle sê die Bok-legende sukkel eintlik al sedert verlede jaar finansieel, en die jongste knou is glo net die laaste strooi.
‘‘Joost was al verlede jaar diep in die moeilikheid,’’ sê ’n betroubare bron wat anoniem wil bly. ‘‘Hy het nie regtig beleggings nie, en al sy borge het hom gelos. Sy behuisingsmaatskappy het ook verlede jaar groot verliese gely.’’
Joost het ook onlangs kapsie gemaak teen ’n rekening van R100 000 van die Johannesburgse prokureur wat hom vlugtig verteenwoordig het oor die videoskandaal.
Hy het gesê dis buitensporig, en hoewel regskenners nie noodwendig met hom saamstem nie, het Theresa van der Linde die rekening tot R80 000 verminder.‘‘Ek is nou tevrede, die dokumente is onderteken en die geld moet nog net oorgeplaas word,’’ sê Joost.
Peet Viljoen, sy voormalige prokureur, sê wel Joost het hom nog nooit laat betaal nie.
Die oud-Bok ontvang steeds sy salaris van sowat R336 000 per jaar as kommentator by SuperSport. Sy kontrak is nie opgeskort nadat sy beweerde sekskapades en dwelmmisbruik aan die lig gekom het nie, maar sy dienste wel.
Clinton van der Berg, die kanaal se woordvoerder, sê dit is nog onseker of sy kontrak hernu sal word wanneer dit verstryk.
Einde verlede jaar het Joost skielik sy geliefde strandhuis op Keurboomstrand, wat hy nege jaar besit het, verkoop. Maar dis nie oor geldprobleme nie, sê hy. ‘‘Dit is te ver om daarheen te ry.’’
DIE voormalige skrumskakel het glo verlede jaar ’n reeks rampspoedige kontrakte gesluit wat die een ná die ander misluk het.
Hy is in Maart as bedryfshoof aangestel by Progressive Investment Holdings, maar toe dié maatskappy onder kuratorskap geplaas en Joost in ’n koerant by ongerymdhede betrek is, was hy nie net sy salaris kwyt nie, maar ook die borgskap van die luukse Nondela Drakensberg Mountain Estate by wie hy glo R50 000 per maand gekry het. (Joost dagvaar nou die koerant.)
‘‘Ons het ’n kontrak vir ’n jaar geteken, maar dit drie of vier maande later beëindig,’’ sê Ashruf Kaka, Nondela se woordvoerder.
“Ons het hom gevra om die gesig van Nondela te wees omdat hy soos die ideale gesinsman gelyk het. Toe dié beeld bevraagteken is, het ons besef die publiek kan negatief daarop reageer, en besluit om die kontrak te beëindig.’’
Die eienaar van nog ’n ontwikkeling, die luukse Zilkaats Estate naby Hartbeespoortdam, is onder likwidasie geplaas nadat Joost en sy gesin drie jaar gelede as die ambassadeurs aangewys is.
‘‘Dis nie as gevolg van my dat hulle onder likwidasie geplaas is nie,’’ sê hy hieroor.
Joost het eintlik nie meer borge nie, sê ’n kennis. ‘‘En Amor het nog nooit regtig borge gehad nie. Sy dink dis ’n borgskap as hulle haar 50 persent afslag op ’n sonbril gee.’’
Joost ontken dat sy borge hom in die steek gelaat het, maar wil nie name noem oor wie hom borg nie omdat hy hulle nie “by negatiewe publisiteit wil betrek nie”. Hy hou vol hy’s nie afhanklik van borge nie.
‘‘Ek het my eie maat-skappy wat verskillende goed doen; dis my hoofbron van inkomste. Hoe ek my geld verdien, is privaat.’’
Maar volgens ’n kennis het dié onderneming ook verlede jaar deur diep waters gegaan.
‘‘Almal dink Joost doen eiendomsontwikkeling, maar dis nie waar nie. Hy’t ’n kontrak gekry om laekostehuise op te rig, maar dit het skeefgeloop, want hy het ’n bouer aangestel wat drooggemaak het. Hy het groot verliese gely.’’ Joost sê dis die subkontrakteur wat “aangejaag het” en hy het hom gepos. Hy ontken hy het geld verloor.
Joost was ook drie jaar lank ’n rugbyafrigter by die Universiteit van Pretoria, maar het nie die kontrak hernu toe dit in Augustus verstryk het nie.
Wat borge betref, lyk dinge vorentoe ook nie rooskleurig nie. Ira Halpern, ’n bemarking-spesialis, glo die egpaar se hantering van die hele sage het die “Joost en Amor”-handelsmerk groot skade berokken, en dis duidelik dat aanhangers ontnugter is.
‘‘Joost se swye nadat verdere inligting na vore gekom het, vererger net die situasie. Hy is die een wat teleurgestel het en mense moet van hom hoor.
‘‘Dit gaan lank duur voor maatskappye hulle weer sal gebruik om produkte te bemark. Hulle is net ’n te groot risiko, en jy sal veel eerder jou geld sit waar jy seker is dit vir jou gaan werk,’’ sê Ira.
Ook die kastige steelfoto’s midde-in die storm waarop Joost en Amor op ’n boot glase vonkelwyn geklink het, was skadelik.
‘‘Dit was so asof hulle nie hul aanhangers se gevoelens in ag neem nie. Hulle is meer verskuldig aan die mense wat hulle op ’n troontjie geplaas het,’’ sê Ira.
‘‘Hulle sal iemand moet aanstel om hul beeld te help herstel. As hulle hul handelsmerk winsgewend wil hou, is dit ’n belegging wat hulle maar net sal moet maak.”
Die veiligheidspesialis Mike Bolhuis, Joost se woordvoerder, sê Joost beleef finansiële spanning maar dis weens die wêreldwye resessie.
‘‘Enigiets soos die drama wat Joost getref het, sal finansiële implikasies hê, maar Joost en Amor se lewenstandaard is nie
beïnvloed nie. Hulle bly nog in dieselfde huis, hulle ry met dieselfde karre, hulle eet dieselfde kos. Hulle werk net nou harder. Die huidige finansiële klimaat beïnvloed almal. Dit is onaanvaarbaar dat mense nou anoniem bewerings maak.”
Amor se nuwe CD word binnekort uitgereik en die platemaatskappy Select Musiek verwag dat sowat 25 000 kopieë verkoop sal word, soos ook met haar vorige CD, Voluit. Kunstenaars verdien tussen R3,50 en R10 per CD.
Amor se agent swyg oor hoeveel optredes sy deesdae doen. Daaroor sê ’n kennis: ‘‘Haar agent wil nie sê hoeveel besprekings sy kry nie omdat dit so min is. Amor het meestal net besprekings vir optredes gekry wanneer Joost kon saamgaan.’’
Joost sê dis nonsens. ‘‘Amor het baie meer optredes as ek. Wanneer ek kan, gaan ek saam om haar te ondersteun. Mense sien baie uit na haar nuwe CD, maar ek weet nie waar sy gaan optree om dit te bemark nie.’’
Mike is nie betaal vir die amper drie maande se werk wat hy vir Joost gedoen het nie, maar sê hy het van die begin sy dienste gratis aan Joost gebied.
‘‘Mense moet onthou Joost het nie verander nie, en sy kennis van rugby is steeds dieselfde. Die skandaal het nie sy brein aangetas nie; dit was ’n middellyf-issue,’’ sê hy.
Supersport wil nie sê
Joost van der Westhuizen verdien steeds maandeliks ’n salaris by Super-Sport, al verskyn hy nie op die kassie nie. Clinton van der Berg, woordvoerder, het so gereageer op Huisgenoot se vrae:
H: Julle het vroeër gesê julle sal Joost se kontrak moontlik opskort as die bewerings teen hom waar blyk te wees, en dit het tog gebeur?
C: Die bewerings is nog nie bewys nie.
H: Dit is nie die geval nie; die vrou in die video het na vore gekom. Wat sal SuperSport beweeg om die bewerings as bewese te aanvaar?
C: Ons kan dit nie vooruitloop nie; ons kan nie spekuleer nie.
H: Wat van die leuenverklikkertoetse en stemtoetse wat gedoen is? Bewys dit nie dat die bewerings waar is nie?
C: Absoluut nie; die bewerings sal in die hof bewys moet word.
H: En wat as die saak nooit hof toe gaan nie?
C: Ons kan nie voorspel of die saak hof toe sal gaan nie.
H: Glo julle in Joost se onskuld?
C: Ons het nie ’n mening na enige kant toe nie. Hoewel die bewerings ernstig is, is dit steeds nie bewys nie.

Deur Natasha Sutherland
SY WAS die vrou wat een van die begeerlikste mans in die land getem het, wat Steve Hofmeyr sommer twee keer ewige trou voor die kansel laat beloof het – eers in ’n klein kapelletjie op die Maagde-eiland St. Thomas voor ’n TV-span en toe saam met vriende en familie by die huis.
Maar reeds op haar troudag het Natasha Sutherland al soos ‘‘die eensaamste mens ter wêreld’’ gevoel en gewonder wat met haar en Steve se sprokie verkeerd geloop het, vertel sy in haar boek, Bittersoet, wat binnekort verskyn.
‘‘Ons was so effens onpaar, maar wonderlik saam op ons eie manier . . . Die kloof tussen ons het wyer en wyer geraak,
tot Mnr. Y (Steve) ’n rooiwarm, woedende demoon geword het en ek ’n afsydige yskoningin,’’ skryf sy.
Mnr. Y is hoe sy hom deurgaans noem. Natasha het uit die staanspoor besluit om nie Steve se naam te gebruik nie en ook skuilname vir haar vriendinne en familielede te gebruik.
Bittersoet is geen outobiografie met opspraakwekkende onthullings nie, maar ’n inspirerende boek oor die voormalige Egoli-aktrise se ervarings, gedagtes en sielereis.
Natasha vertel boeiend van haar lewe as Steve se vrou, die verbrokkeling van hul huwelik en haar lewe daarna.
Van die onthullings is:
• Hoe totaal mal verlief en afhanklik sy van sy liefde was, ‘‘die man wat ek verby siel en tyd liefgehad het’’.
• Hoe gelukkig hulle eers was en hoe hulle saam hul eerste huis gebou en ’n briefie as seëning in die fondamente geplant het . . . en hoe sy regtig geglo het dit is vir ewig.
• Hoe frustrerend dit was om-dat haar man net nie ‘‘eerlik in die spieël na homself’’ kon kyk en die patroon van ‘‘sy eie selfvernietigende gedrag’’ kon herken nie.
• Hoe hul laaste vakansie saam was as gesin, en die hartseerdag toe sy en Steve die nuus van hul egskeiding aan hul seuns, Ben en Seb, soos sy hulle noem, moes oordra.
• Hoe sy nuwe lesse geleer het en van die nuwe liefde in haar lewe, ’n vlieënier.
Lees in hierdie uittreksel uit die boekhoe Natasha in haar huwelik met die vraag geworstel het of sy moet bly of loop. Maar sy was versteen van vrees – vir alleenwees. Hier vertel sy roerend hoe sy dit te bowe gekom het en die innerlike krag gevind het om te wag tot sy gereed is om weer lief te hê.
UITTREKSEL
EK WORD wakker. Ek vat die seuns skool toe. Ek kom by die huis en ek skryf, of ek doen al daardie dingetjies wat ’n mens moet doen om die huishouding aan die gang te hou en die yskas vol te hou.
Die honde moet ontvlooi word, en die swembad moet ont-groen word. Ek gaan haal die seuns en glip vir die middag by hul ruimte in – of dit nou rondry van buitemuurs na speelafsprake is, of net saamspeel met waarheen hul verbeelding ons ook al neem.
Dan is dit huiswerk. Ons bad saam, eet aandete, kyk Animal Planet, lees Dr Seuss, en dan is dit bed toe. As hulle eers in droomland is, gaan sit en skryf ek weer. En dan gaan ek slaap.
Dag in en dag uit.
Dis my lewe. ’n Immerherhalende Groundhog Day. En elke dan en wan sluip daar ’n bietjie selfbejammering in, en herinner my skeidingswond my weer presies hoe alleen ek is. Fluister vir my dat ek al weer (soos gewoonlik) aan die buitekant is en inkyk na binne.
My eensaamheid word natuurlik vererger deur die feit dat Mnr. Y se wêreld blykbaar bly draai en blink. Hy het ’n magdom ondersteuning om hom – van bestuurders tot PA’s tot skakelpraktisyns tot vooraanstaande prokureurs.
Sy beroep gedy, en die erkenning stroom in. Sy berugtheid en nuwe enkelingskap maak hom juis begeerlik! Dít terwyl ’n ander vrou blykbaar reeds my ruimte in my eks-bed in my eks-huis inneem, nog voor jy kan sê ‘‘alimony’’.
Terug aan my kant van die lewe, sukkel die seuns maar nog ’n bietjie om by hul nuwe omgewing aan te pas. Ek probeer so proaktief en positief wees as wat ek kan om hulle weer hul voete te help vind.
My dak lek, en maak nie saak hoeveel ek pleit nie, ek kry nie die bouer geïnspireer om soos Superman in te swiep en ons te red van die onbeplande water feature waarin my voorste leefvertrek ontaard het nie. En die reën . . . die reën hou net nie op nie. Dit stróóm in en gooi ongemanierd emmers water op my dak uit.
Ek het verkoue. Die donderweer het my huisalarm uitgeslaan – dit moet vervang word, en ek bid dat my versekering sal uitbetaal, anders is ek in die moeilikheid. Goggas vreet my koolkoppe op, en my seuns beland op die ou end elke aand in my bed, wat beteken ek kry nie veel geslaap nie.
Dis die lewe. Dit gebeur met ons almal.Maar ek is moeg – nie net liggaamlik nie. Ek is emosioneel en geestelik uitgeput daarvan om altyd alles op my eie te hanteer. Ek is moeg daarvan om die een te wees wat met die oplossings, wonderwerke en towerstaffies vorendag moet kom om elke ingewikkelde situasie op te los.
Ek voel moedersielalleen. Partykeer wil ek in ’n kind se ruimte wegsink en op die een of ander grootmens leun om my deur die hikke en stote van die lewe te help.
Of ek wil ’n superheld hê wat my in sy arms kan neem en namens my sal veg en my sexy, veilig en sterk sal laat voel. Ag, ek kan nie beskryf hoe sterk my begeerte is om my op hierdie oomblik in iemand anders se arms in te werp nie.
‘‘Kom nou!’’ wil ek in die nag roep. ‘‘Wie jy ook al is, kom nou! Ek het jou nodig!’’ En dan onthou ek dis juis hierdie impulsiewe smagting na ’n superheld wat my in die eerste plek in dié gemors laat beland het.
Hierdie brandende begeerte na ’n ‘‘Spesiale Soen’’ om my wond te genees, is wat my lewe laat uitrafel het nog voor ek eers ‘‘Ek is lief vir jou’’ gesê het. En so het dié openbaring my gehelp om die innerlike krag te vind om te sê: “Nee, nog nie. Ek is nog nie reg vir jou nie, wie jy ook al is. Maar ek sal daar kom.’’
Ek onthou toe ek nog in my huwelik met die verskriklike vraag geworstel het oor of ek moet bly of gaan. ‘‘Jy gaan so alleen wees,’’ het die stem in my kop gesanik, ‘‘so verskriklik alleen.’’
En dit het my bang gemaak – so bang dat ek gevries het en geen besluit hoegenaamd gemaak het nie. Ek het met allerhande verskonings vorendag gekom en myself gebluf dat ek besig is om ’n bewuste lewe te lei. Maar ek was nie – ek was eintlik in ’n diepe slaap!
Maar op ’n dag tref dit my toe dat ek in elk geval heeltyd eensaam is, en dat dit al ’n lang ruk die geval is. Ek was al eensaam van die dag dat ons ‘‘I do’’ gesê het en ek uit daardie kapel in die verre vreemde geloop en oor die eiland uitgekyk het. Op daardie oomblik het Mnr. Y ‘‘verdwyn’’.
Dit was asof hy reg voor my oë losgeraak het van Ons. Ek onthou nog ek het gedink: ‘‘Dit voel of ek die eensaamste mens ter wêreld is, en dis my troudag! Wat het met hierdie sprokie verkeerd geloop?’’
Iewers het ek besef ek gaan moet begin ontdooi en ’n nuwe rigting inslaan. Ek voel daar is ’n verskil tussen eensaamheid en alleenwees.
En ek het gekies om liewer op my eie te wees – alleen – as om eensaamheid en isolasie binne ’n verhouding te ervaar. Want dis pateties om eensaam te wees wanneer jy by iemand is. Dis aaklig.
My terapeut het vir my goeie raad gegee toe ek nog bokse gepak het vir die trek – eintlik ’n waarskuwing. Sy’t gesê die behoefte om te behoort is partykeer so allesoorweldigend dat ons dikwels vashaak op ’n plek wat toksies is, net om ’n vorm van konneksie te ervaar.
En sy was reg. Met ander woorde, ons sal liewer in ’n vernietigende siklus (ontketen deur ons ‘‘Spesiale Soen’’) bly as om alleen te wees. Dis dan wanneer die vuishou op die maag of vreemde lipstiffie aan jou sielsgenoot se onderbroeke meer aanvaarbaar raak as om alleen te sit, in jou eie kop, in jou eie ruimte.
Maar dis nie vir sissies nie – om wakker te word en jou aan jouself toe te wy nadat jy jou jare lank in iemand anders verloor het. Ek moet bieg die eerste paar maande in my nuwe huis was vreesaanjaend. Ek moes veg om te onthou daar’s ’n verskil tussen ‘‘eensaam’’ en ‘‘alleen’’.
Jy sien, ek dink ons het almal ons eie frekwensies, ons eie spesiale golflengte. En 10 jaar lank het ek ’n huis gedeel – nie net met Mnr. Y, ons seuns en ons huismaat nie, maar ook met Mnr. Y se span, persoonlike assistente, vervaardigers, bestuurders, skakelpraktisyns en personeel.
Ons huis was ’n deurloop van mense wat gekom en gegaan het. Elkeen het sy of haar eie frekwensie by dié ruimte ingebring, dit met myne kom verweef, en weer gegaan. Ek het geleef met hierdie veelvuldige frekwensies wat oral om my gezoem het en ’n kollektiewe, vibrerende golflengte geskep het waarin ’n mens baie maklik kon verdwyn.
Dinge is nou baie anders. My huis is stil (dankie tog!) . . . baie stil. En wanneer die kinderoppasser af is en die seuns by hul pa is, is dit net ek hier. Hier, alleen met my eie frekwensie. En aanvanklik was dit absoluut skrikwekkend.
My frekwensie het so dun gevoel. Ek kon nie daarin duik nie, want dit was nie diep nie; ek kon nie daarin spring nie, want dit was nie hoog nie.
Ek was vasgevang in ’n dun strokie ekwees. Ek het kloustrofobies gevoel. Ek het gedink ek word mal! En as ek vir vriende of familie probeer verduidelik het hoe ek voel, het hulle ongemaklik na my gekyk en geknik op ’n miskien-moet-ons-maar-die-straightjacket-regkry-manier.
Maar op ’n dag was Ben en Seb besig om hul speelmaats te groet. Hulle het die hele Vrydagmiddag lank pret gehad, forte gebou en net met die hier en nou gekonnekteer.
Maar toe hulle vriende loop, kon ek sien iets verander in Ben. En ek kon identifiseer met die uitdrukking op sy gesig. Hy het ’n bietjie ineengekrimp en op my skoot kom sit en gesê: ‘‘Mamma, noudat almal weg is, voel ek bang.’’
Op daardie oomblik het ek besef hy voel ook ongemaklik binne sy eie frekwensie.
Dat die kombinasie van vibrasies wat sy vriende by sy ruimte ingebring het, ’n welkome afleiding was. Maar op die ouderdom van vyf het hy gevoel op sy eie is hy nie genoeg nie. Het hy dit by my gekry?! Ek het geweet ek moet hierdie ding verder ondersoek, want ek kon nie toelaat dat my seuns my drama van “nie genoeg’’ voel hul eie maak nie.
‘‘Ek is nie genoeg nie’’ is die refrein van ons ‘‘Spesiale Soen’’. Ek dink hierdie drie woorde bring soveel duisternis by die wêreld in: “nie genoeg nie’’. Ons glo dit, en ons laat dit vir ons kinders na – ’n bitter erfenis.
‘‘Jy is nie genoeg vir jou man om getrou te bly nie. Jy is nie genoeg vir jou kinders om veilig te voel nie. Jy is nie genoeg om vir altyd liefgehê te word nie.’’
My ego het hierdie goed meer as ’n dekade lank in my oor gefluister. En toe word my gedagtes my realiteit, en my frekwensie het daarby aangepas. En toe ek myself kom kry, was ek vasgevang in hierdie dun strokie ekwees.
Mense vra: ‘‘As ‘n boom omval in ’n woud en daar is niemand wat dit hoor nie, maak dit ’n geluid?’’ Ek het dieselfde gevoel oor my nuwe bestaan. As ek in die oggend wakker word en weer daardie aand gaan slaap, en geen lewende siel was getuie van my dag nie, het ek dan hoegenaamd bestaan?
Het ek in daardie 16 ure asemgehaal en geëet en gedink? Was ek hoegenaamd aan die lewe? ’n Mens kan van jou verstand af raak as jy so dink.
Toe begin ek om myself elke dag aan my alleenheid toe te wy. Elke dag, as daardie skoenlapper van vrees in my maag begin rondfladder het, het ek gestop en myself aan myself toegewy. En so, staaaadig maar seker, het ek my eie frekwensie begin strek. Namate ek in my-self ontspan het, het my frekwensie begin uitbrei. Namate ek nuwe dinge gedoen het en oor nuwe dinge gedink het, terwyl ek gelag het en met my nuwe ruimte en lewe geworstel het, het my golflengte geleidelik toegeneem. Dis nogal ’n eienaardige verskynsel.
Ek dink partykeer as ons in ’n verhouding met iemand anders is, raak ons lui om ons wêreld ’n bietjie uit te brei. Ons raak afhanklik van die gesamentlike vibrasie om ons deur te haal, veral as ons op daardie mens staatmaak om die ‘‘Spesiale Soen’’ te wees wat ons skeidingswond sal genees.
Dis ’n geringe wonderwerk wat ek hier vermag het. En ek is die enigste een wat trots en opgewonde kan voel oor hierdie openbaring in my lewe.
En snags as die seuns slaap en ek stilweg in my huis rondbeweeg, is ek oukei.
Ek giggel soms van plesier dat daardie gevoel van verskrikking net nie meer bestaan nie. En ja, ek mis geselskap en aanraking en ’n klankbord . . . en seks. Maar ek sal dit liewer nou ervaar en alleen maar lewend voel, as om weer ’n slaapwandelaar te wees in ’n ruimte waar ek deel is van Iets, maar dood voel.
Dit kán gedoen word. Jy kan die vrees oorwin. Jy moet jouself net oor en oor daartoe verbind. Jy moet net ja sê!
Uit: Bittersoet deur Natasha Sutherland, uitgegee deur Carpe Diem Media, R139,95. Vanaf 12 Junie by boekwinkels te kry. Gaan na www.bittersoetboek.co.za om na eksklusiewe video’s en foto’s te kyk en Natasha se blog te lees.
WEN
Tien lesers kan elk ’n eksemplaar van Natasha Sutherland se boek, Bittersoet, wen. SMS die woord BITTERSOET gevolg deur jou naam en adres na 34922 . SMS’e kos R2 elk. Jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil. Die sluitingsdatum is 4 Junie. Gebruik jou eie sel-foonnommer ten einde die geldigheid van jou inskrywing te verseker.

Deur Annelene Moses en Haidee Muller
HAAR oë is nog net so groot en donker en perfek gegrimeer, maar die sprankel daarin het verdwyn. Die Idols-fiasko het duidelik ’n merk op Sasha-Lee Davids gelaat.
In ’n wipplankweek is sy eers as die Idols-wenner bekroon, en daarna moes sy uitvind dat die naaswenner, Jason Hartman, in die eindronde ’n volle 200 000 stemme meer as sy gekry het. Al kon sy haar pryse, waaronder ’n platekontrak, behou, moet sy en Jason nou die Idols-titel deel.
Maar daarmee was sy aanhangers glad nie tevrede nie. Ál meer druk word op Sasha-Lee uitgeoefen om die Idols-titel aan hom af te staan – op web-tuistes, internetforums en selfs by haar ouerhuis waarheen ontstoke kykers steeds bel en hulle lelike dinge oor die telefoon toesnou.
‘‘Gee die kroon vir Jason of gee ons geld terug,M-Net,’’ skryf een reguit op ’n internetforum. Sasha-Lee moet ‘‘terugkruip na die gat (Atlantis) waar sy uitgekruip het’’, braak ’n ander gal.
Met haar aankoms in Kaapstad verlede Dinsdag is Sasha soos ’n held ontvang op haar tuisdorp, Atlantis, waar sy ook opgetree het, maar haar ouers was so bekommerd oor haar dat hulle dieselfde aand nog besluit het om die media vir ’n ruk van haar weg te hou.
‘‘Sasha-Lee, haar ouers, broers en susters moet kwaai druk van die media en die gemeenskap deurmaak en daar is steeds foon-stalkers wat hulle lelike dinge toesnou. Hulle lê nou laag tot die stof gaan lê het,’’ sê die sanger Mynie Grové, wat as woordvoerder van die gesin optree.
Intussen sê bronne na aan die bloedjong sanger hulle is bekommerd dat sy onder die druk kan knak. Haar ouers het trouens oorweeg om haar die eerste nag ná haar terugkeer na die Wes-Kaap by ’n onbekende bestemming te laat oorbly sodat sy kan rus.
Ná die uitmergelende kompetisie en die ontstellende nadraai daarvan kan sy steeds nie asem skep nie, met vier optredes binne ses dae in die Kaap –en in dieselfde week ook nog ’n opname vir die kykNET-kookprogram Roer!
Daarby het Gerda van Reenen van Main Street Management, die top-10 Idols se agent, reeds sowat 80 navrae landwyd ontvang oor optredes vir Sasha-Lee, en sy en Jason sal ook albei by die Amerikaanse komediant Wayne Brady se toer optree.
En tussendeur moet sy ook nog aan haar album begin werk . . .
DRIE dae ná die aankondiging dat Sasha-Lee toe nie die meeste stemme gekry het nie, is dit ’n ander meisie wat in Johannesburg voor ons sit as die 18-jarige met sterre in haar oë met wie ons ses weke tevore gepraat het. Dit is asof sy skielik baie ouer, maar ook sterker geword het.
Want al deel sy nou die Idols-titel met Jason Hartman, weet Sasha-Lee sy is nie werklik die Idol nie.Sy aanvaar die uitslag, sê sy beslis. Vir haar is Jason dié Idol en sy die tweede Idol, voeg sy by.
Almal prys haar oor hoe goed sy alles hanteer, maar binne woed ’n warboel emosies. ‘‘Ek voel soos ’n robot, van die een media-onderhoud na die ander,’’ bieg sy.
‘‘Ek ontmoet aanhangers, glimlag en deel handtekeninge uit. Ek was nog altyd die soort mens wat my gevoelens binne hou en tot dusver was ek baie kalm.’’
Dit help dat sy in ’n pastorie grootgeword het. ’n Pastoor se kind word dopgehou en weet hoe om kritiek te hanteer. Tydens die eindronde het sy nie verwag dat sy sou wen nie. Die aankondiging was daarom vir haar ’n skok.
‘‘Ek het op die verhoog gestaan en besef êrens moet daar ’n fout wees. Ek het geweet Jason het baie aanhangers, maar toe my naam aangekondig word en hulle sê ek het die meeste stemme, het ek dit so aanvaar.’’
Drie dae ná die eindronde het Theo Erasmus, M-Net se kanaaldirekteur vir algemene vermaak, die slegte nuus oor die stem-debakel aan Sasha-Lee en haar ma, Sally, oorgedra.
‘‘Ek kon dit nie glo nie. Al die stres van die kompetisie was terug. Dit het soos ’n ekstra ronde gevoel,’’ sê Sasha-Lee.
Sy en Jason het die dag voor die amptelike mediakonferensie gehoor hy het 1,3 miljoen stemme gekry en sy 1,1 miljoen. Die volgende dag was hulle van voor af gespanne, want hulle het nie geweet hoe die publiek daarop sou reageer en watter vrae die joernaliste sou vra nie.
‘‘Ek en Jason het vir mekaar gesê: ‘Moenie worry nie; dit sal fine wees.’ Hy is ’n goeie mens. Ek is ’n goeie mens. En daarom hanteer ons alles so goed.
‘‘Ons het mekaar die hele tyd drukkies gegee.’’
Haar grootste kommer was hoe die nuus haar gesin sou raak, dat haar broers by die skool daaroor gespot sou word.
‘‘Wat gaan dit aan my pa doen?’’ het sy gewonder. Sy het onthou hoe pa John se gesig die aand met die Idols-eindronde opgehelder het. En sy kon net dink hoe dit sou lyk wanneer teleurstelling daaroor spoel.
En hoe sal die gemeenskap van Atlantis op die nuus reageer? Haar sege was tog ook húl sege.
Ná die finale Idols-uitslag het sy baie oproepe uit haar tuisdorp ontvang. Mense is teleurgesteld, maar Sasha-Lee sal altyd die Idol van hul hart bly.
‘‘Soms voel ek hartseer oor hoe alles gebeur het, maar ek het ’n Sony-platekontrak en daaroor is ek baie bly. Ek het hard daarvoor gewerk. As ek dit moes verloor . . . dít sou my gebreek het.’’
Oor die geniepsige internetveldtog teen haar en die skel-oproepe na haar ouerhuis sê sy:
‘‘Dit maak my kwaad en ek dink dit is onnodig om my gesin so seer te maak. Dit was nie hul skuld dat al die stemme nie getel is nie en ek kan ook nie daarvoor geblameer word nie.’’
Terwyl M-Net en van die ander beoordelaars meen Sasha-Lee behoort nie haar titel in te boet oor iets wat nie haar fout was nie, skaar Mara Louw haar by Jason se ondersteuners.
‘‘Sjoe, ek kan nie glo Mara is so onversetlik nie, maar sy’s ’n beoordelaar en geregtig op haar mening,” sê Sasha-Lee.
“As M-Net my voor ’n keuse gestel het, sou ek op die plek die titel vir Jason gegee het, maar dit was nie my besluit nie.’’
In hierdie krisistyd het die twee mededingers om die Idols-titel net mooi dinge van mekaar in die media te sê gehad. Dit was alles opreg bedoel, sê Sasha-Lee, maar nee, hier is geen romanse aan die ontluik nie. Sy is in elk geval nog te jonk vir ’n vaste verhouding.
SY HET maar verlede jaar matriek geskryf en voor Idols het Sasha-Lee nog vir haar ma soos ’n skoolmeisie gelyk, maar deesdae kyk sy met nuwe oë na haar kind, sê Sally.
‘‘Deur dit alles – en by tye was dit aaklig – het ek op geen tydstip nodig gehad om haar te kalmeer nie. Sy het alles met grasie gehanteer.’’
Sasha-Lee kán sing en die Davids-gesin hoef nooit oor enigiets skaam te voel nie, voeg sy by. Mense hoef nie te wonder hoe sy bo uitgekom het nie – deur die talent wat God haar gegee het en harde werk.
‘‘Sy was in die toptwee en dit alleen is al ’n prestasie. Eintlik maak dit nie saak wie gewen het nie. Ons is net bly sy behou haar platekontrak. Ons het pas gehoor haar enkelspeler, True Believer, is boaan Kfm se Top 8 at 8-lys.’’
Binnekort begin Sasha-Lee werk aan wat voorlopig ’n kontemporêre-popalbum sal wees. Daar is nog nie besluit wanneer die CD opgeneem en uitgereik sal word nie.
’n Rol in die kykNET-sepie Villa Rosa wink ook. Dit was een van die pryse wat Sasha-Lee onlangs as die wenner van die musiekkanaal MK89 se werklikheidsprogram Matrix 2008 losgeslaan het.
Sy glo daar is vir haar en Jason albei plek op die plaaslike musiektoneel, maar sy weet ook mense gaan hulle nog lank met mekaar vergelyk.
‘‘Ek worry nie daaroor nie, want ek weet ons het elkeen ons eie musiekstyl en ondersteuners. Ek gaan my bes doen en dit gate uit geniet.’’
Niks kan die oomblik toe sy as die land se Idol gekroon is, van haar wegneem nie, nie eens al die kritiek in die wêreld nie, sê sy.
‘‘My ouers was so trots. My oudste broer, Laurenzo, het gehuil en my susters het op die grond geval en mekaar vasgehou.
“Dit is die oomblik wat ek oral met my saamdra.’’
NOG IDOLS-BLAPSE
Ons jongste Idols-reeks is nie al een wat al in omstredenheid gehul was nie:
• Verlede jaar het die verkeerde telefoonnommers 25 minute lank op die webtuiste van die Australiese Idols verskyn. Stemme wat toe uitgebring is, was vir die verkeerde deelnemer.
• Nadat Casey Donovan die 2004-reeks van die Australiese Idols gewen het, het pleks van haar web-adres dié van ’n wyle gay porno-ster in koerantadvertensies verskyn.
• Toe kykers van die Amerikaanse Idols-reeks twee maande gelede vir hul gunsteling in die top-13 wou stem, was die nommer dié van ’n regstreekse sekslyn-diens.
• ’n Skandaal het ook die Amerikaanse reeks geruk toe ’n deelnemer van 2003, Corey Clark (24), later erken het hy het gedurende die reeks ’n seksuele verhouding met die beoordelaar Paula Abdul (42) gehad.
• In die Amerikaanse Idols-reeks van 2005 is die stemnommers tydens ’n program verkeerd aangegee en die publiek moes oorstem.

Deur Yvonne Beyers
SY’T gedink dit is sommer niks toe sy een middag voor die spieël lipstiffie aansit en die knop in haar nek gewaar. Dit is seker net ’n geswelde klier, het Patricia Lewis gedink en onmiddellik daarvan vergeet.
Maar toe die sangeres ’n week of wat later hier vroeg in April weer voor die spieël staan, het sy haar yskoud geskrik. Die knop was heelwat groter en kliphard onder haar vingerpunte.
En toe Patricia (41) by ’n dokter kom, het hy die gevreesde k-woord genoem, dieselfde een wat al amper twee dekades by haar spook.
Twee dokters en ’n reeks bloedtoetse en sonar-aftastings het haar grootste vrees bevestig: Daar is ses gewasse op haar skildklier, waarvan die grootste een drie sentimeter lank is.
En toe sy hoor dit kan kwaadaardig wees, het paniek haar oorval. Sewentien jaar gelede moes Patricia kyk hoe haar suster, Juliette, twee jaar lank teen leukemie baklei. “Sy was kort-kort in die hospitaal. Dit was verskriklik om te sien hoe ’n geliefde ly, en dit het aan ons hele familie gevat.
“My suster is nou gesond, maar toe ek vir my ma vertel van my gewasse, het sy amper van haar kop af geraak. Ek wil nie hê my ouers moet ooit weer ’n pad met kanker stap nie,” sê sy by haar huis in die suide van Johannesburg.
Haar oë skiet vol trane wanneer sy vertel van die drie weke wat sy met ’n swaard bo haar kop geleef het. “Vergewe my, asseblief, dis die eerste keer wat ek hieroor praat,” sê sy.
Sy’s steeds oorweldig deur die goeie nuus: Toetse het gewys die gewasse is nie kwaadaardig nie. “Dank die Vader, ek is so verlig,” sê sy aangedaan.
Sy probeer dapper wees, maar is duidelik steeds angsbevange. Want nou lê sy saans wakker met ’n ander vreesaanjaende vooruitsig: Die grootste gewas moet uitgesny word, en omdat die skildklier teenaan haar stembande sit, kan hulle dalk permanent beskadig word.
En dit, sê sy terwyl die trane vloei, sal beteken sy sal dalk nooit weer kan sing nie – ’n vooruitsig wat werklik vir haar erger is as kanker . . .
“DIE grootste gewas is so groot soos ’n klein appelkoos,” sê Patricia.
“Dit moet binne twee weke verwyder word omdat dit so vinnig groei en reeds teen my lugweë en stembande druk. Ek sukkel om asem te haal, en ek raak hees. As ek drie note sing, klink dit asof ek ’n optrede van twee uur agter die blad het.”
Die spesialis het haar gewaarsku dat sy twee maande ná die operasie weer sal kan praat, maar nie meer noodwendig noot sal kan hou nie. “En as jy nie noot kan hou nie, kan jy nie sing nie,” sug sy.
“Ek sou kanker nog kon hanteer, maar as ek nie meer kan sing nie . . .” Die trane lê weer vlak in haar bruin oë.
“Wat gaan dan van my word? Daar sal niks van my oorbly nie, ek sal niemand wees nie. Selfs al het hoeveel mense my deur die jare gekritiseer, was my stem die een ding wat niemand van my kon wegvat nie.”
Daarom het sy besluit om vir oulaas nog ’n paar liedjies op te neem. Sy het twintig jaar gelede ’n kortstondige verhouding met die Baywatch-ster David Hasselhoff gehad, en die twee het deur die jare kontak behou. Hy het haar toe verlede jaar gevra om ’n paar duette saam met hom op te neem en sy wil dit nou dadelik doen.
“Noudat ek weet dis dalk die laaste liedjies wat ek ooit sal opneem, wil ek voor die operasie probeer om my deel van ’n duet of twee op te neem, dan kan hy syne later byvoeg. Ek sal myself vir ewig verkwalik as ek dit nie doen nie, dit is dalk die laaste keer....”
Gelukkig sal dit hulle geldelik nie regtig raak as sy nie meer kan sing nie, want sy is ook ’n televisievervaardiger en haar man, Mark Whitfield, is ’n eiendomsontwikkelaar.
“Maar dit sal my doodmaak. Ek is gebore om te sing, en dit sal die ergste vonnis wees wat ek kan kry.”
DIE afgelope jaar was daar al tekens van groot fout. “Waar ek gewoonlik altyd lewenslustig was, was ek lus vir niks. Ek het geen energie gehad nie, en het kort-kort depressief gevoel. Ek sou sommer elke nou en dan oor niks huil.”
En die fyn vroutjie wat altyd 51,5 kg geweeg het, het binne ’n jaar 9 kg aangesit.
“Ek kon dit nie verstaan nie – ek het nie meer as gewoonlik geëet nie, en selfs op dieet het ek geen gewig verloor nie. Ek pas nie meer in my klere nie en ’n vrou het nou die dag gevra of ek swanger is.”
Toetse het gewys haar skildklier funksioneer nie meer behoorlik nie. “Toe die dokter die simptome van ’n onderaktiewe skildklier noem, het ek besef alles is op my van toepassing: depressie, lusteloosheid, ’n toename in gewig. Ek was amper verlig toe ek verstaan wat met my aangaan!”
Sy het haarself die afgelope jaar gehaat, sê sy. “Ek het glad nie meer van myself gehou nie. Ek besef nou daar’s ’n mediese rede daarvoor. Ek verwyt my omdat ek nie meer gereeld vir doktersondersoeke gegaan het nie. Die laaste keer was toe my kind vyf jaar gelede gebore is!”
Haar oë skiet weer vol trane. “Ses of sewe maande gelede was ek so depressief, ek het besluit ek gaan nooit weer sing nie. My kop was nie lekker nie. Ek het my onttrek en ’n kluisenaar geword.”
Maar noudat sy besef haar dae as sangeres is moontlik verby, verwens sy dié oorhaastige besluit.
“ ’n Mens besef mos eers hoe kosbaar iets is wanneer jy dit kan verloor,” snik sy. “Wat nou gebeur, het my laat wakker skrik: Ek besef nou ek moet elke geleentheid aangryp. Die lewe is kort, en ’n mens weet nooit wat gaan gebeur nie.”
Klein Max (5) verstaan nie mooi waarmee Mamma worstel nie. “Maar hy weet iets is fout. Hy’t nou die dag vir my ma oor die telefoon gesê: ‘My mamma het ’n knop op haar keel,’ ” sê sy aangedaan.
Mark weier om pessimisties te wees. “Patricia is ’n sterk vrou, sy gaan dit hanteer,” sê hy.
Hulle spot intussen maar oor die situasie, sê Patricia. “Ons moet ’n sin vir humor behou, anders sal ons te neerslagtig raak. Ons sê dinge soos: ‘Mense het nog altyd gesê ek kan nie sing nie, en nou gaan ek regtig nie kán sing nie!’ ”
Sy kyk jou moedig in die oë: “Ek wil nie dink aan die pad vorentoe nie. Ek gaan dinge aanpak soos dit na my kant toe kom.
“Ek is verlig dis nie kanker nie, hierdie is ’n tweede kans.”
DIE MEDIESE FEITE
Die skildklier skei hormone af wat jou metabolisme reguleer, verduidelik prof. Chris Joseph, Patricia se spesialis. “As jou skildklier onderaktief is, kan jy gewig aansit en depressief word.”
Gewasse op die skildklier kom baie algemeen by vroue voor, maar stres veroorsaak dit nie, en in Patricia se geval ook nie haar sang nie. “Dis nie heeltemal duidelik wat dit veroorsaak nie,” sê hy.
Die operasie beteken nie
Patricia se skildklier sal nie voortaan behoorlik funksioneer nie.
“Ons sal soveel as moontlik van die skildklier probeer behou. Patricia sal waarskynlik nie voortaan medikasie hoef te drink om haar skildklier te reguleer nie.
“Die operasie hou ’n klein, maar noemenswaardige risiko vir haar stem in. Sy sal weer kan praat, maar as jy ’n professionele sanger is, is die risiko van die operasie groter omdat jy dalk nie meer noot sal kan hou nie. Sy sal steeds haar stem hê, maar die gehalte daarvan kan beïnvloed word.”
Chris waarsku dat jy nooit ’n swelsel moet ignoreer nie. “Enige swelsel wat langer as twee weke teenwoordig is, moet deur ’n dokter ondersoek word.”

Deur Jaco Hough-Coetzee
SOOS rye miere stroom duisende manne af na die reusagtige verhoog wat agt verdiepings hoog uittroon. Die oggenddiens is pas verby; hoekom word hulle dan weer teruggeroep arena toe?
Hulle is stomgeslaan oor wat hulle daar hoor: Oom Angus het ná die diens ineengestort, hy is hospitaal toe, niemand weet hoe ernstig dit is nie.
Kan dit wees? Hulle het gekom om ’n boodskap van hoop te kry; nou dit . . .
Die skare val op hul knieë neer, ’n see van derduisende, en soos een man bid hulle vir Angus Buchan se herstel. Sommige bid saggies, ander baie hardop na die hemele. Groot manne huil openlik, hande vraend na Bo gerig.
Die orkes begin speel, en die manne sing: ‘‘Amazing Grace, how sweet the sound, that saved a wretch like me . . .’’
Die klank golf uit na die groen heuwels van die Natalse Middelland wat die arena omvou. Stadig kom hulle dan orent en stap terug na die tente om die skoknuus in gedempte stemme te bespreek. En oral word SMS’e nou huis toe gestuur: ‘‘Oom Angus is siek; bid vir hom.’’
Soos blits versprei die bood-skap na alle uithoeke van die land, en oral in Suid-Afrika begin die gebede opgaan dat die aartappelboer wie se boodskap van geloof en hoop soveel mense dra, tog net sal herstel.
Die ineenstorting wat oom Angus gehad het, mymer Hanno Muller van Fochville, ‘‘was ’n aanval van die bose om die naweek se byeenkoms te kelder. Maar hier is te veel gelowiges bymekaar,’’ sê hy dan selfversekerd, ‘‘ons sal die aanval met gebed afkeer.’’
Die volgende oggend is ’n uitgeputte en emosionele Angus Buchan (62) terug op die verhoog. En almal glo: Hier het ’n wonder gebeur . . .
BY DIE eerste Mighty Men-konferensie vyf jaar gelede op Angus se plaas naby Greytown in die Natalse Middelland was 240 mense. Die organiseerders raam dat sowat 150 000 mense die pas afgelope konferensie bygewoon het.
Hulle het van heinde en ver gekom om hul tente en woonwaens op die 3 000 ha grond op te slaan – vyf boere se plase. Om staanplek vir die tente te maak, is 1 200 ton gras afgesny en 100 000 bale daarvan gemaak vir sitplekke. Vir ekstra sitplek is 80 000 plastiek stoele uitgepak, en baie mense het hul eie opvoustoele saamgebring.
Hulle is hier vir Jesus, vertel die mans.
Dean Wright en Niven Viljoen van Pietermaritzburg sit langs ’n grys BMW, tussen hulle ’n opvou tafel met peuselhappies. Die gevoel om met soveel gelowiges saam te trek en God te aanbid is onbeskryflik, sê Dean. Hy wys met sy hand oor die massa mense op die terrein: ‘‘Mense van alle vlakke van die samelewing trek hier saam.
“Niemand voel ontuis of onwelkom nie – jy kan die liefde tussen die mense aanvoel.’’
Die voertuie staan langs mekaar ingeryg: luukse Duitse modelle langs klein Japannese voertuie, duur 4x4’s langs afgeleefde plaas bakkies, gesins motors langs motorfietse.
‘‘Dit maak nie saak of jy oud of jonk, ryk of arm is nie,’’ sê Dean. ‘‘Almal kom, want hulle het een gemeenskaplike doel: Om nader aan God te wees.’’
Niven sê daar was vanjaar geen probleme met verkeers opeenhopings nie. Die kampeerterrein het nou vyf ingange wat drie dae tevore reeds oopgemaak is.
Om te sorg dat die manne skoon bly, is 4 000 storte aangebring. Maar Barry van Wyk en sy vriende van Fochville was nie lus vir die ysige water nie en het hul eie warm stort langs hul bakkie geprakseer.
Die stortery verg ’n groot groepspoging. Dit begin met iemand wat regs van die bakkie water op ’n gasstoof warm maak. Die ketel word aangegee na die ou wat bo-op die bakkie staan en dit dan in ’n emmer uitgooi. ’n Tuisgemaakte stort kop loop links uit die emmer waar die derde ou agter ’n seil die stowwe van sy lyf afwas.
‘‘Ons is lekker ingerig,’’ vertel Barry. ‘‘Kampeer is ons ding!’’
’n Ent verder is dit manne van Frankfort wat in die hitte sweet om hul woonwa-tent op te slaan. Dit is Louwrens Bibbey se vierde keer by Mighty Men, en sy vrou het geen probleem daarmee dat sy nie mag saamkom nie. ‘‘Want as ons teruggaan, is ons weer nice met hulle,’’ spot hy. ’n Groot veldhoed hang skeef oor sy kop om die son weg te hou.
Rye en rye oop puttoilette is regoor die kampgebied gegrawe vir die nodige, met 9 500 m goiing om dit toe te span. Ondergrondse pype van 8 km is aangelê om water aan die kampeerders te verskaf
Fanus Botha van Vanderbijlpark se vriende hou hom met ’n valkoog dop. Hy is besig om ’n biltongpotjie te maak, versigtig van die getikte resep af wat langs vier pakke biltong lê. ‘‘Fanus, dink jy nie daar is te min biltong nie?’’ terg iemand.
Neville Collatz het onbepland en onvoorbereid by die konferensie opgedaag; daarom slaap hy sommer in sy motor. Hy was van Johannesburg na Durban onderweg om werk te soek en om van die balju van die hof te vlug oor skuld, toe hy die MMC-borde langs die pad sien. Op die ingewing van die oomblik het hy dit gevolg.
‘‘Dit het gevoel asof oom Angus net met my praat toe hy gesê het ’n Christenman moenie van sy skuld vlug nie. Ek gaan vanmiddag terug Johannesburg toe, en, soos oom Angus gesê het, gaan ek praat met elke ou vir wie ek geld skuld. Ek is nie meer bang nie, want die Here is nou met my. Hy sal sorg.’’
Jan van Zyl en sy seun, JG, het die hele pad van Vredendal af gekom. Dit is hul tweede saamtrek. JG help sy oupa, Bob Vorster van Memel, om die vuur te pak.
‘‘Vanaand braai ons,’’ sê Bob. ‘‘Ek en my familie. Ek is so bevoorreg om hier saam met hulle te wees.’’ Sy oë raak nat. ‘‘ ’n Mens moet jou familie liefhê en koester,’’ sê hy voor sy stem wegraak. ‘‘Dit is die boodskap wat ek hier gekry het.’’
In een van die verste hoeke sit Pierre Jonker alleen onder ’n boom. Sy oë is rooi en hy kyk anderpad as hy praat.
Die 800 km wat hy van Polokwane af moes aflê, was die moeite werd, sê hy. Hy was woedend vir die Here nadat sy pa agt maande gelede gesterf het – hy wou antwoorde hê.
‘‘Toe oom Angus vertel hoe hy gereed is om hemel toe te gaan waar hy weet sy pa op hom wag, het ek berus. Ek het sommer, hoe kan ek dit stel, sommer baie ligter gevoel, weet jy? Ek mis my pa, ja, maar ek weet waar hy is en ek weet dat ons mekaar eendag weer sal sien.’’
Raymond Smith, ’n ouderling in Pretoria, vertel hy het gedink sy lewe as Christen is reg.
‘‘Ek het maar net saam met pelle gekom om die Here te dien, maar ná oom Angus se oggenddiens was dit asof skille van my oë afgeval het. Ek behandel my werkers nie met die nodige respek en menswaardigheid nie; baiekeer sal ek . . . ’’
Hy wil nie verder praat nie en skud net sy kop. ‘‘Maar een ding kan ek jou vandag sê: As ek volgende week terug is by die werk, gaan die werkers ’n ander bestuurder sien, een wat hulle glad nie ken nie.’’
LAAT Saterdagmiddag trek die wolke toe en ’n koel wind verdryf die hitte. Van die tente hang skeef teen die skielike aanslag. Die manne trek warm klere aan en stroom weer af na die arena.
Rondom die verhoog met ’n vloeroppervlak van 600 m² is agt TV-skerms van 3 m x 4 m aangebring om die gebeure nader aan die skare te bring.
Die Mighty Men-orkes begin speel; die wolke trek oop en die wind gaan lê.
Die mans gooi hul hande in die lug. ‘‘Alle nasies loof die Here,’’ weerklink hul stemme teen die heuwels wat die arena omring. Die woorde word deur die TV-skerms die donker nag ingeflits.
‘‘Halleluja! Halleluja!’’ skree hulle. Hulle is vanaand een; manne in duur ontwerper-slenterdrag deel dieselfde wêreld as dié in afgeleefde jeans.
Toe die kampeerders die volgende oggend uit hul slaapplekke kruip, het ’n digte mis oor die veld kom hang.
En oom Angus is terug. Die dokter wat hom ná sy ineenstorting hier op die plaas ondersoek het, het simptome van ’n hartaanval gesien, maar by die hospitaal het hulle hom deeglik ondersoek en alles was reg.
By die oggenddiens is die arena heelwat voller as die vorige dag, want van die mans se vroue het hulle, soos gebruiklik elke jaar, vandag by hulle kom aansluit.
Sy is trots op haar man dat hy weer gekom het, sê Sanet Bezuidenhout van Estcourt, want verlede jaar het hy as ’n baie beter huweliksmaat en pa teruggekom.
Haar oë straal toe sy by hom inhaak. ‘‘God verander mense se harte by die saamtrek.’’
Amanda Snyman het vir die dag van Howick af gekom. Sy vaar uit teen mense wat Buchan veroordeel as seksisties en verkramp met verouderde idees.
‘‘Hy sê net wat in die Bybel staan. Dis al. En die praktyk het bewys dat huwelike wat op Bybelse waardes gebou is, stewig bly staan. Natuurlik is dit ou waardes, maar die tyd het ook geleer dat dit die enigste waardes is wat standvastig is.’’
Die skare se geliefde oom Angus verskyn onder luide applous op die verhoog, Bybel in die een hand en die ander na die hemel uitgestrek.
Hy het nog nooit so hulpeloos gevoel soos toe hy die vorige dag ineengestort het nie, deel Angus sy emosie met die skare. ‘‘Die Here het my van die rand van die dood af teruggebring. Dankie, Here!’’
‘‘Jesus! Jesus!’’ skree die menigte.
Wanneer jy jou sondes bely, is jy vry, sê Angus.
‘‘Amen! Amen!’’ weerklink dit oor die terrein.
Die diens is binne ’n uur verby. ’n Uitgeputte Buchan word van die verhoog af gelei en met ’n plaasbakkie na sy huis teruggery.
‘‘Baai, oom Angus! Baai!’’ skree die mense terwyl die bakkie stadig tussen hulle deur beweeg.
Die orkes begin weer speel. Die skare hoef nie die woorde op die skerms te lees nie; hulle ken die woorde: ‘‘Ons Vader wat woon in die hemel, geheilig sy u naam . . .’’
Vir hulle is dit ’n heilige oomblik voor die God wat hulle aanbid. Hul lywe wieg op maat van die gebed. Hande reik nogmaals na Bo. ‘‘Laat u wil geskied,’’ sing hulle.
En om hulle raak die natuur stil om te luister.
IN DIE DAE DAARNA . . .
Dit was ’n emosionele konferensie, en gebeure van die naweek het die gemoedere agterna steeds op loop gehad. So gebeur dit toe dat nuwe SMS’e teen die Maandagmiddag begin versprei: Oom Angus het weer siek geword.
Een lui: ‘‘Bid asb oom Angus nou na Durban-hospitaal gevlieg hy het beroerte aanval gehad volgens betroubare bron. Bid asb dat Vader hom sal spaar.’’
Ander praat van ’n hartaanval, ander selfs dat hy gesterf het. En tot in die uithoeke van die aarde gaan mense weer op hul knieë om vir sy lewe te bid.
Die skare, begin die mense ook vertel, was by die 300 000. En oom Angus het hulle genooi om saam te gaan wanneer hy in Junie in Londen gaan preek – hy sal hul reis- en verblyfkoste betaal, lui nog SMS’e.
Dit was toe alles net riemtelegramme – gelukkig ook Angus se siekte. Hy is gesond en by die huis, besig met sy gewone verpligtinge. En Krugersdorp, Rustenburg, Bloemfontein en Upington sien hom wel in die maande wat voorlê.

Deur Carol Coetzee
DIS so halftwee die Woensdagmiddag toe hy die oproep ontvang. “Dis die brug. Daar’s ’n vrou. Sy gaan spring. Asseblief, jy’s al een . . . ”
Hy wil alles net so los en daarheen jaag. Dis instink, sewe jaar al, maar sy hele wese sit verskeur tussen iemand wat hom nou nodig het en die belofte wat hy aan sy gesin gemaak het.
“Jy het ’n slag daarmee!” weerklink die woorde wat insp. Francois Nell (37) al soveel keer gehoor het oor die letterlik honderde mense wat hy daar op die brug kon oorreed om nie hul eie lewe te neem nie.
Maar dit het sy tol geëis. Elke keer as hy misluk het, was daar die gevoel van magteloosheid, die depressie. Die verdomde Satansbrug oor die Van Stadensrivier! Dis so asemrowend mooi, die lowergroen kloof, maar dis ’n plek wat mense se lewe verwoes.
En so amper het dit toe ook syne geëis . . .Dié uitmergelende werk het hom mettertyd self laat knak, in ’n vreemdeling verander by die huis. “Pappa, ek is bang vir jou,” hoor hy sy dogtertjie se stem. En die woorde van sy vrou: “Jy is nie meer die man met wie ek getrou het nie.”
Toe het hy belowe hy sou nie weer nie. Maar vandag kan hy nie anders nie; hy moet gaan. En die adrenalien bruis soos van ouds deur sy liggaam voor die uitdaging wat kom.
By die vierbaanbrug buite Port Elizabeth is dit onheilspellend stil.
Daar staan sy, ’n donkerkop-vrou van so in die dertig in ’n geblomde hemp, aan die verkeerde kant van die reling, met ’n Bybel in haar hand.
Hy stap hande in die lug na haar. “Ek kom in vrede,” paai hy. “Daar is oplossings . . .”
“Moenie nader kom nie,” keer sy hom in sy spore. Sy kyk na haar Bybel, kyk hom dan koel in die oë. “Good bye!” roep sy en val vorentoe. Instinktief gryp hy, maar tevergeefs.
“Nes elke keer tevore het ek oorgekyk, en gesien hoe die ruigtes daar onder haar insluk en oor haar toevou. Toe wel die drang in my op om self te spring – maar ek het dit vinnig weggedruk en weggestap.”
’N WEEK ná hierdie tragedie vroeg in April toe ’n 39-jarige ma van drie tieners die 70ste en nuutste aangetekende selfmoordslagoffer by die Van Stadensbrug geword het, vertel Francois hoe sy werk hom self byna tot selfmoord gedryf het.
As die seun van ’n polisieman wou hy ook net ’n baie goeie polisieman word, nes sy drie broers. Sewe jaar gelede beland hy toe by die Thornhill-polisiekantoor, 6 km van die berugte brug waar kameras later aangebring is sodat hulle op kringtelevisie in die polisiekantoor sou kon sien as iemand wil spring. En keer op keer was dit hy wat uitgestuur is.
Dit is die wonderlikste gevoel wanneer jy iemand se lewe red, vertel hy. “Daardie adrenalien wanneer jy en daardie siel op die mespunt van lewe en dood beweeg. Jy weet net die verkeerde woordjie of beweging kan noodlottig wees. Slaag jy, is dit soos om 300 km/h op ’n motorfiets te jaag en lewend anderkant uit te kom.
“Maar as jy daardie mens nie lewend daar wegkry nie, dryf jou gemoed jou in ’n gat, dieper as daardie afgrond van 123 m. En die mense wat dit ontgeld, is jou eie gesin.”
By hul huis in Uitenhage vertel sy vrou, Jackie (35), hoe sy twee jaar gelede gedreig het om haar goed te vat en te loop as Francois nie die pratery by die brug sou staak nie.
“Ek kon nie meer met hom huishou nie. Al waaroor hy kon praat, was die brug. Hy het amper die geboorte van albei ons kinders misgeloop.
“Ek het hom nog altyd ondersteun en is trots op hom dat hy so ’n deernis vir ander het en pligsgetrou en onselfsugtig is. Die probleem was dat hy later geen tyd meer vir ons gehad het nie. Hulle het hom enige tyd van die dag of nag gebel.”
Jackie, ’n klerk, was geduldig. Wanneer Francois huis toe gekom het, was sy saam bly of hartseer. Van haar vrese oor hom het sy niks gesê nie.
“Snags as hy ure lank weg was en daar geen manier was om hom te kontak nie, het dit aan my gevreet. Dit neem ure, soms dae, om ’n lyk op te spoor. Ek het altyd na alles geluister, selfs hoe stukke van verminkte, soms ontbinde liggame bymekaargelas moet word.”
Sy het reeds in 2004 begin ongedurig raak toe haar man op 15 Mei, sy 32ste verjaardag, agt uur lank met ’n man van Uniondale op die brug gepraat het voor hy vroegaand uiteindelik saam met hom van die brug af weggestap het.
Vir hom was dit die beste verjaardaggeskenk, maar vir Jackie was dit nie maklik nie. Hul oudste, Gillian (6), was toe ’n maand oud. “Dit was al donker en ek was rasend van bekommernis dat Francois dalk iets oorgekom het,” vertel sy.
Toe hy instap, was sy verlig én kwaad. “Ek wou hê hy moet vir berading gaan, want die dinge het aan hom begin vat.”
“Ons Afrikaner-kultuur laat dit mos nie toe nie,” sê Francois nou met ’n wrang glimlag. “Nee, ek was Rambo, ’n ware man en het nie tyd vir sulke dinge gehad nie.”
’n Jaar later het hulle vir sy verjaardag ’n spitbraai vir ’n klomp vriende beplan. Maar toe moes hy en ’n kollega gou-gou die oggend ’n lyk by die Stormsrivier gaan uithaal, en dit het hulle tot middernag besig gehou.
Jackie het besef hoe ernstig die situasie is toe sy een nag ’n oproep kry. Dit was Francois. “Ek kan nie asemhaal nie,” het hy gehyg. “Kry hulp . . . ”
“Die foon het doodgegaan. Ek het nie geweet waar hy is nie en dadelik sy kollegas gebel. Toe hulle hom naby die polisiekantoor opspoor, het hulle my laat weet hy is opgekrul in sy voertuig, sy hele liggaam in ’n spasma.
“Ek was buite myself. Met ’n slapende kleuter en ek wat hoogswanger was en weens komplikasies verbied is om te bestuur, het ek my pa gekry om met my na Francois te jaag.
“Dit het vyf van hulle gekos om hom uit die voertuig in ’n rolstoel te kry. Sy hele liggaam was styf en sy hande kon nie oopmaak nie. Ek dog hy gaan dood.”
Die dokter het hom met ’n spierverslapper ingespuit en ál verklaring die volgende dag was dat hy “in skok” was.Jackie het besef hy het dringend hulp nodig. En toe hy steeds weier, neem sy hom met vakansie na vriende en familie in Spanje en Engeland waar niemand hom kon bel nie.
Dit was twee salige weke, sê sy ’n oomblik triomfantelik. Maar hulle was skaars terug of die oproepe het weer ingestroom. Daar was lyke wat uitgehaal moes word, iemand wat wou selfmoord pleeg . . .
Snags het hy natgesweet wakker geword en vertel hy het gedroom die kinders kom iets oor.
Die laaste skok was toe hulle in Desember 2006 een Vrydag ná werk gou ’n drankie saam met vriende gaan drink het. “Op pad huis toe het ek nog iets gesê van hoe lekker dit was. Asof hy in ’n heel ander wêreld was, antwoord hy: ‘Toe jy my bel om te sê ek moet julle ontmoet, was ek op pad na die brug om te spring.’
“My eens liefdevolle man was toe al aggressief en humeurig, en dit was die laaste strooi. Ek het sy werk gebel en gevra dat hulle hom moet aanmoedig om vir berading te gaan.”
Nog ’n week of twee het verbygegaan, want Francois het gevoel hy het nie tyd vir die “nonsens” van ’n sielkundige nie. “Ek het begin bang word vir my man. Die kinders het ook uit sy pad gebly. Toe pak ek een Maandag al ons goed en gaan na ’n prokureur.”
Eers toe het hy wakker geskrik. “Ek wou nie my vrou verloor nie,” sê Francois. Hy het sy vuurwapen by die werk ingegee en ’n sielkundige gaan spreek, ’n oudpolisieman wat geweet het waardeur hy gaan.
Jackie het ingestem om hom weer ’n kans te gee. Dit was twee jaar gelede “en ons huwelik gaan van krag tot krag”, vertel sy terwyl hy sy arm liefderik om haar skouer sit.
Hy het toe ingestem om die werk op die brug aan ander oor te laat wat opgeleide beraders is, want dit het amper sy en sy gesin se lewe verwoes. Verlede week was die uitsondering. Jackie het verstaan en hul ouers gebel sodat hulle almal vir hom kon bid.
Sy wens is dat die polisie ’n spesiale eenheid van sielkundiges op die been sal bring om hierdie werk te doen. Dan kan polisiemanne doen waarvoor hulle opgelei word, sê Francois, wat pas ’n speurderbevelvoerderskursus voltooi het.
Dit was ’n groot terugslag om weer ’n jong ma te sien spring, sê hy. En hy vra dat mense liewer betyds hulp kry sodat hulle nie tot sulke uiterstes gedryf word nie. Want dis nie net hul geliefdes wat ly nie, maar ook dié polisieman en sy gesin . . .

Deur Alet van Zyl
SY HET die oggend nog met haar oudste oor die telefoon gepraat. Hy was met sy motorfiets op pad na die Klein Karoo Na-sionale Kunstefees (KKNK) en het van Bloemfontein af gebel om te sê hy gaan net so 100 km verder by ’n vriend op sy plaas naby Wepener kuier.
Die twee wou die middag eers met sy vriend se vierwielmotorfietse op die grondpaaie kerjakker voor hy die volgende oggend met sy geel BMW verder sou ry na die KKNK, het Mathys nog vertel.
“Ek het gedag dis mos nog net ’n entjie; ek kan nou maar rustig wees,” vertel die sanger se ma, Meisie Roets, waar sy meer as ’n week ná daardie gesprek verslae in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein se koffiewinkel sit.
Want die volgende oproep wat sy ontvang het, was een om te sê daar was ’n ongeluk: Mathys het nie op die plaas aangekom nie; hy is in ’n ambulans op pad Bloemfontein toe.
Êrens tussen Dewetsdorp en Wepener in die Suid-Vrystaat het dinge erg skeefgeloop. Wat gebeur het, is steeds onduidelik, maar haar kind is saam met sy fiets meters ver oor die teerpad geslinger.
“Jy kan daardie oomblik nie beskryf nie,” sê Meisie. Sy en haar man, Boet, was naby Uniondale uit Pretoria op pad Oudtshoorn toe, nog met Mathys se kitaar in die kattebak, toe hulle die nuus kry.
“Jou kind mag nie pyn hê nie. Hy mag net nie,” sê sy. “Ons het nie geweet wat om te doen nie.” Moes hulle vlieg? Moes hulle ry? In hul skok het hulle seker drie keer van plan verander, tot hul dogter, Marié Greyling, gebel het om te sê sy staan langs Mathys se bed in die hospitaal en Mathys is stabiel.
Hulle ry, kon hulle toe eindelik besluit. Sy beskryf die leë gevoel toe sy haar lieflingkind die eerste keer met al die pype so leweloos daar in die waakeenheid sien lê.
“Ek was geskok. Jy voel so verwese, jy kan niks doen nie . . . jy is magteloos. En al die pype en goeters is skrik-wekkend vir ons mense wat nie weet nie.”
Meer as ’n week later lê haar kind steeds doodstil in ’n wit bed in die neurochirurgiese waakeenheid. Want al het hy reeds van die ligte breinbloeding herstel en sal die gebreekte ribbes en borsbeen ook weer regkom, sal die gebreekte rugwerwels in sy lae rug nooit weer gesond word nie.
Haar kind wat so lief is vir die buitelug, gaan vir altyd in sy onderlyf verlam wees.
Meisie is al moeg gehuil, maar met elke besoektyd staan sy steeds langs sy bed en kan die trane nie keer nie. Mathys is haar sterk kind, sê sy dan vasberade. “Hy het ’n sterk persoonlikheid en sal van enigiets ’n sukses maak.”
Al was dit nooit beplan nie.
SO ’N paar jaar gelede het sy so gewens hy wil van sy geliefde motorfietse ontslae raak, want dis so gevaarlik, bieg Meisie.
“Maar hy het ’n passie en hy troetel daardie motorfietse van hom met soveel liefde dat ek hom nie daarsonder kon indink nie,” erken sy ook.
Benewens die motorfiets waarmee hy geval het, besit hy ook drie vierwiel-fietse, of is dit nou meer? Meisie is nie seker nie.
“Hy is so lief vir die buitelug; dis sy lewe. Voorverlede jaar het ons saam met hom deur Botswana en Mosambiek getoer met die vierwielfietse. Hy was so trots op sy pa wat die hele 500 km op die fiets gery het.
“Ek weet nie hoe hy dit gaan hanteer om verlam te wees nie,” sê sy onseker. “Ek dink nie hy sal in sak en as sit nie, maar soos ek hier sit, weet ek nie eens wat ek self sal doen as so iets met my gebeur nie.”
Daar is trane in haar oë, maar dan glimlag sy. “Ek, Boet en Marié maak elke oggend ’n koor. Die een sal begin en dan val die ander in tot ons al drie saam huil!”
Marié, ’n arbeids-terapeut, probeer nou ook Mathys se seuns, Liam (10) en Yuan (7), help om hul pa se ongeluk te verwerk. Mathys is verlede jaar van hul ma, Karen, geskei.
“Ons gesels maar met hulle,” vertel Meisie. “Veral die oudste een wil – soos Mathys – alles weet en dan vertel Marié vir hom. Sy het vir elkeen ’n boekie gegee en gesê hulle moet elke dag daarin skryf wat hulle voel en vir Pappa wil sê. Ons gaan dit later vir hom gee.”
Mathys se sanger-vriende help die gesin dra, vertel sy. “Daar is soveel van hulle wat al deurgery het en ek wil hulle almal hier by my hou, want ek weet hulle voel nes ek.”
“Dit het vir my maar ’n donker sambreel oor die fees gesit,” vertel Lucas Maree oor die ongeluk. Lucas, wat pal langs Mathys se bed waak, sê hy was eintlik “aangenaam verras” toe hy die eerste keer sy vriend in die hospitaal sien lê het.
“As ’n mens hoor van die ongeluk, kry jy drogbeelde van hoe die persoon gaan lyk, maar hy het vir my gelyk nes Mathys wat slaap, sonder letsels, en hy het rustig asemgehaal,” vertel Lucas, wat gereeld saam met Mathys optree.
Sy dogter, Carla, het intussen ’n Facebook-groep gestig om haar pa te help om die hartseer te verwerk. Meer as 4 000 mense het al daarby aangesluit.
“As ’n mens wakker word van so ’n nare ding, wil jy tog weet van die dae wat jy gemis het. Ons gaan vir hom ’n boekie bind met al die mense se boodskappe daarin,” vertel hy.
Mathys se skoonsus, Mia Roets, het nog ’n Facebook-groep gestig, en dié het ook al meer as 4 000 lede. En daar is nog minstens drie ander groepe wat saam ook sowat 1 000 lede het.
“Selfs al sou hy nie kon kitaar speel nie, is dit nie ’n train smash nie; solank hy kan sing, sal ons hom op die verhoog sit,” vertel Blackie Swart, hoewel die vooruitsig vir kitaar speel wel goed lyk.
Mathys sou saam met hom en nog vier ander kunstenaars in die produksie Ses Snare by die KKNK te sien wees. Die vertonings het voortgegaan, met sy leë stoel op die verhoog.
“Die stoel was ’n simbool daarvan dat ons positief is. Ag, ’n ou pas mos maar aan. Ons het ’n toerbus wat ons kan inrig vir ’n rolstoel,” sê Blackie beslis.
Mathys was nie ’n onverantwoordelike motorfietsryer nie, verseker nog ’n sangervriend, Jannie Moolman. “Hy ry op alles wat beweeg, maar hy ry nie onverskillig nie; ’n mens kan dit mos in sy musiek hoor.”
“Hy moet net weet dit gaan moeilik wees, maar sy familie en vriende is hier vir hom,” sê Kevin Leo, wat saam met Mathys en Danie Niehaus as Drie van die Bestes opgetree het. Hy gee Meisie ’n drukkie.
“Ja, Marié het gesê sy sal hom ook help. Die twee gaan seker nog baie baklei,” sê sy met ’n glimlag.
“Hy weet as ek langs sy bed staan. Die suster het vir hom gesê: ‘Mathys, hier is jou ma’, en toe knik hy en probeer sy nek draai.
“Ek het sy hand gevat en gesê hy moet rustig wees en my hand druk as hy my kan hoor. En toe druk hy my hand . . .”
Lesers wat geld wil skenk vir Mathys se versorging, kan kan dit deponeer in die trust-rekening van Beukes-Sikhala Prokureurs by Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 62213924469, takkode 260249.
Gebruik die verwysing Mathys Roets by alle deposito’s. Boodskappe van bemoediging kan ge-e-pos word aan Alexa Strachan by Persheks@mweb.co.za

Deur Yvonne Beyers
SY HET die woorde ‘‘Joost’’ en ‘‘video’’ vir die eerste keer in een sin gehoor toe haar man en haar dogter se destydse kêrel in die lente van 2006 op die stoep van hul huis sit en gesels het. Maar toe Marietjie Burger hulle daaroor vra, het haar man, Alwyn, net vinnig gesê: ‘‘Dis niks; moenie jou daaroor bekommer nie.’’
Marietjie (46) besef vandag Alwyn, ’n chemiese ingenieur, wou haar nie ontstel nie. Borskanker is kort tevore by haar gediagnoseer, en sy het toe pas haar linkerbors laat verwyder. Sy was besig met chemoterapie en was siek en getraumatiseer – nog meer drama sou sy eenvoudig nie kon hanteer nie.
En so het sy eers ’n paar weke gelede gehoor die video waaroor haar man en Anthony de Beer (24) destyds gepraat het, is dieselfde een wat die land die afgelope weke in rep en roer het. Die video waarin die oud-Bok-kaptein Joost van der Westhuizen glo die dwelm CAT snuif en saam met ’n meisie in skrapse pienk onderklere verskyn – haar eie, enigste dogter . . .
Marietjie het Marilize van Emmenis (24), haar blondekopdogter uit haar eerste huwelik, immers ordentlik grootgemaak. Sy was self al drie keer getroud, en het al ’n paar kêrels gehad, maar sy het nooit self by ’n getroude man aangelê nie. Sy’s ’n kerkmens, een wat elke aand voor aandete bid. En dwelms was nog altyd in haar oë taboe.
Maar toe, ’n paar weke gelede, kom sit ’n wasbleek Mari-lize langs haar op die sitkamermat van die gesin se huis op Hartbeespoort. En die fyn meisie laat sak haar kop in haar hande en sê: ‘‘Mamma, ek moet vir Mamma van my vreeslike skandes vertel . . .’’
‘‘Ek het na haar gekyk en gesê: ‘Ou Nooientjie, vertel vir Mamma wat gebeur het. As jy eerlik is, sal Mamma jou nie veroordeel nie. Jy’s my kind, die Here het jou vir my geleen, en Mamma sal jou altyd bystaan,’ ’’ sê Marietjie waar sy die een sigaret ná die ander by die kombuistafel rook.
‘‘Ag, jy moet my verskoon,’’ sê sy, “ek is so ontsteld oor alles. Ek voel sommer weer siek, skoon asof die kanker terug is. Ek slaap snags glad nie en ek huil heeltyd.’’ En haar oë skiet weer vol trane.
Dit was ’n dag of wat nadat die Sondagkoerant Rapport fotogrepe gepubliseer het uit wat intussen as die Joost-video bekend geword het.
‘‘Ek het die Sondag na die foto’s gekyk en gedink: ‘Miskien is dít die video waaroor Alwyn en Anthony destyds gepraat het.’ My sesde sintuig het met my gepraat. En ek het gedink dit lyk dan na Marliesie se ou beentjies op die foto . . . Maar toe dink ek: ‘Ag nee wat, dit kan mos nie wees nie.’ ’’
En toe bieg Marilize: Dit is sy in die video. Dit is in Augustus 2006 gemaak terwyl sy as ’n ontkleedanser by Teazers in Pretoria gewerk het. Joost het herhaaldelik via SMS by haar aangelê nadat hy haar een aand by ’n kuierplek ontmoet het. Anthony het haar omgepraat om hom op kamera te betrap sodat hulle hom vir geld kon afpers.
‘‘En daar vertel Marliesie toe vir my alles. Toe sê ek vir haar: ‘Ou Nooientjie, hoe kon jy so iets aanvang? Mamma het jou mos nie so grootgemaak nie.’ Maar ek is bly sy het my vertel, ons het ’n oop verhouding, en ek was nog altyd naby aan my pragtige dogter.’’
Marilize het gesê sy weet nie hoe die video by die media beland het nie, sy het nooit weer met Joost kontak gehad nie en sy raak lankal nie meer aan dwelms nie.
Haar dae as danser by Teazers is immers lankal verby, sy’t sewe maande tevore ma geword van ’n skattige seuntjie en sy het haar verlede jaar in die kerk laat aanneem. Sy’s ook deesdae in ’n vaste verhouding, weliswaar nie met haar kind se pa nie.
‘‘Marliesie het oor en oor gesê: ‘Mamma, ek is so jammer.’ Sy was bang dat iets met haar sou gebeur, en het vir my gevra wat sy moet doen. Toe sê ek: ‘My kind, swyg. Swyg tot jy die dag doodgaan. Moenie met enigiemand hieroor praat nie. Dink aan Joost se kinders, aan Amor, en aan jou eie babatjie. Dit gaan almal net seermaak. Swyg.’’
MARILIZE was nie van plan om ooit te erken dit is sy in die video nie, maar toe het die vrees haar oorval. ‘‘Hier het op ’n dag twee mans by die huis opgedaag en gesê hulle is polisiemanne,’’ vertel Marietjie.
“Hulle het Marilize oor die video uitgevra en gesê sy moet niks daaroor vir enigiemand sê nie.’’
Mike Bolhuis, Joost se privaat ondersoeker na die video, het Marilize ook ’n paar weke gelede gebel, maar sy het so groot geskrik dat sy gejok het toe hy haar vra of dit sy in die video is. Sy het nie weer van hom gehoor nie.
En toe begin vreemde motors verby die gesin se huis ry. ‘‘Hier het elke dag ’n groot, grys motor verbygery. Dit het soms buite die hek parkeer, en iemand het ons dan uit die motor dopgehou. Ons was so bang iets gebeur met ons; Marliesie was angsbevange!’’ vertel Marietjie.
‘‘Die karre het elke dag gekom,” beaam Essie Sibuyi, die gesin se huishulp sedert Marilize se babadae. “Ook in die nag. Dan kyk die mense ons so aan. Sjoe, ons was bang!’’
Dit was toe dat Marilize besluit het om te onthul dit is sy in die video. “Sy’t vir my gesê: ‘Mamma, as ek nou verdwyn, sal almal weet hoekom.’ ’
Marietjie ondersteun haar dogter se besluit om oop kaarte te speel. ‘‘Die meeste van my vriende ondersteun my ook, en sê dit sal alles oorwaai. Een vriendin het my gebel en gesê as dit haar dogter was, sou sy haar doodgeskiet het. Maar ek sal my kind nooit veroordeel nie. Ons is almal mense, en mense maak foute. Sy moet hierdie ding nou agter haar sit en aangaan met haar lewe.
‘‘My pa was baie seergemaak toe hy uitvind dis sy kleindogter in die video. Hy’s ’n goeie mens, ’n kerkmens. Maar hy’t ons gister gebel, en gesê hy staan by haar; hy’s nie skaam vir haar nie.”
Marietjie is nie bekommerd dat die inwoners van Hartbeespoort haar en Marilize nou skeef gaan aankyk nie. ‘‘My seun, Stefan, is gestrem sedert hy op sewe jaar in ’n motorongeluk was. En ek het op ’n kol al my hare verloor weens die chemoterapie. Jy moet sien hoe die mense ons twee op straat aangekyk het! Ek is gewoond daaraan.’’
Maar haar dogter se lewenstyl en keuses het Marietjie al tevore onkant betrap. “Ná skool het Marliesie modeontwerp in Pretoria studeer. Toe bel sy my op ’n dag en sê sy wil nie meer studeer nie; sy wil gaan waitress. Ek was die hartseerste vrou op aarde. Maar toe sê Alwyn sy’s groot; ek moet haar laat begaan.
‘‘Sy’t soms vir lang rukke verdwyn en nie haar foon geantwoord nie. Ek was bekommerd, maar ek het haar maar laat begaan. Ek het haar nog altyd vertrou.
‘‘En toe sê Alwyn op ’n dag iemand wat hy ken, het Marilize in Teazers gesien. Ek was so geskok. Ek dink sy’t dit gedoen vir die geld. En ek dink sy’t toe begin dwelms gebruik omdat sy eintlik ’n skaam ou dingetjie is; die dwelms moes haar die moed gee om om ’n paal te dans. Sy het ook verkeerde vriende gehad.’’
Dít was in 2006. Toe het Marilize en Anthony se weë geskei en sy het in 2007 in Durban gaan woon en by ’n klub gedans.
‘‘Dis toe dat haar lewe omgedraai het. Sy’t verlief geraak op ’n ou, en hulle het teruggetrek na my huis toe. Toe hulle op ’n dag hier in die kombuis langs die wasbak staan, het Marliesie gesê: ‘Geluk, ouma, jy gaan ’n kleinkind kry.’
‘‘Sy’s nou voltyds mamma. Jy moet sien hoe goed is sy met die baba,’’ sê Marietjie.
Dan voeg sy by: ‘‘Ek wil regtig hê Joost en Amor se huwelik moet dit oorleef. Joost het ’n fout gemaak, maar hulle moet dink aan die kinders; hulle moenie skei nie.
My ouers is geskei toe ek nege jaar oud was; ek weet watter vreeslike ding dit aan ’n kind doen.’’
MARILIZE SE VERHAAL
Die tatoe op die rug, die pienk ondergoedjies, die maagkettinkie, ook ’n stemtoets en ’n leuenverklikkertoets – alles bewys Marilize van Emmenis (24) is inderdaad die blondine in die berugte seksvideo van Joost van der Westhuizen soos sy nou teenoor die tydskrif heat en die koerant Rapport gebieg het.
Marilize het aan die publikasies vertel sy het Joost einde 2005 by ’n Pretoriase kuierplek ontmoet terwyl sy as Jennifer by Teazers gedans het. Hy het dié aand vir haar tussen ses en agt drankies gekoop en haar nommer gevra.
Sesuur die volgende oggend het Joost gebel om te vra of hy maar kon kom kuier, en met bottels drank by haar en haar woonstelmaats se plek in Pretoria aangekom. Die klomp het toe saam ’n mengsel van Joost en die meisies se CAT gesnuif.
Joost het die oggend openlik met een van haar vriendinne gevry, en Marilize was baie ontsteld daaroor. Maar dae daarna het hy Marilize begin SMS – suggestiewe SMS’e, en knaend, en Marilize se destydse kêrel, Anthony de Beer (24), het vies begin raak daaroor.
Dit is toe dat hy en sy vriende begin praat het van ’n video waar hulle hom op heter daad met ’n ander vrou sou betrap. Hulle wou hom vir geld afpers.
Marilize het in Augustus 2006 met Joost afgespreek om hom by ’n huis in Moreletapark te ontmoet, en hulle het ’n kamera in haar handsak versteek. Maar Anthony het gesê ’n mens kan Joost se gesig nie duidelik genoeg op die video sien nie, en Marilize het ’n week of wat later nog ’n ontmoeting met Joost gereël. So is die berugte video toe gemaak.
Toe een van Anthony se vriende Joost kort daarna oor die video bel, het hulle afgespreek om mekaar te ontmoet. Anthony het vertel toe hulle die video vir Joost wys, het hy begin huil.
Hy het glo ingestem om die geld die volgende dag in ruil vir die video vir hulle te gee, maar toe hulle op pad was na die plek waar hulle Joost sou ontmoet, is hulle aangeval en van die skootrekenaar met die video daarop beroof. Anthony het daarna vol bloed by Marilize se ouerhuis aangekom.
Marilize se ma, Marietjie Burger, vermoed Anthony het vroeër ’n ander kopie van die video gemaak en dat hy of een van sy vriende dit vroeg vanjaar aan heat verkoop het, maar Anthony hou vol dit was nie hy nie.
Marilize het eers besef haar skandes is op die lappe toe ’n vriendin haar van Rapport se berig vertel en sê sy dink dit is Marilize in die video. Marilize – en Joost – is uitgevang . . .

Deur Danél Blaauw
DIS nou al nege maande dat haar kind op ’n verflenterde matras op ’n koue betonvloer in ’n Brasiliaanse tronksel slaap, en Marie Swanepoel huil steeds elke oggend wanneer sy wakker word en elke aand voor sy gaan slaap.
Haar kind ’n dwelmsmokkelaar? Nooit! Maar waarheen wend jy jou, wie sal jou help om haar onskuld te bewys?
Al sedert Tessa Beetge (31) op 13 Junie verlede jaar met 9 kg kokaïen ter waarde van R3 miljoen op die lughawe in São Paulo in hegtenis geneem is, voel dit vir die Swanepoel-egpaar van Margate asof hulle hulle in ’n muur vasloop.
Hulle glo onverbiddelik in hul kind se onskuld. Maar die feit dat die vinger van beskuldiging wat van Tessa weggedraai word, dan ongemaklik in die rigting van die vrou van Suid-Afrika se minister van intelligensie swaai, maak sake ook nie makliker nie.
Tog is Marie en Swannie Swanepoel oortuig hul kind was net ’n pion. Hulle sê Tessa is ’n onskuldige slagoffer van ’n reuse internasionale dwelm-sindikaat.
Die werklose ma van twee se inhegtenisneming het ’n opskudding veroorsaak omdat sy beweer dit was min. Siyabonga Cwele se vrou, Sheryl, direkteur van gesondheid en gemeenskapsdienste van die Hibiskus-munisipaliteit in Port Shepstone, wat haar niksvermoedend by ’n dwelmsmok-kelary betrek het. Sheryl het intussen siekteverlof geneem terwyl die munisipaliteit ’n interne ondersoek doen.
Vir Tessa was haar reis oorsee ’n eerste kans om die wêreld anderkant die water te gaan bekyk, vertel Marie. Sy het gedink sy gaan werk in Londen. Toe dit . . .
In die afgelope maande het sy en Swannie albei oud geword. Die spanning vreet aan hul gesondheid, en Swannie sukkel nou skielik met sy hart. ‘‘Tessa is ’n klein vissie in ’n internasionale dwelmnetwerk,’’ sê hy. “Ek dink ons is besig om ’n miernes oop te krap.’’
MARIE haal haar bril af en vryf moeg oor haar oë. Die brose vrou lyk ouer as haar 56 jaar.
Tessa was nog altyd eiesinnig, maar sy het nooit met die gereg gebots of met dwelms geëksperimenteer nie, vertel Swannie. Ná skool is sy getroud en twee dogters, nou agt en twaalf, is gebore. Hulle woon by hul pa.
Die eerste keer dat hulle van Sheryl se bestaan gehoor het, was toe die Cweles in 2001 langs die Beetges in Port Shepstone ingetrek het. Tessa is ’n jaar of wat later geskei en het bykans sewe jaar lank nie kontak met Sheryl gehad nie.
Sheryl het Tessa op 2 Mei verlede jaar per SMS genader en gevra of sy administratiewe werk oorsee wou gaan doen. Sy het tevore al in ’n drankwinkel en tatoeëerwinkel en ook as administratiewe klerk gewerk, maar sy was toe werkloos en desperaat.
‘‘Ons is saam met Tessie vir die ontmoeting na Sheryl. Omdat sy nog nooit oorsee was nie, wou sy seker maak alles is veilig,’’ vertel Marie.
“Sheryl het dit roemryk laat klink, soos ’n avontuur waarop Tessie gaan. Tessa het ook die hele tyd gepraat van haar oorsese avontuur.’’
Maar Tessa het nooit haar voete op Britse grond gesit nie. ‘‘Sy het my uit Johannesburg gebel en gevra: ‘Mamma, waar is Panama-stad? Ek wil nie dom klink nie. Ek moet soontoe.’ ’’ Die volgende oproep was vroegoggend op 13 Junie toe Tessa vertel het sy is in hegtenis geneem.
‘‘Ek het dadelik vir Sheryl gebel. Sy’t gesê sy sal sorg dat die Brasiliaanse ambassadeur my bel. Ek wag nou nog vir daardie oproep.’’
Hul hande is afgekap, sê Marie. By die polisie, Skerpioene en Brasiliaanse ambassade waar hulle al van verlede jaar af aanklop, kon niemand nog help nie. Dis waarom hulle hulle nou eindelik tot die media gewend het.
‘‘My dogter het nie die vermoë om so iets te beplan en uit te voer nie,’’ sê Marie. “Sy is om die bos gelei.’’
In September het die familie genoeg geld bymekaargeskraap en is Marie saam met ’n neef na São Paulo om Tessa in die tronk te besoek.
‘‘Ek het nie baie woorde gehad toe ons mekaar sien nie. Daar was net trane. Ons het omtrent ’n uur lank gehuil,’’ vertel Marie.
Tessa het vertel sy het niks van dwelms geweet nie. Sheryl het haar van Johannesburg af na Colombia en toe na Peru gestuur, en sy het nooit enige werk gedoen nie.
Toe sy daarop begin aandring om terug te keer huis toe, is sy die vorige aand eers vir oulaas van een hotel na ’n ander geneem.
Sy was met ene Frank in kontak, glo Sheryl se broer, het Tessa vertel. En toe sy op pad na haar nuwe hotel ook van taxi moet verander en haar bagasie deur ’n bestuurder teruggehou word, het Frank haar per telefoon verseker dis alles in orde. Die volgende dag is dit aan haar terugbesorg.
Marie is steeds geskok as sy dink aan hoe Tessie lyk. ‘‘Haar oë is weggesink; sy het ver-skriklik baie gewig verloor en sy was siek toe ek daar was.’’ Ná ’n gesukkel kon hulle darem ’n asmapomp vir Tessa kry, want Tessa is al sedert haar kinderdae ’n lyer.
Sy het ’n tas vol lekkernye en klere vir haar kind saamgeneem, maar die appels, druiwe en suiglekkers en selfs die meeste klere moes weer net so teruggeneem word huis toe. “Daar was selfs reëls dat net wit klere ingebring mag word,’’ vertel Marie kopskuddend.
Sy is dankbaar sy kon sien haar dogter leef. ‘‘Sy is met ’n doel daar, al is dit net om die Woord te versprei.’’ Tessa het twee jaar gelede haar hart vir die Here gegee en verkondig die Woord onder haar medegevangenes, vertel Swannie.
Hul dogter het intussen ’n verklaring van dertien bladsye oor haar hele ondervinding saamgestel en Marie het dit vir die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake gegee. “Ek het nog niks weer gehoor nie,’’ vertel sy.
Die magtelose ouers is nie seker of hul dogter al aangekla is nie. Die departement van buitelandse sake het onderneem om hulle op die hoogte te hou, maar sy sou op 3 Februarie al in die hof verskyn, en hulle wag steeds op nuus.
Hul e-posse vat drie weke om Tessa te bereik, en haar antwoord dan ses weke om by hulle uit te kom. Net twee oproepe per jaar word toegelaat.
Een van die kosbare oproepe sal op 8 Mei, die dag voor haar verjaardag, gemaak word.Saans wanneer sy nie kan slaap nie, rook Marie ’n sigaret op haar agterstoep en kyk uit oor die see. Dan huil sy maar weer. “Al wat ek kan doen, is om vir Tessie te bid . . .’’
Daar was meer as dertig SMS’e en talle e-posse tussen Sheryl en Tessa, maar Sheryl het in die media beweer sy het niks met Tessa se reis te doen gehad nie, en het net op Tessa se versoek so voorgegee om haar ouers om die bos te lei.
Maar Tim McTaggart, ’n gewese vriend van Tessa, het vir ’n koerant gesê Sheryl het Tessa glo sewe jaar gelede genader en gesê sy kan ‘‘goeie geld’’ verdien as sy ’n sak na Brittanje sou vervoer.
Tim sê hy het Tessa self na twee ontmoetings met Sheryl in Durban en Port Shepstone aangery. By een daarvan was Nigeriërs teenwoordig.
Tessa het glo haar planne laat vaar toe Sheryl en haar span daarop aandring dat hy saamgaan Brittanje toe. ‘‘Dit was toe dat ek my voet dwars gesit en vir Tessa gesê het om dit nie te doen nie,’’ het hy aan The Times vertel.
• Die departement van buitelandse sake wag steeds vir inligting van die Brasiliaanse konsulaat oor Tessa se hofverskyning en sal dit oordra sodra hulle dit ontvang, sê Dayanand Naidoo, hoof van konsulêre dienste.
Dir. Sally de Beer, polisiewoordvoerder, sê Tessa se inhegtenisneming en bewerings word ernstig opgeneem en ’n ondersoek daarna is reeds in ’n gevorderde stadium. Hulle wil dit nie nou in die wiele ry deur verdagtes se name te noem nie.

Deur Yvonne Beyers
DIS nie waar dat Joost van der Westhuizen nog nooit ontrou was aan sy vrou, Amor, nie. Sy weet, want sy was die ander vrou – of dan een van hulle.
‘‘Joost praat nie die waarheid wanneer hy sê hy het Amor nog nooit verkul nie. Ons was twee keer intiem nadat hulle getroud is. Een keer toe Amor swanger was met hul seuntjie, en toe weer so twee jaar gelede.’’
En dit sou meer as twee keer gewees het as die gewese Bok-kaptein – nou midde-in ’n yslike herrie oor ’n seksvideo waarin hy volhou hy nié verskyn nie – sy sin gekry het. Maar Nina Mason*, ’n Suid-Afrikaanse sportlegende uit eie reg, het nie goed gevoel daaroor nie.
‘‘Hy was ’n stoute blikskottel. Hy het my ander kere ook per SMS gekontak en gevra: ‘Wat maak jy? Kan ek jou sien?’, maar ek het dan altyd nee gesê, omdat ek skuldig gevoel het omdat hy getroud was.
Toe ons een aand toevallig by dieselfde geselligheid was, het hy my later die nag ’n hele paar keer ge-SMS en gevra: ‘Waar is jy?’, want hy wou my weer sien. Amor was daardie aand saam met hom by die geselligheid.’’
Nina ken Joost al sedert 2001. Die elegante enkellopende vrou, wat ’n paar jaar ouer as Joost is, vertel reguit hoe haar speelse verhouding met die Bok-held ontvou het.
Ja, hulle hét intiem verkeer: terwyl hy besig was om van sy eerste vrou, Marlene, te skei, en ook nadat hy in Januarie 2003 met die sanger Amor Vittone getrou het, vertel sy sonder skroom in die restaurant in Pretoria waar ons vanmiddag gesels. En ja, dit was hy wat haar elke keer genader het; daar was geen sprake dat sy hom verlei het nie.
‘‘Ek besef wat ek gedoen het, was verkeerd. Maar ek praat nou eindelik oor wat tussen ons gebeur het, omdat Joost eenvoudig jok wanneer hy sê hy het Amor nog nooit verkul nie.
“Ek was nooit van plan om hieroor te praat nie, dit was ons geheim, maar die situasie het nou handuit geruk. Toe die video waarin Joost sou wees, op die lappe kom en ek hoor hoe hy daaroor praat (Lêers oor seks en leuens, 12 Maart), het ek gedink: ‘Die vermetelheid, hoe kan hy alles ontken? Hy lag dan mos in sy binneste!’
“Mense het my hieroor gekontak en gesê dit is tyd dat iemand uitpraat – iemand moet sterk staan en die eerste tree gee.
Die publiek, vriende en kollegas het nou genoeg gehad van die arrogansie van ’n mens wat ’n god-houding ingeneem het en dink hy kan doen net wat hy wil sonder dat dit ander sal benadeel, affronteer en seermaak.
“Sy heel eerste prioriteit is sy vrou en kinders. Hy is ’n getroude man; hy kan nie twee lewens wil lei nie – anders moes hy nooit getrou het nie; hy het die keuse gehad.
“Ek is nie hier om te oordeel nie, maar voel sterk dat ’n voorbeeld gestel moet word om die huwelik as instelling suiwer te hou. In ’n samelewing wat lelik verval, raak dit ál moeiliker om goeie waardes na te streef.
“Ek was nie getroud nie – hy was. Hy jok vir sy vrou. Hy moet die waarheid erken, besef hy het ’n probleem, Amor om vergifnis vra en sy huwelik probeer red. Hy is ’n rolmodel vir ander en hy moet ’n voorbeeld stel, ook in die huwelik, maar hy leef ’n leuen.
“Ek kan nie verstaan hoe hy so vir die publiek kan jok nie; hy onderskat hul intelligensie. Ek is jammer vir Amor, en ek weet Joost is lief vir haar.’’
Nina is ’n aantreklike, goed versorgde, volwasse vrou – allermins ’n loskop-flossie wat ’n storie sal versin net om aandag te trek. ‘‘Ek het geen rede om te jok nie,’’ beklemtoon sy.
Sy besef daar is mense wat om hul eie redes dalk sal verkies om te bly glo daar is diegene wat die voormalige Springbok om die een of ander rede bloot wil beswadder. Maar wanneer jy met haar gesels, besef jy daar is klein dingetjies wat sy raakgesien het wat ander mense tog nie van sal weet nie. Soos die Springbok-tatoeëermerk op sy boud. Die knop op sy sleutelbeen. En Amor se naam wat aan die binnekant van sy horlosie gegraveer is.
‘‘Daar is ook ander mense wat in sportkringe beweeg wat geweet het van my en Joost,’’ sê sy.
Nina verkies om naamloos te bly ter wille van haar eie veiligheid, maar het vandag ’n goeie vriendin saamgebring wat wéét sy praat die waarheid. Dié vrou is self ’n bekende gewese sportvrou.
‘‘Ek weet van alles, en dis alles waar. Ek onthou die datums, tye en plekke van hul ontmoetings, want sy het my altyd ná die tyd daarvan vertel, en ek het van die SMS’e gesien wat Joost vir haar gestuur het,’’ sê die vriendin.
Nina het nie meer tasbare bewyse van haar flirtasie met Joost nie, omdat sy haar selfoon met sy SMS’e daarop verloor het nadat hulle die laaste keer vroeg in 2007 intiem was.
HULLE het vir die eerste keer ’n geselsie aangeknoop toe hulle mekaar in Julie 2001 by ’n motorhandelaar raakgeloop het.‘‘Ons het mekaar tevore soms gesien omdat ons by dieselfde geleenthede was en mekaar langs die sportveld raakgeloop het. Maar ons sou dan net in die verbygaan groet. Ek het respek vir hom gehad oor sy vermoë op die rugbyveld; hy was ’n superster.
‘‘En toe voel ek op ’n dag by ’n motorwinkel in Pretoria hoe iemand van agter vir my kyk. Toe ek omdraai, sien ek hoe Joost na my staar. Hy’t my op die naam gegroet, en daar was dadelik ’n aantrekkingskrag tussen ons. Ons het ’n rukkie lank gesels, en toe het hy vir my sy nommer gegee en gesê ek moet hom bel vir koffie.’’
Nina het geweet Joost se huwelik met Marlene, met wie hy toe nog getroud was, was op die rotse.
‘‘En toe ek ’n week later verby die garage ry wat hy in Pretoria besit het, het ek hom op die ingewing van die oomblik gebel. Hy sê toe hy is in Kaapstad, en ek sê: ‘Wel, ek kan seker nie die hele pad Kaap toe kom om saam met jou koffie te drink nie?’ Toe sê hy: ‘Hoekom nie? Laat ek kyk wat ek kan doen . . .’ Alles het op daardie oomblik verander.’’
Hy het ’n kort rukkie later teruggebel en gesê hy het vir haar ’n vliegtuigkaartjie na Kaapstad, ’n motor en ’n hotelkamer in die Kaap bespreek vir die volgende naweek.
‘‘Ek het die Vrydag Kaap toe gevlieg en gaan inkopies doen tot hy later in die aand by my aangesluit het. Ek het geweet wat tussen ons gaan gebeur, en daar was ’n heerlike afwagting.
“Ek het nog altyd gedink hy’s drop-dead gorgeous. Ek was enkellopend en ek het geweet sy huwelik is op die rotse – daar was geen rede hoekom ek hom nie moes ontmoet nie. Ek het ook geweet ek sou enige oomblik kon nee sê as ek wou.’’
Nina het die hotelkamer met kerse versier en roosblare op die vloer gestrooi, en toe Joost daar aankom, was die magnetisme eenvoudig te sterk . . .
‘‘Ons het later saam in die bad gesit en lank gesels, en ek kon agterkom dit gaan nie goed met hom nie; hy was baie down omdat hy bekommerd was oor sy mislukte huwelik en onseker was oor sy toekoms.
Ek het hom verstaan, omdat ek toe al self deur ’n egskeiding was en ook die sportwêreld geken het, en ek kon daar wees vir hom. Hy is die volgende oggend eers daar weg.’’
Hulle het mekaar die volgende aand by ’n Kaapse klub ontmoet waar Joost en ’n klomp van sy mede-Bokke gekuier het. ‘‘Toe ek daar aankom, het hy gesê ek moet met die ander mense meng.
“Ek het later die aand gesien hoe hy met ’n klein blondekoppie gesels en hoe sy aan hom hang. Toe ek by die kuierplek uitstap, het hy my agtervolg en my omgepraat om nie nou al te gaan nie.
Ons het na my hotelkamer gegaan en die nag saam deurgebring. Toe hy die volgende oggend daar weg is, het hy gesê hy sal my weer bel, en ek het toe teruggevlieg na Pretoria.’’
Joost het Nina daarna oor ’n tydperk van drie maande elke af en toe uit die bloute gebel of ge-SMS en gevra of hy haar kan sien. ‘‘Ons het weekliks kontak gehad.’’
Hulle het mekaar nog verskeie kere ontmoet terwyl hy met Marlene getroud was – by ’n bekende rugbyskeidsregter se huis, ook by ’n nagklub, en by Nina se huis.
Die aantrekkingskrag het deurentyd voelbaar sterk gebly, maar sy was nie ’n naïewe poppie wat haar lewe en onafhanklikheid vir die Springbok-held sou opoffer nie. ‘‘Ons was albei grootmense, en ons het ’n verstandhouding gehad. Ek was baie aangetrokke tot hom, maar ek was nie verlief op hom nie.
‘‘Hy’t wel gesê ons sou meer openlik saam kon kuier wanneer sy skeisaak afgehandel is, en ek moet erken dit het sekere verwagtinge by my gewek.’’
Aan die einde van 2001 het sy een aand saam met hom by ’n skeidsregter se huis gekuier, en toe sy laataand op die bank met haar bene bo-oor syne sit, het hy gesê: ‘‘Ek het Amor Vittone ontmoet, en sy’s baie oulik.’’
Nina het hom oor Amor uitgevra omdat sy haar self nog nooit ontmoet het nie, maar nie verder daaroor gedink nie. ‘‘Ek besef nou eers hy het ons albei waarskynlik in dieselfde tyd gesien.’’
Vroeg in die nuwe jaar het sy in Pretoria ’n koerantplakkaat gesien waarop gestaan het dat Joost Amor vir koffie genooi het. Toe sy kort daarna van ’n gemeenskaplike kennis verneem hulle is ’n paartjie, het sy vir Joost ’n SMS gestuur waarin sy gesê het sy wens hy het haar eerder self vertel hy sien Amor.
Hy het nie gereageer nie, en daar was toe nie verdere SMS’e nie.
Toe sy ná April 2002 hoor Joost en Amor is verloof, was sy verras. ‘‘Ek was verbaas oor hoe die nuus my geraak het. Maar ek kon uit Joost en Amor se onderhoude met die media sien hoe verlief hulle was, en ek was bly vir sy onthalwe.’’
Sy’t nie weer van Joost gehoor nie, tot kort ná sy troudag in Januarie 2003. ‘‘Kort nadat hy van sy wittebrood teruggekom het, het hy my uit die bloute ge-SMS: ‘Wat maak jy? Kan ons ontmoet?’
“Ek het hom terug ge-SMS en gesê wat hy wil hê, is nie reg nie – ek kan dit nie aan sy vrou doen nie; hy is getroud en sy is lief vir hom. Hy’t my terugge-SMS en gesê dis waar.
“Dit het my ontstel dat hy my weer gekontak het, want dit het my laat besef mans is blikskottels – dit kon ek gewees het.’’
Nina het eers weer in Desember daardie jaar van Joost gehoor. ‘‘Hy’t my uit die bloute ge-SMS en gesê hy is saam met sy honde in die kar op pad Keurboomstrand toe met vakansie. Hy het gesê Amor sou afvlieg, en ons het afgespreek om mekaar by sy strandhuis te ontmoet wanneer hy daar aankom. Ek was angstig om te sien of die aantrekkingskrag tussen my en hom nog daar sou wees.
‘‘Toe ek voor Joost se huis parkeer, het hy die deur oopgemaak en ek het ingegaan. En dit was duidelik – die aantrekkingskrag is steeds daar . . .’’
Haar woorde raak weg, en sy lyk skielik skamerig. ‘‘Ek voel sleg daaroor. Ek weet nie hoekom hy haar verkul het nie – sy is beeldskoon; sy is alles wat ’n man wil hê.
‘‘Hy het my later ge-SMS en gesê ek laat hom vreeslik deurmekaar voel. Die hele besigheid het my ontstel; ek was baie emosioneel daaroor.’’
Joost het Nina kort daarna weer ge-SMS en gesê hy wil haar by ’n nabygeleë vakansie-oord ontmoet. “Maar ek het gedink dis verkeerd – sy vrou was immers by hom – en hy begin nou roekeloos raak. Ons het mekaar nie toe weer gesien nie.’’
Joost en Amor se eersteling, Jordan, is op 16 Januarie gebore en Nina het lank nie van Joost gehoor nie. Heelwat later het hy haar weer ’n keer of wat ge-SMS en gevra om hom te ontmoet. ‘‘Ek het dit net geïgnoreer, want hy was getroud, en ek wou dit nie aan Amor doen nie.’’
Sy het hom eers weer vroeg in 2005 by ’n toekenningsaand vir sportlui buite Durban raakgeloop.‘‘Hy was daar saam met Amor, en toe hy my sien, kon ek sien hy is verras. Ek het hallo gesê en my aan Amor voorgestel, en ek kon sien Joost was ongemaklik.
“Ons het die aand nie saam gekuier nie, maar toe ek laataand teruggaan na my hotelkamer, het hy my verskeie kere ge-SMS om te vra waar ek is.
“Ek het nie geantwoord nie – ek het gedink hy is vermetel; Amor was immers saam met hom. En buitendien, waar sou hy my wou ontmoet? In die tuin? Dit het net nie reg gevoel nie.’’
Twee jaar het verbygegaan voor hul paaie weer gekruis het. Joost en Amor se dogtertjie, Kylie, is in dié tyd gebore, in Maart 2006.
‘‘Ons het mekaar eers weer vroeg in 2007 toevallig in Pretoria raakgeloop, en weer telefoonnommers uitgeruil. Dit was heerlik om hom weer te sien. Hy’t my daarna ge-SMS en gevra of ons kan ontmoet.’’
Sy bly ’n rukkie stil, en kyk ingedagte na haar hande. ‘‘In Maart 2007 het hy na my huis gekom, ons het ’n drankie gedrink en die een ding het tot die ander gelei.
‘‘Hy het my ná die tyd gebel en vir my gesê hy gaan vir ’n rukkie laag lê omdat hy afgepers word en sy gesin deur ’n moeilike tyd gaan.’’
Hulle het mekaar nie weer gesien nie. ‘‘Dis nou meer as twee jaar, en ons het nog nooit weer kontak gehad nie. As hy meer diskreet was en nie so roekeloos opgetree het nie, sou die video-situasie wat so uitgekring het, my nie betrek het nie.’’
NINA sê sy het dit komies gevind toe sy hoor daar word beweer Joost verskyn in ’n seksvideo. ‘‘Toe ek die berigte oor die video lees en die foto’s daarvan sien, het dit vir my soos hy gelyk. Maar hy het nooit voor my dwelms gebruik soos hy skynbaar in die video doen nie, en ek het nooit bewerings gehoor dat hy dwelms gebruik nie.’’
Sy sê sy weet sy was nie Joost se enigste skelmpie nie. ‘‘Ek weet van nog drie ander vroue wat iets met hom aangehad het. Die een het in 2006 vir ’n paar maande met hom ’n verhouding gehad. Ek was nie jaloers op die ander vroue nie, omdat ons nie so ’n soort verhouding gehad het nie.
‘‘Wat ons gehad het, was nie liefde nie. Ek het wel regtig vir hom omgegee – hy is ’n sjarmante man en ’n baie goedhartige mens. En ek dink hy was aangetrokke tot my omdat ek as die ouer een ’n rustigheid en innerlike krag uitgestraal het. Hy het gevoel hy kan my vertrou, en ek het hom kalm gemaak.’’
Sy word weer stil, en verdwyn ’n rukkie in haar gedagtes.
Dan kyk sy jou reguit in die oë. ‘‘Joost wil Amor nie seermaak nie. Hy is nie ’n slegte ou nie. Hy is eerder soos ’n stout kind wat nooit grootgeword het nie.
“Toe hy destyds besig was om van Marlene te skei, het hy vir my gesê hy wil vir ’n rukkie nie ’n vaste verhouding hê nie; hy wil net speel.
“Hy moes dit toe gedoen het. Hy moes homself uitgewoed het voor hy weer getrou het. Maar hy was roekeloos, en hy het mense onderskat.
‘‘Ek wens hom nie nou slegte dinge toe nie. Maar Joost moet erken wat hy gedoen het, en ophou om dit te doen.“Ek hoop hy en Amor besin oor hul huwelik, en ek hoop hulle sal vir berading gaan en sy kan hom vergewe. Hulle is regtig ’n great paartjie, en hul liefde vir mekaar is ooglopend en inspirerend.’’
• Die bom bars
Die Sondagkoerant Rapport publiseer op 15 Februarie foto’s van ’n seksvideo waarin ’n man wat nes Joost van der Westhuizen lyk, met ’n byna naakte vrou kafoefel.
Dit lyk ook asof hy ’n wit poeier snuif. Joost ontken ten sterkste dit is hy in die video, en sê hy het sy vrou nog nooit verkul nie. ‘‘My hart is by die Here,’’ sê hy. Dit blyk die tydskrif heat het die video in sy besit en het dit aan Rapport gewys. Heat verskyn twee dae later met nog foto’s, maar beskerm die identiteit van hul bron.
• Hoofopskrifte
Joost se beweerde sekskapades in die video is elke dag groot nuus. Die Springbok-held stel die spesiale ondersoeker Mike Bolhuis aan om uit te vind wie agter die video sit.
Mike beweer hy het die vervaardigers opgespoor en hulle voor ’n ultima-tum gestel: ‘‘Erken die waarheid binne vier dae of dra die gevolge.’’
• Joost en Amor stort hul hart uit
Die sanger Amor Vittone, Joost se vrou, vertel in Huisgenoot van 5 Maart dat sy by haar man staan en glo hy is onskuldig. Die paartjie sê hulle gaan deur hel en word al jare lank geteister. Joost hou vol hy was nog altyd getrou aan Amor:
‘‘Ek het nog nooit my vrou verneuk nie. Ek weet wat ek aan my gesin het. Ek leef vir hulle.’’
Amor sê sy het vir ’n oomblik getwyfel toe die video aan die lig kom. ‘‘Ek het na Joost gekyk en gesê: ‘Is dit jy of nie?’ Hy het vir my gesê: ‘Amor, ek belowe jou dis nie ek nie. Ek het nog nooit so iets gedoen nie en sal ook nooit nie.’ ’’
Amor het op haar knieë by hom gaan sit en gesê: ‘‘As dit jy is, sê my reguit. Sê my net. Ons almal is menslik en maak foute. As dit so was, sou ons dit kon erken en sê ons het ’n fout gemaak.’’ Joost het haar toe weer van sy onskuld verseker.
• Die ultimatum kom en gaan
Mike se ultimatum aan die sogenaamde vervaardigers van die seksvideo kom en gaan sonder gevolg, en van die verslag oor sy ondersoek wat hy vroeër aan die media beloof het, kom ook niks. Rapport skryf op 1 Maart: ‘‘Bolhuis baar ’n muis.’’
Kenners gee uiteenlopende menings oor die egtheid van die video, maar ’n gesiene polisie-spesialis sê sowel die beeld as die klank is eg en onveranderd.
• Ander skelmpies?
Twee vroue bel Huis-genoot en beweer hulle het met Joost seks gehad terwyl hy getroud was. Die een sê sy het in 2005 by Joost geslaap en die ander het glo verlede jaar met die voormalige Bok-kaptein seks gehad. Een van die vroue noem ook die naam van ’n derde vrou.
• Bolhuis se bevindings
Mike vertel in Huisgenoot van 12 Maart dat hy en Joost weet wie die vrou in die video is en haar daaroor gekonfronteer het, en sy ontken dit is Joost saam met haar.
Die twee mans wat die video gemaak het, ontken later teenoor heat dat Mike haar hoegenaamd gekontak het. Huisgenoot konfronteer Joost oor die twee vroue wat beweer hulle het met hom seks gehad.
Hy lag en sê dit is ’n nuwe komplot teen hom. Hy sê ook die media steek onbekende vroue op om hom te SMS asof hulle hom sou ken. Hy wys ’n SMS van ’n vrou wat sê sy sal “al die aantygings ontken’’, en sê hy ken haar van geen kant nie.
Maar die nommer van waar die SMS gestuur is, blyk dieselfde te wees as dié van een van die vroue wat Huisgenoot vroeër gebel het, maar toe besluit het om nie meer haar verhaal te vertel nie . . .
• ’n Skelmpie praat prontuit
’n Bekende gewese sportvrou stem ’n paar dae later in om in ’n eksklusiewe onderhoud aan Huisgenoot te vertel van haar intieme verhouding met Joost. Huisgenoot ontmoet haar laatmiddag op Dinsdag 10 Maart by ’n Pretoriase restaurant, en Nina se vriendin, ook eens ’n bekende sport- vrou, bevestig die besonderhede van die verhaal. Die vriendin is bereid om in die hof te getuig dat die verhaal die waarheid is.
• Joost word gekontak
Huisgenoot kontak Joost op Woensdag 11 Maart om 10:45 en lig hom in ’n vrou beweer sy het met hom seks gehad nadat hy en Amor getrou het. Hy verwys Huisgenoot na Bolhuis.
• Bolhuis se reaksie
“ ’n Mens moet maar die bewe-rings vat soos dit kom. Ons staan by ons kliënt in hierdie moeilike tyd. Ons bid en hoop dat sy huwelik al hierdie aanslae kan hanteer.
Ons weet hy is ’n gesogte man en baie vroue is verlief op hom. Dit is ’n dilem-ma. Daar is baie mense wat bitter en jaloers is omdat hy uiteindelik vir Amor gekies het en by haar staan. Vir Joost gaan alles nou net oor Amor.”
• Wat Joost sê
‘Ek en my vrou werk hard aan ons verhouding. Soos in enige huwelik het ons ons op- en af-tye. Ons het ongelooflike kinders. Ek vra dat die publiek en die media ons gesin nou sal respekteer en ons privaatheid sal gun.
Mense moenie stories wat tydens my vorige huwelik rondvertel is, nou in 2009 op my huidige huwelik van toepassing maak nie. Wat in my huis gebeur, is privaat. Ek gaan geen verdere kommentaar lewer nie. Ek is klaar met die media.’
* Skuilnaam

Deur Michelle Pieters
DIE man met die unieke blonde haarstyl leun gemaklik terug in die swart leerstoel van sy ruim kantoor met ’n uitsig op ’n reuse grasperk in Pretoria. Sy groot lyf verdwyn amper agter die stapels lêers op sy oorvol lessenaar. Hy tel pakke papiere op en blaai hier, blaai daar.
Bloed- en urinetoets: geslaag. Poligraaftoets: geslaag. Klanktoets: geen uitsluitsel. So wys Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker na ernstige gewelds- en ekonomiese misdade, die een verslag ná die ander waarin sy kliënt, Joost van der Westhuizen, se onskuld glo bewys word.
Nee, ons mag nie sien wie die toetse gedoen het nie. Dit is vertroulik, want hier kom ’n strafregtelike klag.Mike en sy span ondersoekers, die meeste van hulle oud-polisielede, stel in opdrag van die gewese Bok-kaptein ondersoek in na ’n omstrede seks-
video wat die land al weke lank aan die raai het. Is dit Joost in die video, of is dit nie?
In die video is ’n man wat soos Joost lyk met ’n skamel geklede blondine doenig, en dit lyk ook of hulle dwelms gebruik. (Dit is nie duidelik hoekom die dwelmtoets hoegenaamd gedoen is nie. Die dwelm cat – toe nie kokaïen nie – wat vermoedelik in die video gebruik word, bly immers net 72 uur in die gestel en is daarna onopspoorbaar.
Joost hou vol die video is ’n vervalsing deur mense wat ’n komplot teen hom en sy mooi sanger-vrou, Amor, smee. Dit is waar Mike in die prentjie kom. Hy moet die hele bedrogspul – as dit so is – namens die Van der Westhuizens oopvlek.
Maar die stories bly rondvlieg dat Joost al by verskeie buite-egtelike verhoudings betrokke was.
En vandag vertel ons self vir hom dat twee vroue Huisgenoot in die afgelope dae gebel het en beweer hulle het onderskeidelik in 2005 en verlede jaar met hom seks gehad. Albei vroue het in fyn besonderhede vertel van hul ontmoetings met hom, maar albei het mettertyd besluit hulle wil tog nie vir publikasie-doeleindes oor hul ervarings praat nie omdat hulle bang is vir hul veiligheid.
Op die vraag of hulle gedreig is, het die een gesê: “Julle moet self tussen die lyne lees.”
Joost lyk glad nie verbaas hier waar hy in Mike se kantoor sit kort nadat hy ’n poligraaftoets afgelê het nie. Ook nie kwaad nie. Hy gee net ’n wrang laggie, pluk summier sy selfoon uit sy sak en wys ’n SMS wat een van die vroue aan hom gestuur het.
Hierin vra sy hom om verskoning en sê sy dat sy nie met ’n onderhoud met Huisgenoot sal voortgaan nie: “Ekt Yvonne Beyers v Huisgenoot gebel en alle aantygings ontken niks v dit sal ooit gepubliseer word . .
Sy wens hom en Amor ook sterkte toe en sê Joost moet hom nie laat onderkry nie, “jy is ’n stunning mens”.
Joost sê hy ken haar van geen kant af nie, maar sy is een van vier vroue wat hom op dieselfde dag gebel het. Al die vroue het hom gevra of hy hulle “onthou”.
Hy glo dié vroue wil hom in ’n lokval lei met hul gesprekke, want dit klink asof hulle die gesprekke op band vaslê. Hy hoor ’n klikgeluid oor die foon, sê hy.
Dit is alles deel van ’n tweede komplot, meen Joost. Dié een is deur sekere lede van die media georkestreer om hul aanvanklike berigte oor die seksvideo te regverdig. Dit is hierdie media wat die meisies opgesteek het om hom te bel om hom te probeer inkrimineer, beduie hy.
JOOST sê hy het nou besluit hy gaan voort met strafregtelike klagte van afpersing teen die mense wat vir die video verantwoordelik is, en van naamskending teen die skindertydskrif heat en Rapport.
Eers was sy kliënt te emosioneel en te kwaad om te besluit wat hy omtrent die bevindinge in die verslag moet doen, verduidelik Mike, maar hy het nou ’n nuwe prokureur aangestel nadat hy sy oue afgedank het, en Joost gaan die publikasies dagvaar. Sodra die klagtes ingedien is, gaan die Bolhuis-verslag na die polisie.
Ons vra uit oor die verslag, maar Mike bly vaag. Oor baie punte wil hy glad nie uitwei nie. Dit gaan die polisie se ondersoek benadeel wanneer Joost strafregtelike klagte teen die skuldiges indien, beduie hy.
Maar hier kom die verrassing van die dag: Hy en sy span ondersoekers weet nou eindelik wie die blondine in die video is. En nie net dit nie: Hulle het haar opgespoor.
Haar gesig word in die eerste vier minute van die video gewys en so het Mike en sy span haar gevind. Nee, hy sal nie haar identiteit bekendmaak nie. Dis op versoek van die polisie, ter wille van haar veiligheid en haar privaatheid. Maar hy wil nie die name van die polisiebeamptes wat dit versoek het, noem nie.
Hy sal wel dit verklap: Sy is nou die ma van ’n baba van vyf maande. En sy het reeds ’n verklaring voor hom en sy span afgelê waarin sy sê die man in die video is nie Joost nie.
Ook sy is ’n slagoffer in die komplot teen Joost, verduidelik Mike nou. Die vervaardigers van die video het haar misbruik en vir die video betaal.
Ons mag nie die verklaring sien nie, want dit word veilig bewaar.
Hoe weet ons dit is nie ’n vervalsing nie, nes die video sou wees? Mike beklemtoon weer, dit is polisiesake dié. Buitendien, dit is ’n belaglike gedagte, antwoord Mike, want dan kan alles mos vervals wees wat hy vandag vir ons gewys het . . .
Nee, hulle weet steeds nie wie die Joost-dubbelganger in die video is nie, want die meisie kan nie onthou saam met watter mans sy al almal in sulke omstandighede was nie.
Die eintlike skuldiges is die vervaardigers van die video en Mike-hulle weet wel wie hulle is. En hul motief? Geld.
“Hulle probeer al sedert Augustus 2006 die Van der Westhuizen-gesin met R500 000 afpers, anders word die video bekendgemaak,” sê hy.
Die stukke van die legkaart begin nou inmekaar pas. As die meisie wat glo in die video verskyn wat Mike-hulle opgespoor het, ’n baba van vyf maande het soos hy vertel, kon die video onmoontlik verlede jaar gemaak gewees het soos heat aanvoer, want dan sou die meisie agt maande swanger gewees het.
JOOST het reeds in 2006 – toe hy die eerste keer met die video afgepers is – privaat speurders aangestel om die saak te ondersoek, vertel Mike. Hy het gedink dit is die einde van die storie toe hy ’n tyd lank nie weer iets hoor nie. Maar die oproepe het weer begin, en die laaste oproep was in Augustus verlede jaar.
Ons vra Mike wat dan geword het van die beweringe dat mense in die vermaaklikheidswêreld by die komplot teen Joost betrokke sou wees en dat die bevinding die land sal ruk.
Dit kom dalk nog, sê hy. Hy kan nie nou daaroor uitwei nie. Wat hy wel kan sê, is die vervaardigers van die video is twee Afrikaanse broers van Pretoria, die een ’n oudpolisieman en die ander een ’n polisieman wat nou met siekteverlof is. Hoe hulle geïdentifiseer is, wil Mike nie sê nie.
Hy en sy span probeer al dae lank met hulle praat, maar albei broers vermy hulle. “Ons is nie die polisie nie en het nie die mag om net sommer by hul huise in te storm nie. Eers as Joost ’n strafregtelike klag indien, kan die polisie hulle ondervra.”
Hy wil nie bekend maak wie die mense is wat klank-, poligraaf- en dwelmtoetse op Joost gedoen het as deel van sy ondersoek nie. Hy noem hulle net “spesialis-ondersoekers”, en sê die spesialis wat die klankbaan-ondersoek gedoen het, is ’n ervare man wat al tien jaar “met sterre werk”. Hy kon nie bevind of dit Joost se stem is of nie.
Joost weier steeds om heat se uitnodiging te aanvaar dat hy ’n stemtoets ondergaan.
Joost het ook bloed- en urinetoetse ondergaan en al wat in dié toets opduik, is ’n slaappil wat hy onlangs gedrink het.
Die laaste toets was ’n poligraaftoets waarin Joost onder meer gevra is: “Ken jy die meisie in die video? Het jy al orale seks met dié meisie gehad?”
Joost het die toets geslaag, sê Mike. Hy wys die verslae met die uitslae aan Huisgenoot, maar hou die name van die spesialiste toe.
Maar Mike sê alles is korrek en noukeurig ondersoek. “As ons inligting voor ’n hof gebring sou word, is ek oortuig dat die hof dit sal aanvaar.”
Sy ondersoekers is hoogs opgeleide oudpolisielede, soos Vince Harris, ’n polisieman met 28 jaar ondervinding wat ook betrokke was by die ondersoek na die tiener-moordenaars bekend as die Waterkloof-Vier. Daarom twyfel hy nie dat hulle dinge volgens die boek doen nie, sê Mike.
Hy erken hy word nie ’n sent vir die Joost-ondersoek betaal nie, soos ook met ander sake. Eers as die ondersoeke afgehandel is, gee lede van die publiek en familielede van die slagoffers volgens Mike soms vir hom geld.
Sy maatskappy, Specialised Security Services in Pretoria, maak geld uit ander dienste wat hulle aanbied, soos skuld-invordering.
Wanneer ons Mike Bolhuis uiteindelik groet, is dit met meer vrae as antwoorde. Is dit Joost op die video, of is dit nie? Dalk weet ons eendag vir seker . . .
WIE IS MIKE BOLHUIS?
Mike was in die jare tagtig ’n bekende uitsmyter in Pretoria en Johannesburg, en het mettertyd ’n hele span uitsmyters gehad wat onder hom gewerk het. Hy vertel hy het in die vroeë negentigs die bedryf verlaat omdat dit sinoniem begin word het met dwelms en ander onwettige aktiwiteite.
Hy het toe sy eie veiligheidsmaatskappy begin, wat hy tot vandag bedryf. Maar Mike is ook geen onbekende onder polisielede nie. Hy het oor die jare al verskeie polisie-eenhede gehelp om sake op te los en misdadigers vas te trek.

Deur: Huisgenootredaksie
HULLE is al Suid-Afrika se eie Posh en Becks genoem – ons land se mooiste paartjie, so ooglopend verlief en gelukkig saam, so geseënd met hul twee pragtige kinders, hul luukse huis, hul glanslewe waaroor derduisende Suid-Afrikaners gereeld met ’n tikkie jaloesie in die media gelees het.
Tot dae gelede . . . Toe bars die bom vir Amor Vittone en Joost van der Westhuizen.
Want nou het die media in skok-opskrifte en met eksplisiete foto’s daarby vertel van ’n video-opname, ’n stomende seksvideo van ’n man wat soos die gewese Bok-kaptein lyk.
En die meisie in die twee pienk deurtrekkers is nie sy sangervrou nie . .
Nie net is beweer hy het intieme seksdade gepleeg met ’n vrou wat dalk ’n prostituut kan wees nie, maar foto’s uit die video is wyd en syd gepubliseer – onder meer waar die man wat Joost sou wees, vermoedelik ’n wit poeier soos kokaïen saam met die vrou in die deurtrekkers snuif.
Eendag sal Joost en Amor, soos koningin Elizabeth 2 van Engeland tevore, sekerlik nog van 2009 as hul annus horribibelis praat. Hul aakligste jaar.
Intussen, terwyl die land aan die brand is oor dié skoknuus, worstel Suid-Afrika se mees geliefde glanspaar met ’n krisis wat selfs hul ergste vyande hulle nie sou toewens nie.
Of is dit juis so ’n vyand wat agter die hele rampspoedige gebeurtenis sit? Maar terwyl Joost volhardend beweer dit is nié hy op die video nie, lei alle gesprekke telkens maar weer na dié een vraag terug: Is dit tog hy, of is dit werklik nie?
Huisgenoot het na van die brandendste kwessies gaan kyk.
Hoe het die drama ontvou?
Die drama begin verlede Augustus met ’n dreigoproep van ’n man wat vir Joost sê: ‘‘Al jou *** gaan nou begin.’’ Verlede maand volg soortgelyke oproepe aan Joost en Amor waarin ’n onbekende Afrikaanse man sê: ‘‘Geniet die media.’’
Op Woensdagmiddag 11 Februarie omstreeks eenuur bel ’n onbekende man die skindertydskrif heat se kantoor in Johannesburg.
Hy beweer hy het ’n seksvideo waarin ‘‘Joost’’ dwelms gebruik saam met ’n ontkleedanseres. Dieselfde aand koop heat die band teen ’n bedrag wat Melinda Shaw, die redakteur, later as ‘‘nie buitensporig nie’’ bestempel en gaan die volgende dag drukkers toe met die storie.
Oor die identiteit van die ontkleedanser wil heat nie kommentaar lewer nie en wil ook nie sê of die man Afrikaans of Engels is nie. ‘‘Dit was ’n besorgde lid van die publiek wat vir ons die band gegee het,’’ sê Melinda.
Sy sê wel die mense wat dit verskaf het, het dit self verfilm. ‘‘Hulle het gesê hulle doen dit omdat Joost nie ’n goeie rolmodel is nie.’’ Saterdag nader heat, wat die volgende Dinsdag op die rak is, Rapport oor die videoband.
’n Joernalis van Rapport, Gavin Prins, kyk die middag na die video. Hy is oortuig dis Joost, nie net oor wat hy sien nie, maar ook omdat hy sy stem sou herken.
En Sondag bars die bom in Rapport onder die opskrif: ‘‘Joost in seks-video’’. Joost ontken kategories teenoor Rapport dit is hy in die video en voer aan hy het nog nooit sy vrou verkul nie.
‘‘My hart is by die Here. Dis baie duidelik ’n komplot teen ons gesin. Ek is glad nie verbaas oor die video nie. Ek het dit eintlik verwag,’’ sê hy volgens Rapport.
Hy sê ook niemand het aangebied om vir hom die video te wys nie. “Ek het probeer om die video in die hande te kry.’’ sê hy. “Hoe kan ek kommentaar lewer op iets wat ek nie gesien het nie?’’
Die redakteur van heat erken die tydskrif het Joost nie om kommentaar genader nie, want ‘‘jy vra net iemand om kommentaar as jy nie seker is van jou feite nie.
Daar was geen twyfel by my dat dit Joost is nie’’. Maandagoggend slaan Joost verder vure dood in koerante en oor die radio – onder meer sê hy dat hy nie Polo-sokkies besit of onderbroeke met gaatjies daarin dra soos dié wat die man in die video volgens Rapport sou dra nie, en ook dat ’n tatoeëermerk op sy boud sigbaar behoort te wees as dit wel hy is.
Volgens bronne is Amor hoogs ontsteld, maar sy staan by haar man. Intussen kondig heat op sy webtuiste aan dat hy ’n gesensorde weergawe van die video binnekort daarop sal wys.
Joost sien die video Maandag omstreeks eenuur vir die eerste keer. Amor, wat glo die hele naweek omgehuil het, weier glo om na die video te kyk.
Joost se regspan kyk Maandagmiddag omstreeks vyfuur daarna. Hy stel ook ’n publisiteitspan, die swaargewig-agentskap Marcus Brewster Publicity, aan om namens hom te praat.
Teen Dinsdag gons die land oor sy beweerde eskapades. Die tydskrif heat verskyn op straat met ’n artikel en fotogrepe uit die gewraakte video.
Beeld berig dat Joost sê die man in die video se penis is groter as syne. Later dieselfde aand word heat in ’n onderhoud met die radiostasie 702 en CapeTalk oor die kole gehaal oor wat die aanbieder, Kieno Kammies, as ‘‘onverantwoordelike joernalistiek’’ afmaak.
Melinda erken hulle het die video nie deur forensiese kenners laat ontleed nie. Joost sê Dinsdag aan Beeld: ‘‘Ek aanvaar dat enige lid van die publiek wat na die video kyk, maklik sou kon dink dis ek.’’
Die video word Dinsdag drieuur by die kantore van heat se regspan in Sandton aan die media gewys. Daar is ’n meningsverskil onder die teenwoordiges oor of dit Joost in die video sou wees of nie.
Huisgenoot se verteenwoordigers meen nóg die beeld nóg die klank is duidelik genoeg dat ’n mens met sekerheid uitsluitsel daaroor sou kon gee.
Joost se regspan kry die video teen Dinsdag sodat hul kundiges dit kan ontleed.
Die tydskrif heat stel drie keer die vrystelling van die video op hul webblad uit, besluit dan om dit onbepaald uit te stel en voer as redes aan dat dit “te pornografies is” en dat die kort uittreksel wat hulle wel oorweeg het, nie ’n goeie geheelbeeld skep van die volle 29 minuut lange opname nie.
Wat sien ’n mens op die video?
Die beeldmateriaal is dof, die man in die video se gesig word min gesien en die stemme is onduidelik. Agtergrondmusiek verdof verder die stemme, asook ’n selfoon wat telkemale lui.
’n Mens kan sien die videokamera is in ’n handsak versteek omdat ’n skamel geklede blondine in twee pienk deurtrekkers telkens reguit na die kamera stap, dan skommel die beeld en daarna sien jy haar met iets in die hand wat sy uit die sak sou geneem het, soos haar selfoon.
Sy skuif die handsak telkens, klaarblyklik om beelde van die man in die video so duidelik moontlik vas te lê. Daar word gewys hoe die man ontklee en sy geslagsdele is sigbaar.
Maar geen seksdaad word gesien nie – daar is bloot die suggestie van orale seks deur die vrou vanweë die posisie wat sy inneem en sekere bewegings.
Die man sê enkele sinne, maar die blondine is bykans aanhoudend aan die gesels – oor haar dwelmgebruik, haar kêrel, dans.
Geen wit poeier is op die video te sien nie; jy hoor net die gekap van iets soos ’n kredietkaart en sien hoe die donkerkopman agter die blonde vrou se boud afsak, vermoedelik dan om iets te snuif.
In die video is dit nie moontlik om te sien of die man wel ’n tatoeëermerk op sy boud het of nie, omdat hy nooit daardie deel van sy liggaam na die kamera draai nie.
Is dit moontlik om só ’n film te vervals?
Dit is moontlik om videobeelde te manipuleer, sê Andri Jooste, ’n Johannesburgse video- en beeldsamesteller en ’n kenner van digitale manipulasie, maar dis ’n uiters tydrowende proses en ’n deskundige soos ’n beeldsamesteller sou ure daaraan moes bestee.
Elke sekonde van beeldmateriaal bestaan in wese uit ‘‘fotoraampies’’ en elkeen sou individueel gemanipuleer moes word.
Hy meen as ’n video soos hierdie een gefabriseer moes word, sou die samesteller ’n spesialis moes wees op die gebied van 3D-rekenaarprogramme.
Só ’n proses is peperduur. Jy het honderdduisende rande se rekenaartoerusting nodig en ’n spesialis sal tussen R500 en R1 000 per uur vra om so ’n taak te verrig. Nico le Roux, ’n gesigsherkenner van die polisie se forensiese kunsafdeling, sê om foto’s te manipuleer is redelik eenvoudig, maar film is bitter moeilik.
‘‘Jy het ’n Hollywoodateljee nodig om so iets oortuigend te doen,’’ meen hy.
Is dit Joost se lyf en stem op die video?
Joost hou tot en met ons druktyd vol die video is deel van ’n smeerveldtog. Hy laat blyk teenoor Beeld dat hy weet wie die man in die video is.
Dr. Len Jansen, ’n Pretoriase privaat stemdeskundige wat in Amerika in stemidentifikasie opgelei is, sê aan Huisgenoot dis baie moeilik om stemme in ’n opname te verander wanneer twee mense in ’n normale gesprek betrokke is, juis weens faktore soos die tempo waarteen hulle praat, tipiese woordkeuse, die toonhoogte van die stemme en agtergrondklanke.
As net een persoon enkele sinne sê, is dit makliker om ’n stem in ’n opname te vervang, sê Len. In so ’n geval kan ’n mens byvoorbeeld iemand se stem op ’n ander plek opneem en dan dié stem by ’n video invoeg.
Maar dan moet die persoon dieselfde sinne en woorde gebruik as in die video. Rekenaarprogramme om dit te kan doen, is vryelik beskikbaar en sommige kan selfs van die internet afgelaai en vir ’n proeftydperk gebruik word, sê Len.
Dit is moontlik om iemand se stem na te boots, maar dit sal maklik tydens ’n stemontleding vasgestel kan word. Om te bepaal of ’n stem in ’n video oorspronklik is, vergelyk Len dit met ’n voorbeeld van die persoon se stem waarin hy dieselfde teks herhaal as in die video.
Met die hulp van ’n spektrogram, ’n driedimensionele weergawe van spraakpatrone, kan vasgestel word of dit dieselfde stem is.
As daar minstens twintig ooreenstemmende woorde in die oorspronklike opname en die stemvoorbeeld is, kan die uitslag 99 persent akkuraat wees, sê Len.
As tien ooreenstemmende woorde vergelyk word, kan dit 90 persent akkuraat wees.
Die heat-regspan sê hulle het Joost se regspan genooi om so ’n ontleding te help doen, maar hulle het geweier omdat hulle eers wou toets hoe eg die video is voor individuele ontledings gedoen word.
Hy glo dat die video vervals is deur sy stem daarop oor te klank, en so ’n oefening sou dus nutteloos wees.
Ná ’n studie wat Nico le Roux gedoen het waarin hy die grepe uit die seksvideo in die media vergelyk het met foto’s wat Huisgenoot in die afgelope paar jaar van Joost geneem het, meen Nico hy kan met 95 persent sekerheid sê Joost is nie die man in die gewraakte seksvideo nie.
Terselfdertyd berig Beeld dat Barry Dudley, ’n gesigsherkenningsdeskundige van Durban, meen daar is ’n kans van 65 persent dat die man in die seksvideo wel Joost kan wees.
Hy sê selfs as twee egte foto’s van dieselfde mens vergelyk word, sal ’n waarskynlikheidspersentasie dat die twee foto’s van dieselfde man is, nooit hoër as 81 persent wees nie.
Dit blyk dus nie ’n hoogs akkurate wetenskap te wees nie. Nico sê aan Huisgenoot daar is 25 punte aan ’n gesig waarna jy kan kyk om te bepaal wie dit is.
‘‘By die ore alleen is daar omtrent agt punte. Dan is daar die oorlyne, neuslyne, mondhoeke, middelpunte van die bo- en onderlip, die kakebeen, en so kan jy aangaan.’’
Hy sê die enigste probleem met die vergelyking van die videofoto’s met egte Joostfoto’s is dat die gehalte van die videofoto’s nie baie goed is nie.
Hy meen die een verskil wat besonder ooglopend is, lê by die man in die video se neus. ‘‘Die man se neus is smal, nou en spits, terwyl Joost ’n breër en platter neus het,’’ sê hy. Ook die vorm van die twee mans se ore verskil.
‘‘Op die foto in heat waar hy buk om iets te snuif, lyk dit asof dié man koolore het,” sê Nico. ‘‘Joost se ore is normaal.’’ Die vorm van die twee mans se wenkbroubene verskil ook heeltemal, meen Nico.
‘‘Die man op die foto’s se kakebeenlyn is ook baie breër as Joost s’n. Daarby is Joost se voorkop langer – die ruimte tussen sy wenkbroulyn en haarlyn is groter.’’
Hy meen die man op die videofoto’s is minstens vier jaar jonger as Joost. ‘‘Op foto’s van Joost kan jy sien die verouderingsproses het al ingetree. Die ouderdomslyne sit al op sy voorkop.’’
Kan dit wees dat dit Joost in die video is, maar dat die video baie ouer is as die beweerde agt maande?
Nico meen dis onmoontlik. ‘‘Ek dink dis ’n Joost-dubbelganger. Iemand wat baie op hom trek.’’
Is Joost die slagoffer van ’n komplot? Hoekom sou iemand hom wou benadeel, en wie sou hul mes vir Joost en Amor inhê?
Joost en Amor het verskeie kere die afgelope drie jaar beweer iemand het ’n vete teen hulle en dat hulle vir hul lewe vrees.
Joost het aanvanklik nie vir Amor gesê dat hy dreigoproepe ontvang nie, want hy wou haar nie onnodig senuweeagtig maak nie.
Vroeër het hy gesê die geheimsinnige beller eis nie geld nie, maar in ’n onlangse onderhoud het Amor vertel geld word deesdae wel gewoonlik geëis.
Joost het destyds beweer hy is een aand byna van die pad gedwing toe hy in sy 4x4 op pad huis toe was en Amor het gesê sy en die kinders word gereeld dopgehou.
Die agtervolger was al in die gehoor wanneer Amor optree en hy het sy teenwoordigheid met ’n SMS aan Joost bekend gemaak.
Joost sê ook Amor se selfoonstate, met ’n sekere nommer omkring, is vir hom gepos. Dit lyk of die vete ’n georkestreerde optrede deur verskillende mense is, het Amor onlangs aan ons sustertydskrif Huisgenoot- Pols vertel.
Daar is mense in die vermaakbedryf wat jaloers is op Joost en Amor se sukses, bevestig Louis van Wyk, hul eertydse bestuurder. ‘‘Daar is geweldige mededinging in die musiekwêreld en die afguns kan mense dalk dryf om iemand wat hulle as kompetisie beskou, te wil vernietig.’’
Sodra iets goeds in haar loopbaan gebeur, verskerp die aanslag op haar gesin, het Amor al gesê. Sy het al privaat haar vermoedens uitgespreek oor wie haar sou wou benadeel, maar het geen afdoende bewyse nie.
Op sy beurt het Joost se vinnige humeur hom al ’n paar keer in die moeilikheid laat beland, soos die keer toe hy ’n onderonsie gehad het met die veiligheidswagte van die Dainfern- landgoed in Johannesburg waar hy toegang geweier is.
Joost het as sakeman verskeie ysters in die vuur en hy was ook al aktief in die eiendomsmark. Dit kan wees dat ’n transaksie wat dalk skeefgeloop het, iets te doen het met die teistering wat hy en Amor ervaar.
As die video vervals is, kan dit die jongste poging van sulke teisteraars wees, soos Joost beweer.
Is dit dalk die Joost van die ou dae?
Daar is mense wat meen die man in die video lyk jonger as Joost en dat die video dan dalk heelwat vroeër gemaak is, selfs voor Joost en Amor getroud is.
Dan kon hy dalk ook nog nie die tatoeëermerk wat sy onskuld sou moes bewys, gehad het nie. Iemand wat Joost goed ken, sê hy was altyd ’n haan onder die henne en dit is nie onmoontlik dat hy dalk kon geswig het voor die versoeking van ander vroue nie.
Skindertonge het in 2001 beweer Joost het al vir Amor begin ogies maak terwyl hy nog met sy eerste vrou, Marlene, getroud was.
Daar was destyds ook stories dat hy vroeg ná sy eerste huwelik in 1995 by ander vroue begin aanlê het en met mooi meisies in kroeë gevry het.
Maar mense wat Joost ken, sê al het hy ’n oog vir ’n mooi vrou, is dit baie onwaarskynlik dat hy ’n verslawende dwelm soos kokaïen sal gebruik soos die man in die video glo maak.
Hy is bekend as fiksheidsfanatikus, hy speel gholf en hy en Amor oefen daagliks 45 minute saam met ’n persoonlike afrigter.
Die dwelmgebruik in die video is dalk die beste bewys dat dit nie Joost in die video is nie, sê sy voormalige bestuurder Louis van Wyk. ‘‘Ek het hom nog nooit dronk gesien nie – hy is te gesondheidsbewus om ooit enige middel te misbruik. Ek sal baie, baie verbaas wees as dit hy in die video is.’’
As die seksvideo vervals is, hoeveel geld kan Joost eis?
Die hoogste aangemelde suksesvolle lastereis in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse regspleging was teen Vrye Weekblad, en hulle moes die eiser R120 000 betaal, sê Pamela Stein, mediaspesialis van die nasionale regsfirma Webber Wentzel.
Die Van der Westhuizens self het al ’n suksesvolle eis teen ’n publikasie ingestel. In 2006 het Amor R180 000 skadevergoeding ontvang van die pornotydskrif Loslyf.
Maar regskenners sê net ’n klein deel van die eis was vir laster en sy het waarskynlik ook geëis vir verlies aan inkomste.
Aan die bekende vervaardiger van skoonheidsprodukte Reeva Forman is in die 1980’s R100 000 in ’n lastereis teen die tydskrif Style toegeken.
Robert McBride, die voormalige polisiehoof van die Ekurhuleni-munisipaliteit, het ’n suksesvolle eis van R200 000 teen die koerant The Citizen ingebring.
The Citizen teken nou appèl aan. Die ANC-president, Jacob Zuma, eis tans sowat R63 miljoen rand van verskeie mediainstellings ná ’n rits voorvalle van beweerde naamskending die afgelope paar jaar, onder meer die Zapiro-spotprent wat hom as verkragter uitgebeeld het.
Martin Venter, ’n prokureur van Alberton, sê Joost sou ook ’n eis vir moontlike toekomstige verlies aan inkomste kon instel omdat hy potensieel minder werk kan kry.
Maar dit is moeilik om inkomsteverlies te bewys, sê Martin. Jy moet aan die hof kan voorhou hoe jy in jou loopbaan geldelike skade gely het of sal ly, en hoeveel die potensiële verlies aan inkomste kan wees.
En intussen het Joost se uitsaai- base reeds met hom gesels en toe gesê hy sal sy TV-werk by hulle behou.
Hoe raak die drama Amor?
Volgens vriende staan Amor by Joost en het sy tot nou geweier om na die seksvideo te kyk omdat sy Joost glo wanneer hy ontken dat dit hy is.
Vriende vrees dit sal ’n uitwerking op Amor se gesondheid hê omdat sy in tye van stres te naar raak om te eet. In die onlangse Huisgenoot- Pols-artikel vertel Amor juis die spanning van die afgelope tyd en die talle dreigemente het haar twee keer in etlike maande laat ineenstort.
‘‘ ’n Mens kan nie so lewe nie. Vrees maak deel van elke dag uit,’’ sê sy. Sy het in onlangse maande naar en duiselig gevoel en voortdurend maagpyn en hoofpyn gehad.
In 2005 is sy met geelsug in die hospitaal opgeneem en in 2007 het sy weer in die hospitaal beland toe sy ineengestort het weens lae bloeddruk en ’n ystertekort.
Die onderliggende rede vir haar bloedarmoede was stres, het Amor se dokter vir haar gesê. ‘‘Ek is ’n perfeksionis en ’n emosionele mens wat alles ter harte neem en nie van konflik hou nie.
Omdat yster die senuweestelsel voed, stort ’n mens maklik ineen as jy ’n ystertekort het,’’ het sy destyds gesê. In September 2008 het Amor weer inmekaargestort weens die naamlose aanslag op haar en haar gesin.
Tog het sy onlangs aan Huisgenoot gesê dat sy en Joost mekaar onvoorwaardelik vertrou.
‘‘Dis wat ons deur die rowwe tye dra. As jy eers begin om dinge vir jou maat weg te steek, is dit baie moeilik om die vertroue te herstel.’’
Sy het ook gesê hulle is baie bewus van die versoekings van die vermaakbedryf. ‘‘Uit die aard van ons werk beteken dit soms dat ons saans op ons eie moet uitgaan, maar ons maak ’n punt daarvan om nooit alleen in klubs of kroeë te kuier nie.
Dis moeilikheid soek.’’ Dit gebeur baie dat vroue by Joost aanlê of hom sommer op die boud knyp, het sy gesê.
“As daar nie wedersydse vertroue was nie, sou sulke dinge tot spanning kon lei. Joost is meer van ’n introvert as ek.
Ek sal soms vir mense drukkies gee sonder om eers te dink dat iemand dalk kan dink ek is ontrou aan my man. Dit was vir ons albei erg om gewoond te raak aan die venyn van mense wat jaloers is op ons geluk.’’
Sal die sprokie dit oorleef?
Of Joost en Amor se beeld as een van Suid-Afrika se voorste glanspaartjies en ook hul verhouding hierdie krisis sal deurstaan, is ’n ope vraag.
Die Van der Westhuizens is alombekend as liefdevolle en toegewyde gesinsmense en in bykans elke onderhoud beklemtoon hulle hul geestelike waardes, en hulle sal vermoedelik in dié tyd hierin troos soek.
As televisie-aanbieder op SuperSport en kykNET sal Joost nog gereeld in die openbare oog wees; dieselfde geld Amor as sanger.
Ter wille van sy geloofwaardigheid as sportheld sal dit in Joost se belang wees dat die onsekerheid oor die identiteit van die man in die video so gou moontlik opgeklaar word.
As bewyse na vore kom dat hy wel die man in die video is, sal die vertroue in hom baie moeilik herstel word.
Dat die Van der Westhuizens nog baie gewild is ten spyte van die onthullings, blyk uit die talle bemoedigende boodskappe op webtuistes en in briewekolomme.
Uiteindelik sal net die egtheid van die video die deurslag gee of Joost en Amor kop omhoog uit hierdie krisis sal kan tree.
Wat ook al die waarheid, hierdie dae moet vir dié twee pragtige mense ’n reuse beproewing wees wat die uiterste uit hulle tap.

Deur Annelene Moses
HULLE het saam die ou dae onthou, soms geglimlag, selfs ’n liedjie saam gesing. Dit sou die laaste besoek wees. Albei het dit geweet.
Toe Elzabé Zietsman daardie laaste dag van Januarie vir haar ou vriendin en dramadosent in die sorgsentrum in Johannesburg gaan kuier het, het sy geweet dit is tyd om te groet.
Nogtans het die sterwende Trudie Taljaard (60), deurtrek van die beenkanker wat voorverlede jaar by haar gediagnoseer is, moedig geglimlag en selfs saam met Ziets geneurie toe die sanger vir haar Sinead O’Connor se Scarlet Ribbons sing.
Daarna was dit Elzabé se weergawe van Julia Fordham se Behind Closed Doors.
‘‘Behind closed doors, You’re mine, I’m yours. We’ve got our own language and that’s about all. Stripped to the bone, I’m happy alone. And wherever I’m going, I’m going there on my own,’’ het sy vir haar ‘‘juffrou’’, soos sy haar steeds onthou, gesing.
Saam het hulle teruggedink aan Trudie se jong dae. ‘‘Onthou Juffrou nog my heel eerste dramales?’’ wou Elzabé weet by die vrou wat haar in 1979 as student by die destydse Pretoriase Technikon onder hande geneem het.
‘‘Onthou Juffrou nog hoe ’n mens liefde op die verhoog wys sonder om ’n woord te sê?’’
Waarop Trudie stadig haar hand van die bed af opgetel het, haar handpalm teen Elzabé s’n gevryf het, en Ziets met haar vingerpunte liggies oor Trudie se handpalm gestreel het.
Dit was ’n kosbare paar minute, vertel Elzabé, die trane blink in haar oë.
‘‘Sy is oorval deur besoekers. Daar was geweldig baie mense, en ek was gelukkig om tien minute alleen saam met haar te kry.’’
Die volgende oggend het die boodskap gekom: ‘‘Trudie het gisteraand haar goue vlerkies gekry en eersteklas gevlieg.’’ Sy was weg.
SY WAS ’n ikoon van die teater, ’n ou bekende op TV, ’n geliefde vir almal wat nog in Afrikaans droom.
Tog was haar heel bekendste rol dalk die een in ’n TV-advertensie vir die meubelwinkel Morkels in die jare negentig.
Sy was die tweejaarwaarborg-tannie, het mense goedig geterg. Maar haar vriende, kollegas en familie het van beter geweet.
‘‘Sy was ’n dertigjaar-waarborg-aktrise,’’ vertel Louis van Niekerk, haar regisseur in die verhoogstuk Mooi Maria in die sewentigs. En sy was ’n formidabele aktrise.
Louis onthou hoe Trudie in ’n bakleitoneel in die drama Die Wonderwerk heel onbeplan oor ’n stoel geval het.
Daar lê sy toe bene in die lug, maar die oomblik toe sy agter die stoel uitkruip, was die gelag verby – sy was oombliklik weer die woedende mens in die storie.
In die tagtigs was sy juffrou Van Wyk in Dokter, Dokter en later in die negentigs in Sonkring saam met Anna-Mart van der Merwe, maar haar laaste TVrol was in 7de Laan as Matrone se vuurvreter-suster, Esther Brink.
En wanneer sy klaar was voor die kameras, het sy agter die skerms aangegaan met haar ander werk om die akteurs af te rig. Sy kon die jonger spelers lekker vasvat, maar met soveel liefde, onthou Vinette Ebrahim, Charmaine in die sepie.
‘‘Wanneer sy heeltemal tevrede was, het sy jou met ’n ‘I love you, now get out of here’ weggestuur.’’
Die veteraan-akteur David de Villiers, destyds Bismarck Joubert in die sepie, het haar al geken van die dae dat hulle saam dramastudente in hul eerste jaar by Tukkies was.
Die teater was haar lewensbloed, en sy was bereid om enigiets daar te doen, vertel hy.
So het sy met die grootste toewyding vir die kostuums gesorg toe hy in die sewentigerjare nie vir haar ’n rol gehad het in sy verhoogstuk Die Hemelbed nie.
Maar Trudie het dit nie altyd maklik gehad nie. As jong aktrise het sy swanger geword en moes sy haar babadogter laat aanneem.
Verlede jaar – eers veertig jaar later – is hulle eindelik herenig, en Trudie kon haar eersteling voorstel aan haar twee sussies, Elouise en Justine, gebore uit haar huwelik met die akteur Nico Liebenberg.
Dit was haar tweede huwelik – sy was tevore getroud met die akteur Errol Ross wat deesdae in Amerika woon – maar ook die huwelik met Nico het verbrokkel.
En ná hul egskeiding het Trudie harde bene gekou. In 1995 was sy feitlik bankrot, en Huisgenoot het vertel hoe sy haar huisraad te koop aangebied het ná ’n mislukte belegging in ’n gastehuis in Houghton (Trudie: swaarkry-dae van ’n topaktrise, 9 Februarie 1995).
Die artikel het mense aan die hart gegryp, en Trudie het drie werkaanbiedinge gekry en ’n aanbod om weer ’n gastehuis te begin.
So het die gety vir haar begin draai. Deur dit alles was sy iemand wat altyd die blink kant van die lewe bly raaksien het.
Sy was baie rustig aan die einde, vertel haar vriendin Sylvia Venter. “Sy het haar hele lewe aan die Here gewy; sy was emosioneel en geestelik reg om hom te ontmoet.’’
Maar sy het ook geglo ’n mens gee nie moed op nie. ‘‘Trudie het geglo ’n mens gee altyd jou beste op die verhoog,’’ vertel Elzabé. “Sy was baie ouskool.
Sy het geglo the show must go on . . .’’ Soos Vinette, wat verlede jaar help reël het aan ’n geldinsamelingskonsert vir Trudie, alte goed onthou.
‘‘Einde verlede jaar het Trudie by die werk opgedaag in haar rolstoel, op haar pos. Haar passie en liefde vir toneelspel was baie groot.’’
En so sal ons haar onthou.

Deur Haidee Muller
DIS vrek moeilik om te konsentreer. En dis alles Brad Pitt se skuld.
Daar staan ek, mikrofoon in die hand by ’n mediakonferensie in Parys – Parys, Frankryk, nie Vrystaat nie – en reg met ’n slim vraag. Tot die Adonis se blou kykers my bruines vang.
En ek vra iets en hy praat iets, maar my ore skakel ’n ruk lank af, want ek kan nie ophou kyk na hom nie.
Kan jy dit oorvertel – ’n glimlaggende Brad Pitt praat met mý!
En dit nogal in een van die mees romantiese stede ter wêreld. Daar sit hy, in ál sy aantreklike glorie op ’n verhogie net ’n katspoegie van my af.
Grys keps op die kop, donkergrys-swarterige trui, donkerkleurige jeans, modder aan sy swart stewels.
Mooier as ’n mens.
Hy’s hier vir die bekendstelling van sy nuutste fliek, The Curious Case of Benjamin Button.
Dit is ’n Oscar-voorperd met dertien benoemings, onder meer vir beste akteur vir Brad.
En ons is hier, tweehonderd joernaliste van oor die wêreld – benewens nou ek van Suid- Afrika – om vrae te vra. En in my geval, om my totaal te vergaap.
MAAR wag . . . Kort voor die roomkleurige deure van die konferensiekamer hier in die spoggerige Hotel Bristol in die hartjie van Parys oopgeswaai het, skarrel almal rond om alles agtermekaar te kry.
’n Aantreklike ou met oorfone op sy kop en ’n knyperbord in die hand stap op en af, kou kougom en beduie vir die klankmanne.
Die Europese joernaliste is ’n ander spesie.
Almal staan netjies tou en niemand druk nêrens in nie.
Behalwe ek – ek stap by almal verby tot heel voor en niemand gluur my eens aan nie.
Die spul lyk nie juis of hulle wil flou word oor die vooruitsig om Die Bradster oor ’n paar minute te sien nie. Behalwe ek.
Ek wil eintlik gil: BRAAADDD, ek is hierrrrrrrrr! Dis BRAAADDD, menseeeeeeee!
’n Franse kameravrou vra verbaas of ek dan heelpad van Suid-Afrika gekom het. Natuurlik!
Dis darem Brad – ek sou selfs Noordpool toe sukkel net om daai man te sien. Die deure swaai oop; ek stap heel eerste in.
Eintlik wou ek daar inhol, maar ek hou liefs my linne binne en maak of ek sulke goed gewoond is.
Die kougom-ou verskyn en wys almal moet gou spring om sitplek te kry.
Ek sit nooit êrens voor nie, maar vandag kan die res van die mense maar in my nek blaas; ek wil Brad se tande kan tel as dit moet.
Toe verwelkom die man op die verhoog ons, kondig die sterre aan en skielik is hulle hier.
My hart bokspring, erger as daai dag van my eerste soen. Brad gaan sit.
Hy gooi sy oë oor die gehoor terwyl hy mineraalwater drink.
Ek wil bitter graag vir hom waai, maar ’n mens kom slaan darem nie hier jou naam met ’n plank nie.
Dis tyd om te werk.
The Curious Case of Benjamin Button, gegrond op ’n kortverhaal van F. Scott Fitzgerald, wentel om die lewe van die hoofkarakter, Benjamin Button – dis nou Brad – wat ál jonger word soos die jare verbygaan.
Hy is, sê Brad op ’n vraag oor hoe dié tema hom geraak het, nou meer as ooit tevore bewus van sy eie sterflikheid.
“Ek is onder geen illusie dat ons almal die een of ander tyd die einde in die gesig moet staar nie.
Die oudwordproses het my gefassineer en ek het my half voorberei op hoe ek my laaste dae sou wou deurbring – ek wil nie tyd mors deur oor nietighede te baklei nie.
Ek is saam met daardie mens, want ek is lief vir daardie mens.”
Ek steek heeltyd hand op, maar die verhoog-ou bly my miskyk. ’n Krulkopmannetjie staan op.
“My vraag is vir mnr. Pitt,” sê hy. “Dit kom van ’n vriendin wat saam met my werk.
Sy soek die nommer van jou hotelkamer.” Almal giggel; sommige mense lyk effens geskok. “Dis 138; sê sy kan maar kom,” sê Brad ewe.
“En jou selfoonnommer?”
“Dis 3104928176,” sê Brad. Almal, selfs die geskoktes, lag nou. Nou swaai hy sy medester Cate Blanchett lof toe.
Intussen stap die tyd aan en geen mens sien my hand raak nie.
Dis mos darem nie reg nie – ek het dan heelpad Parys toe gekom. Nou praat hy oor pa-wees en “die kinders”.
“Vaderskap plaas alles in perspektief. Dit maak jou pynlik bewus van tyd en dat jy dinge vinniger gedoen moet kry.
Die paar uur wat jy tot jou beskikking het, is uiters belangrik.
Jy wil soveel moontlik tyd saam met jou geliefdes deurbring.”
Ja, sy kroos kom altyd saam stel toe, sê Brad.
“Ek moes net verduidelik Pappa sal anders lyk in dié fliek, maar hulle het dit skaars opgemerk.
Ons maak dit ’n prioriteit om tyd vir hulle almal, as groep en individueel, in te ruim.
Ons neem selfs beurte om flieks te maak. Daar is altyd iemand beskikbaar vir die kinders.”
Ons. Hy sê nooit Angelina nie.
Die swaar grimering wat hy in die fliek moes dra om ouer te lyk, vertel hy nou, was geen grap nie.
“Die fliek was ’n groot uitdaging en ek het mooi daaroor nagedink voor ek besluit het om dit te doen.
Maar ek sien darem nie weer kans vir al daardie grimering nie.
“Maar ek werk nou aan maskers vir die res van my gesin wat ons in die openbaar kan dra. Ek is doodernstig.”
Almal lag. Het hy Barack Obama se inhuldiging op TV dopgehou?
“Ons het in Berlyn aan ’n Tarantino- fliek gewerk en ek het dit van daar af gevolg – wat ’n sensasionele oomblik. Dit herdefinieer wie ons is.”
Nou sê die regisseur David Fincher – hy’s ook vir ’n Oscar benoem – mooi dinge van Brad.
“Ek geniet akteurs wat hul huiswerk doen en dinge wil laat werk. Sy nuuskierigheid en ruimhartigheid is goeie eienskappe.” Dan tjip Brad weer in.
“En hoe ek stap.” Ja, hy is sexy, beaam David laggend.
“Natuurlik is hy ’n spesiale akteur. Ek was dol oor hom in Fight Club en ek is dol oor hom in dié fliek. Ek hou van manne wat hul kant bring.”
Brad en David het ook Fight Club en Se7en saam gemaak. Die man op die verhoog kondig aan die tyd is verstreke.
Intussen het ek die mikrofoon opgespoor en ek wys kamma ongeërg dis nou in my hand.
“Laaste vraag,” sê die verhoogman. “Jy is ’n pa, filantroop en akteur,” trek ek los.
“Wat bly daar nog vir jou oor om te doen? Watter drome wil jy nog bitter graag uitleef?”
“Frans leer praat,” sê die mooi man laggend. Die gehoor giggel.
“Hoe meer dinge ’n mens aanpak, hoe meer kom jy agter jy het eintlik net nooit genoeg tyd nie. Hoe kry jy alles gedoen? Dis iets wat ek graag nog wil baasraak.”
Ek belowe julle ek het vir die res van die dag op die wolke geloop. Nou kan ek mos ook sê: “Daai dag toe ek met Brad gepraat het . . .”

Deur Yvonne Beyers
DIT het gedreig om ’n smerige skeisaak so reg uit ’n sepie te word.
Die hofstukke waarmee hulle mekaar verlede Junie om ’n egskeiding gedagvaar het, was ’n katalogus van verwyte: Mnr. Fish het gesê mev. Fish is bombasties, buierig, verkleinerend en strydlustig. En sy het teruggekap en gesê haar man kraak haar af, rand haar aan en verkul haar met die een vrou ná die ander.
Die glanspaar Mark en Loui Fish se sprokieshuwelik was nie net ’n skeepswrak op die rotse nie; hulle kon mekaar nie meer verduur nie. Dit was oorlog.
‘‘Ons het glad nie meer met mekaar gekommunikeer nie; ons het nie eens van mekaar gehou nie. Ons kon oor niks praat nie, ons het net op mekaar geskel,’’ sê Mark.
Maar dit was tóé . . .
Want waar die twee ’n bietjie meer as ses maande later in ’n Pretoriase restaurant middagete bestel, is dit ooglopend dat vonke van ’n ander aard deesdae tussen hulle skiet.
Dis daardie nuwe liefdesvonke, want die twee terg mekaar, loer skalks na mekaar en lyk gelukkig en gemaklik in mekaar se geselskap. Mark weet sommer wat Loui gaan bestel, en sy klap hom speels op die been toe hy haar spot.
‘‘Jy’s nog verlief op jou vrou!’’ terg Loui die sokkerspeler wat sy vroeër in hofstukke van verskeie buite-egtelike verhoudings be-
skuldig het.
Maar nee, skerm hulle albei gou, hulle is nie weer by mekaar nie. ‘‘Ons is weg van mekaar,’’ sê Mark ferm.
Hy het verlede Augustus uit die gesin se luukse huis in die ooste van Pretoria getrek. Die huis is nou in die mark en hulle wag vir ’n hofdatum om voort te gaan met die skeisaak.
Maar waar hulle tot onlangs soos kat en hond baklei het, kuier hulle deesdae oor en weer en stuur soggens vir mekaar ’n SMS: ‘‘Hoop jy het ’n lekker dag.’’
Hulle het selfs saam Kersfees en Nuwejaar gevier toe hulle saam met hul seuns, Luke (10) en Zeke (7), vakansie gehou het op Langebaan in die Wes-Kaap. ‘‘Maar ons het elkeen ons eie
kamer gehad,’’ benadruk Loui.
‘‘Ek het ná die vakansie vir Loui gesê ek wil nie meer baklei nie en gevra of ons kan ophou om mekaar te beskuldig,’’ sê Mark. ‘‘Die ergste ding van weg van mekaar wees, was dat ek my beste vriend verloor het,’’ sê Loui. ‘‘En nou werk ons weer daaraan om beste vriende te word.’’
‘‘Ons neem klein treetjies,’’ sê Mark met ’n betekenisvolle blik na sy vrou.
’n Petroljoggie het onlangs vir Loui gesê: ‘‘Ek bid dat jy en Fish weer bymekaar sal uitkom,’’ en haar ma het ook al gevra: ‘‘Ag, wil julle nie maar net vrede maak nie?’’
Maar hulle wil nie praat oor of hulle dalk versoen sal raak nie. ‘‘Ons herontdek mekaar nou eers, ons word weer vriende,’’ sê Loui. ‘‘Ek sien nou eers weer die oulike goedjies aan Mark raak wat ek al vergeet het.’’ En ja, sê sy, sy het hom vergewe vir al die leuens wat hy haar vertel het . . .
‘‘EK HET baie foute gemaak,’’ erken Mark. ‘‘Ek het dikwels vir Loui gelieg omdat ek die vrede wou bewaar. As ek en my vriende ná ’n gholfdag na ’n ontkleeklub gegaan het, sou ek haar nie bel om te sê ek gaan laat by die huis kom nie, en ek sou dit ignoreer as sy my bel, omdat ek geweet het sy sou kwaad raak.’’
‘‘Ek het sat geraak vir sy leuens. Wanneer hy teen vyfuur soggens nog nie by die huis was nie, het ek verwag die polisie gaan my bel en sê hy lê iewers dood in ’n sloot,’’ sê die donkerkop-aanbieder van die kykNET-program Glitterati.
Sy was tot einde 2007 nog smoorverlief op haar man en het steeds opgewonde geraak elke keer dat sy na hom kyk. Maar sy flankeerdery het haar toe begin onderkry.
‘‘Ek het al gesien hoe vroue agter Mark aanloop. Ek wil nie eens weet hoe hulle tekere gaan wanneer ek nie by is nie. ’n Mens sê nege uit elke tien keer nee, maar die tiende keer . . . Mark was nie ’n engeltjie nie, hy het in ’n stadium ’n bietjie kop verloor.’’
Het Mark dus wel buite-egtelike verhoudings gehad? ‘‘Loui het dit as ’n affair beskou as ek net vir iemand anders ’n SMS gestuur of na ’n ander vrou gekyk het,’’ sê hy.
Toe Mark verlede jaar in die vroeë oggendure saam met ’n donkerkop by Sun City betrap is en hy gesê het dié vrou is die volgende mev. Fish, was Loui al verby die punt waar dit kon seermaak. ‘‘Ek het toe al vrede gemaak daarmee dat dit verby was tussen ons.’’
Maar Mark sê daardie verhouding is lankal verby. ‘‘Dit was drieuur die oggend; ons het net een drankie te veel gehad.
‘‘Ek is enkellopend. Die enigste vrou wat ek deesdae sien, is my hipnoterapeut. Ek gaan vir hipnoterapie sodat ek deur al my kwessies kan werk. Ek wil ’n goeie verhouding met die kinders en met Loui hê, en daarom wil ek al my dinge uitsorteer.’’
Luke en Zeke het swaargekry toe hul ouers se huweliksprobleme op koerantvoorblaaie uitgebasuin is. ‘‘Hulle was baie deurmekaar, hulle het nie geweet wie se kant om te kies nie en wou ons albei beskerm. Die kinders sou ná ’n kuier by Mark by die huis kom en dan sou die een sê: ‘Pappa se meisie was daar,’ terwyl die ander een sou sê: ‘Nee, sy was nie!’ ’’ sê Loui.
‘‘Dis baie swaar om nou verby koerantplakkate te ry wat lui: ‘Fish abused me’ en die kinders se aandag te probeer aftrek.’’
Loui sê die aanranding en afkraking waarna sy in hofstukke verwys het, was eintlik net emosionele aftakeling.
‘‘Toe ons verlede jaar met ons prokureurs gaan praat het, het ons uit woede vreeslike dinge oor mekaar gesê. Ons was albei kwaad oor die verbrokkeling van ons huwelik, en ons was getraumatiseer deur die inbraak by ons huis.
Ons het daardie dinge gesê omdat ons ontsteld was. Maar dis nou in die verlede. Ons wil die verlede begrawe en op ’n skoon blaadjie begin,’’ sê Mark.
‘‘As ek vasgehaak het by al die dinge wat in die verlede gebeur het, sou ek in ’n hospitaal beland het. Ons moet vorentoe,’’ sê Loui.
Nee, daar slaap nie ander mans by haar huis oor soos ’n koerant beweer het nie – dis net haar persoonlike assistent en lyfwag wat soms daar slaap.
Gaan hulle by die punt kom waar hulle nie jaloers raak as die ander een ’n nuwe meisie of kêrel kry nie, en waar hulle soos regte beste vriende van hul nuwe lewensmaat se giere en grille vertel? ‘‘Klein treetjies,’’ sê Mark weer nadruklik.
‘‘Ons gaan nog eendag soos Bruce Willis en Demi Moore wees,’’ sê Loui. ‘‘Ek moet nog net soos Demi my Ashton kry!’’
Mark rol sy oë, maar hy lyk eerder gemoedelik as geïrriteerd. Want of hulle nou uiteindelik gaan skei of nie, die Fishes is wraggies ná al die verwyte tussen hulle weer pelle.
Soos Loui self sê: ‘‘Ons gaan altyd deel van mekaar se lewe wees.’’

Deur Angie Newton
HULLE was al langer as ’n jaar getroud en oorstelp van vreugde toe hulle hoor hul eersteling is op pad.
Saam-saam het Mahmoud Soliman en sy vrou, Jayne, ’n voormalige Britse ysskaatskampioen, name vir die kleinding uitgedink: Ali vir ’n seun of Maggie vir ’n dogter.
Maar toe die 29-jarige pa alleen met sy pasgebore baba oorbly, het hy besluit om haar Aya Jayne te noem, want Aya is Arabies vir wonderwerk.
En vir hom is sy dogter niks minder as dít nie. Sy is immers gebore twee dae nadat haar ma breindood verklaar is. Dokters kon Jayne (41) nie red toe sy op ’n dag skielik van pyn ineenstort nie, maar haar ongebore baba, dié kon hulle laat leef.
Klein Aya is drie maande te vroeg gebore en het minder as ’n kilogram geweeg. Sy lê steeds piepklein en broos in ’n broeikas, salig onbewus daarvan dat sy voorbladnuus is.
Haar onderontwikkelde longetjies sukkel nog om self asem te haal, maar pomp sterk en vol lewe danksy die suurstofmasjiene waaraan sy gekoppel is.
‘‘Is sy oukei?’’ vra haar pa bekommerd aan die personeel by die Reading-hospitaal in Engeland. ‘‘Ja,’’ antwoord hulle en hy slaak ’n sug van verligting. Hy kan háár tog nie ook verloor nie, nie so kort ná Jayne nie.
Jayne was 25 weke swanger toe sy kort ná Nuwejaar skielik kwaai hoofpyn kry by hul huis in Berkshire. Sy het ineengekrimp van die pyn en Mahmoud het haar bed toe gedra. ‘‘Moody, moenie jou rug
seermaak nie,’’ het sy nog gesê. Dit sou haar laaste woorde wees.
’n Paar minute later het sy haar bewussyn verloor. Mahmoud het sy vrou bly moed inpraat terwyl hulle gewag het dat die noodpersoneel opdaag. Haar oë was toe, maar die trane het oor haar wange gestroom.
Sy is per helikopter na die John Radcliffe-hospitaal in Oxford gehaas, en Mahmoud is in ’n polisiemotor agterna. Met sy aankoms het hy gehoor sy vrou is breindood verklaar.
Terwyl haar baba in haar baarmoeder ontwikkel het, het ’n kankeragtige gewas in haar brein gegroei sonder dat sy daarvan bewus was. Toe laat dit ’n hoofslagaar skeur en veroorsaak bloeding op die brein.
Daar was geen manier waarop hulle Jayne kon red nie, het die span mediese dokters gesê, maar hulle kon moontlik die baba red as hulle Jayne se hart lank genoeg aan die klop kon hou sodat sy die lewe aan haar dogter kon skenk. Desperaat het Mahmoud ingestem.
Dokters het Jayne hierna groot dosisse steroïede toegedien sodat die baba se longe vinniger kon ontwikkel. Twee dae later is die kleinding deur ’n keisersnee gebore.
Al kon haar ma, wat so lank daarna uitgesien het om haar baba te vertroetel, haar nie vashou nie, het die vroedvrou die piepklein baba van net 0,95 kg op haar skouer neergelê. Dit sou hul eerste en laaste kontak met mekaar wees. Ses uur later is die masjiene wat Jayne aan die lewe gehou het, afgeskakel.
Minute daarna het die bedroefde Mahmoud ’n brokkie goeie nuus gekry: Hy kon vir die eerste keer sy dogter sien . . .
SY VROU was verpletter toe sy vroeër ’n miskraam gehad het, vertel Mahmoud. Daarom was hulle in ekstase toe hulle verlede jaar hoor hulle gaan ouers word.
‘‘Ek onthou nog die eerste skandering. Ons het mekaar omhels en gehuil toe ons die hartjie sien klop. Ons het so uitgesien na die baba se koms.’’
Die pyn van sy verlies is steeds vir hom ondraaglik. Binne 48 uur het hy die liefde van sy lewe verloor, maar ook ’n kind ryker geword.
‘‘Ek weet Jayne het baklei om ons kind aan die lewe te hou, maar my hart breek as ek dink sy gaan Aya Jayne nooit leer ken nie.’’
Sy vrou was ’n professionele ysskaatser wat in 1989 ’n Britse kampioen en nommer sewe in die wêreld was.
Jayne het drie jaar gelede – kort nadat haar ma aan longkanker gesterf het – in Doebai gaan werk, waar sy sierskaats afgerig het.
Hier het ’n vriend haar aan die Egipties-gebore Mahmoud voorgestel. Hy het daar in die telekommunikasiebedryf gewerk. Dit was liefde met die eerste oogopslag.
Jayne was snaaks, vol lewe en ’n baie goeie danser, vertel Mahmoud. En sy het hom onvoorwaardelik liefgehad. Voor hul troue in Mei 2007 in die Arabiese emiraat Aboe Dhabi het sy haar tot die Moslem-geloof bekeer.
Toe die paartjie kort daarna na Engeland terugkeer, het hulle in Berkshire huis opgesit. Mahmoud het toe by die Universiteit van Surrey vir ’n meestersgraad in sakebedryf begin studeer en sy vrou het by die Bracknell-ysskaatsklub gewerk.
Jayne was altyd baie bang dat sy soos haar ma kanker sou kry en daaraan sterf, sê Mahmoud. Hy is net bly sy het nie gely of die siekte sien kom nie.
David Phillips, ’n vriend en kollega, het Jayne enkele dae voor haar dood gesien. ‘‘Ek en Jayne was by die ysskaatsbaan in Bracknell en sy was piekfyn,’’ vertel hy verslae. “Sy was so gelukkig as wat sy kon wees omdat sy swanger was – dit was haar droom.’’
Mahmoud was so hartseer omdat hulle nie saam hul kind in die wêreld kon verwelkom nie dat hy nie kans gesien het om met die geboorte by te wees nie.
Hul vriendin Lucine Phillips (38), David se vrou, het Jayne se hand heeltyd vasgehou terwyl die keisersnee uitgevoer is. ‘‘Dit was so hartseer om te dink sy sou nooit haar pragtige baba sien nie,’’ sê sy.
Dit was ’n dag van hartseer en vreugde vir almal, want Aya Jayne se geboortedag was ook haar ma se sterfdag. Mahmoud was alleen by haar toe die masjiene wat haar aan die lewe gehou het, afgeskakel is.
Al kon hy nie dadelik die baba vashou nie, wou hy heeltyd weet of sy oukei is en vyf vingers en tone het, vertel Lucine. Die emosie het hom eers oorweldig toe hy ’n foto van haar sien.
Hy het dit net een kyk gegee en gesê: ‘‘Dis my Jayney.’’
Meer as driehonderd rouklaers het dae later sy vrou se begrafnis by die Jamia-moskee in Reading bygewoon.
Vriende en geliefdes het intussen ’n profiel van Aya Jayne Soliman op Facebook geskep om hulde aan die kleinding en haar ma te bring.
Die prosedure wat met Jayne gevolg is, is geen ongewone verskynsel nie. Kenners meen ’n ma se liggaam bly die beste broeikas vir ’n baba, selfs al is sy breindood soos in Jayne se geval.
Die kind moet nogtans so gou moontlik gebore word om te verhinder dat enige infeksie wat dalk ontwikkel, na die ongebore baba versprei.
Donna Ericsen (49), Jayne se suster wat in Griekeland woon, sê haar suster sou ’n wonderlike ma gewees het. ‘‘Dit is hartverskeurend dat sy nooit die kans gaan kry nie.”
As alles goed verloop, kan Mahmoud oor twaalf weke sy dogter huis toe neem. Hy weet dit gaan swaar wees, veral omdat alles in die huis en veral die foto’s hom aan Jayne herinner. Maar hy moet nou sterk wees vir Aya. So gou as wat sy kan verstaan, wil hy haar van haar ma vertel, sê Mahmoud.
‘‘Wanneer Aya grootword, gaan ek haar sê wat ’n wonderlike ma sy gehad het en hoe lief sy haar gehad het.’’
Hy en Jayne het dikwels gepraat oor die dag dat die dood hulle sou skei, vertel Mahmoud. ‘‘Sy het altyd gesê: ‘Moenie doodgaan en my alleen los nie.’
“Nou is sy die een wat my gelos het. Nou is sy ’n engel in die paradys.’
BRONNE: THE GUARDIAN; WWW.INDEPENDENT.CO.UK; DAILY MAIL (LONDEN); EVENING STANDARD; DAILY EXPRESS (LONDEN); WWW.TIMESONLINE.CO.UK; WWW.PEOPLE.CO.UK

Deur: Pieter van Zyl
KAPTEIN Kanniedood, Kaptein Heldemoed, Koning Graeme die Leeuhart – die Proteas se kaptein, Graeme Smith, het ’n hele rits baie vleiende nuwe byname gekry ná sy dapper spel twee weke gelede in Sydney met gebreekte linkerhand en gekrokte regterelmboog en al.
Dis ’n salige dag vir Graeme. Hy word nou die dapperste man in wêreldkrieket genoem – die einste Graeme Smith wat so dikwels as arrogant beskou is en uitgekryt is vir ’n grootbek.
Dié keer was die Aussie-skare van meer as 9 000 op hul voete om hom toe te juig.
Maar waar kom hierdie nuwe Graeme vandaan? Dis in vele mate te danke aan die man wat Graeme “my lewensafrigter’’ noem.
Hy het persoonlik en in sy spel gegroei met die hulp van die Britse sportsielkundige Jeremy Snape, vertel Graeme enkele dae ná sy terugkeer na Suid-Afrika uit Australië.
“Ek kon by hom aanklank vind omdat hy afrig met ’n goeie kennis van krieket én die sielkundige kant van wat dit verg om as speler meer te fokus,’’ vertel Graeme.
Jeremy het hom middel verlede jaar by die Proteas aangesluit as lid van die span afrigters.
Sy hoofdoel was om die spelers te help om nie oorweldig te voel as die oomblik te groot is nie, soos wanneer hulle teen Australië te staan kom in ’n halfeind- of eindstryd.
“Hy help veral die jong ouens in die span met hul geestesingesteldheid; om te bedaar as dit belangrik is om besluite op die veld te neem,’’ sê Graeme.
“Ons klomp Suid-Afrikaners is so passievol en emosioneel oor dinge.
Dit is soms nodig om daardie trots te temper met helder denke. Jy moet konsentreer en jou tyd gun om belangrike besluite te neem sonder dat jou emosies jou pootjie.’’
Jeremy is bekend as “bruikbare, denkende krieketspeler’’.
Hy was self ook kaptein – van Leicestershire se suksesvolle Twintig20-span – en het sewe jaar gelede ook in tien internasionale eendagwedstryde gespeel.
Ná sy uittrede het hy sy kolf- en draaiboulvernuf aangevul met ’n meestersgraad in sportsielkunde.
“Hy het my geleer jy móét tyd vir jouself opsysit om te herstel ná ’n moeilike dag op die veld,’’ vertel Graeme. “Die vyf dae lange druk van die toetsreeks in Australië was baie spanningsvol.
Saans het ek stil geword in my hotelkamer, kos bestel en DVD’s gekyk, veral komedies en aksieflieks waaroor ek nie te veel hoef te dink nie.
Lag is die beste manier om van stres ontslae te raak.’’ Hy het ook geleer om “van al die geraas in my lewe ontslae te raak.
Ek het destyds gevoel asof ek my as speler, kaptein én mens aan almal moes bewys,’’ sê hy.
‘‘Ek het waarskynlik die verkeerde houding teenoor die publiek gehad.’’
En so het hy ’n goeie deel van sy energie daarin gekanaliseer om mense verkeerd te bewys, pleks van in sy spel. Dit is nou iets van die verlede.
‘‘Ek moes besluit hoe ek eendag onthou sal wil word en is nou uiteindelik gemaklik met myself,’’ sê hy.
Hy het in Australië beslis nie op die veld gestap om as held geëer te word nie.
Hy het nie gedink hy sal moet kolf nie, maar toe sy span hom nodig gehad het, het hy nie twee keer gedink voor hy met sy spanmaats se hulp uitgerus is nie.
“Ek wou eenvoudig uitstap en net my beste doen, selfs al sou ek my paaltjie met die eerste bal verloor.’’ Dit was baie seer, onthou hy.
“Maar ek het vir myself gesê ek moet net so lank moontlik vasbyt.’’ So het hy 29 minute lank gekolf en balle van tot 140 km/h trotseer van ’n bouler soos Mitchell Johnson.
Hy is ná sewentien balle uitgeboul en Australië het die derde toets met 103 lopies gewen.
Die Proteas was egter steeds die kampioene nadat hulle die eerste twee toetse gewen het. En Graeme het hom tot binnein die krieket-geskiedenisboeke gespeel.
HY was verras en voel nederig dankbaar vir al die lof wat hy kry, sê Graeme.
Hy is maar net een van die ratte in die suksesvolle krieketmasjien. “Vir my is die beste van alles dat mense vir my respek gekry het,’’ sê Graeme.
Hy is ook opgewonde oor jong spelers soos JP Duminy wat nou met Jeremy se hulp so uitblink met hul spel.
As sulke jong spelers en die Proteas of enige ander sportspan goed vaar, gee dit Suid- Afrikaners hoop.
“Dis wonderlik om te dink dat ek ’n rolmodel kan wees en dat my spel mense so begeester. Dit bewys dat drome kan waar word as jy dapper genoeg is.’’
Maar dit is nie net Jeremy wat lof moet kry nie. Graeme het self ’n ver pad gestap van die dae toe baie mense selfs in sy eie land nie veel ooghare vir hom gehad het nie.
Dr. Ali Bacher, voormalige krieketbaas en kaptein, vertel hy het nog altyd baie respek vir Graeme gehad en het onwrikbaar in sy vermoë geglo.
‘‘Van die eerste keer dat ek hom in 2003 ontmoet het, het hy gepraat van dinge soos integriteit en eerlikheid wat belangrik is in krieket.
Maar daar was ’n tyd toe mense hier in Suid- Afrika geboe het as ek sy naam in ’n toespraak noem. ‘‘Kyk nou hoe het Graeme gegroei.
Omar Henry en sy keurders wat Graeme op so ’n jong ouderdom aangestel het, moet geprys word vir hul visie.’’ Veral in die afgelope twee jaar kon sy pa, Graham, ook agterkom sy seun word ál meer volwasse.
‘‘Hy het dinge meer in perspektief begin sien; die groter prentjie gekry van wat dit is om ’n span te lei. Hy glo in homself omdat ander in hom glo.
Ek is trots om te sien hoe hy groei,’’ sê Smith sr. ‘‘En hy is maar 27 jaar oud.’’ Hy is goed genoeg om nog lank kaptein te wees, meen die krieketlegende Clive Rice.
‘‘Hy lei deur sy voorbeeld van die voorpunt af,’’ sê hy. En glo maar, om met daardie besering van hom te speel, verg meer as net hare op jou tande.
‘‘Dis die ergste pyn waaraan jy kan dink,’’ vertel die voormalige krieketkaptein Kepler Wessels.
Hy weet, want hy het in 1994 op dieselfde Sydney Cricket Ground as Graeme nou pas, voortgespeel met ’n beentjie wat by sy linkerhand uitgesteek het ná ’n besering vroeër in die wedstryd.
‘‘In so ’n wedstryd neem die adrenalien heeltemal oor. Maar elke keer as die bal teen die kolf klap, voel jy daardie pyn. Jy kan nie daarvan wegkom nie.’’
Suid-Afrika het daardie dag met vyf lopies gewen. Clive, ook ’n gewese krieketkaptein van die nasionale span, het in 1993 met ’n gebreekte arm gekolf in ’n eendagwedstryd tussen die destydse Natal en Oostelike Provinsie.
‘‘Ek moes ook laaste kolf. Dit was so seer ek kon skaars die kolf reg vashou,’’ vertel Clive.
‘‘Ek dink nie ek sou so lank soos Graeme kon uithou nie.’’ Graeme moet sy hand en elmboog nou laat rus.
“Ek het my dokter gaan spreek en hy het gewaarsku dat my hand met draad geheg sal moet word as dit weer getref word,’’ sê hy.
Die gebreekte beentjie sal dalk binne ses tot agt weke heeltemal herstel as hy sy linkerhand nie te veel gebruik nie.
“Daarom wag ek tot die einde van die maand om te sien of my hand sterk genoeg is.
Ek mik vir die toetsreeks tuis wat op 26 Februarie begin.’’ En ons kan nie wag om Kaptein Kanniedood weer in aksie te sien nie.

Deur: Susannah King
STEL jou Oprah Winfrey se klerekas voor – alles van ekstra-ekstra klein tot ekstraekstra groot. Die koningin van klets se gewig ry al jare lank wipplank.
En nou wil sy finaal klaarspeel met dié heenen- weerdery – sy wil die 20 kg afskud wat sy die afgelope twee jaar aangesit het (Groot en gestres – al weer! Huisgenoot, 8 Januarie), en sy wil dit regkry met die hulp van haar lewenstylmentor Bob Greene, skrywer van Best Life Diet en The Best Life Diet Cookbook.
“Oprah se stryd met haar gewig het al amper mities geword,” sê Bob. “Dis nie net omdat sy so openlik en eerlik daaroor was nie, maar ook omdat miljoene haar storie deel.”
In die meer as 25 jaar dat hy al mense help verslank, het hy ’n paar algemene slaggate geïdentifiseer wat mense van die wa laat afval, sê Bob.
“Vreemd genoeg rig die meeste mense nie met maaltye die groot skade aan nie, maar deur die hele dag lank te knabbel as troos en nie te besef hoeveel kilojoules hulle inneem nie.
Oprah gaan nie by maaltye oorboord nie, maar gryp soos die meeste mense heeldag hier en daar ’n hand vol wanneer sy senuagtig, gespanne of verveeld is,” sê hy.
Die dieet gaan oor die regte kosse kies, porsiegroottes monitor en ligte oefening doen. Vergeet dus van kilojoules tel. En alles gebeur met verdrag, nie eensklaps nie.
“Dit, en die feit dat die veranderings aangenaam is sodat jy dit die res van jou lewe kan handhaaf, is na my mening die sleutelrede waarom dié plan anders is,” sê Bob. Ons vertel jou hoe Oprah gewig wil verloor en hoe jy dit ook kan doen.
FASE 1 Die aanloop
Die eerste fase duur vier weke en daarin doen jy ligte oefening, sny alkohol uit, drink meer water en eet minstens twee uur voor slaaptyd niks.
Weke 1 en 2
Kos-ruil Vervang alle koeldrank met water, onversoete ystee of vetvrye melk. Kardio Doen vyf keer per week vyftien minute lank iets soos stap of oefenfietsry.
Krag ’n Kragoefenprogram kom eers later. Pas op vir dié slaggate Moenie swig voor ’n kortpad soos ’n kitsdieet nie.
Weke 3 en 4
Kos-ruil Verruil witbrood vir 100 persentvolgraanbrood. Dieselfde geld vir pasta. Vervang witrys met bruinrys. Kardio Voeg nog vyf minute by jou oefensessie – dus twintig minute vyf dae per week.
Krag Daar word nog nie kragoefeninge gedoen nie, want dit kan jou honger laat voel.
Oppas vir dié slaggate Oefening is moeilik. Jy kan die kilogramme laat wegsmelt deur net kilojoules te verminder, maar 90 persent van die mense wat op lang termyn gewig verloor, oefen gereeld.
FASE 2 Die ommeswaai
Dit is hier waar jy baie gewig kan verloor. Jy sal sekere kosse uit jou dieet sny en dit met minder vetmakende kos vervang wat ook jou eetlus demp.
Danksy die uitskei van endorfiene kan oefening help om die vertroosting te bied wat jy andersins uit eet sou kry. Sny die volgende vyf kosse heeltemal uit.
Gaskoeldranke “Drink eerder water, kruie-ystee of afgeroomde melk. Drink net een glas vrugtesap per dag,” sê Bob. Kosse wat transvette bevat Vervang kookolie en margarien met olyfolie. Gebraaide kosse Vervang dit met kos wat in die oond gebak word.
Sny aartappels in repe, besprinkel dit met olyfolie, sout en peper en bak dit in ’n oond. Witbrood Maak seker jy eet nie meer witbrood, gewone pasta en witrys nie. Vetryke suiwelprodukte Laevet-suiwelprodukte (kaas, melk, jogurt, roomys en geklopte room) is wonderlik bronne van kalsium en proteïen sonder die vet.
Weke 5 en 6
Kos-ruil Sny transvette uit (op etikette kan dit gedeeltelik gehidrogeneerde olie genoem word). Gebruik olyfolie wanneer jy kook. Kardio Voeg nog vyf minute by elke oefensessie – dus 25 minute vyf dae per week.
Krag Vind oefeninge wat jou hoofspiergroepe soos die triseps, biseps en dye oefen en doen twee stelle van tien repetisies drie keer per week.
Oppas vir dié slaggate Identifiseer die emosionele redes waarom jy jou ooreet. Hou ’n dagboek om jou by jou dieper kwessies te help uitkom.
Weke 7 en 8
Kos-ruil Vervang alle gebraaide kosse met geroosterde, gesoteerde of gebakte kosse. Kardio Voeg nog vyf minute by elke oefensessie – dus dertig minute vyf dae per week. Krag: Gaan voort met jou kragoefenroetine.
Oppas vir dié slaggate Jou aanvanklike entoesiasme kan dalk taan; daarom moet jy aktief daaraan dink hoe om die terugslae in jou lewe die hoof te bied pleks van dit as ’n verskoning te gebruik om jou program te staak.
FASE 3 Leef lank en gelukkig
Hou sover moontlik by die veranderings wat jy in fase een gemaak het, maar bederf jouself af en toe met dit wat jy in fase twee uitgeskakel het.
As jy wel by uitsondering alkohol drink, kies drank wat min kilojoules bevat. Oefening sal die verlore gewig help afhou. Daarom kan jy jou nou en dan bederf sonder om weer gewig aan te sit.
Weke 9 en 10 Kos-ruil
Vermy volroom- of 2 persentmelk en -jogurt en kies vetvrye weergawes. Kardio Voeg vyf minute by elke oefensessie – dus 35 minute vyf dae per week.
Krag Voeg nog ’n stel van agt tot tien repetisies by elk van jou oefeninge. Oppas vir dié slaggate Die meeste mense wil aanvanklik sowat 30 persent van hul gewig verloor, maar Bob sê 10 persent is meer realisties.
Weke 11 en 12 Kos-ruil
Alkohol is vol kilojoules. Verruil dit eerder vir bruiswater met ’n knertsie vrugtesap daarin of ’n ander laekilojouledrankie. Kardio Voeg vyf minute by elke oefensessie – dus veertig minute vyf dae per week.
Krag Doen kragoefeninge. Oppas vir dié slaggate Jy het gewig verloor, maar jy slaan nou oefensessies oor en skep soms ’n tweede porsie.
“Gewigsverlies is nie ’n eindstreep nie, maar die begin van ’n proses waarin jy oor jouself leer en jou lewe verbeter. Hoe langer jy volhard, hoe makliker word dit,” sê Bob.
Bob Greene se dieetgeheime
Eet elke drie tot vier uur
• Jou bloedsuiker sal dan nie so laag daal dat jy doodhonger word en jou ooreet nie.
• Eet meer groente as ander kosgroepe.
• Oppas vir te veel aartappels, mielies en ertjies, want dit bevat net soveel stysel (en amper net soveel kilojoules) soos graan. Eet ’n paar keer per week droë bone – dit is superkosse wat voeding betref. Minstens twee porsies vrugte per dag word aanbeveel. Leer porsiebeheer aan
• ’n Porsie vleis, hoender of vis moet ongeveer so groot soos die palm van jou hand wees. ’n Porsie rys, pasta of ander graankosse is so groot soos die helfte van jou vuis. ’n Porsie groente is ’n halwe koppie – eet twee of drie. Die ‘versadig-sein’
• Wag twintig minute voor jy nog eet. Dis hoe lank dit duur voor jou brein die “versadig-sein” kry.
• Los emosionele kwessies op. Probeer die emosionele kwessies oplos wat jou laat eet. Vind iets anders as eet wat jou laat goed voel, soos om met jou vriende te gesels, na musiek te luister of ’n vakansie te beplan. Kry ’n goeie nagrus
• Navorsing dui op ’n skakel tussen te min slaap en vetsug. ’n Goeie nagrus help voorkom dat die hormone ontwrig word wat jou eetlus beheer. Hou twee tot drie uur voor slaaptyd op met eet

Deur: Paul Norton
KRIEKETKOLWE klap kliphard te midde van ’n see van pienk – die toeskouers, die paaltjies, borge se logo’s – byna alles is pienk op die eerste Jane Mc- Grath-dag op Sydney se beroemde SCG-krieketveld hier op die derde dag van die laaste toets tussen Suid-Afrika en Australië.
‘‘Die Proteas het pienk bandanas gedra en sommige kolwe se handvatsels was pienk,’’ vertel Michael Owen-Smith, die spanwoordvoerder, agterna van die dag toe krieket pienk geword het.
Krieket se stout seun Shane Warne was daar met ’n skelpienk baadjie aan, en die Australiese kommentator Mark Nicholas het ’n pienk das gedra. Selfs Suid-Afrikaanse krieket-aanhangers wat die wedstryde op hul TV-stelle by die huis gekyk het, het dié dag gedenk deur pienk te dra.
Dit was ’n dag om te onthou dat derduisende vroue wêreldwyd teen borskanker stry, en in die besonder te dink aan een wat die stryd verlede jaar verloor het – die Australiese krieketlegende Glenn McGrath se beeldskone vrou, Jane.
Sy het op 31 jaar haar linkerbors as gevolg van kanker verloor, en sy en haar man was tot haar dood met behulp van hul McGrath-stigting vurige vegters teen dié vernietigende siekte. Nou sit Glenn die werk alleen voort.
Hy vertel hy was oorweldig deur emosie op die dag dat sy vrou se nalatenskap herdenk is. ‘‘Ek moes in ’n stadium wegkyk van die skerm,’’ vertel hy van die geldinsamelingsete op dié dag, waar beeldmateriaal van Jane gewys is.
Sy sou trots gewees het dat ’n dag by die krieket na haar genoem is, sê haar man. ‘‘Maar sy sou tog gewonder het waaroor al die bohaai gaan . . .’’ Meer as $400 000 (sowat R2,7 miljoen) is tydens die kriekettoets ingesamel deur skenkings en onder meer die verkope van pienk armbandjies en kopdoeke.
‘‘Ons het nog net $30 000 nodig om nog ’n borskankerverpleegster aan te stel,’’ sê Kylea Tink, besturende direkteur van die McGrath-stigting. Met behulp van die stigting sal Australië teen Junie met meer as vyftig bykomende spesialisverpleegsters spog om vroue met borskanker by te staan – en daarmee word die getalle landwyd met 25 persent vermeerder.
‘‘Daar is te veel kanker hier in Australië en in die wêreld en dis hoekom ons die stigting begin het, om op ’n klein manier te probeer help.
Maar elke mens wat regstreeks deur kanker geraak word, vind sy eie manier om dit te verwerk en met mense rondom hulle kontak te maak,’’ sê Glenn.
Nie in sy wildste drome sou hy kon raai hoe sy vrou, wat in Brittanje gebore is, se dapper stryd die sportwêreld in Australië en in die res van die wêreld sou inspireer nie.
DIT het alles in Augustus 1997 begin. Jane en Glenn was in ’n verhouding, en sy was saam met hom op ’n krieketreekstoer teen Engeland. ‘‘Ek het uit die stort geklim, my hare gekam en gesien daar is fout met die vorm van my linkerbors.
Pleks van onder ’n kurwe te maak, het dit afgeplat gelyk,’’ het Jane destyds in ’n TV-onderhoud vertel. Toe sy daaraan voel, was dit seer. ’n Verpleegster-vriendin het haar aangeraai om ’n dokter te gaan spreek en borskanker is gediagnoseer.
‘‘Ek sal eerder doodgaan as om my bors te verloor – ek is 31 jaar oud,’’ het sy destyds gesê. Maar die dokters het haar uiteindelik oorreed om die mastektomie te ondergaan.
Sy en Glenn was toe twee jaar saam nadat hulle mekaar in 1995 in ’n nagklub in Hongkong ontmoet het toe sy nog ’n lugwaardin was. Daar was nog geen formele bande in hul verhouding nie, en sy wou terug Engeland toe gaan en Glen die kans gee om haar te verlaat.
‘‘Ek het dit nie eens oorweeg nie,’’ het Glenn in dieselfde TVonderhoud gesê. ‘‘Ek het in daardie stadium nie regtig die omvang daarvan besef nie en het gedink ons sal dit vinnig hanteer en met ons lewe saam aangaan.’’
Hy het kort daarna aan haar verloof geraak, en in 1999 is hulle getroud. In 2003 het die kanker na haar heup versprei, maar sy het met Glenn se ondersteuning teruggeveg met chemoterapie. Twee jaar gelede het sy probleme met haar sig ondervind en breinkanker is by haar gediagnoseer.
Die operasie om die gewas te verwyder, was ’n sukses en Glenn het sy uittrede uit krieket aangekondig om ál sy aandag aan sy gesin te gee. Hy het sy laaste toetswedstryd daardie Januarie gespeel.
Maar middel Junie verlede jaar het Jane ernstig siek geword en sy is weens komplikasies ná ’n operasie oorlede. Sy was 42. Tog was hul lewe saam ook gevul met wonderwerke.
Al was Jane toe al siek, is James in 2000 gebore en Holly in 2002, ten spyte van dokters se vrese dat sy weens chemoterapie onvrugbaar sou wees.
‘‘Ek dink nog elke dag aan Jane. Ons kinders is nou die fokus in my lewe,’’ sê Glenn. Hulle was almal saam langs Jane se bed toe sy op 22 Junie oorlede is. Sy is drie dae later begrawe uit dieselfde kerk waar hulle in 1999 getroud is.
‘‘Dit gaan goed met die kinders, al raak hulle nog soms ontsteld as hulle moeg en geïrriteerd is,’’ sê Glenn. Hy het hulle ná haar dood teruggeneem na hul huis naby Bourke in die weste, daar waar sy vrou in 1997 besluit het om teen die kanker te veg nadat sy aanvanklik moed wou opgee en eerder wou sterf as om haar bors weens ’n mastektomie te moet verloor.
‘‘Jane sou nie baie gelukkig gewees het daaroor nie,’’ sê Glenn van die uitstappie na die Agterveld toe. ‘‘Sy was ’n wonderlike ma en baie beskermend jeens die kinders.
Sy het gedink die bos is ’n gevaarlike plek vir hulle, maar ek het hulle geneem en hulle was gelukkig. James en Holly het wonderlike avonture daar gehad en ek wil hulle nou meer gereeld soontoe neem.’’
Dit was ná Holly se geboorte dat hulle besluit het om met die McGrath-stigting te begin om geld in te samel waarmee borskanker- verpleegsters betaal kan word, en ook vir groter bewusmaking van borskanker. Dié projek was tot met haar dood Jane se passie.
‘‘Ek wil graag hê Jane se nagedagtenis moet ’n viering van haar lewe wees,’’ sê Glenn. Daarom bly hy so nou betrokke by die stigting – hy weet sy sou steeds vuur en vlam daarvoor gewees het as sy nog gelewe het.
Jane sou ook graag wou hê Glenn moet in die Men of Cricket- kalender – ten bate van die stigting – poseer.
Daarin wys van die wêreld se sexyste krieketspelers heelwat lyf en vir elke kalender wat verkoop word, gaan $10 (sowat R67) na die stigting.
Australiese voelbalsterre wys ook nou spiere in die plaaslike Gods of Football-kalender om geld in te samel, en selfs M&Mlekkergoed word nou in Australië met pienk suikerlagies oor verkoop ten bate van die stigting. Glenn is verwonderd oor wat alles nou in die naam van sy geliefde vrou gebeur.
‘‘Om alles so in pienk te laat omtower met my vrou as inspirasie . . . dit is iets wat ons nooit gedink het sou gebeur nie.’’

Deur: Haidee Muller
Soms skakel sy die radio aan en heel toevallig speel sy gunsteling-musiek. Dan verlang sy na hom, en sy voel skielik alleen. Maar Ellen Pakkies is ’n sterk vrou; nie een wat toelaat dat emosie haar die dieptes intrek nie.
‘‘Ek skakel die radio dan dadelik af,’’ sê die 48-jarige ma van Lavender Hill naby Kaapstad wat haar tikverslaafde seun meer as ’n jaar gelede met ’n tou verwurg het. ‘‘Ek laat my nie toe om te veel aan Abie te dink nie.
As ’n mens heeltyd terugkyk, kan jy nie vorentoe nie.’’ Praat sy oor haar dooie kind, kyk sy jou stip in die oë sonder om een keer haar kop te laat sak. Maar haar glimlag is wrang. Dit was ’n verskriklike jaar vir Ellen Pakkies.
‘‘Ek kan nie verduidelik hoe ek hier in my binneste gevoel het nie,’’ sê sy. ‘‘Ek het in hierdie jaar my ma en ouma verloor en is skuldig bevind aan die moord op my eie kind.’’
Maar die jaar het tog beter geëindig, met ’n hofuitspraak wat beteken dat Ellen nou nie tronk toe sal gaan nie. Dis stof tot dankbaarheid vir haar motorwag-man, Odneal, en haar ander seuns, Rudolph Lucas (30) en Colin (25). En ja, Odneal verlang na Abie.
‘‘Soms sal hy uit die bloute sê: ‘Ek mis nou daai mannetjie,’ ’’ vertel Ellen. Maar hy verwyt haar nie oor wat sy daardie dag van 12 September 2007 in die buitekamer aan hul kind gaan doen het nie. ‘‘Hy staan my by en het my vergewe.
My ander kinders het my vergewe. En ek vergewe mense wat teen my is. God het my gedra en ek is gereed vir wat ook al kom.’’ ‘‘Ellen Pakkies!’’ gil ’n man in die verbygaan op straat. Hy druk sy kop deur die oop venster van die kombi waarin sy sit en gee haar ’n stywe handdruk. ‘‘Ek het saam met jou gebid,’’ sê hy voor hy weer aanstaltes maak.
Sy sou nooit in haar wildste drome kon raai hoe wildvreemdes se ondersteuning uit talle oorde haar kant toe sou stroom nie, sê die netjies geklede vrou met die sagte stem. Die omstrede saak het haar inderdaad ’n bekende gesig op straat gemaak. Oral waar sy gaan, herken mense haar.
Terwyl ons gesels, kom vreemdes haar bemoedig, deel drukkies uit en praat asof hulle haar jare lank ken. En nee, sê sy self, niemand het haar al in haar gesig beledig nie. Iemand het selfs ’n TVdokumentêr oor haar storie gemaak, glo ’n vrou van Dublin.
Die stelsel het Ellen gefaal, het streeklanddros Amanda von Leeve gesê toe sy haar vroeër vandeesmaand in die Wynbergse streekhof gevonnis het. Sy is oortuig Ellen sou nie haar kind om die lewe gebring het as sy hulp gekry het nie.
Sy is toe tot drie jaar opgeskorte tronkstraf, 380 uur gemeenskapsdiens en korrektiewe toesig gevonnis. Sy was nooit een keer bang nie, vertel Ellen. Sy het nooit slapelose nagte gehad oor wat van haar sou word nie – sy het geweet dit was in God se hande.
Toe sy daardie oggend met bewende hande ’n tou om die bedwelmde Abie (20) se nek sit in sy sinkhuisie in die agterplaas, het sy heeltyd geweet dis verkeerd. Tog het sy die strop ál stywer getrek. En sy kon nie ophou nie, selfs toe hy wakker word en om sy lewe soebat.
Agterna, dieselfde dag nog, het sy haar aan die polisie gaan oorgee. Afgestomp en moedeloos, dis hoe dié kind wat in die greep van tik ’n monster geword het, haar laat voel het. Die eens vrolike seunskind wat so lief was vir musiek en haar eens so lekker laat lag het, het in die ses jaar voor sy dood haar lewe op sy kop gekeer, haar rot en kaal besteel, haar met die vuiste bygedam en met ’n mes gesteek.
Hy het van haar ’n gevangene in haar eie huis gemaak. Dis inderdaad moeilik om te glo iemand soos Ellen kan tot sulke uiterstes gedryf word.
Sy is ’n warm, moederlike vrou wat graag drukkies uitdeel, selfs aan wildvreemdes – dankbaar vir SMS’e en bemoedigende boodskappe van oraloor. Sy wil graag ander ma’s soos sy help, sê die gewese versorger by ’n tehuis vir bejaardes wat op die oomblik nie werk het nie.
‘‘Dwelms beïnvloed die hele gemeenskap. Ek wil nou my gemeenskap help. ‘‘Ouers moet na hul kinders luister, maar kinders het ook ’n plig om na hul ouers te luister. ‘‘Leer jou kind ken en moenie dink ’n aggressiewe houding sal net oorwaai nie – dis juis een van die gevaartekens.
Moenie verwag die TV moet jou kinders opvoed oor die gevare daar buite nie.’’ Maar sy weet self nie wat sy anders moes gedoen het nie, sê sy. ‘‘Niemand is elke vyf minute aan sy kind se sy nie.’’ Die moord was die gevolg van ’n gesplete persoonlikheid, het ’n Kaapstadse sielkundige, dr. Martin Yodaiken, in die hof getuig. Aan die een kant was Ellen ’n liefdevolle ma, maar aan die ander kant ’n mishandelde vrou. Dié getuienis het bygedra tot die gunstige vonnis.
Ellen skroom nie om oor haar eina-verlede te praat nie. ‘‘My ouers was drinkmense; ek moes na myself omsien. Familielede en vriende van my ouers het my verskeie kere verkrag, selfs gesodomiseer.
Destyds het ek gedink dis maar hoe die lewe is. ‘‘Jy kan nie met jou ouers hieroor praat nie. My ma sou sê ek hou my groot. Dis hoekom ek nou nog nie kan praat oor hoe ek hier binne voel nie. Ek onderdruk die negatiewe liewer met die positiewe.’’ Maar sy is ook nie blind vir die werklikhede van die lewe nie en het haar voorberei op die moontlikheid van tronkstraf.
‘‘Die Here was my beste pille,’’ vertel sy. ‘‘Ek het God dadelik om vergifnis gevra en was rustig. Ek het heeltyd biddend gebly.’’ Tog voel sy skuldig oor een ding: ‘‘Dat ek ’n werkende ma was. Dalk het hy my nodiger gehad. Abie was nie ’n monster voor tik sy lewe verwoes het nie.’’
Die gesin het later veiligheidshekke aan hul huis aangebring om Abie buite te hou; anders sou hy hul laaste besittings gesteel en verkwansel het vir tik-geld. Sy het dit gehaat elke keer dat sy hom deur die veiligheidshek moes kos aangee.
‘‘Maar hy was ’n gevaar vir die res van die gesin.’’ Dis waar, sê Rudolph later toe ons hom by sy werkplek gaan opsoek. ‘‘Niemand kon hom stuit nie,’’ sê haar oudste. ‘‘Maar ek wil nie sleg praat van Abie nie.’’
Hy haal twee foto’s van sy kleinboet uit sy beursie. Een wys ’n jong seun wat glimlaggend langs die middelste broer, Colin, sit. Agterop staan: ‘‘Liefde van jul ma, Ellen.’’ ‘‘Natuurlik is sy ’n goeie ma, al sê wie wat,’’ sê Rudolph. ‘‘Vra my vriende. Sy behandel hulle soos haar eie. Ek was nog nooit minder lief vir haar oor wat gebeur het nie.’’
Ook hy het ’n boodskap vir jong mense. ‘‘Asseblief, luister na jul ouers en respekteer hulle. En moet nooit jul God vergeet nie.’’ Hy gee sy ma ’n drukkie. Sy wil nie vinger wys omdat sy nie ondersteuning gekry het toe sy op haar desperaatste was nie, sê Ellen.
‘‘Maar dis jammer dat so iets moes gebeur. Hoekom moet enigiemand breekpunt bereik voor mense bereid is om te help?’’ En dan die troos waaraan sy so desperaat bly klou: ‘‘Dis God se wil . . .’’

Deur Daniel Blaauw
HY SIT op sy staalbed, soos elke ander dag die afgelope vyf jaar. As die sit vir hom te veel raak, lê hy, want loop is nie meer moontlik nie.
Gewoonlik is hy nakend, maar vandag dra hy spesiaal sy T-hemp, tien maal ekstragroot. Met een hand op die matras stut hy sy logge lyf.
’n Kombers is oor sy maag gegooi, oor die stuk vet tussen sy bene wat op die matras rus. Nommer-vyftien-tekkies span styf om sy geswelde voete.
Vyf jaar gelede sou Gordon Hartley (52) nog die twintig treë na die voordeur self gestap het om besoekers in te nooi, maar deesdae kos dit hom ’n moeisame 45 minute om skuifel- skuifel met die hulp van sy gevriendin Christa Valentine (37) die paar treë af te lê. ‘‘Ek het eers die afgelope tien jaar begin gewig aansit,’’ vertel die man terwyl hy sy maag met inspanning oplig om sy tweede maag, net nog ’n vetrol, te wys. ‘‘Die laaste vyf jaar is ek bedsittend.’’
Die man wat hier in sy slaapkamer in Boksburg wegkruip, is vermoedelik die vetste man in Suid-Afrika. Hy het 24 uur per dag versorging nodig en kan nie eens meer die paar treë van sy bed na die toilet loop sonder hulp nie.
’n Loopring staan eenkant teen die muur opgevou. Dit dra lankal nie meer sy gewig nie. Toe Gordon drie weke gelede op die skaal klim, het hy 346 kg geweeg – ’n volle 11 kg swaarder as Careltjie van Aswegen van Dealesville op sy vetste.
Careltjie is in Desember 2005 aan hartversaking dood. Toe het Big G – Gordon se eposnaam – al twee jaar lank vir nuuskierige oë weggekruip, en as hy nie dieselfde pad wil stap nie, moet hy vinnig ’n bariatriese operasie, lewensgevaarlike chirurgie waar ’n deel van sy maag uitgesny word, ondergaan.
Dit is sy enigste hoop om gewig af te skud en te bly leef. ‘‘Ek het vyf jaar oor,’’ sê hy gelate. Dit is die doodsvonnis wat dokters onlangs uitgespreek het oor die man met ’n liggaamsmassa-indeks van 86,4 (20-25 is ideaal). Hy moet nou kies. Hy kan die duur operasie ondergaan en as dit slaag, sal die vetjies mettertyd wegsmelt en kan hy ’n normale lewe lei.
Maar die risiko is groot, want ’n bloedklont kan deur sy hart en longe skiet en dan sterf hy op die operasietafel. Besluit hy daarteen, sterf hy waarskynlik binne vyf jaar. ‘‘Ek sal doodgaan, of dit nou op die operasietafel of hier in my bed is,’’ sê hy. ‘‘Maar ek kan nie langer so leef nie. Ek kies die operasie.’’
DIE operasie alleen is wel geen towerstaf wat sy lewe sal omkeer nie. Daarna wag nog ’n lang pad vorentoe wat hy oor drie jaar sal moet loop en waarin hy 220 kg sal moet afskud.
Drie weke gelede het hy met ’n streng dieet begin en sedertdien het hy al 13 kg afgeskud. ‘‘Met moeite,’’ sug hy.
Die swart T-hemp het hy spesiaal laat maak vir ’n onlangse besoek aan die Sunward Park-hospitaal in Boksburg waar hy geopereer gaan word. Vir die broek van ses en ’n halwe meter materiaal wat hy ook bestel het, het hy R800 betaal.
Die bal is nou in die hande van sy mediese fonds en Gordon wag in spanning om te hoor of hulle die operasie van sowat R100 000 sal goedkeur. Hy is pas terug uit die hospitaal ná ’n reeks toetse.
‘‘Buiten my onderaktiewe skildklier het hulle baie ander probleme by my opgespoor. Ek het slaapapnee, my regter-hartkamer is vergroot, ek het ’n mantelvliesbreuk, my longe werk nie soos dit moet nie en ek het trombose,’’ rits hy die kwale af.
Verloop alles volgens plan en ondergaan hy vroeg in Januarie die operasie, is dit maar die begin van sy stryd. ‘‘Ons gaan dan ’n jaar wag waarin ek sowat 100 kg moet verloor. Dan gaan ek terug en die dokters verkort my dunderm, waarna ek weer ’n jaar moet wag en nog 120 kg moet verloor. Dan word die velle weggesny,’’ vertel Gordon.
Die kombers waarmee hy sy maag weggesteek het, word eenkant toe gegooi toe die hitte hom begin vang. ‘‘In die hospitaal moes ek oor my skaamheid kom. Ek moes. Ek het kaal gelê terwyl die dokters toetse gedoen het.’’
Christa skuif ’n koppie koffie voor hom in. Wit sonder suiker. Sy vryf teer oor sy maag en dra geduldig ’n fotoalbum nader toe hy daarvoor vra. Vier jaar al is sy sy voete en hande.
Soggens duur dit 45 minute om hom te sponsbad en saans is dit weer so. Gordon is in 2003 van sy vrou, Meri, saam met wie hy en Christa steeds ’n huis deel, geskei. ‘‘Ons is oor my lyf geskei,’’ vertel hy. ‘‘Dis ’n besluit wat ek geneem het. Ek kon nie meer die man in my huwelik wees nie en dit het baie spanning op my verhouding geplaas.’’
’n Jaar nadat sy huwelik verbrokkel het, het Christa in sy lewe gekom. ‘‘Ek het hom begin versorg en die liefde het vanself gekom. Ons is eerstens vriende,’’ sê die vrou van 69 kg.
Teen die mure is vier gelamineerde plakkate waarop die lekkernye is wat Daddy, soos sy dogters, Michelle de la Guerre (24) en Monica Watson (21), hom noem, nie oor sy lippe mag kry nie: koek, sjokolade, gaskoeldrank, lekkers, kitskos, volroommelk.
‘‘Moet my nie vra hoekom ek vet geword het nie; ek het nie antwoorde nie,’’ sê hy net as jy vra wat dan skeefgeloop het.
Die fotoalbum wys ’n skraal man van 2 m wat in sy twintigerjare by die weermag se lugafweer- afdeling aangesluit en later ’n lugvaart-tegnikus geword het. Hy was selfs maer toe hy in Durban as verkeersbeampte begin werk en in die 1990’s met Meri getrou het. Maar blaai jy verder, sien jy hoe hy oor die jare ’n stewige maag gekry het in die dae toe hy as uitsmyter in Johannesburg gewerk het.
‘‘Ek was gespanne en het dan geëet. Ons het baie uitgeëet en ook laat snags geëet,’’ vertel hy.
Hy hou vol dat hy net eet wanneer hy honger is, maar erken ook dit het nie by een bord opgehou nie.
‘‘Meri het baie lekker gekook. Oor die jare het ek maar gewig aangesit. ‘‘Soms eet ek ’n brood met ’n ete op. Ek het ’n ruk gelede twee weke lank elke ete bunny chows (’n halwe brood vol hoender of vleis) geëet,’’ vertel hy later teensinnig.
‘‘Ek eet, want ek is verveeld.’’ Die eerste keer dat hy op ’n skaal geklim het, het hy 175 kg geweeg. ‘‘Toe ek begin sukkel om te loop en uitasem raak, het die gevaarligte geflikker.’’ Maar eers nadat hy nog 120 kg aangesit het en op ’n dag nie meer in ’n bad of motor kon pas nie, het hy om hulp gaan aanklop.
Ná sy egskeiding het hy by 294 kg gedraai en by SureSlim aangesluit. Hy het gewig verloor, maar dit net so vinnig weer aangesit. Toe ’n dokter boonop weier om sy ‘‘tweede maag’’ weg te sny, was hy platgeslaan en het hy tot 350 kg gestoel.
Op ’n dag was die inspanning net te veel en kon hy nie meer van die bed af opstaan nie. Dit was vyf jaar gelede. ‘‘Ek het alles verloor. Ek moes my sekerheidsonderneming verkoop, want mense het nie respek vir ’n vet mens nie. Meri sorg vir my en deur die dag behartig ek die administrasie van haar sekerheidsaak.’’ Sy ure kry hy voor sy skootrekenaar en TV om. As die vier mure hom so een keer in drie maande vasdruk, ry Christa ’n entjie met hom in sy spesiaal aangepaste Mercedes-Benzbussie waarvan die ruite getint is sodat niemand na hom kan staar nie.
Dit was ’n groot besluit om lesers in sy kamer in te nooi, maar sedert sy hospitaalbesoek is hy nie meer so skaam vir sy lyf nie. ‘‘Ek dink my storie is vir almal en mense sal hulle daarmee kan vereenselwig.’’ Hy het geëet, mymer hy, want dit het hom gelukkig gemaak.
Maar nou hoop hy op veel groter geluk: dat hy sy operasie kan kry, weer in ’n motor kan klim en dalk selfs weer ’n bok in die jagveld kan plattrek.

Deur Carol Coetzee
SOOS ’n wafferse plakkaatmeisie smeul sy nakend op ’n foto oor twee bladsye in haar koffietafelboek – met haar poliobeen net so deel van haar sensualiteit soos haar volmaakte borste.
Dis ’n foto wat die mense van Wellington in die Boland voor wie sy grootgeword het, verdeel het, vertel Marlene le Roux (41).
Sy gooi haar kop agtertoe en lag hardop oor die ontsteltenis onder sommige op haar geboortedorp.
‘‘As ek kaal moet staan voor Andrew Murray se standbeeld en die NG kerk om die gemeenskap wakker en attent op gestremdes se behoeftes te maak, sal ek dit doen,’’ sê sy.
Haar boek Look at Me! bevat haar en nog 22 gestremde vroue se persoonlike verhale van triomf oor hul gestremdheid en foto’s wat ’n lus vir die oog is. Dit val ook saam met die vroue se tentoonstelling Celebrating Ability in die Kultuurhistoriese Museum in Pretoria, wat ’n mens met nuwe oë na gestremdes sal laat kyk.
Atlete soos Natalie du Toit en Oscar Pistorius het reeds gewys dat ’n gestremde vir geen ander sportmens hoef agteruit te staan nie. Met haar boek en die tentoonstelling sien ons nou hoe Marlene en die 22 vroue ondanks hul gebrek die asem laat wegslaan, en vir altyd klaarspeel met die etiket ‘‘ag sies tog’’.
IN LEWENDE lywe tik sy jou skoon om met haar teenwoordigheid wanneer sy ’n vertrek met daardie groot glimlag en skitterende oë binnekom.
‘‘Wat is dit met mense dat hulle ons in ’n hoekie wil druk waar ons onsigbaar is?’’ sê sy met ’n groot gebaar waar ons koffie drink by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.
Elke tweede mens kom groet en gee ’n drukkie. Almal daar ken Marlene, direkteur van die ontwikkeling en opvoeding van gehore.
Met die boek waaraan sy sewe jaar gewerk het, wil sy nou ook mense oor gestremdes opvoed.
‘‘Hulle wil vir ons dink, praat eerder van ons as met ons en wil ons jammer kry,’’ sê dié ma van twee. Nou nooi sy almal: ‘‘Kyk na my! Moenie wegkyk nie. My poliobeen maak my nie minder vrou nie. Ook nie my vriendinne wat gestrem is nie.
‘‘Ons hou van onsself soos ons is. Ons voel mooi en sexy. Waarom moet ander mense dan ’n kompleks oor ons hê?’’
Toe, asof sy ’n groot geheim wil vertel, vra sy: ‘‘Weet jy wat maak iemand mooi en begeerlik?
Doodeenvoudig selfaanvaarding, liefde vir jouself en selfvertroue wat mense aantrek soos bye na heuning.’’
Dit kom nie oornag nie. ‘‘As kind was ek skaam oor die loopyster aan my linkerbeen.
Seuns het my nie gevra om saam te gaan disko nie. Vir hulle was ek net ’n pel.’’
Marlene se vriendinne het getroos sy het darem een mooi been en hulle het haar leer dans.
Eendag tydens die Klopsekarnaval in Wellington het een van die deelnemers haar aan die bors gegryp en uitgeroep: ‘‘Jissie, maar jy het mooi borste!’’
‘‘Ek moes seker geskok gewees het, maar dit het my so goed laat voel!’’ vertel sy. Nie lank daarna nie het sy gesorg dat ’n seun vir haar haar eerste soen onder ’n lamppaal gee waar almal dit kon sien. ‘‘Skielik het almal anders na my gekyk en ek was nie meer ‘Marlenetjie’ nie!’’ Sy het geweet sy is ’n vrou en ’n mooi, begeerlike vrou daarby.
Wat haar sterk van binne gemaak het, was haar liefdevolle en joviale familie, vertel Marlene.
‘‘My ma, Christine, was drie maande getroud en swanger toe sy besluit het dit was ’n fout en terugtrek huis toe na haar nege broers en susters.’’ En toe Marlene gebore is, was almal in die wolke oor die pragtige kleinsus wat so mooi was met haar blonde hare en ligte vel, vertel sy laggend.
Sy was nog ’n baba toe sy eendag siek word en hulle agterkom
sy het polio, want sy is nooit daarteen ingeënt nie.
Maar in hul huis vol lag en vreugde was daar nie tyd vir bejammering nie. En haar ma het sommer woedend geraak as mense sê: “Ag sies tog, kyk net daardie pragtige ou kruppel meisietjie.’’
Sy het besluit haar kind gaan vir niemand agteruitstaan nie.
Toe sy haar in gr. 1 by die skool inskryf, het sy vir die onderwysers gesê Marlene is baie intelligent en het nie spesiale behandeling nodig nie. En as enigiets skeefloop, sal sy self met hulle kom afreken.
Van kleins af wou sy hulle trots maak, vertel Marlene, wat haar ma se sangtalent geërf en baie pryse daarmee gewen het.
Met haar sterk stem het sy die Boland vol gesing op verhoë op plase, op skoolkonserte en in kerksale waar sy skoon vergeet het van haar kruppel been.
Maar daar was ook die talle kere dat sy hospitaal toe moes gaan vir nóg ’n beenoperasie.
’n Hartseertyd wat Marlene net nog meer vasbeslote gemaak het om haar nie deur haar been te laat onderkry nie, was toe die kerk ’n operette opgevoer het en sy nie die hoofrol gekry het nie. Sy het gehoor hoe daar gesê word iemand met ’n been soos hare sou nie op die verhoog deug nie.
Daarom moes sy agter die verhoog sing om die hoofsanger se stem te versterk.
Haar ma was woedend, maar sy het besluit om wel te sing.
‘‘Ek het geleer ná hartseer kom daar altyd weer geluk,’’ sê Marlene. En later daardie jaar het sy toe ’n goue medalje vir sang op die eisteddfod gewen.
Ná matriek het sy ’n B.Mus.- en ’n B.Ed.-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal.
En daar was geen keer aan haar meer nie. ‘‘Ek het geleer om my loopyster en lelike skoene my persoonlike handelsmerk te maak en nie skaam gekry om hard te lag nie.’’
Haar borrelende persoonlikheid het mans bekoor, maar Simeon George (46) was die een wat haar hart gesteel het en met haar getroud is.
Simeon, hoofdirekteur by gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, is steeds aan haar sy nadat hulle saam ook deur diep waters is. Eers het Marlene ’n gewas op haar brein gekry en toe sy oorleef, het die dokters gesê sy sal nooit swanger raak nie, maar Aimee is vandag twaalf jaar oud.
Hul sewejarige seuntjie, Adam, is verstandelik en liggaamlik gestrem.
‘‘Hy is die pragtigste din-getjie,’’ sê Marlene. ‘‘Hy word elke oggend met ’n glimlag wakker.
Ek wil hom net heeltyd druk.’’
Toe vloei die trane tog oor haar blinde seuntjie met die verstand van ’n maand oue baba, maar blitsig glimlag sy tog en vertel hoeveel sy het om oor gelukkig te wees. Twee verpleegsters versorg Adam tuis.
Marlene se foon lui. ‘‘Weet jy hoeveel probleme ander mense het?’’ vra sy toe sy klaar gesels het. ‘‘Dit was ’n ma wie se plakkershuis gister afgebrand het en ek wil goed by haar gaan aflewer.
‘‘Ek leef nie buite konteks nie,’’ verduidelik sy. ‘‘Daar is duisende mense wat nie kos het om te eet nie; ma’s met siek of gestremde kinders en geen ondersteuning nie.
‘‘Verstaan jy nou waarom ek so gelukkig is? Want ek weet hoe geseën ek en my gesin is en dat ons nog elke dag kan lag en dans.’’
• Die tentoonstelling in Pretoria, wat ook in braille is, duur tot 3 Desember en is van 5 Februarie tot einde Maart by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl.

Deur: Lucia Swart-Walters en Danél Blaauw
NEGE jaar lank het sy haar uitgehou as sy lewensmaat – ten koste van haar eie verdere opleiding ná skool. Sy het hom gehelp met sy optredes, en sy was beskikbaar om saam met hom te gaan waar en wanneer hy ook al wou.
En al was sy die derde party in die verhouding, het sy bly glo sy sal dalk eendag met haar minnaar voor die kansel staan. Want hy het haar laat verstaan sy huwelik is net ’n front, hy gaan sy vrou los . . .
So het die hof onlangs gehoor in die stryd tussen die fiksheidsinstrukteur Janine van der Vyver en die sanger Steve Hofmeyr in die Johannesburgse hooggeregshof.
Janine en Steve het meer as nege jaar ’n verhouding gehad voor en terwyl die sanger met die aktrise Natasha Sutherland getroud was. Die egpaar het onlangs aangekondig hulle gaan skei.
Die petite Janine het twee eise teen Steve ingestel: een van R350 000 omdat hy af-brekend na hul verhouding as ‘‘popster-afleiding’’ verwys het, en een vir kontrakbreuk. Laasgenoemde, van meer as R1,5 miljoen, is gegrond op ’n ooreenkoms wat hulle volgens Janine aangegaan het waarin Steve onderneem het om vir haar ’n huis te koop en maandelikse finansiële bydraes te gee.
Hy het glo ook gesê hy sou vir haar geld gee sodat sy haar eie fiksheidsateljee kan oprig en ’n motor koop. Anneline Swart-Snijmann, haar prokureur, sê een van die min beloftes wat gerealiseer het, was R100 000 vir die motor.
Steve se prokureurs voer aan Janine het g’n voet om op te staan nie omdat sy geweet het hy is getroud, en hulle het beswaar teen die saak aangeteken. Nou moet die hof besluit of Janine inderdaad ’n saak het. Waarnemende regter George Bizos het op 3 November na albei se regspanne geluister en sal teen 17 November sê of Janine met die dagvaarding kan voortgaan of nie.
Regskenners, en sekerlik ook menige mens in dieselfde bootjie as wat Janine was, wag nou in spanning om te hoor hoe verloop die jong vrou se poging om haar gewese minnaar te dagvaar.
Want slaag haar aansoek, kan dit die weg baan vir ’n derde party in ’n verhouding om ’n getroude man of vrou vir kontrakbreuk te dagvaar. En dit sal beteken daardie soet woordjies wat so maklik in ’n skelmpie se oor gefluister word, kan dalk eindelik ’n pynlike duik in menige bankrekening laat . . .
REGSKENNERS meen daar is wel ’n kans dat so ’n eis kan slaag. Maar hulle voeg vinnig by dat dit ’n grys gebied is en dat alles op bewyse neerkom.
Martin-Dean Hayward, ’n Pretoriase prokureur, sê die goue woord in so ’n saak bly: ooreenkoms. Dit is juis hier waar die probleme insluip.
’n Ooreenkoms word gesluit wanneer twee mense, soos ’n getroude en sy of haar minnaar, tot iets instem. So ’n ooreenkoms kan skriftelik of mondelings wees. En verkullers, wees gewaarsku – ’n informele e-pos en selfs ’n gewone SMS kan as ’n skriftelike bewysstuk tel.
As dit nie op skrif is nie, moet die eisers getuies in die hof oproep om hul mondelinge bewerings te staaf. ‘‘‘Dit is dan die regter wat moet besluit of die getuienis geloofwaardig is en of jy ’n saak teen iemand kan maak,’’ sê Martin-Dean.
Janneke Victor, ’n Kaapse prokureur, meen ’n derde party se eis sal moeilik slaag. ‘‘Jy kan wel twintig jaar lank ’n verhouding met ’n getroude man hê, maar as jy nie bewyse het van ’n ooreenkoms wat julle aangegaan het dat hy vir jou geld sal gee nie, kan jy nie ’n saak teen hom maak nie.
‘‘Dit is soms moeilik om iets te bewys soos dat die persoon by jou die verwagting geskep het dat hy jou sal onderhou. Maar as jy kan, is daar niks wat jou daarvan weerhou om die persoon te dagvaar nie.’’
En enige ooreenkoms is afdwingbaar as jy dit kan bewys en dit wel ’n geldige ooreenkoms is, sê Martin-Dean, selfs al belowe jy vir iemand ’n appel. Nie dat dit beteken jy kan elkeen van jou gewese minnaars nou hof toe sleep nie. ‘‘As jy net een nag saam met ’n getroude man slaap en hy belowe jou ’n huis en ’n motor, maar hy los jou die volgende oggend, gaan jy daardie belofte baie moeilik bewys.’’
Wat Janine se saak interessant maak, is dat sy dagvaar op grond van ’n ooreenkoms en vir al die jare wat sy ’n gebrek aan inkomste gely het omdat sy altyd reggestaan het om saam met Steve te toer en na sy konserte te gaan, sê Martin-Dean. ‘‘Maar sy sal moet kan bewys dat hy by haar die verwagting geskep het dat sy daarvoor vergoed sal word.’’
Argumente dat ’n vrou in ’n ‘‘immorele’’ verhouding nie kan verwag dat die regstelsel haar ondersteun nie, hou vandag dalk nie meer steek nie.
Regter Bizos het self toe hy uitspraak voorbehou het, gesê: ‘‘Ons leef in die 21ste eeu.’’ En onder meer gevra of Janine, wat ‘‘alles vir die liefde gedoen het, dan op niks geregtig is nie’’.
Ter illustrasie het hy gesê gestel ’n getroude man beseer hom en neem ’n verpleegster in diens en hulle raak verlief. Beteken dit die verpleegster is nie geregtig op ’n salaris nie omdat hulle in ’n verhouding is? Regter Bizos het dit ook andersom gestel: Gestel ’n getroude man en ’n verpleegster het ’n verhouding en hy doen dan ’n besering op. Beteken dit die verpleegster moet hom verniet versorg bloot omdat daar liefde betrokke is?
Martin-Dean meen die samelewing se morele waardes speel tog ’n rol in sulke eise, maar dat norme verander het. ‘‘ ’n Affair bly ’n skok vir mense in ’n verhouding, maar sedelike waardes is beslis nie meer wat dit was nie.’’
Waar mense in die verlede dalk nie so openlik oor affairs gepraat het nie, word dit deesdae meer algemeen bespreek, sê prof. Ria Smit, ’n sosioloog aan die Universiteit van Johannesburg. “Maar dit beteken nie mense aanvaar dit nie,” sê sy. “Dis een ding om van Steve se affair te lees, maar ’n ander storie as dit jou persoonlike lewe raak. In die persoonlike kring word daar nog oor ’n affair gefrons en word dit nie verduur nie.”
Mense is konserwatief in die gesinsverband en hier het die grense in die samelewing nog nie verskuif nie. Regtens kan dit dalk sin maak dat die derde party op regte wil aandring, veral as hulle soos in Janine se geval voel hulle het in ’n verhouding belê. Maar in die algemeen is mense nie verdraagsaam wanneer ’n derde party inbreuk maak op ’n vaste verhouding nie.
Jeanette Blom-Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, meen egter dit is bitter gevaarlik om te sê die samelewing is vandag meer verdraagsaam teenoor affairs as tien of twintig jaar gelede. Sy sou wel sê die publiek is minder afkerig van bekendes se affairs.
Vanweë blootstelling aan televisie en die internet kan dit wel wees dat mense toenemend begin glo affairs kom meer algemeen voor. Mense is nie meer so verras deur die verskynsel nie.
‘‘Jy sien dit immers in elke sepie en lees dit oral,’’ sê sy.
Sy sien ook meer mense met buite-egtelike verhoudings in haar praktyk as tevore, sê sy, en dit is dus wel waar dat dit waarskynlik ook onder gewone mense toeneem.
Maar beteken dit affairs is al so ingeburger in ons samelewing dat die hof mense binne so ’n opset sal beskerm? Daaroor moet regter Bizos nou besluit.
En watter kant toe hy ook al uitspraak lewer, daar gaan sterk gevoelens wees.
AS JY die derde party in ’n verhouding is en jy meen jy is om die bos gelei met vals beloftes, is dit belangrik dat jy alle moontlike bewyse kry van watter beloftes ook al aan jou gemaak is. Janneke sê veral beloftes oor eiendom moet liefs op skrif aangevra word. Dit kan sommer ook ’n toets vir jou verhouding wees . . .
‘‘Die uitspraak in Janine se saak sal dalk die weg baan vir soortgelyke gedinge en dit makliker maak dat ander sake slaag, maar dit bly ingewikkeld,’’ waarsku sy.
Maar as jy bereid is om ’n affair aan te knoop, moet jy die gevolge daarvan dra, sê Janneke. ‘‘As jy jou uitgee vir ’n toffie, moet jy bereid wees om gekou te word.’’ Dit is nie ’n goeie idee om met ‘‘vuil hande hof toe te gaan nie’’, sê Martin-Dean. ‘‘As jy vir jare ’n verhouding het met ’n getroude man, sal die hof jou dalk minder simpatiek wees.’’
’n Eis kan jou duur te staan kom, sê hy. ‘‘Dit kos baie geld en kan ’n uitgerekte storie word.’’ Om nie te praat van die emosionele eise nie . . .

Deur: Danél Blaauw
DIE dokter lyk nie soos ’n ou wat hou van baklei nie. En hy is ook nie, maar wanneer dit gaan oor lewe en dood en pasiënte se reg op behandeling, wyk hy geen duim vir enigiemand nie.
Dit is dié houding wat Malcolm Naudé (34) ses jaar gelede sy werk by ’n staatshospitaal in Mpumalanga gekos het omdat hy antiretrovirale middels vir vigspasiënte voorgeskryf het. En bly voorskryf het, ook toe die LUR van destyds daaroor gegrom het.
Ses lang jare het hy geveg om sy naam in ere te herstel en te bewys: Hy was reg, hulle was verkeerd. En nou, met ’n uitspraak in die arbeidshof laat verlede maand, het hy dit eindelik reggekry.
Op 21 Oktober het die arbeidshof in Johannesburg hom gelyk gegee en nou moet die departement skadevergoeding van R100 000 aan Malcolm betaal omdat hy onbillik uit sy pos ontslaan is.
En wat gaan die dokter met die geld doen wat nou na sy kant toe kom? ’n Beurs vir ’n regstudent of verpleegster beskikbaar stel sodat hulle daarin kan spesialiseer om verkragtingslagoffers te help.
TOE Malcolm sewe jaar gelede verpligte gemeenskapsdiens by die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit gedoen het, was antiretrovirale middels net beskikbaar vir dokters of personeel wat per ongeluk met ’n naald geprik is.
Dit was vir hom onaanvaarbaar, en die keuse was voor die hand liggend toe hy sy eerste verkragtingslagoffer behandel het. Hy het alle pasiënte as gelyk geag en kon nie toesien dat ’n dokter voorkeurbehandeling bo ’n verkragte vrou of kind kry nie.
Destyds was hy positief oor die veranderings wat in die land en die gesondheidsektor aan die gebeur was. Hy het geglo die regte mense was in die regte poste en kon ’n verskil in die land maak. Rob Ferreira was toe een van die vyf voorste staatshospitale in die land en die enigste wat ’n wins getoon het.
‘‘Ek was nooit ’n politieke aktivis nie, maar ek was bewus van dinge in die verlede wat verkeerd was en reggestel moes word,’’ sê hy.
Die eerste maand in die hospitaal het hy weeklik verkragtingslagoffers gesien. Om te voorkom dat hulle ‘‘deur die krake val’’ en die nodige aandag kry, het hy die destydse superintendent, dr. Thys von Mollendorf*, gaan spreek. Hulle het besluit om die hulp in te roep van die Greater Nelspruit Rape Intervention Project (Grip), ’n organisasie wat slagoffers steun bied en saam met die polisie en maatskaplike werkers werk.
Grip het toe uit ’n spreek kamer in die hospitaal begin werk waar hulle seker gemaak het verkragtingslagoffers wag nie ure lank tussen gewone pasiënte vir behandeling nie, kry berading, dien ’n klag by die polisie in en kom weer vir opvolgbesoeke.
Die organisasie het ook toegesien dat die slagoffers ingelig is oor teenvigsmedisyne en die middels kry, danksy ’n fonds wat Grip met privaat hulp op die been gebring het om vir die middels te betaal.
‘‘Dit het die staat niks gekos nie,’’ vertel Malcolm. ‘‘Die dokters het dit voorgeskryf en ’n apteek in die dorp het die medisyne verskaf.’’
Vyf maande lank het alles vlot verloop, tot die plaaslike LUR van destyds, Sibongile Manana, daarvan te hore gekom het. ‘‘Sy was omgekrap en het gesê dis nie die departement se beleid om antiretrovirale medisyne voor te skryf nie.’’
Maar Malcolm sou nie wyk van sy standpunt dat die middels gratis vir alle verkragting-slagoffers by staatshospitale beskikbaar moet wees nie. ‘‘Dit was ’n beginselsaak. Ek het geveg vir dokters se reg om teen hul werkgewers op te staan en ook die beste behandeling vir hul pasiënte te gee.’’
In Februarie 2002 is Grip letterlik een oggend uit die hospitaal gegooi en hul ondersteuningsnetwerk was daarmee heen.
Intussen het Malcolm aansoek gedoen om ses maande onbetaalde verlof om in Engeland te gaan werk, en ook om ’n pos as junior mediese beampte by die hospitaal by sy terugkeer. Alles is telefonies goedgekeur en hy is middel Junie Engeland toe.
Intussen is Grip hof toe om sy uitsetting uit die hospitaal te beveg, en een van die dokumente wat die organisasie daar ingedien het, was ’n verklaring wat Malcolm oor Grip se werk onderteken het. ‘‘Ek het gesê ek ondersteun hulle en dis teen die etiese kode om teenvigsmedisyne van pasiënte te weerhou.’’
En toe die skok: Een oggend het hy uit die bloute ’n e-pos van ’n vriendin by Grip gekry waarin sy sê sy is jammer om van sy afdanking te hoor. Ná maande se gesukkel om te hoor wat aan die gang is, het hy eindelik amptelik verneem sy kon trak is nie hernu nie.
Hy het sy saak by die openbare sektor se bedingingsraad gestel. ‘‘Daar was baie struikelblokke en die saak is gedurig uitgestel, maar uiteindelik het hulle besluit hulle is nie by magte om oor die saak te besluit nie.’’
Toe is hy na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, en ná jare van oponthoud het die kommissie tot dieselfde slotsom gekom. Die saak is toe na die arbeidshof verwys. Einde verlede jaar is ’n verhoordatum vasgestel.
‘‘Ek het aangehou omdat ek gemeen het ek het ’n waterdigte saak,’’ vertel Malcolm. Die arbeidshof het saamgestem en ná ’n stryd van ses jaar eindelik ten gunste van hom beslis.
SEDERT sy afdanking het Malcolm by tye maande aaneen in Engeland gewerk. As die verlange na sy familie in Pretoria te veel geword het, het hy weer tydelik hier kom werk.
Twee jaar gelede het hy besluit om permanent huis toe te kom en sedertdien werk hy deeltyds by verskeie hospitale in Pretoria en Johannesburg, en deesdae by die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria.
‘‘Ek het nog nie weer ’n vaste pos aanvaar nie, want ek wil in oogheelkunde spesialiseer, maar die poste is skaars,’’ sê hy.
As hy voor dieselfde keuse gestel sou word, sal hy weer veg vir dokters se regte om inmenging van die gesondheidsdepartement teen te staan.
‘‘Enige pasiënt is daarop geregtig om sy behandeling te kies en ’n dokter kan nie toelaat dat die werkgewer hiermee inmeng nie. Dit gaan nie oor wat beter vir die hospitaal is nie. As ’n mens vir die pasiënt ’n keuse kan bied, behoort die pasiënt dit te kry.
‘‘As ek gekies het om dit nie te doen nie, sou my lewe dalk makliker gewees het. Maar dit het nou voor my deur kom staan. Enigeen sou dieselfde as ek gedoen het.
‘‘Dalk maak dit die weg makliker vir dokters wat ooit weer in my situasie is.’’
* Thys is in 2001 deur die LUR afgedank omdat hy antiretrovirale medisyne aan pasiënte bly voorskryf en geweier het om Grip uit die hospitaal te skop. Hy het later sy saak teen die departement buite die hof geskik, maar wag nog op vergoeding. In 2005 is hy vir sy werk met MIV/vigs-pasiënte en sy etiese optrede deur die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging vereer.

Deur: Lucia Swart-Walters
DIT het alles begin met ’n enkele SMS van ’n vreemde nommer. ‘‘Jy’s ’n godin,’’ het sy daar op die skermpie gelees...
Sy het nie geweet van wie dit kom nie, en toe sy vra, kom die antwoord: Steve. ‘‘Ek het geskryf: Steve wie?’’ En nou sal sy Steve Hofmeyr nooit kan vergeet nie.
In haar werkklere lyk die 24-jarige Nelmari Kruger onopvallend. Maar wanneer sy in ’n denim en wit toppie glip, sien jy die godin wat die bekendste sanger in die land se oog destyds gevang het.
Dit was in 2005, en die meisie wat deesdae ’n stemmige krediteureklerk in Bloemfontein is, was toe nog ’n danser wat soms saam met die sanger Amor Vittone opgetree het. Dit was by een so ’n geleentheid, met Steve in die gehoor, dat daardie lyfie, die sensuele dansbewegings op die verhoog, ’n snaar by die sanger gepluk het...
Toe Nelmari haar weer kom kry, bel die bekende musiekpromotor Louis van Wyk:
Steve wil haar in sy vertoning gebruik; stel sy belang?
’n Ontmoeting is gereël, en enkele dae later flits die SMS op haar skerm. Kort voor lank het alle weerstand wat die 21-jarige danseressie dalk nog teen dié veertigjarige getroude man gehad het, soos mis voor die son voor sy sjarme verdamp.
Dis drie jaar later, en Nel-mari kan steeds nie glo sy het vier maande lank ’n vuurwarm verhouding met Steve Hofmeyr gehad nie... Dit terwyl hy in daardie tyd ook met ’n ander vrou, die Pretoriase fiksheids-instrukteur Janine van der Vyver, ’n buite-egtelike verhouding gehad het.
HAAR werk hier by die apteekgroep is nie soos dit moet wees nie, sê sy bekommerd.
Sedert ’n berig oor haar en die sanger in ’n Sondagkoerant verskyn het, fluister mense in die gange oor Steve se ‘‘ander skelmpie’’.
Sy was maar elf jaar oud toe sy hom vir die eerste keer by ’n konsert hoor sing het, maar hy was vir haar net ‘‘nog ’n sanger. Ek het nooit ’n obsessie oor hom gehad soos van my vriende nie. Ek het nooit sy CD’s gekoop of ’n plakkaat van hom in my kamer gehang nie’’.
Nelmari het op sestien saam met Amor begin optree. Ná skool het sy by ’n dansskool in Pretoria aangesluit waar sy les gegee het. Op negentien was sy een van die Blue Bulls Babes, en op 21 het haar paadjie met dié van Steve gekruis.
‘‘Louis was toe nog Amor en Steve se agent en hy het gesê Steve wil my en een van die ander dansers in sy vertonings gebruik,’’ vertel Nelmari. Hulle het mekaar by Louis se huis ontmoet. ‘‘Dit was so einde Mei 2005. Ek het niks spesifieks van hom gedink nie. Dit was maar net Steve.’’
Maar hy het vir haar begin SMS’e stuur, en nadat sy die volgende maand by sy Platinum Treffers-vertoning in Sun City gedans het, het hy haar eendag ge-SMS en gevra dat sy hom op ’n parkeerterrein in Pretoria kry.
Nelmari het haar motor in die parkade van die Menlyn-
inkopiesentrum parkeer en Steve het haar op sy motorfiets kom oplaai. ‘‘Ons het nie eintlik gepraat nie. Hy het net na die heel boonste vlak van die parkade gery en met my gevry dat my knieë lam geword het. Toe gaan laai hy my weer af.’’
Dit was baie opwindend, sê sy. ‘‘?’n Week of wat later het hy ge-SMS dat ek my kar op ’n sekere plek moet los en hom daar moet ontmoet.’’
Steve het haar weer by ’n parkeerterrein opgelaai en met haar na ’n veld daar naby gery. ‘‘Dit was die eerste keer dat ons seks gehad het. Net daar op die grond in die veld. Ek het nou nog die brandmerke op my kuit waar die motorfiets se uitlaatpyp my gebrand het. Dit het nou al vervaag, maar dit sal my altyd aan hom laat dink.’’
Min het sy geweet dit was dié dag sy sewende huweliksherdenking.
Toe hy haar na die parkeerterrein terugneem, het ’n vrou ’n entjie van hulle af gestaan. ‘‘Steve het nog sy valhelm gedra, maar sy het geweet dis hy. ‘Jy is nie die enigste een nie,’ het sy na my geroep. Ek het dit nie verstaan nie, maar verlede jaar kon ek vir die eer ste keer ’n naam by die gesig sit.’’
Dit was Janine met wie hy ’n jare lange buite-egtelike verhouding gehad het. Nelmari se volgende ontmoeting met Steve was by die City Lodge in Centurion – hy het vir haar ’n kamernommer en ’n tyd laat weet en haar gevra om hom daar te kry.
‘‘Wanneer ek nie by hom was nie,’’ sê sy nou, ‘‘het ek besef dit is verkeerd en het ek skuldig gevoel, maar saam met hom was dit wonderlik. Sy SMS’e was so mooi. Hy is baie goed met woorde en baie sjarmant. Hy weet wat hy wil hê en hoe om dit te kry. Hy het my altyd vreeslik gekomplimenteer met my lyf en hoe ek lyk. Dit was lekker om gewaardeer te voel.’’
Hulle het daarna selfs eendag in die ateljee van die huis wat Steve steeds deel met sy vrou, Natasha, seks gehad.
‘‘Hy het nooit met my oor sy vrou gepraat nie,’’ vertel sy. ‘‘Hy het altyd net gesê alles is oukei en ek moet dit stilhou, niemand mag weet nie.’’
In Oktober van daardie jaar het Nelmari na Bloemfontein verhuis. Toe Steve in dieselfde maand daar kom optree, het hy haar ge-SMS. ‘‘Hy het my gevra om saam met hom na sy hotelkamer te gaan. Dit was die laaste keer dat ons saam was.’’
Toe sy daar weg is, het sy goedkoop en gebruik gevoel. Sy en Steve het nooit koffie gaan drink of saam na ’n openbare plek gegaan nie. ‘‘Hy het nooit vir my briewe geskryf of geskenke gegee nie. Dit was net seks en ek het besef ek moet dit stop. Ek het ook skuldig gevoel teenoor sy vrou en kinders.’’
En eenkeer was sy selfs bang vir ’n swangerskap, want hulle het nie voorsorg getref nie.
Dit was nie vir haar moeilik om dit te laat vaar nie. ‘‘Ek was nie verlief op hom nie; dit was meer die opwinding en die feit dat hy my so spesiaal laat voel het,’’ sê sy.
Ja, sy het geweet dit is verkeerd, maar hoe kon sy nee sê vir iemand wat haar op 21 soos die mooiste en spesiaalste mens op aarde laat voel het? vra sy hartseer.
Steve het haar daarna net een of twee keer ge-SMS, maar sy het dit geïgnoreer. ‘‘Dit het vinnig doodgeloop. Ek moes saamleef met my gewete. Ek wou hê hy moes my vergeet.’’
En Steve het haar vergeet. Dermate dat sy nie eens genoem word in sy biografie, Mense van My Asem, wat nou op die rakke is nie.
NOU, met al die publisiteit, is die vernedering weer daar. En die mense fluister by die werk.
‘‘Dit is erg. Ek weet ek was nie onskuldig nie, maar ek was jonk. Steve wil baie vroue hê en hy gebruik sy mag en gewildheid om hulle te kry. Ek het hoeveel keer gedink Steve is oud genoeg om my pa te wees, maar nie wanneer ek by hom was nie.’’
Haar ouers is teleurgesteld, sê sy. ‘‘Ek het hulle seergemaak, maar hulle is baie ondersteunend en verwyt my nie.’’
Sy wil ander meisies waarsku om nie in dieselfde strik te trap nie. ‘‘Selfs al is iemand hoe gewild en hoe sjarmant, is dit nie die moeite werd nie. Veral nie as hulle getroud is nie. Dit gaan nie oor jóú nie, selfs al laat hulle jou so voel.’’
Vir Natasha wil sy verskoning vra. ‘‘Ek is jammer ek het dit gedoen. Ek moes nie. Ek verstaan regtig nie hoe sy ná alles steeds by hom bly nie.’’
Vir Steve het sy niks te sê nie. ‘‘Hy het my nie gebreek nie. Ek is bly ek kon wegbreek. Steve was nie my einde nie.’’

Deur Michelle Silva
DIE foto van die twee met die geskeerde koppe lyk soos enige pa en seun wat dalk bloot besluit het kaalkop is die beste vir die somer.
Maar kyk stip en jy sien die ouer man lyk bleek, met donker kringe onder sy oë, en die een oog lyk dof.
Dit is die gesig van ’n man wat ’n dapper stryd teen kanker gevoer en dit oorwin het. Maar die pad wat hy geloop het, was nie een wat hy met baie ander mans sou kon deel nie.
As Hein Immelman (43) oor sy siekte wou praat, sou hy trouens beter gesel¬skap onder die vroue in die onkoloog se spreek-
kamer gevind het. Want sy genesing was danksy ’n mastektomie...
TOE die prokureur van Pretoria een oggend ’n harde knop in sy bors voel, het hy niks daarvan gedink nie, veral omdat dit nie seer was nie. Maar sy tepel het ál harder geword en nou en dan was dit rooi.
Eers drie maande later, in Februarie verlede jaar, het sy vrou hom oorreed om na sy huisdokter te gaan. Hy is na ’n spesialis verwys, maar het nooit gegaan nie. ‘‘Ek het met so baie mense gepraat en die meeste het gesê die knoppie is normaal en dalk net hormonaal. Ek was glad nie bekommerd nie,’’ vertel hy.
’n Maand later het Carin (42) daarop aangedring dat hy ’n spesialis gaan spreek omdat sy tepel toe al kliphard was en begin swel het. Die spesialis het ’n biopsie gedoen en dadelik gesê hy vermoed dit is borskanker. Die toetsuitslae het dit twee dae later bevestig.
‘‘Ek was stomgeslaan en het vir die eerste keer geskrik,’’ sê Hein.
Carin vertel hy was die naweek voor die toetsuitslag nie homself nie. ‘‘Hein het nie vir my gesê die dokter vermoed dis borskanker nie. Ek kon sien hy is onrustig en iets pla. Hy het byna die hele tyd geslaap, iets wat hy nooit doen nie.’’
Toe hy die dokter die Maandagoggend bel vir die finale uitslag, is hy aangesê om al sy afsprake te kanselleer sodat hy teen die Donderdag ’n mastektomie kon ondergaan.
‘‘Dis nogal vreemd, want ek is juis die een wat elke jaar sedert ek dertig is vir ’n mammogram gaan en twee kankerpolisse het, juis omdat my ma en Hein se ma borskanker gehad het,’’ sê Carin.
Die nuus was nie goed nie. Die dokters het vir Hein gesê mans met borskanker het net ’n kans van 50 persent om te oorleef, omdat hulle nie so baie weefsel soos vroue het nie en die kanker dus gouer na omliggende dele kan versprei.
‘‘ ’n Mens glo mos maar jy gaan vir ewig leef en die laaste ding wat ek verwag het, was borskanker. Ek raak nie eens siek nie. Net so nou en dan kry ek ’n verkoue,’’ vertel Hein.
Hy het wel twee jaar gelede ’n knoppie op sy ooglid opgemerk, en toe dit uitgesny is, was dit kwaardaardig. ’n Soortgelyke knoppie het onlangs weer op sy ooglid begin groei. Dit is ook verwyder en was weer kankeragtig.
Met die mastektomie op 8 Maart verlede jaar het dokters agtergekom die kanker het reeds na die kliere onder die arm versprei. Twaalf kliere is verwyder.
‘‘Alles het so vinnig gebeur dat die werklikheid eers later by my ingesink het,’’ vertel Hein. ‘‘Maar ek dink die fisieke en emosionele impak wat ’n mastektomie vir ’n man inhou, is nie so groot soos vir ’n vrou nie. My grootste bekommernis was dat die kanker na my ander organe versprei het.’’
Ná verskeie toetse is vasgestel die kanker het nie verder versprei nie, maar chemoterapie het steeds vir Hein voorgelê. Hy moes ses behandelings kry, elke keer drie weke uitmekaar.
‘‘Ek het altyd op ’n Vrydag-oggend gegaan. Die middag het ek nog goed gevoel, maar teen die aand was ek baie naar en moeg. Ek het die hele naweek maar sleg gevoel. Teen die Maandag was ek terug by die werk, maar eers teen die Donderdag het ek weer mens begin voel. Twee weke later het alles weer van voor af begin.’’
Toe Hein se hare begin uitval, het hulle besluit dit is die beste om alles af te skeer. ‘‘Ons seuntjie, Heinrich, wat toe omtrent twee was, het daarop aangedring om soos sy pappa te lyk,’’ vertel Carin. ‘‘Ek het eers geweier, maar hy het so erg gehuil dat ek sy tannie wat ’n haarkapper is, gebel het en gevra het om sy hare te kom sny.’’
Sy het probeer sterk wees en wou nie vir haar man wys sy is bang hy gaan dood nie. Hein het altyd saam met sy seuntjie rugby gespeel en trampolien gespring, dinge wat Carin nou moes oorneem omdat hy te siek gevoel het.
Ná die chemoterapie het hy ook vir twintig daaglikse sessies radioterapie gegaan. Sedertdien is hy kankervry. Benewens Hein se ma het nog twee van haar vier susters borskanker gehad.
Hy sê mans moet daarvan bewus gemaak word dat borskanker nie net tot vroue beperk is nie. ‘‘Alle mans met wie ek al gepraat het, sê hulle het nie gedink dis moontlik vir mans om borskanker te kry nie.’’
Hy het gedurende sy siekte ook ligter oomblikke beleef, soos die keer toe een van sy vroue-kliënte by hom wou weet wat fout was. Toe Hein vir haar sê hy het ’n mastektomie gehad, het sy dit met ’n vasektomie verwar en gesê: ‘‘O tog, dan kan jy nooit weer kinders kry nie.’’
BORSKANKER by mans is nie baie algemeen nie – minder as 1 persent van alle gevalle kom by mans voor, maar as jou ouers, grootouers of broers of susters slagoffers was, het jy ’n verhoogde risiko. Hoe gouer dit gediagnoseer word, hoe beter is jou kans op oorlewing, sê dr. Adolf du Plessis, ’n chirurg van Pretoria.
‘‘In die praktyk sien ons net omtrent een so ’n geval per jaar,’’ sê hy.
Mans het nie borste soos vroue nie, maar agter die manlike tepel is daar wel borsweefsel. Dit ontwikkel nie omdat mans nie vroulike hormone het nie.
Wanneer mans ’n mastektomie ondergaan, is dit dieselfde prosedure as by ’n vrou, en word die weefsel tussen die vel en die spier en agter die tepel verwyder. Meestal word omliggende kliere by mans ook verwyder omdat dit die eerste plek is waarheen die kanker versprei.
Die sny by mans en vroue is dieselfde – ’n dwarssnit van die middel van die borsbeen tot by die armholte. By mans versprei die kanker makliker na omliggende limfvate, limfkliere en bloedvate. By vroue dien die borsweefsel as ’n buffer voor die kanker die spier en omliggende weefsel infiltreer.
Adolf sê dit is nie nodig dat mans soos vroue gereeld vir ’n mammogram gaan nie. Dit is wel belangrik dat mans hulle gereeld self ondersoek. Dis gewoonlik mans bo sestig wat borskanker kry en dié met ’n familiegeskiedenis daarvan. ‘‘ ’n Selfondersoek kan jou lewe red,’’ sê hy.

Deur Carol Coetzee
VAN die warm en dinamiese Skotse vrou wat honderde besoekers in haar Kaapse gastehuise laat tuis voel het, is net ’n beangste skadu oor.
‘‘Dis nie hoe ek altyd was nie,’’ sê sy verskonend. Dis ook nie die egskeiding self wat dit gedoen het nie. Dis al die hofverskynings en die ewige stryd tussen prokureurs en advokate om die wedstryd te wen.
‘‘En hulle wen almal, net nie julle wat skei en probeer skerm vir jul kind nie.’’
Liz Davis (49) van Houtbaai sê dit nie ligtelik nie, want sy het duur betaal.
Vier jaar en R4 miljoen gesamentlike regskoste later, ná meer as veertig dae in die hof en dalk die duurste egskeidingsgeding tot nog toe in Suid-Afrika, het sy en haar eks, Kevin Davis (45), steeds nie
finansieel geskik nie.
En dit is die verskriklike ironie – ná dit alles sal die skikking waarskynlik nie veel anders wees as die doen-dit-self-kontrak wat sy destyds opgestel en waarmee Kevin ook eers tevrede was nie. En dit sou skaars R1 000 gekos het.
Toe kry hulle stry, Kevin spreek ’n bekende prokureur in Somerset-Wes en die nagmerrie begin.
Sy moes intussen haar gastehuis in Houtbaai en haar eie huis by die see daar verkoop, en het nou met behulp van
’n verband ’n kleiner huis in Houtbaai gekoop. As daar nog regskoste moet wees, sê sy, verloor sy ook dit . . .
NADAT prokureurs op die toneel gekom het, het die gevegte in die hof net nooit tot ’n end gekom nie, sê Liz.
En teen R10 000 per dag vir die prokureur en R20 000 vir ’n advokaat moes sy die een ná die ander van haar bates verkoop. Kevin, erfgenaam van ’n skatryk familie in Engeland, is minder swaar getref.
‘‘Ek het R1,2 miljoen betaal vir hofverrigtinge waar hy toesig oor ons seuntjie wou kry, maar waarna die kind toe tog onder my sorg geplaas is,’’ sê Liz, ’n vrou met ’n meestersgraad wat groot suksesse in die IT-bedryf behaal het.
Toe hul skeisaak daarna in Maart verlede jaar voorkom, kon sy net ’n junior advokaat bekostig. Hul geldsake was onafgehandel, maar die advokaat het gesê sy kan nie anders as om die skeisaak te laat deurgaan nie. Drie maande later was hulle weer in die hof oor finansies, maar omdat daar nog onduidelikheid oor bates was, is die saak tot Desember uitgestel.
In Desember was Liz by die hof met haar tas vol dokumente, gereed om haarself te verteenwoordig, net om te hoor die regter is in die Oos-Kaap en kon dit nie maak nie.
Die saak is tot Junie uitgestel. Liz het nagmerries daaroor begin kry om alleen in die hof te moet staan, en het probeer om weer ’n regspan bymekaar te kry.
Sy moes toe R300 000 as deposito neersit en nog R27 000 opdok vir fotostate – sowat 2 000 bladsye – van die transkripsie van die vorige hofverrigtinge.
Maar toe die nuwe span ook nog R500 000 as verhoortarief vra, kon sy dit eenvoudig nie bybring nie, en die saak is weer uitgestel. Dit moet nou aanstaande maand weer voorkom. Liz sien nie kans vir nog regskoste nie, en gaan nou weer alleen hof toe.
Maar dit alles eis sy tol.
‘‘Ek leef in vrees en het geen krag meer oor nie. Ek was
dinamies; ek het dinge laat gebeur. Ons was arm, maar ek het studeer en in Londen groot kontrakte vir rekenaaropleiding by maatskappye losgeslaan.
‘‘Met die geld wat ek gemaak het, het ek eiendomme gekoop en gastehuise bedryf wat R500 000 per jaar ingebring het.
“Nou is ons in ’n drieslaapkamerhuis wat seker onder my uit verkoop gaan word, en dit alles oor die hofsaak!’’
Huisgenoot het met ’n paar mense gepraat wat ’n peperduur bloutjie met Kevin se prokureur van Somerset-Wes geloop het.
’n Geskeide ma, self ’n prokureur, vertel hoe sy in 1999 na hom is toe sy wou hê die pa van haar dogter moet help met universiteitsgeld.
‘‘My man het R2 000 per maand vir ons twee kinders betaal. Die saak het twee jaar gesloer, waarna die onderhoud tot R2 700 verhoog is.
‘‘Die prokureur het vir my ’n rekening van R22 000 gestuur.
“As ek dit vooraf geweet het, het ek self my saak behartig,’’ sê sy.
Dit het haar jare lank finansieel geknou. Sy moes uiteindelik self vir haar dogter se studie betaal. Haar kind het al begin werk, toe betaal haar ma steeds die prokureur se rekening af.
Ses van die agt geskeides met wie Huisgenoot gepraat het, het vertel hoe hulle by die R100 000 aan regskoste uitgegee het, tot hulle besef het die beste oplossing vir albei partye is om saam na ’n billike oplossing vir elk te soek, pleks van mekaar heeltyd te probeer beveg en verneder.
HOE KAN JY REGSKOSTE BESPAAR?
Vermy die volgende slaggate, sê
Laurie Greyvenstein, ’n gewese landdros wat nou as konsultant in onderhoudsgeskille optree:
Dis goed om ’n skei-spesialis as prokureur aan te stel, maar verneem by ander geskeides wie doeltreffende diens verskaf het.
Wanneer jy jou prokureur aanstel, doen dit skriftelik en met vermelding van die tariewe. Die koste van elke oproep, e-pos, brief, konsultasie, aksie en prosesstuk moet vooraf uiteengesit word. Teken self elke stap aan en vra gedurig na die stand van jou rekening. Hy/sy moet elke maand ’n rekening met die volledige geskiedenis verskaf.
Lees versigtig vir ruwe vooruitskattings soos R300 000. Die prokureur kan jou toets om te kyk of jy sommer tot ’n hoë rekening toestem.
Besluit vooraf wat jy wil hê en moenie alle besluite aan jou prokureur oorlaat nie. Probeer jou eis prakties en eenvoudig saamstel. Wees bereid om te onderhandel om sodoende ’n billike uitkoms vir albei partye te kry.
Wees versigtig vir ’n gedeeltelike skikking waar julle skei en dan byvoorbeeld later die bates verdeel, soos dat jy moet wag vir jou aandeel uit die verkoop van die huis wanneer dit eendag gebeur. Probeer ’n skoon breuk op jou skeidag maak.
Bly op die hoogte van korrespondensie tussen prokureurs om seker te maak alles is tersaaklik en daar word nie onnodig afgedwaal nie. Proku-reurs skryf soms ‘‘dreigbriewe’’ om hul kliënt se veglus te bevredig.
Hul rol is uiteindelik om die proses tussen die strydende partye te fasiliteer.
Begin deur effens meer te vra as wat jy wil hê, dan het jy ruimte om te
onderhandel.
WAT JY NIE MOET DOEN NIE
Moenie jou man se prokureur gebruik om koste te bespaar tensy julle oor alles ooreengekom het nie. Die prokureur kan die party wat sy rekening betaal, bevoordeel.
Moenie sommer die eerste kwo-tasie aanvaar nie. Vergelyk pryse
en vra uit na prokureurs se reputasie. Maak seker jy kan dit bekostig.
Moenie dat uitgawes op ’n persentasie-basis gedeel word soos
60 persent-40 persent vir mediese koste vir die kinders nie. Besluit eerder dat elkeen alleen spesifieke koste betaal.
Moenie ’n kurator – ’n professionele persoon wat aangestel word om besittings te verdeel – gebruik nie. Dit kos net geld, kan jou regskoste verhoog en ontneem jou seggenskap in jou eie sake.
Bepaal ’n vaste persentasie waarmee die onderhoud jaarliks toeneem, pleks van dit byvoorbeeld aan die pa of ma se salarisverhoging te koppel. Laasgenoemde ontlok dikwels were dispuut en dus nog prokureurskoste.
Moenie ’n aanbod om meer onderhoud wat in ’n prokureur se kantoor gemaak word, aanvaar sonder dat dit ’n hofbevel gemaak is nie.
Party prokureurs fasiliteer die verhogingsproses in hul kantoor sonder om die aanbod ’n bevel van die hof te laat maak.
Die pa kan ophou om die verhoogde bedrag te betaal en dan is hy volgens die oorspronklike bevel nie agterstallig nie – wat oneindige praktiese implikasies vir die ma
inhou.

Deur Yvonne Beyers
DIE glimlaggende vrou wat so verlief na hom staar op die vele geraamde foto’s teen die muur, is weg. Nie vir ’n paar dae nie; vir altyd. En die man wat ná hul kortstondige huwelik alleen in die huis vol herinneringe op Hartbeespoort agtergebly het, is tot in sy siel stukkend.
Hy probeer vertel hoe dit alles so onverstaanbaar skeefgeloop het, maar die woorde wil nie kom nie. Of hulle kom in ’n stortvloed, en droog dan net so skielik weer op. Dan sit hy net daar, roerloos, woordeloos, sy hande voor sy mond en sy oë vol trane, minute aaneen.
Die hartseer in die lug is ondraaglik. Dit spoel deur die vertrek en na buite, waar ’n verlate gevoel oor die plaas hang.
‘‘Ek weet nie wat om te sê nie, ek voel so deurmekaar,’’ sê Dozi (42). Hy lyk weerloos en verward, amper asof hy self nie verstaan hoekom sy tweede huwelik op die rotse geloop het nie.
Die sanger het die vorige dag hier op die plaas vir die 23-jarige Muriël gesê hy wil van haar skei. Sedertdien het hy nog nie weer met sy jong vrou gepraat nie.
‘‘Sy het onophoudelik gehuil,’’ vertel hy nou. ‘‘Ek kon dit nie verduur om te sien hoe sy seerkry nie. En toe, lafaard wat ek is, spring ek in die kar en jaag weg. Sy het later van die lughawe af vir my ’n SMS gestuur waarin sy vra: ‘Hoekom het jy weggery?’ ’’
Hy skud sy kop en kyk verslae na sy selfoon. ‘‘Ek het haar ouers nog nie eens gebel nie. Ek weet nie wat om vir hulle te sê nie . . .’’
Dalk moet hy vir hulle sê wat hy later vir ons sê: ‘‘As dinge reguit loop, sal ons mekaar weer vind . . .’’
MURIËL het teruggetrek na haar ouerhuis in Moorreesburg, waar sy en Dozi in Junie verlede jaar voor vierhonderd gaste ewige trou aan mekaar gesweer het.
‘‘Toe sy hier weg is, het sy gesê sy is nog lief vir my. Sy wil nie skei nie. Sy glo die Here het ons bymekaargebring. Ek glo dit ook . . .’’
Sy woorde raak weg – hy is so ontsteld dat hy kort-kort desperaat na jou kyk asof hy hoop jy sal dalk die antwoorde hê waarna hy self soek.
‘‘Die skok is verskriklik. Ek vat hierdie ding erger as die dood van my pa. As iemand doodgaan, weet jy hy’s weg. Jy kan tot siens sê. Maar Muriël is nie weg nie, ek kan die telefoon optel en haar bel.’’
En tog doen die krulkop-reus dit nie. Want wat sê jy vir jou vrou as jy nog lief is vir haar, maar dit onmoontlik geraak het om jou lewe met haar te deel?
‘‘Dit kom eintlik alles van my kant, ek kan glad nie die skuld op haar pak nie. Ek blameer myself. Sy is ’n wonderlike meisie, ek wil niemand anders hê nie. En ek weet sy wil ook nie.
‘‘Ek wil vir berading gaan. Ek wil hê iemand moet vir my verduidelik: Hoekom is ek so alleen? En hoekom wil ek alleen wees?’’
Hy het nie ’n sekonde getwyfel toe hulle getrou het nie. ‘‘Ek kon nie wag nie,’’ sê hy vyftien maande ná die bruilof.
‘‘Maar ons is drie maande ná my pa se dood getroud. Ek was ontsettend na aan my pa, en ek was so verlief dat ek nie besef het ek het nog nie behoorlik oor sy dood getreur nie, ek het nie besef ek gryp na ’n grashalmpie nie. Muriël was die een wat my bygestaan het.’’
Hy weet nou hulle het te vinnig getrou. ‘‘Ons het in Januarie bymekaargekom, en in Junie getrou. As ons dinge oor kon doen, sou ek wou hê ons moet alles stadiger vat. Ons moes nog ’n bietjie gewag het, ons moes eers net pelle gewees het.’’
Want nadat hulle getroud is, het die realiteit van Dozi se roem Muriël heeltemal oorweldig. Die oë van die publiek was heeltyd op hulle en die jong-getroudes kon nooit ontsnap van sy aanhangers nie.
‘‘As ons alleen op die plaas was, was alles wonderlik. Ons het gelag en gesels. Maar ons kon nooit gewone dinge saamdoen nie. Ons sou in ’n restaurant sit en oor hartsdinge praat, dan kom vra iemand ’n handtekening. Ek het twintig jaar gehad om gewoond te raak daaraan; hoe kon ek van haar verwag om dit oornag te doen?’’
Dit was veral die meedoën lose agtervolging van die media wat Muriël onseker laat voel het. ‘‘Kort nadat ons getroud is, was daar ’n berig oor ’n ander vrou wat sê ek het gesê ek gaan met haar trou. Dit was baie swaar vir Muriël.
‘‘Ons het eenmaal in ’n restaurant geëet en sy was gespanne omdat sy tandarts toe moes gaan. Toe huil sy van die senuwees. En die Sondag daarna is daar ’n koerantberig wat sê ons het in die restaurant baklei. Daar was heeltyd sulke goed. Verhoudings is moeilik genoeg vir gewone pare, maar as almal hul neus heeltyd in jou verhouding indruk . . . ’’
Sy vrou het haar geleidelik van hom begin onttrek, sê Dozi. ‘‘Sy het stil geraak en my begin ignoreer. Sy was nie meer haarself nie. En dan het ek kwaad geword en gedink: Maar hoekom is sy dan nie gelukkig nie?
Omdat sy heeltyd so hartseer was, het dit vir my gevoel asof sy verander het. Dit het gevoel asof sy nie meer die meisie is op wie ek verlief geraak het nie.’’
Hy kyk verlangend na die foto’s teen die muur. ‘‘Kyk net daai glimlag. Ek het dit naderhand gemis . . .’’ Dit het hom vyf maande gelede getref dat die sorgelose wittebroodsfase finaal verby is.
‘‘Miskien lê die fout by my. Ek was lank enkellopend, ek het gedoen wat ek wil, wanneer ek wil.’’
Hy beduie om hom. ‘‘Dit is my droom hierdie, dit is my lewe. Dis seker selfsugtig, maar ek wou hê Muriël moet net hier inpas.’’
Hy het ook nooit ruimte gehad om alleen te wees nie, sê Dozi. ‘‘Ons was 24 uur per dag saam, maar ek wou ook tyd alleen hê. ’n Mens moenie iemand versmoor nie. Ek het tyd nodig met net my kitaar.’’
Dan praat hy amper met homself: ‘‘My liefde vir God kom eerste, dan my liefde vir myself, dan my liefde vir musiek, en dan eers my liefde vir my vrou en my kind en my familie.’’
Dozi het ’n elfjarige seun, Storm, uit sy vorige huwelik met die model Tanya Metelerkamp.
Toe die spanning tussen hom en Muriël aan sy loopbaan begin vreet, het hy besef dinge stuur op ’n ramp af. ‘‘ ’n Paar weke gelede het iemand ’n brief vir my agent gestuur waarin hy oor een van my vertonings kla. Dit het nog nooit tevore gebeur nie. En ek kan musiek nie verloor nie, as jy die musiek wegvat, is ek net ’n leë dop. Jy kan alles vat, los net my kitaar.
‘‘Muriël kan my verloor, maar ek kan haar en my loopbaan en my lewe verloor, want musiek is my lewe,’’ sê hy byna smekend.
As kunstenaar wat getap word deur sy veeleisende openbare lewe, is dit vir hom immers nodig om sy batterye weer te laai, tot rus te kom en sy kreatiwiteit uit te leef.
“Ek het tyd op my eie nodig, want ek het ruimte nodig om kreatief te wees,” sê hy.
En ja, erken hy, die ouderdomsverskil van amper twintig jaar het hulle ingehaal. ‘‘Daar was sekere dinge waaroor ek nie met haar kon praat nie. Nie omdat sy nie wou nie, maar net omdat sy jonk is en dit nie ken nie. Ek moes ’n stukkie van myself wegsny.’’
HY SUG en sê saggies: ‘‘Muriël het my nie probeer verander nie, maar ek kon sien die dinge vreet aan haar. Ek is oud genoeg om te weet dit sal haar doodmaak as ons so aangaan.
‘‘Dis hoe ek weet ek is regtig lief vir haar – ek wil haar nie seermaak nie. Ek was vroeër ’n rowwe ou. As ek ’n verhouding verbreek het, sou ek my nommer verander sodat die meisie my nie kan bel nie. Dis anders met Muriël . . .’’
Hy het vier maande lank gewroeg voor hy besluit het om die verhouding te beeïndig. ‘‘Ek het altyd gedink dit gaan beter raak, ons moet net aanhou probeer.
‘‘Muriël het onlangs by haar ouers gaan kuier en toe het ek weer gevoel asof ek kan asemhaal. Ek het haar gemis, maar ek kon nie meer saamleef met die vibe nie. Dit het gevoel asof ek doodgaan. My emosionele energie was op.’’
Terwyl sy in Moorreesburg was, het Dozi alleen Londen toe gevlieg om daar op te tree. ‘‘Ek kon daar vir die eerste keer in ’n lang ruk weer ontspan.’’
En toe hy terugkom, het hy vir Muriël gesê sy moet plaas toe kom sodat hulle kan praat. ‘‘Toe sê ek vir haar dit werk nie, ek dink ons moet maar skei . . .’’
Hy sluk diep. ‘‘Sy het vir my gevra hoekom ek so gou moed opgee, maar ek voel: Óf ’n ding werk óf dit werk nie. Muriël wou graag babas hê en sy wou by mý kinders hê, maar ek het besef kinders maak dinge net moeiliker.’’
Hy raak weer verlore in sy gedagtes. ‘‘Ek wil nie hê sy moet vir my wag nie. As sy iemand ontmoet, moet sy hom vat. Ek wil hê sy moet gelukkig wees.’’
Maar toe gaan hy tog voort: ‘‘Ek wil haar ook nie verloor nie. Ons moet albei eers weer heel word. ‘‘Dit voel op die oomblik vir my asof ek nie verder as my eie hande in die toekoms kan insien nie.
‘‘Dis vir my so verskriklik dat hierdie ding met haar gebeur. Maar ek glo dis God se wil – dit sal haar sterk maak. Ek is ’n gelowige ou. Ek bid kort-kort dat die Here ons sal bystaan, dat hy by Muriël sal wees. Ek is nie kwaad vir die Here oor wat gebeur het nie, en ek is steeds vol hoop. Ek weet dit is nie die einde nie. ‘‘As dinge reguit loop, sal ons mekaar weer vind . . .’’
Muriël het verkies om nie nou met die media te praat nie.

Deur: Yvonne Beyers
HY SKUD nie blad toe hy by die deur instap nie. Hy maak nie oogkontak nie, groet nie eens nie. Met ’n jolige blaffie sê hy net vir die fotograaf om gou eers ’n foto van hom te neem vir sy private gebruik.
Terwyl Julius Malema (27), president van die ANC se jeugliga, met ’n reuse glimlag in die hoek vir foto’s poseer, loer een van sy kollegas by die deur in. Haar gesig is die ene spanning – soos die res van die land het sy pas verneem elf ministers het uit die kabinet bedank.
‘‘Dit maak my senuweeagtig, ek bly ’n Suid-Afrikaanse burger . . .’’ het sy netnou gefluister kort nadat die nuus deur die Jeugliga se kantoor in Lu-thuli-huis in die middestad van Johannesburg versprei het.
Maar hier in sy kantoor in Luthuli-huis steur haar baas hom glad nie aan die skoknuus nie. Hy lyk trouens opgeruimd, asof dinge verloop nes hy dit wou hê.
Want Julius swem stroomop, en hy gee nie ’n bloue duit om dat Suid-Afrika se politieke landskap oornag in ’n wildernis ontaard het nie.
Hy was trouens een van die voorste veghonde in die stryd om Thabo Mbeki uit die presidentstoel te ontsetel, en noudat dit gebeur het, lyk jonge heer Julius soos ’n man wat iets present gekry het waarvoor hy al hoe lank wens.
Nou lê die paadjie oop vir Jacob Zuma om volgende jaar president te word. En Julius beskou die ANC-leier as meer as net sy rolmodel. ‘‘JZ is vir my soos ’n pa-figuur. Ek is lief vir hom,’’ sê hy onomwonde.
‘‘Mbeki moet nou aftree; hy moet gaan boer,’’ voeg hy by.
Dit pla hom nie dat Mbeki uitgeboender is nadat hy langer as vyftig jaar van sy lewe aan die ANC gewy het nie. ‘‘Selfs as jy en jou minnaar al 25 jaar saam is, beteken dit nie julle sal nie skei of mekaar verneuk nie,’’ sê hy. ‘‘Ons is lief vir Mbeki, hy’s ’n goeie leier, maar sy tyd is verby.’’
En ja, benadruk hy, Zuma gaan beslis ná volgende jaar se verkiesing president word. ‘‘Hy kan nie gestop word nie, hy’s
’n Zunami. Moenie in sy pad staan nie; jy sal probleme kry. Jy sal in die slag bly.’’
Julius het vroeër vanjaar aangekondig die jeugliga – dieselfde ouens wat vroeër vanjaar by hul nasionale konferensie hul kaal agterstewes vir mediafotograwe gewys het – sal moor vir Zuma as hy verder weens aanklagte van korrupsie en bedrog vervolg word.
Dit het hom voor die Mense-regtekommissie gaan laat draai, maar die omstrede enigste kind wat gereeld as roekeloos en arrogant beskryf word, sê sonder skroom: ‘‘Ek is oor niks spyt nie.’’
Blykbaar ook nie oor sy eie moontlike foute nie. ‘‘Kritiek ontstel my nie, ek lees nie koerante nie. Ek luister nie daarna nie, ek lag daaroor.’’
HY HOU van whisky, duur Armani-jeans, aksieflieks en die Orlando Pirates-sokkerspan. Hy gaan graag na nagklubs, maar sê hy dans nie vreeslik goed nie. Maar sy lewe word deur die politiek oorheers.
‘‘Daar is nie iets soos Saterdagoggende of naweke nie, daar’s net werk. Ek kuier soms saam met vriende, maar hulle is almal comrades. Ek vind nie aanklank by mense wat nie comrades is nie. Ek luister na Suid-Afrikaanse musiek, maar ek luister nie na Amerikaanse musiek of enigiets wat imperialisme, kolonialisme of indoktrinasie verteenwoordig nie.’’
Die imperialisme pla hom blykbaar. ‘‘Die Skerpioene is in diens van imperiale magte... ons is daarvan oortuig die mense doen verslag aan iemand,’’ het hy vroeër oor die beoogde Skerpioene-wetgewing laat hoor.
As Julius na homself verwys, praat hy meestal nie van ‘‘ek’’ nie, maar eerder van ‘‘ons’’ – eintlik net soos Mbeki...
Hy verval graag in retoriek en verwys kort-kort na ‘‘die revolusie’’, wat glo steeds woed. ‘‘Die revolusie gaan daaroor dat mag van die minderheid na die meerderheid oorgedra word.’’
As hy kon, sou hy die Demokratiese Alliansie van die aarde af vee. ‘‘Dis ’n rassistiese organisasie – dit wen sy stemme in ou Afrikaner-gemeen-skappe. Hulle is reaksionêr en verteenwoordig die apartheid-nalatenskap.’’
Wat bedoel hy met reaksionêr? ‘‘Die DA se belange lê nie by Suid-Afrika nie, dis die belange van die koloniseerders.’’
Hy wei verder uit: ‘‘Die ANC kom voor die regering, altyd. Die belange van die nasie lê in die party. Die ANC moes die enigste party gewees het. Die ANC is demokrasie.’’
Soos hy self sê, hy is van kleintyd ‘‘met propagand gevoer’’.
Hoewel hy klaarblyklik baie ambisieus is, spring hy behendig bo-oor die vraag of hy na die parlement mik. ‘‘Ek sien myself nêrens anders as binne die ANC nie.’’
Hy spog wel skaamteloos oor hoe invloedryk sy organisasie is. ‘‘Elke keer dat hulle praat, moet jy versigtig wees en luister na wat hulle sê, want hulle bepaal die samelewing se agenda.’’
Sy ma, Sarah, was ’n huishulp en hy het by sy ouma Flora in Seshego in Limpopo grootgeword. Sy pa het hy nooit geken nie.
‘‘Dit was moeilik; ek het in ’n arm familie grootgeword. Ek het nie as kind koor gesing of sokker gespeel nie. Ek ken net politiek, ek is ’n politieke dier.’’
Hy het as bogkind by die ANC aangesluit en op veertien militêre opleiding ontvang – so lees jy in meer as een bron op die internet. Eers bevestig hy dit, maar toe jy vra hoe rym militêre opleiding onder ’n ANC-bewind – dit was immers ná 1994 – sê hy nee, hy was so tien of elf.
Maar selfs dan? Nee, dit was nie rêrig militêre opleiding nie, sê hy nou, eintlik is hulle op-gelei om orde te hou by optogte en mense vir wapens deur te soek.
Julius het gr. 7 en toe weer gr. 11 gedruip, maar beklemtoon trots hy’t matriek geslaag. Dit was ouma Flora wat die septer geswaai het en hom telkens uit die moeilikheid moes hou. ‘‘Toe ek op skool was en dinge gedoen het, sou hulle haar bel. Hulle wou my in ’n stadium skors, en sy het toe vir my ba-klei.’’ Hy bel sy ouma steeds elke dag.
Hy is deesdae omring deur die wyse gryses in die ANC, en spog hy weet hoe om met die ouer garde te werk omdat hy tussen hulle grootgeword het. ‘‘Ek weet wat hulle kwaad maak en wat hulle gelukkig maak.’’
En sy grootste mentor bly JZ, sy ‘‘president vir ewig’’.
‘‘Hy lag altyd, sy ore is altyd oop, hy gaan om met gewone mense. Jy sal nooit moeg word vir daai ou man nie, hy’s ’n goeie man.’’
Oor ’n moontlike skeuring in die ANC en die uitwerking wat so iets op die ekonomie kan hê, is hy onversteurd. ‘‘Kom ons hanteer dit as dit gebeur,’’ sê hy oor eersgenoemde, en oor laasgenoemde, soos ’n wafferse ekonoom: ‘‘Die mark is stabiel, dit gee nie om oor individue nie.’’
Net daarna duik die aandelemark omdat Trevor Manuel, minister van finansies, uit die kabinet bedank het...
DIE man wat vir die armes veg, doen dit uit sy blyplek in die Johannesburgse rykmansbuurt Sandton.
Voel hy nie skuldig oor dié weeldelewe nie? Nee, want leiers soos hy moet goed lyk, sê hy.
Eendag wil hy wel terugtrek na Limpopo, ’n stukkie grond koop en met beeste boer.
‘‘Ek wens soms ek was deel van daardie generasie wat die land verander het, maar ons leef nou, ons moet ons eie voetspore laat, ons moenie na-apers wees nie,’’ sê hy.
Hy het nie en soek ook nie ’n lewensmaat nie; sy werk is sy lewe. Sy seuntjie uit ’n vorige verhouding, Ratanang (2), woon by sy ma in Polokwane, en Julius het die kleinding ’n maand laas gesien. ‘‘Ek het onlangs vir hom die verskillende sokkerklubs se hemde gekoop – dié van Chelsea, Manchester United en so aan – Engelse Imperialisme ten spyt. Hy moet self besluit waarvan hy hou.
‘‘Hy’s ’n lieflike seuntjie. Hy lyk soos ek. ’n Mens word sagter elke keer dat jy jou kind sien.’’
Gaan kuier dan baie, baie gereeld, Julius, Suid-Afrika het dit nodig...

Deur Emma Liwela en Mduduzi Ndzingi
DIT is die naweek van die miljoendollar-pokertoernooi en Sun City is bedrywiger as ooit vantevore. Restaurante en kroeë is stampvol en dit is maklik om in die menigte te verdwyn.
Tog kan niemand ’n sekere paartjie in die kroeg van die Sun City Hotel miskyk nie – ’n lenige man met donkerbruin hare en talle tatoes in ’n stywe swart T-hemp en ’n aantreklike jong vrou met lang donker hare in ’n gewaagde swart aandrok. Hulle is klaarblyklik versot op mekaar en kan nie hul oë – of lippe – van mekaar afhou nie.
Die man is Mark Fish, die voormalige Bafana Bafana-verdediger wat ook oorsee as sokkerspeler naam gemaak het toe hy onder meer vir die Britse klub Charlton Athletic gespeel het. Maar die vrou by hom is nie sy modelvrou, Loui, ook ’n donkerkop-skoonheid, nie. Nee, dit is die nuwe liefde in sy lewe, sê hy reguit.
Mark was die afgelope maand gereeld in die nuus. Eers het gewapende inbrekers sy huis in die spogbuurt Mooikloof in Pretoria beroof terwyl Loui en hul oudste seun tuis was (Koelkop-Lukie, Ma se held!, Huisgenoot, 4 September). Daarna het die sokkerheld sy vrou vir ’n egskeiding gedagvaar.
In hofstukke beweer hy sy ‘‘lok rusies uit’’ as hy met haar probeer kommunikeer en was so ‘‘buierig, bakleierig, verkleinerend en bombasties’’ dat hy sy ‘‘liefde, toegeneentheid en vertroue’’ in haar verloor het.
Al wat Loui oor die saak wil sê, is dat dit vir haar ‘‘teleurstellend’’ is dat sulke persoonlike besonderhede oor hul huwelik onthul is. Haar hoofprioriteit is om nou haar kinders, Luke (10) en Zeke (7), te beskerm.
Anders as Mark probeer sy uit die kollig bly sedert die nuus van die egskeiding bekend geword het. Hy het net ’n paar dae nadat hy die egskeiding aanhangig gemaak het, koers gekry Sun City toe vir ’n wegbreek-naweek. Saam met hom was sy ma, Denise, sy ouer broer, Allan, sy twee seuns én sy nuwe meisie, wat hy net as Mel aan ons voorgestel het.
Toe ons fotograaf hulle twee in die kroeg begin afneem, maak hy nie kapsie nie, maar vertel met ’n glimlag: ‘‘Ek het op sewentien laas so oor ’n vrou gevoel. Ek doen dinge wat ek as tiener gedoen het. Ek voel soos ’n nuwe man!’’
Mel het kennelik ’n goeie indruk op die Fish-familie gemaak – veral op Allan. ‘‘Dis my toekomstige skoonsuster dié,’’ sê hy en beduie na haar toe hy hom by die liefdesduifies in die kroeg aansluit. ‘‘Ons is almal dol oor haar en keur haar beslis goed.’’
Dan onthul Mark (34) hy en Mel is al twee maande saam en albei geniet klaarblyklik die naglewe. Hulle het tot in die vroeë oggendure in die kroeg tequilas weggeslaan en selfs aangebied om vir ons drankies te koop.
Al sigbare teken van sy verhouding met Loui wat oorgebly het, is die dubbele tatoe met haar naam aan sy ringvinger. Een van Suid-Afrika se goue paartjies se paaie het skynbaar finaal geskei...
DIT is nie die eerste keer dat Mark hom tot die skeihof wend nie. Kort ná sy terugkeer twee jaar gelede uit Engeland het hy Loui vir ’n egskeiding gedagvaar omdat sy liewer daar met die kinders wou agterbly. Sy was veral – ironies genoeg in die lig van die onlangse inbraak – bekommerd oor die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika.
Hulle het versoen geraak toe sy hom wel hierheen gevolg het en Mark het destyds gesê die skeisaak was net ‘‘skokbehandeling’’ om haar sover te kry om ook terug te trek Suid-Afrika toe (Gee ons SA, son en liefde, Huisgenoot, 10 Augustus 2006). Hulle het selfs verlede jaar die paartjie van die jaar-prys by Huisgenoot se sustertydskrif YOU se YOU Spectacular Awards gewen.
Maar dié keer lyk ’n versoening onwaarskynlik. Volgens gerugte was Mark al tevore tydens hul huwelik van elf jaar ontrou – en Christina Storm, ’n goeie vriendin van Loui, bevestig dit.
‘‘Dit is die eerste keer dat ek van sy verhouding met Mel hoor, maar hy het ander affairs in sy huwelik gehad,’’ beweer die model. ‘‘Loui het daarvan uitgevind. Sy het al haar vriende vertel. Sy is nie bang om haar sê te sê nie.
‘‘Sy het selfs vir ons foto’s op Facebook gewys van meisies by wie hy glo betrokke was ná sy SMS’e op sy selfoon gekry het. Maar ek was vriende met hulle albei en ek kan regtig nie glo dinge het net so geëindig nie.’’
Christina sê sy het nooit gedink hulle sou skei nie. ‘‘Hulle was so ’n goeie span. Maar ek ondersteun Loui honderd persent. Sy is ’n wonderlike vrou en ’n ware dame. Dit is alles so jammer, veral omdat kinders betrokke is. Maar ek dink hulle is albei verstandig genoeg om dinge volwasse te hanteer.’’
Die model Sam Pegg, nog ’n goeie vriendin van Loui, is ook hartseer oor die egskeiding. ‘‘Ek dink dis deesdae moeilik om ’n verhouding met enigiemand te hê, of hy nou ’n sportster, ’n glansmens of wat ook al is,’’ sê sy. ‘‘Die dinamika van ’n verhouding kan maar moeilik wees.
‘‘Ek sal Loui elke tree van die pad ondersteun, ongeag die uiteinde. Sy is ’n wonderlike ma en was ’n wonderlike huweliksmaat. Ek dink hulle moet albei die tyd gegun word om hul verskille uit te stryk, veral omdat hul kinders so jonk is en hulle die trauma van die onlangse inbraak by hul huis deurgemaak het.’’
Maar daar in die kroeg in Sun City het Mark een ding duidelik gestel: ‘‘Dit is geen middeljare-krisis nie,’’ het hy vir ons gesê toe hy en Mel die aand aanstaltes maak. ‘‘Ek het myne jare gelede gehad toe ek ’n Porsche gekoop het. Dit is ware liefde dié!’’

Deur Danél Blaauw
DIT was met die moed van ’n vreeslose Dawid wat die grote Goliat aandurf dat hy die grootste NG gemeente in Suid-Afrika in die hof aangevat het.
Toe die gay musiekdosent die NG kerk Moreletapark in Pretoria om skadevergoeding dagvaar nadat die kerk hom afgedank het omdat hy in ’n verhouding was en sy homo-seksualiteit dus uitgeleef het, was daar nooit ’n oomblik van twyfel by hom oor wat hy doen nie. Hy was vas oortuig die kerk was verkeerd.
Drie jaar later het die gelykheidshof in Pretoria Johan Strydom (31) nou gelyk gegee. Die NG kerk Moreletapark het ’n fout begaan, het die hof bevind. Nou moet die kerk op-dok en die begaafde orrelis wat ses maande lank aan die kerk se musiek-akademie verbonde was, onvoorwaardelik om ver-skoning vra.
Die kerkleiers moet hom ook sowat R87 000 skadevergoeding betaal vir pyn, lyding, die aantas van sy menswaardigheid en verlies aan inkomste. En hulle moet sy regskoste dra.
Uit Buffelsbaai in die Suid-Kaap waar Johan nou vakansie hou, vertel hy die oorwinning is ’n reuse verligting. ‘‘Die af-gelope tyd was chaoties. Nou raak ek rustiger en is alles vir my half onwerklik.’’
Hy was doodseker hy stap die regte pad toe hy hom in 2005 tot die hof gewend het. ‘‘ ’n Groep mense het op grond van my seksualiteit ’n oordeel oor my gevel en nie op grond van my menswees nie,’’ som hy dit op.
Maar die uitspraak was skaars koud of vrese dat geloofsvryheid in die kerk in die gedrang is, is geopper. Mense wou weet: Is dit ’n kwessie dat die Grondwet een groep ‘‘meer beskerm’’ as ’n ander?
Want nie net voel Johan daar is inbreuk gemaak op sy regte as homoseksuele landsburger nie, maar ook die kerk is besorg oor sy reg om sy geloofsoortuigings uit te leef en in die praktyk toe te pas soos hy dit reg ag.
Maar in gay-kringe word die uitspraak verwelkom. ‘‘Baie mense smag na ’n kerk wat minder veroordelend is, sê Laurie Gaum, proponent by die sentrum vir Christelike spiritualiteit in Rosebank, Kaapstad. ‘‘Johan se saak lê die uitdaging voor die deur van die kerk, en in dié geval die NG Kerk, om nie ’n veroordelende kerk te wees wat mense verwerp nie.’’
KERKE sal voortaan hul beleid oor hul morele verwagtings duideliker moet uitstippel wanneer hulle poste adverteer, om so ’n balans te vind tussen wat hulle as God se wette beskou en burgers se regte soos dit in die Grondwet verskans is, sê regskenners.
Die uitleef van geloofsvryheid is glad nie in die gedrang nie, stem regskenners eenparig saam.
Godsdienstige instellings sal wel baie meer reguit en openhartig moet wees oor die Bybelse beginsels waarop hulle besluite grond, sê prof. Marinus Wiechers, voormalige rektor van Unisa en regskenner.
As hierdie beginsels in onderhoude aan aansoekers bekendgemaak word en die aansoeker hom nie daarmee kan versoen nie, het die instelling wel binne die perke van die Grondwet
opgetree, sê hy.
Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging is byvoorbeeld ’n organisasie wat dit duidelik stel dat sy wese op Christelike beginsels berus, sê Marinus. Jy hoef nie ’n Christen te wees om by die ATKV aan te sluit nie, maar moet wel die vereniging se Christelike grondslag aanvaar, is deur die Menseregtekommissie bevind.
‘‘Die kerk het uit sy oortuigings ’n absolute plig om hom aan God se wette te onderwerp. As ’n godsdiensinstelling sterk voel oor die uitleef van ’n homoseksuele verhouding – hetsy reg of verkeerd – moet hy dit so aan die persoon verduidelik en nie ’n werkkontrak met hom sluit nie.’’
Johan se regspan stem hiermee saam. ‘‘Alle kerke moet kennis neem van die hofuitspraak om te verhinder dat hulle strydig optree met die Grondwet en in dieselfde slaggat as die NG kerk Moreletapark trap,’’ sê James Spies, die opdraggewende prokureur.
Kerke word ook verplig om binne die Arbeidswet en die Wet op Gelyke Indiensneming op te tree wanneer hulle mense aanstel, sê Jan Stemmet, ’n ar-beidsreg-prokureur van Polokwane.
‘‘Ongelukkig vir die kerk moet hy hom hier aan die wette van die land onderwerp. Die Wet op Gelyke Indiensneming verbied enige vorm van diskriminasie in die werkplek.’’
Maar Marinus voeg by dat daar iets soos geoorloofde diskriminasie is. ‘‘Om ’n vrou nie aan te stel nie net omdat sy swanger is, is diskriminasie, maar as die kerk glo die uitleef van ’n homoseksuele verhouding pas nie in sy geloofsraamwerk nie, is dit geoorloofde diskriminasie, aan-gesien die Grondwet hom die ruimte gee om sy geloof uit te leef.’’
Die konstitusionele hof het al by herhaling aangedui die kernwaardes van die Grondwet is gelykheid en menswaardigheid, sê ’n Johannesburgse advokaat wat anoniem wil bly.
‘‘Die reg op geloofsvryheid ingevolge die Grondwet word beskerm en is ’n baie belang-rike reg. Wanneer die landswette teen mekaar begin indruis, moet dit teen mekaar opgeweeg word.
‘‘Die uitspraak is belangrik vir homoseksuele mense. In die verlede was diskriminasie teen die gay gemeenskap baie subtiel. Die blote feit dat die gemeente hier om verskoning moet vra, is belangriker as die geld wat toegeken is.’’
Die uitspraak gee erkenning aan die emosionele skade wat kontrakbreuk aan homoseksuele mense kan doen, sê Marinus.
‘‘Die gay gemeenskap sal waarskynlik vreugde put uit die hofbeslissing eenvoudig omdat dit die eerste saak in sy soort in die gelykheidshof is en omdat die hof die gemeente se optrede teenoor ’n homoseksuele persoon afgewys het,’’ sê James.
Die uitspraak is uit gay geledere verwelkom en dit word beskou as ’n geleentheid vir die kerk om weer oor homoseksuele in hul geledere te besin.
‘‘Ek dink dit herinner die kerkleiers weer daaraan dat hulle regverdig moet optree. Dit is tog ’n basiese Christelike beginsel,’’ sê Laurie. Hy was self twee jaar gelede in ’n storm gewikkel toe die NG Kerk hom as predikant afgedank het omdat hy in ’n gay verhouding was.
Hier is nou weer ’n geleentheid vir veral die NG Kerk om die werklikheid onder die oë te sien en te besef mense is verskillend gemaak, en die kerk moet hulle in hul volle menswees aanvaar en ondersteun, sê hy.
‘‘Ons kan ons nie meer blind hou nie. Die kerk het te lank nie net gay mense nie, maar ook swart mense met sy woorde en dade seergemaak. Ek hoop net die kerk kan na groter begrip groei.’’
Mense vergeet dat homoseksuele mense ook Christene kan wees en hul geloofsoortuigings wil uitleef, sê eerw. Rowan Smith van die St. George-katedraal in Kaapstad.
‘‘Mense is steeds konserwa¬-tief en kerke sal nie ná die uitspraak sommer hul beleid oor homoseksuele verhoudings verander nie.’’
WAT DIE KERKE SÊ
Die gelykheidshof se uitspraak het verskillende reaksies by kerkvaders ontlok.
Dit plaas kerke in ’n baie moeilike situasie as hulle tussen die Bybel en landswette moet kies, het die Evangeliese Alliansie gesê. Dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending (AGS), het sy stem hierby gevoeg en gesê die AGS kan nie anders as om hom van die hofuitspraak te distansieer nie.
Die kerk verkeer weer in die si-tuasie van vroeër waar hy moet sê hy moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die owerheid, het hy bygevoeg.
Die uitspraak beteken vir die Gautengse Raad van Kerke bloot dat die kerk in sy arbeidspraktyke nie bo die landswette verhewe is nie, sê dr. André Bartlett, voorsitter van dié raad.
Dit is hier suiwer ’n werkverhouding wat skipbreuk gely het, sê ds. André Muller, predikant van die Reformerende Kerk wat gay lidmate bedien. Kerke kan steeds besluit hulle wil nie gay orreliste aanstel nie; dit moet net duidelik gestel word. Vir gay mense lê die waarde in die uitspraak dat hulle nie hoef bang te wees om in die werkplek geviktimiseer te word nie.

In Junie het sy die hoofopskrifte gehaal toe sy in die media
beskryf is as ’n fortuinsoeker tydens haar egskeiding van haar man, die Protea-krieketspeler Herschelle Gibbs.
Hul dogter Tenielle is uitgekryt as die skurk in die verhaal, sê haar ouers. Dit is inderwaarheid sy wat ’n onreg aangedoen is, nie hy nie.
‘‘Ons het in ’n emosionele sin amper ons dogter verloor,’’ sê Tenielle se ma, Clarissa Povey van Kaapstad. ‘‘Die voortdurende liggaamlike en emosionele mishandeling het haar borrelende, spontane persoonlikheid laat verskrompel.’’
Clarissa en haar man, Dean, ’n sakeman, praat vandag reguit, want hulle sê hulle kan nie langer toekyk hoe hul dogter swartgesmeer word nie.
Weens ’n snoerbevel in haar skei-ooreenkoms het Tenielle geweier om haar huwelik of egskeiding te bespreek, maar haar ouers skets ’n skokkende prentjie van ’n man wat in sy fleur as kolwer die land se held was. En vriende wat in krieketkringe beweeg het, het die
Poveys se bewerings bevestig.
‘‘Baie mense het gesien hoe Herschelle haar sleg behandel,’’ sê Minki Visser, wat met die Protea-kaptein Graeme Smith uitgegaan het toe sy nog Minki van der Westhuizen was. Sy was destyds na aan Tenielle.
Gizelle Strydom het die Gibbs-paar tydens ’n toer in Engeland ontmoet toe sy vir ’n plaaslike krieketspan gewerk het, en het een van Tenielle se beste vriendinne geword.
‘‘Sy was voortdurend op ’n emosionele wipwarit,’’ sê sy. ‘‘Hy sou die een oomblik op haar versot wees en die volgende oomblik – nadat hy gedrink het – sou hy beledigend wees.’’
Die Poveys sê hulle het juis van Durban na Kaapstad verhuis omdat hulle so bekommerd was oor wat met hul dogter aan die gebeur was.
‘‘Toe ons nog in Durban was, het ek gereeld Kaapstad toe gevlieg, soms een keer per week, om Tenielle te help,’’ sê Clarissa. ‘‘Ons was siek van bekommernis. Ons het nooit behoorlik geslaap nie. Ons het pal gewag vir die jongste oproep, tweeuur of drieuur die oggend, wanneer ons moes gaan help.’’
‘‘Eenkeer moes ek Herschelle se borggeld betaal toe hy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is,’’ sê Dean. ‘‘Hy was so moeilik dat die polisie my gevra het om hom te kalmeer. Hy het die volgende dag niks onthou nie. Hy het my gevra wat hy gedoen het en gedink dis ’n groot grap toe ek hom vertel.’’
Clarissa vertel van die keer toe ’n ‘‘baie beskonke’’ Herschelle met Tenielle in die motor teen ’n hoë spoed roekeloos bestuur het. ‘‘Nadat sy hom herhaaldelik gevra het om stadiger te ry, het hy kwaad geword, haar aan haar hare gegryp en ’n bos uitgepluk. Toe slaan hy haar gesig teen die paneelbord,’’ sê sy.
‘‘Sy het hom oorreed om na ons huis toe te kom, en die bloed het oor haar gesig geloop toe sy hier aankom. ’n Klos hare het op die motor se paneelbord gelê.
‘‘Tenielle het ontroosbaar gehuil toe sy die hare inbring en op die eetkamertafel neersit. Toe Herschelle dit die volgende dag sien, wou hy weet wat dit daar soek. Hy kon niks onthou nie.’’
Clarissa sê Tenielle het alles met haar gedeel – ook hoe Herschelle dikwels ná ’n nag van gefuif gewelddadig geword het.
‘‘Hy het haar eenkeer geslaan toe vriende by hulle gekuier het en een van hulle moes by die kamer ingaan om hom te keer.’’
Daar was nog ’n voorval in ’n nagklub toe hy haar voor ‘‘baie mense’’ geklap het. ‘‘Die uitsmyter moes haar huis toe vat, waar sy tot sonop vir Herschelle gewag het. By die J&B Met verlede jaar het Herschelle die hele dag verdwyn en toe Tenielle hom eindelik kry, was hy dronk en het hy oproepe van vroue gekry.
Toe sy hom uitvra, het hy kwaad geword en wou hy loop. En toe sy probeer keer dat hy bestuur, het hy so woedend geword dat hy haar geslaan het. Dit het twee mans gekos om hom van haar af te trek.’’
Minki sê Herschelle was op baie sosiale geleenthede dronk en het sy vrou ‘‘erg in die verleentheid gestel’’. Sy was verlede jaar by die J&B Met en sê Tenielle was in ’n toestand.
‘‘Baie mense het hom sleg sien optree teenoor haar,’’ sê sy. ‘‘Tog het Tenielle Herschelle altyd in elke moontlike opsig probeer ondersteun. Die prentjie wat met haar egskeiding van haar geskets is, is eenvoudig nie waar nie. Sy is ’n lieflike mens en dit is heeltemal onregverdig.’’
Almal het geweet van Herschelle se drankprobleem, sê Minki. Sy was ook by die verlowingsparty van die voormalige TV-persoonlikheid Michelle McLean verlede jaar toe Herschelle ‘‘baie dronk’’ geword en hom ‘‘verskriklik gedra het’’. ‘‘Dit was ’n verleentheid vir Tenielle en almal anders.’’
Herschelle het ’n persoonlikheid wat ‘‘soos die weer verander’’, sê Clarissa. ‘‘En hy het gedurig affairs gehad. Nou nog kom sê vroue vir Tenielle wie by Herschelle geslaap het terwyl hy getroud was.’’
Sy dogter het haar selfvertroue grootliks verloor, sê Dean. ‘‘Die probleem was Herschelle se drinkery. Hy kon nie ophou nie.’’
EEN van die dinge wat Clarissa die meeste ontstel, is dat Te-nielle as geldmal en ’n wilde besteder bestempel is.
‘‘Die waarheid is dat hy die wilde besteder was, nie sy nie. Sy het die meeste van haar geld aan geskenke vir hom en dinge vir die huis bestee. Sy het haar eie suksesvolle onderneming wat troues en ander geleenthede organiseer wat sy voor haar troue begin het. Ek werk vir haar,’’ sê Clarissa.
Clarissa sê Herschelle het niks daarvan gedink om binne ’n uur of twee R20 000 op skoene en klere te blaas nie. Oor Tenielle se onderhoudseis van byna R100 000 per maand, waaroor oral in die pers berig is, sê haar ma haar prokureur het haar gevra om ’n lys van hul gesamentlike maandelikse uitgawes op te stel, wat sy eerlik gedoen het.
Die prokureur het dit namens haar geëis omdat hy gesê het sy moet dieselfde lewenstandaard handhaaf. Herschelle het huweliksberading wat Tenielle keer op keer voorgestel het, geweier omdat dit sy ‘‘beeld sou skaad’’, sê Clarissa. Sy gedrag was soms bisar, voeg sy by.
‘‘As hy dronk is, verloor hy kop. Ek het hom al uit ’n restaurant sien hardloop of in die tuin vir ‘iets of iemand’ sien wegkruip, soos ’n kind.’’
Toe Herschelle in Indië krieket gespeel het, het hy en Tenielle stry gekry en het sy vir drie weke nie van hom gehoor nie, sê haar ma. Toe begin hy SMS’e stuur en beskuldig haar dat sy lieg en hom verkul.
Maar Tenielle was volkome getrou, hou haar ma vol. Herschelle het van Indië af by die huis gekom en op ’n egskeiding aangedring en al Tenielle se kredietkaarte en haar volmag gekanselleer, wat haar gestrand gelaat het, voeg sy by.
‘‘My dogter het van een van sy baie affairs uitgevind deur op haar verjaardag vanjaar op die voorblad van ’n Sondagkoerant daarvan te lees. Die vrou het hom tydens hul egskeidingsgeding na Engeland gevolg.’’
Tenielle was dikwels so ontsteld dat sy opgegooi het en baie gewig verloor het en in Februarie ’n breukoperasie moes ondergaan, vertel Clarissa. ‘‘Ons moes toekyk hoe sy emosioneel ineenstort. Ten spyte van alles het sy hard probeer om haar huwelik te laat werk.’’
‘‘Dit was ’n baie moeilike tyd vir Tenielle,’’ sê haar pa. ‘‘Ons praat omdat ons dink die egskeidingsooreenkoms dat sy nie haar storie mag vertel nie, is onregverdig. Ons dank die Here dis nou verby en ons lieflike dogter begin stadig soos haar ou self optree.’’
Gizelle sê sy het dikwels by haar vriendin gesit wanneer sy ‘‘ontsteld was weens die dinge wat oor haar gesê is’’.
‘‘Sy sou ook praat oor die fisieke mishandeling,’’ sê sy, hoewel Tenielle dit probeer afmaak het ‘‘omdat sy Herschelle beskerm het’’. Maar die waarheid moes uitkom, sê sy.
Tydens en sedert die egskeiding het Herschelle vir Tenielle vele SMS’e gestuur, sê haar ouers. In party het hy haar gesmeek om terug te kom en in ander het hy haar beledig. ’n Paar dae gelede het hy ’n berouvolle boodskap aan Dean gestuur waarin hy erken hy ‘‘kan nie regstel wat ek opgemors het nie’’.
‘‘Ek is jammer oor die pyn waardeur ek die familie gesit het,’’ het hy gesê. Vir die Poveys is die verskoning te min, te laat.
Huisgenoot het Herschelle se kommentaar gevra en ons is na sy prokureur, Peter Whelan, verwys.
‘‘Herschelle en Tenielle is op 15 Augustus geskei en die ooreenkoms wat hul verskille skik, is ’n bevel van die hof gemaak,’’ het hy gesê. ‘‘Soos u weet, het Herschelle volstrek geweier om sy verhouding met Tenielle te kleineer deur enige aspek daarvan in die media te opper. Dit bly die geval.
‘‘Dit is betreurenswaardig dat Tenielle se ouers nie ’n soortgelyke standpunt ingeneem het nie. Behalwe dat hy daarop wil wys dat die onderhoud baie oordrewe en aangedik is, het Herschelle my opdrag gegee dat hy geen verdere kommentaar het nie.’’
Toe hy gevra is om die feitelike onjuisthede in die onderhoud uit te wys, het Peter geweier.
Die Poveys wys daarop dat Herschelle en ook sy ma wel by verskeie geleenthede in die media negatiewe opmerkings oor Tenielle gemaak het.

WAS dit nie vir die gespanne uitdrukking op die vriende se gesigte en sy verloofde wat onbedaarlik gehuil het nie, sou jy kon dink sy geliefdes het by sy huis saamgetrek om iets te vier.
Al die belangrikste mense in Christoff Becker (22) se lewe was immers daar – sy vriende, sy ouers, sy ooms, sy oupa, sy jonger broer . . . en Cindy, die blonde model met die fyn beenstruktuur wat sy hart ’n jaar gelede gesteel het.
Maar Christoff se vriende en familie het nie byeengekom om makietie te hou nie. Inteendeel, hierdie samekoms nog voor sonop op Dinsdag 12 Augustus by sy statige ouerhuis in Moreletapark in Pretoria was om tot siens te sê aan die donkerkop wat al sewe jaar lank vir sy vryheid baklei.
‘‘Almal wil vir oulaas ’n drukkie of die laaste woordjie inkry, of ietsie in sy Bybel skryf. Christoffie wil nog gou gaan bad, maar hier is so baie mense wat tot siens wil sê,’’ sê Christoff se ma, Mariëtte, in ’n angstige, gejaagde stem ligdag oor die telefoon terwyl die minute verbytik voor haar seun agter tralies toegesluit word.
Sy skoolvriende Frikkie du Preez (23), Gert van Schalkwyk (22) en Reinach Tiedt (22) is die vorige dag reeds in die Pretoria-Sentraal-gevangenis toegesluit om hul vonnis van twaalf jaar tronkstraf te begin uitdien nadat die vier skuldig bevind is aan die gewelddadige moord op ’n hawelose man in Desember 2001.
Die sogenaamde Waterkloof-vier wil nou in die konstitusionele hof probeer bewys dat die naamlose man wat hulle destyds as tieners in ’n parkie aangerand het, nie dieselfde man is wie se lyk later in die-selfde park gevind is nie. Maar intussen het die appèlhof besluit dit is tyd dat hulle begin boet vir dié moord en het geweier dat Christoff se borgtog hangende die uitslag van die aansoek uitgestel word.
Christoff en Cindy het die vorige nag eers om middernag met hul skoothondjie by sy ouers se huis aangekom nadat hulle die oggend gehoor het hy moet hom so gou moontlik vir sy tronkstraf aanmeld.
Hulle het inderhaas in sy woonstel in die Kaap ’n paar goedjies in hul tasse gestop en toe die hele middag op die lughawe in Kaapstad gewag om plek te kry op ’n vlug Johannesburg toe.
Vermoedens dat hy op die lughawe van plan sou verander en landuit sou vlug, is verkeerd bewys toe hy laataand saam met Cindy op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg geland het.
Ma Mariëtte, pa Christo, die hoof van die spogskool die Hoërskool Waterkloof, en sy broer, Gideon, het die paartjie ingewag toe die twee vriende wat hulle by die lughawe opgelaai het, voor sy huis stilhou.
‘‘Hulle het nou net hier aangekom. Dit gaan baie sleg met ons, almal is baie emosioneel,’’ sê Gideon kort ná hul aankoms.
’n Hooggeplaaste in die polisie het die gesin gewaarsku hulle sal Christoff die eerste paar weke in die tronk nie gereeld kan besoek nie en die gesin was desperaat om mekaar vir oulaas te ondersteun.
‘‘Dit gaan nie baie goed met ons nie, ons wêreld het uitmekaargeval,’’ sê Mariëtte. ‘‘Ek gaan vannag niks slaap nie. Ek wil my kind so lank en so veel moontlik vashou.’’
DIE Beckers het nie gedink die aantreklike donkerkop wat voor sy skuldigbevinding in Oklahoma in Amerika studeer het en hangende die appèlsaak in Kaapstad ’n nuwe lewe in die Moederstad probeer skep het, sou ooit tussen die geharde misdadigers in die tronk beland nie.
Hulle het dan bewyse dat hy onskuldig is en nie die moord gepleeg het nie, hou Mariëtte vol. Meer wil sy nie sê nie, verduidelik sy, want sy wil nie hul aansoek in die konstitusionele hof beduiwel nie. ‘‘Ek wil nie nou meer stilbly nie, want Christoff is klaar in die tronk. Toe hierdie ding begin het, was die kinders nog arrogant. Hulle het gedink die aandag is snaaks en daar-oor gelag. En toe, skielik, sewe jaar later, moet hulle tronk toe gaan,’’ sê Mariëtte.
‘‘Ons is so geskok. As dit met ons kan gebeur, kan dit met ander ook gebeur.
‘‘Chrissie was heeltemal uit die veld geslaan toe hy hoor hy moet hom onmiddellik by die polisie aanmeld om sy tronkstraf te begin uitdien. Toe ons hoor die hof het nie sy borgtog verleng nie, het ons gedink hy moet hom eers Vrydag (’n week later) by die polisie aanmeld. Sy vriende wou nog vir hom ’n partytjie gehou het, maar hulle het nooit kans gekry om dit te doen nie...’’
‘‘Ons het almal nog heeltyd geglo dit sal nie so ver gaan nie en sy onskuld sal bewys word. My kind gaan as ’n onskuldige man tronk toe,’’ sê sy beslis.
‘‘Maar as ’n mens die waarheid in jou hart het, is dit nie so erg nie. Ek is nie meer emosioneel nie, ek hou my kop omhoog. Iewers moet daar lig in die duisternis wees.’’
Ná ’n hofstryd van sewe jaar beloop die Beckers se regskoste al derduisende rande, maar hulle hou vol Christoff se aanvanklike regspan het drooggemaak. ‘‘Ons is die afgelope sewe jaar so rondgegooi,’’ sê Mariëtte.
Hulle het nou ’n nuwe prokureur, Harry Pretorius, aan-gestel om hul seun se onskuld te probeer bewys.
Al was die Waterkloof-vier boesemvriende, het hul paaie onlangs geskei toe Christoff van die groep weggebreek het. Hulle het selfs glo vroeër vandeesmaand ná ’n rusie hand-gemeen geraak.
Maar die Beckers sê die modebewuste jong man wat daarvan gedroom het om ’n akteur te word, is glad nie so arrogant en aggressief soos wat die media hom uitbeeld nie.
‘‘Dit het baie gebeur dat hy iewers instap en mense hom sommer wil slaan; mense het hom oral herken,’’ sê Gideon. ‘‘Ek lyk ’n bietjie soos my ouer broer en mense het my soms ook daaroor moeilikheid gegee. Maar Christoff is glad nie die mens wat die media voorgehou het nie – hy is nie arrogant nie.’’
Mariëtte sê Christoff was gedurende die jare lange hof-stryd die sterk een wat die gesin gedra het.
‘‘Ek het soms kwaad geraak as die feite verdraai word, maar dan het hy altyd vir my gesê: ‘Mamma, moenie kwaad word nie. Die waarheid sal uitkom.’ Hy is sterk, die waarheid help hom om sy kop omhoog te hou.’’
Dit is duidelik dat die gesin Cindy as deel van hul binnekring aanvaar het. ‘‘Sy het deel van ons familie geword,’’ sê Gideon.
‘‘Cindytjie huil baie, haar hart is gebreek,’’ sê Mariëtte. ‘‘Maar sy sê Liewe Jesus gaan ons hierdeur dra.’’
Enkele ure nadat Christoff in die tronk toegesluit is, moes die getraumatiseerde Christo en Mariëtte weer die leisels van hul lewe soos gewoonlik opneem. Christo moes ’n vergadering van die beheerliggaam bywoon en Mariëtte is na ’n geleentheid by die kleuterskool waar sy werk. ‘‘Dis al weke gelede gereël; ons het nie gedink hierdie ding gaan gebeur nie,’’ het Mariëtte gesê.
Sy en Gideon het die volgende oggend Kaap toe vertrek om Christoff se besittings in sy woonstel te gaan oppak. ‘‘Ons moet ook sy motorfietsie verkoop en ’n plan maak met sy motor,’’ sê Mariëtte.
Sy gesin sorg dat sy lewe buite die tronk aangaan. Hulle glo immers hy gaan binnekort weer ’n vry man wees...

DAAR’S deesdae geen tekort aan maniere om hom te beskryf nie: briljant, staalhard, gedrewe, vasbeslote, ’n leier met die hart van ’n krygsheer en die moed van Achilles, ’n merkwaardige speler wat vir ander kapteins gewys het wat dit beteken om ’n leier te wees . . .
Graeme Smith se kop swel seker soos ’n waatlemoen –
behalwe natuurlik dat hy maar alte goed weet ’n sportman is net so knap soos sy laaste vertoning. Tog sal dit ’n lang tyd neem voor die kolfbeurt by Edgbaston uit mense se geheue vervaag.
Krieketkenners noem sy epiese ses uur lange kolfbeurt van 154 nie uit nie teen Engeland ‘‘een van die beste voorbeelde van hoe ’n kaptein wys hoe om dit te doen’’ in die geskiedenis van die spel. En die feit dat hy sy span se wenlopies aangeteken het van ’n bal wat sy aartsvyand, Kevin Pietersen, geboul het, moet dit nog soeter maak.
‘‘Toe ek besef ek kan die wedstryd met een hou wen, het dit ’n
kwessie geword van wag vir die regte bal,’’ sê hy.
‘‘Dis nogal ironies dat dit van Kevin se boulwerk gekom het. Maar om die waarheid te sê, die dag was so emosioneel uitmergelend dat dit nie eens saak gemaak het nie.’’
Dit is drie dae ná die toets en Graeme gesels met ons uit Londen terwyl die span hom vir die vierde en laaste toets in die reeks teen Engeland voorberei. Hy het die grootste deel van die dag saam met die span se fisioterapeut gewerk om ’n hinderlike rugbesering te probeer uit¬stryk wat hom amper uit die wedstryd gehou het, vertel hy.
Hoewel hy nog sekuur op die volgende toets ingestel is, is die reeks klaar gewen – en sy span se sege van 2–0 oor die Engelse maak dit die eerste sedert Suid-Afrika in 1965 die Engelse op hul tuisgrond oorwin het.
‘‘Wat belangrikheid vir die land betref, oortref hierdie kolfbeurt alle ander,’’ sê ’n euforiese Graeme. ‘‘Dit is jammer ons het nie die kans gekry om dit by die huis te doen nie.
‘‘Dit was so ’n emosionele reeks,’’ voeg hy by. ‘‘Dit was heeltyd op en af – maar dis waaroor die beste toetskrieket gaan. Twee goeie spanne meet teen mekaar kragte. Man teen man. Dit toets die vaardighede en karakter van elke speler.’’
Die hele span is in die wolke oor die reeksoorwinning. ‘‘In die aantrekkamer kon ons nie ophou om high fives te gee nie. Ons was ná die wedstryd by ’n viering by die Suid-Afrikaanse ambassade en dit het ons nog gelukkiger gemaak om al die glimlaggende mense te sien.’’
IN ’N huis in die noordelike voorstede van Johannesburg het twee mense vier dae lank amper pal voor hul TV-skerm vasgenael gesit. Graham en Janet Smith het elke bal geprys wat hul seun geslaan het, hul harte in hul keel voel klop wanneer hy amper uitgehardloop is en beangs toegekyk toe die Engelse luidkeels ’n b.v.p.-beswaar aangeteken het.
Hulle het ’n sug van verligting geslaak oor die skeidsregter se omstrede besluit dat hy nie uitgevang is van ’n bal van Monty Panesar nie. En toe hul seun die wenlopies aanteken, kon Graham, ’n ingenieur, en Janet, ’n huisvrou, hulle nie beteuel nie.
‘‘My ouers was in Engeland vir die eerste twee toetse, maar het die laaste een by die huis gekyk,’’ sê Graeme. Hy het hulle dadelik gebel toe die feesvieringe afgekoel het by die Edgbastonkrieketveld in Birmingham in die Engelse Middelland.
‘‘My ma was emosioneel,’’ sê hy. ‘‘Sy het so gehuil dat dit moeilik was om ’n woord uit haar te kry. My pa was ongelooflik bly. Die ding is, hulle moet al die kritiek oor my lees en dit raak hulle meer as vir my. Op ’n manier beteken die oorwinning dus soveel meer vir hulle.’’
Graeme het in die verlede sterk onder kritiek deurgeloop wanneer sy kolfwerk nie op peil was nie en die Proteas verloor het. Hy is ook al as arrogant en nors uitgekryt – maar nou kan niemand ’n slegte woord oor hom sê nie. Die enigste demper is dat daar nie ’n meisie is om die vreugde met hom te deel nie.
Hy beskryf homself as ’n teensinnige losloper. ‘‘My hele lewe het die afgelope paar jaar om krieket gedraai. Ek was so vasbeslote om die beste kaptein te wees dat my persoonlike lewe effens daaronder gely het.’’
Daar was nog niemand in sy lewe sedert sy twee jaar lange verhouding met Minki Visser drie jaar gelede beëindig is nie. Sy was toe nog Minki van der Westhuizen en die blondekop-model en haar aantreklike sportman-kêrel was een van Suid-Afrika se goue paartjies. Sedertdien het hy nie eens ’n ligte flirtasie gehad nie. ‘‘Ja, daar was ’n paar eensame tye,’’ erken hy. ‘‘Maar om die kaptein van die Suid-Afrikaanse span te wees, is iets wat ek moet doen. Ek het ook tyd nodig gehad om uit te vind wie Graeme Smith nou eintlik is. Jy kan dit nie eintlik doen as jy in ’n ernstige verhouding is nie.’’
Dit is vir hom moeilik om sy ideale vrou te beskryf. Liefde, hou hy nog altyd vol, is iets wat ‘‘jou net tref’’. Al is daar geen
tekort aan vroue wat graag aan sy sy sal wil wees nie, maak al die aandag hom verleë.
Tog hoop Graeme hy vind eendag die vrou wat mev. Smith kan word. Hy sien selfs uit na ’n lewe ná krieket en wil ook graag eendag ’n gesin hê. ‘‘Daar is steeds baie wat ek nog as krieketspeler wil bereik,’’ sê hy. ‘‘Ek wil die span bly lei solank as wat ek kan. Maar ek kan nie vir altyd krieket speel nie. Ek wil rustig raak en ’n gesin hê. Ek kom uit ’n hegte gesin en weet hoe belangrik dit is. Ek is 27 en dit is jonk, maar dis beslis iets waarna ek uitsien.’’
Tot dan is dit krieketsake soos altyd. Sy ongelooflike honderdtal was sy sestiende toetshondertal en sy veertiende as kaptein – nes krieketlegendes soos Don Bradman, Brian Lara en Clive Lloyd. Net drie Australiërs – Allan Border, Steve Waugh en Ricky Ponting, wat almal vyftien honderdtalle aangeteken het – spog met ’n beter rekord as Graeme s’n. Hy het reeds meer as 5 000 lopies in sy tyd as kaptein aangeteken.
Hy word as een van die beste Suid-Afrikaanse toetskapteins beskou vanweë sy eienskappe as ’n leier en ook sy vaardighede op die veld. Op Edgbaston het hy teenoor Engeland ‘‘die soort volharding getoon wat nodig is om sukses te behaal terwyl alles teen hom tel’’, het ’n Britse sportskrywer dit gestel.
Die lang, sterk geboude kolwer het nou ook die bloed van twee Engelse kapteins op sy hande. Nasser Hussain het vyf jaar gelede sy krieketloopbaan laat vaar nadat Graeme ’n hoë telling teen hom behaal het, en nou het Michael Vaughan ook besluit hy wil nie meer die Engelse span se kaptein wees nie.
Michael word as een van Engeland se beste kapteins beskou, maar het behoorlik onder die Britse media deurgeloop nadat sy span die reeks verloor het. Hy het toe besluit dit is tyd om die leisels aan iemand anders te oorhandig. En daardie iemand is natuurlik die Suid-Afrikaans gebore Kevin Pietersen – dieselfde ou wat Graeme in sy outobiografie ’n ‘‘muppet’’ genoem het.
Hoewel hulle nie langs dieselfde vuur sit nie, is hulle albei professionele sportmanne en die feit dat hulle aan die begin van die wedstryd moet blad skud, sal nou nie eintlik een van die twee se spel beïnvloed nie.
‘‘Soos ek vanoggend vir die ouens gesê het, dit maak nie saak wat buite ons kamp gebeur nie. Ons moet gefokus bly. Ons moet die reeks sterk eindig en bou op wat ons bereik het,’’ sê Graeme.
Die Proteas is tweede in die wêreld naas Australië en sal in Desember in dié land toer – en as Graeme-hulle dit kan regkry om ook daardie reeks te wen, sal dit die eerste keer wees dat hulle die Aussies op hul eie werf klop sedert Suid-Afrika se hertoetrede tot wêreldkrieket.
Hy sien daarna uit om weer saam met die span te toer. ‘‘Ons is nou al ’n ruk saam. Ek kyk so na hierdie span en sien ouens wat vuur en vlam is, die soort karakter wat nie onder druk knak nie.’’
Dink hy hulle kan die magtige Aussies wen? ‘‘Ons het baie meer selfvertroue,’’ sê hy versigtig. ‘‘Maar dit is altyd moeilik om weg van die huis af te wen. En Australië bied vir ons ’n heel nuwe lys uitdagings.’’
Soos hy met soveel styl bewys het, is uitdagings kafdraf die een ding wat hy uitmuntend doen

BY ’N spoghotel in die Kaapse Waterfront sit ’n blonde vrou in ’n modieuse ligbruin leerbaadjie. Sy blaas ernstig oor haar warm koffie.
Dit is dan sy, Anna. ’n Waterval in die swembad agter haar druis hipnoties en skep ’n byna gewyde atmosfeer. Heel gepas, want dit is hier waar Anchien Troskie die volgende groot stap in haar pad na heling neem.
Vir die eerste keer praat sy vandag oor haar lewe sedert die verskyning van haar trefferboek, Dis Ek, Anna, waarin sy skokkend eerlik vertel het hoe sy as tiener seksueel misbruik is. En sy doen dit as Anchien Troskie – vir die eerste keer ook gestroop van die skerm van haar skuilnaam.
‘‘Ek is senuweeagtig,’’ erken sy. Want Elbie Lötter is nou finaal begrawe. Die skuilnaam wat op die omslag van 50 000 verkoopte eksemplare van Dis Ek, Anna gepryk het, het plek gemaak vir haar eie, op haar nuwe roman. Die titel is Nooit Is ’n Lang, Lang Tyd, en by haar naam staan daar: Deur die skrywer van Dis Ek, Anna.
Hiermee tree sy as oorle-wende van seksuele mishandeling na vore en sê: ‘‘Dis ek, Anchien.’’
Byna vier jaar gelede het sy geskryf hoe haar stiefpa haar as tiener gemolesteer en verkrag het, hoe hy gedreig het dat hy haar en haar ma sou wegjaag, of nog erger, na haar kleinsus se kamer sou gaan as sy hom sou weier...
So raak het sy die pyn van ’n kinderslagoffer van seksuele misbruik verwoord dat dit ’n handboek in menige sielkundige, predikant en ander berader se spreekkamer geword het –’n reisgids vir jong slagoffers op hul pad na herstel.
Dis ook ’n boek van hoop omdat die fiktiewe Anna én die vlees-en-bloed Anchien heel anderkant uitgekom het.
‘‘Dis ’n keuse,’’ sê sy, en glimlag vir die eerste keer sedert ons begin gesels het.
‘‘Ek het ’n ruk gelede vir my man gesê daar sal ’n oggend aanbreek wanneer ek gaan opstaan en ek absoluut die antwoord weet op die vraag: Gaan ek my nuwe boek uitgee onder my naam, gaan ek
bekend maak dis ek wat oor Anna geskryf het? Daardie oggend het vinniger aangebreek as wat ek verwag het.
‘‘My man wou van die begin af gehad het dat Dis Ek, Anna onder my eie naam verskyn. Hy het toe al geweet wat ek nou weet: Deur my naam bekend te maak, herken en erken ek my as ’n oorwinnaar. Vir my kinders was dit nog nooit ’n kwessie nie. As hulle na my kyk, sien hulle nie ’n slagoffer of oorwinnaar nie, hulle sien my, hul ma.’’
Dit was ook die reaksie op Anna wat haar die moed gegee het om agter die skuilnaam uit te kruip.
‘‘Met Anna was dit die empatie, eerder as simpatie, wat vir my baie beteken het. Die briefies wat sê: Ek was daar, ek ken dit. Ek wou eenvoudig nie meer ’n slagoffer wees nie.’’
OP 11 Julie het sy veertig geword. ‘‘Ek is baie trots daarop. Dis ’n goeie ouderdom waarop ’n mens oor jou onsekerhede is en vrede maak met wie jy is.’’
Anchien het in Dis Ek, Anna haar siel oopgemaak en die wonde uit haar verlede gebruik om ander mense te help heel word. Was sy ooit spyt dat sy haar so blootgestel het?
‘‘ ’n Mens twyfel baie keer, maar ek was nog nooit spyt nie, nee. Om my storie te skryf, het my ontsettend baie gehelp. As iets jou pla, skryf dit neer. Jy hoef dit nie in te stuur vir moontlike publikasie nie. Skryf dit eenvoudig neer. Ek dink as ’n mens ’n ding voor jou op papier sien staan, verander dit die nagmerries in iets tasbaars.’’
Anchien het nog net een keer weer die verhaal gelees en alles op dié manier weer beleef. ‘‘Ek het die finale manuskrip gelees en nog nooit weer nie. Ek het dit nie eens deurgelees toe ek dit klaar geskryf het nie. Ek het dit ingestuur, vreeslik vol spelfoute.’’
En daar gebeur die wonderwerk: ’n Debuut-skrywer, nogal met ’n skuilnaam, spreek tot die hart van tienduisende Suid-Afrikaners.
Die boek is ook in Engels vertaal en in ’n gewilde toneelstuk omskep. By die onlangse Volksblad-kunstefees in Bloemfontein het Anna se verhaal mense in trane en op hul voete gehad. Antoinette Louw, beter bekend as Inge van Schalkwyk van 7de Laan, het Anna gespeel.
In die boek was dit juis Bloemfontein waarheen Anna op pad was om haar stiefpa te gaan doodskiet. Maar in die werklike lewe het hy aan natuurlike oorsake gesterf.
Die heel eerste mens vir wie sy voorheen die waarheid vertel het, was haar ma. Sy was so sestien en het begin skree toe haar stiefpa na haar slaapkamer kom. Hy het haar toe al ses jaar lank gemolesteer.
Toe haar ma instorm, het sy haar alles vertel. Sy wou dit nie glo nie, al het sy haar tweede man by haar tienerdogter in die kamer aangetref. Sy het Anchien by die huis uitgejaag en sy moes in die skoolkoshuis gaan woon.
‘‘My ma was lief vir die man en wou nie glo dat hy so iets aan haar dogters sou doen nie,’’ probeer Anchien rede verstaan. ‘‘Ek vermoed sy het geglo dit was haar laaste kans op geluk. ‘‘Ek is geweldig trots op wat Anna vermag het.’’
Sy kry nog gereeld briefies van lesers. ‘‘Snaaks genoeg kom die meeste van mans af.’’
Hoe het sy ooit weer mans vertrou? ‘‘My man is te goed dat ek nooit weer mans sal vertrou nie,’’ sê sy.
‘‘Maar nadat jy so seksueel afgetakel is, begin jy geleidelik weer vertrou, eers net een man. Dit kan enigiemand wees, die sielkundige of die dominee. Dit is daardie een goeie, betroubare man wat die hek vir jou oopmaak.’’
SY WAS gelukkig, want dit was haar eerste liefde op skool – die boer wat haar weer laat glo het en met wie sy nou al byna twintig jaar getroud is. Hulle woon op ’n plaas in die Oos-Kaap.
Sy bewonder die verhouding wat haar man en haar dogter met mekaar het.
‘‘Ek het nie destyds so ’n man in my lewe gehad om by skuiling te gaan soek nie.
‘‘Ek dink nie geheime is ooit ’n goeie ding nie,’’ sê sy. In haar nuwe roman gaan drie vriendinne van ’n Vrystaatse dorpie op ’n reis Jeffreysbaai toe. Op pad kom ál meer verpletterende geheime uit wat twee van die vriendinne al jare lank van die ander wegsteek.
‘‘Geheime maak ’n mens soms siek,’’ sê Anchien.
‘‘My kinders weet hulle moenie geheime vir my hê nie. Geheime het die nuk om heeltemal buite beheer te raak. In jou verbeelding maak jy dit erger as wat dit is. Jy het iemand nodig wat jou weer perspektief kan gee.’’
Sy het geleer om die bose kringloop van ’n onbetrokke ma te verbreek en in haar eie gesin dit wat haar ma verkeerd gedoen het, nie te herhaal nie. Waardeur sy moes gaan, het van haar ’n beter ma gemaak, glo Anchien.
‘‘Juis omdat ek luister. En my kinders vertrou my. Hulle weet hulle kan my enigiets vertel. Maar dan moet ek ook niks vir hulle wegsteek nie.
‘‘En kinders moet geleer word om nee te kan sê. Dit is nie altyd goeie maniere om vir grootmense ja, dankie te sê nie. Sommige volwassenes buit dit uit,’’ waarsku sy.
Aan kinders wat in die web van seksuele misbruik verstrengel raak, sê sy: ‘‘Dis belangrik om so gou moontlik te praat. Daarna raak dit ál makliker om te praat en gesond te word.’’
En die belangrikste tree na heling? ‘‘Om jouself te vergewe en te besef daar is niks wat jy kon gedoen het om dit te verhinder nie. Al hoef ’n traumatiese ervaring jou lewe nie te oorheers nie, sal dit altyd deel van jou lewe wees.’’
Sy worstel self steeds om haar stiefpa te vergewe. ‘‘Maar ek werk daaraan; ek bid verskriklik daaroor. Vergifnis is belangrik vir jou eie sielerus. Ek weet ek sal eendag saam met die Here daar uitkom.’’
Anchien blaas haar asem stadig uit asof ’n sware las van haar hart gelig is. Sy is lankal ’n oorwinnaar. En nou, met haar eie naam, is sy ook nie meer ’n slagoffer nie.

VANDAG is rugby hier onttroon, al staan die motors reeds van voor tienuur vanoggend bankvas geparkeer in Eastwoodstraat naby die Loftus Versfeld-stadion in Pretoria.
Die ‘‘afskop’’ is eers eenuur vanmiddag, maar mense staan reeds tou voor die hekke.
‘‘Waar’s jou blou trui?’’vra ’n Blue Bulls-reklamebord. Maar vandag sien jy oral net blou-en-wittes, met voor op die bors: ‘‘Loftus vir Jesus’’.
Vanmiddag word hier op heilige rugbygrond geskiedenis gemaak van ’n hoër aard. Byna 72 000 mense van selfs die Vrystaat en die Noordelike Provinsie stroom deur die hekke – die grootste skare tot nog toe in Loftus se meer as 72 jaar.
‘‘Ons ken so baie mense wat sonder hoop is,’’ sê Florence Githu, wat saam met inwoners van ’n skuiling vir dakloses in Pretoria na die saamtrek gekom het. ‘‘Suid-Afrikaners is uitgemergel deur negatiwiteit. Daarom weet ek die stadion gaan vandag stampvol wees. Ons almal het geestelike petrol nodig vir die pad vorentoe.’’
Die kroeë en ander kuierplekke rondom die stadion waar mense gewoonlik voor die rugby ’n glas of twee, drie afsluk, sit vandag vol gesinne met koffie en vrugtesap op die tafel. Braaivleisrook en boerewors-geure dwarrel saam met gospelmusiek deur die strate.
Naby ’n uithangbord vir die Sin Bin Café kuierplek verkoop iemand baniere en vlae met ‘‘Jesus’’ daarop gedruk. Langsaan vlieg die Christelike T-hemde.
Dit alles is in Junie verlede jaar gebore met ’n visioen wat ’n jong boer van Middelburg gehad het. Paul du Toit het vyfuur die oggend wakker geword en ’n Goddelike teenwoordigheid in sy kamer aangevoel. Daar was ook ’n bood-skap: Reël ’n massasaamtrek van Christene. En hy het net instinktief geweet hy moet Loftus vir Jesus vul.
‘‘Ongelooflik,’’ sê Paul terwyl hy oor die skare kyk. ‘‘Ek wil nie te veel dink nie. Ek wil nie te veel praat nie, want dan gaan die trane loop. Alle eer aan God!’’
Angus Buchan, die beroemde aartappel-en-mielieboer-evangelis van KwaZulu-Natal op wie se lewe die bekroonde fliek Faith Like Potatoes gegrond is, is ’n huisvriend van Paul en sy familie, en hy was gou begeester deur dié plan.
En nou-nou gaan hy op die verhoog stap om met sy opbouende boodskap derduisende Suid-Afrikaners weer moed in te praat . . .
Hy stel hulle nie teleur nie. ‘‘As julle by hierdie stadion uitstap,’’ sê hy, ‘‘moet julle ’n besluit neem: Gaan julle Jesus se woorde oor hoop vir hierdie land glo, of die woorde van die duiwel?
‘‘Gaan terug na jul huise en verander. Gaan terug na jul ondernemings en bid voor julle in die oggend begin werk. Op elke plaas, by elke skool kan die herlewing plaasvind. God gaan vir ons ’n nuwe begin gee . . . Hy gaan Suid-Afrika red.’’
Die gewese Springbok-agterspeler Jaco van der Westhuyzen is op pad verhoog toe om voor die reuse skare sy getuienis te bring. ‘‘Wat kan ek sê?’’ vra hy. ‘‘Ek het nog nooit so baie mense op Loftus gesien nie.’’
‘‘Die Here sê waar twee of meer mense in sy Naam vergader is, daar is Hy. Ons is meer as 70 000 vandag hier in sy naam vergader,’’ jubel Michael Mol, TV-persoonlikheid, wat die seremoniemeester is.
Die Sowetan String Quartet speel gewyde gunstelinge, Juanita du Plessis sing haar treffer: ‘‘Hoër as die son, na die Lig, ek vlieg hoog,’’ en die skare sing Die Loftus vir Jesus-lied: ‘‘In die naam van die Heer / In die naam wat regeer / Pleit harte wat brand / Vir die nood in ons land . . .’’
Namate die middag vorder, spoel ’n see van gebed en lof-sange deur die stadion. Vreemdelinge bid vir mekaar en vir die land. En wanneer die Onse Vader uit derduisende kele opstyg en sweef na die Unie-gebou ’n paar blokke daarvandaan, voel dit asof die geestelike krake ook in my eie siel opgevul word.
Kort-kort skuif die skaduwees van wolke oor die stadion, so asof die teenwoordigheid van ’n Hoër Hand Hom sigbaar maak.
‘‘God is vandag hier,’’ beaam Angus nadat hy op sy kenmerkende manier hoed in die hand op sy knieë afgegaan het om te bid. ‘‘Op hierdie geskiedkun-dige gebeurtenis moet ons ons verbind tot versoening; versoening tussen pa en kinders; vrou en man; swart, wit, bruin en Indiër.’’
Hy vertel van ’n man wat wou selfmoord pleeg nadat sy vrou hom gelos het. Toe tel hy toevallig Huisgenoot van 15 Mei 2008 op waarin ’n onderhoud met Angus verskyn, en hy word so begeester dat hy van sy plan afsien.
Teen vyfuur die middag vloei derduisende mense soos ’n stroom positiewe energie by die stadion uit. ’n Vrou sit haar arm om haar huishulp se skouer en sê: ‘‘Ek is so bly jy was hier.’’
Bestuurders van blink viertrekvoertuie gee outjies in rammelkasse kans om by die ver-keerstroom in te kom – selfs al het die Bokke vroeër die dag teen Australië verloor.
Die duiwel – soos my predikant-pa sou sê – het vandag hier op Loftus ’n helse pak slae gekry.

TOE hulle nou die dag hul eerste huweliksherdenking vier met ’n romantiese kers-ligete vir twee en geskenke, was die bekende TV- en radioman Mark Pilgrim en sy vrou, Nicole, salig onbewus daarvan dat sy hart ’n tikkende tydbom is.
‘‘Ek het eers gedink dis sooibrand,’’ vertel Mark (38) eksklusief vir Huisgenoot uit sy hospitaalbed in die Morning-side Medi-Clinic kort nadat die nuus van sy amper noodlottige hartaanval bekend geword het. ‘‘Dis nie die soort ding wat ek ooit gedink het met my sou
gebeur nie.’’
Dis vreemd om die gewoonlik lewendige, energieke media-persoonlikheid so bleek en moeg te sien. Nicole is langs sy bed, soos amper elke oomblik sedert hy twee dae tevore in die waakeenheid opgeneem is. Hy is nou in ’n private kamer vol blomme van mense wat hom beterskap toewens.
Mark erken hy is uitgeput, maar hy voel elke dag vroliker, sê hy, en hy kry dit selfs reg om ’n paar grappe te maak terwyl hy vertel hoe hy by die dood omgedraai het.
En dat die feit dat hy vandag leef, daaraan te danke is dat hy op die regte tyd op die regte plek was.
’n Paar dae ná sy herdenkingsviering het hy borspyne begin kry op die stel van M-Net se nuwe speletjiesprogram Power of 10, wat hy sal aanbied.
‘‘Dit het gevoel asof ek gewond word, asof ek versmoor. Ek kon eenvoudig nie genoeg asem kry nie.
‘‘Jy sou dink as jy ’n hartaanval kry, sou jy dit in jou hart voel, maar wat ek gevoel het, was hierdie verskriklike, versmorende drukking op my bors.’’
Toe hy nog twee keer die benoudheid en drukking ervaar, het hy begin bekommerd raak. Op die oggend van Sondag 13 Julie het hy sy dokter, Julie Milton, gebel en sy het hom gevra om so gou moontlik vir ’n ondersoek te kom.
Mark, wat sewe dae per week werk weens sy radioprogramme op Highveld Stereo en Kfm 94.5 en sy optredes as seremoniemeester en platejoggie, het nie plek in sy vol program gehad nie.
Was dit nie dat sy stemwerksessie die Maandag-oggend gekanselleer is nie, het hy nooit betyds by die dokter uitgekom nie, sê hy.
‘‘Die dokter het eers gedink ek kry angsaanvalle weens stres. Dit is baie spannend om ’n TV-program aan te bied. Jy moet jou werk 130 persent gee om ekstra kreatief te wees,’’ sê Mark.
Hy het werklik sleg begin voel terwyl hy in Julie se spreekkamer gewag het. ‘‘Ek het selfs ’n grappie gemaak en gesê die pyn raak erger weens die hoë rekening wat op pad is.’’
En net daarna het hy die hartaanval gekry.
‘‘My vingers het gebewe en ek het geweldig begin sweet. Hulle het toe ’n EKG gedoen en Julie het gesê: ‘Jy is besig om op hierdie oomblik ’n hartaanval te kry.’
‘‘Ek het nie dadelik verstaan wat sy bedoel nie. Ek onthou dat ek gedink het: Kan dit waar wees? En dat ek haar gevra het of ek self later na die hospitaal kan ry. Sy het geantwoord: ‘Jy verstaan nie. As jy nie nou gaan nie, gaan jy sterf.’ ’’
Hy het Nicole (30) dadelik gebel. Sy kon dit nie glo nie. ‘‘Mark is die gesondste mens wat ek ken,’’ sê sy. ‘‘Hy gaan drie of vier keer per week gimnasium toe, rook nie, drink selde alkohol en eet baie min vet.’’
Mark stem saam. ‘‘Ek eet genoeg hoender om ’n eier te kan lê,’’ skerts hy. ‘‘En ek gooi nie eens melk by my hawermoutpap nie.’’
Julie sê toe Mark haar kom spreek het, was hy ‘‘jolig en vol geselsies. Hy het goed gelyk en ons het gesels oor die getroude lewe, sy huweliksherdenking en sy werk. Hy het my vertel hy was onder baie stres en dat hy sedert die vorige Woensdag af en toe pyne op sy bors gekry het. Hy het ook vertel hy het sooibrand en ’n vreemde smaak in sy mond.’’
Sy het eers nie iets ernstigs vermoed nie aangesien sy simptome soortgelyk was aan dié van sooibrand en angsaanvalle.
‘‘Maar met die ondersoek het sy hartklop skielik verdubbel. Hy het gesê hy voel duiselig, sy hande het klam geword en sy vingers het dood gevoel. Ek het hom gevra om te lê en vir hom water gaan haal. Ons het toe die EKG gedoen, wat gewys het dit is ’n hartaanval. Ek het dit vir hom gesê, maar hy het nie paniekerig geraak nie.’’
’n Ambulans is dadelik ontbied en hulle het met Mark na die hospitaal gejaag, waar dokters ’n stent in sy kroonslagaar geplaas het. Julie sê Mark het nog nooit sy cholesterol laat toets nie omdat hy altyd geglo het hy is gesond – maar dit blyk nou sy geneties hoë cholesterolvlakke het die blokkasie in sy slagaar veroorsaak.
Die stent sal nou permanent in sy slagaar bly om te verseker dat genoeg bloed en suurstof sy hart bereik.
Die dokters het ook die slegte nuus oorgedra dat sy hart net op 80 persent van sy volle kapasiteit funksioneer.
‘‘Die werklikheid is dat ek ’n ernstige hartaanval gehad het,’’ sê Mark. ‘‘Op ’n skaal van een tot tien sê die dokters myne was ongeveer sewe. As ek nie by my dokter was nie, sou ek nie nou met jou gepraat het nie. Dit sou klaarpraat gewees het met my.’’
ONDANKS sy gesonde leefstyl was die gevaartekens heeltyd daar, besef hy nou.
‘‘Ironies genoeg word ek as een van die gesondste mense hier rond beskou, maar gene is die een onbeheerbare veranderlike.’’
Sy pa, Bill Pilgrim, het op veertig ’n hartaanval gehad en moes vier jaar later ’n dubbele hartomleiding ondergaan. Bill, wat nou in Brittanje woon, het dadelik na Suid-Afrika gevlieg om sy seun te sien toe hy van sy terugslag hoor.
‘‘My cholesterolvlakke was hemelhoog en ek was onbewus daarvan. Ek is geneties vatbaar daarvoor en dit was my waar-skuwing. Jy dink dit gaan nooit met jou gebeur nie, veral nie op my ouderdom nie, maar dit kan enigeen tref.’’
Hy hoop sy ervaring sal ’n les wees vir ander. ‘‘Ons almal behoort ons af te vra: Wanneer laas het jy jou cholesterol laat nagaan?’’
Mark is toegegooi onder die boodskappe van steun en simpatie van luisteraars van sy radioprogram.
‘‘Een luisteraar het gesê hy het besef hy sal ook nou ’n bietjie die pas moet verslap.’’
En dis presies wat Mark, ’n selferkende werkslaaf wat sewe dae per week woel, wil doen. Hy het reeds sy seremoniemeester-verpligtinge vir die res van die jaar verminder en beoog om voortaan rustiger te lewe.
Hy sal aan die rustiger pas gewoond moet raak, maar ’n bekommerde Nicole, wat tussendeur tyd ingeruim het om haar korporatiewe stempos-en-skakelbordmaatskappy te bly bedryf, het ’n plan beraam.
Sy het begin deur beslag te lê op haar man se kosbare skootrekenaar sodat die versoeking nie so groot is om gedurig na sy e-posse te loer nie.
‘‘Hy is altyd op sy rekenaar doenig. Dis onmoontlik om hom daarvan weg te kry,’’ sê sy. ‘‘Die eerste ding wat hy soggens doen, is om die rekenaar aan te skakel, selfs voor hy gaan stort of koffie maak. Hy is verslaaf aan daardie masjien.’’
M-Net het intussen die vervaardiging van Power of 10
gestaak tot die dokters besluit het of Mark sy pligte as gasheer kan hervat. Mark is optimisties dat hy ten volle sal herstel.
‘‘Ek raak elke dag sterker,’’ sê hy.
‘‘Ek kan dit voel. Gister het die dokters my toegelaat om vir die eerste keer badkamer toe te gaan en ek kon skaars loop – dit het gevoel asof ek kan sterf. Maar vandag het ek ’n bietjie in die gang rondgeloop en ek voel stukke beter. Ek was steeds moeg, maar nie so klaar met die lewe soos die dag tevore nie.’’
Hy sal ook hierdie struikelblok oorbrug, sê hy, nes met sy stryd teen kanker van die testikels op negentien. Dokters sê die chemoterapie wat hy ontvang het, het niks te doen met sy hartaanval nie.
Mark sal nou moontlik elke dag medisyne moet neem om sy hoë cholesterolvlakke in bedwang te hou en hy sal steeds ’n gesonde – en nou ook meer stresvrye – leefstyl handhaaf.
Hy het sy jeug aan sy kant, sy pragtige vrou aan sy sy en oorgenoeg dryfkrag om enigiets te kan oorwin.
‘‘Ek het al een stryd in my lewe gewen,’’ sê hy.
‘‘Hierdie een is maar net nog ’n slaggat in die pad.’’

Towerkrag op note!
Pieter van Zyl
DIS nie net ’n legende nie: Madiba magic bestaan regtig. En hoe ouer en broser oudpres. Nelson Mandela word, hoe sterker raak sy towerkrag.
Nog nooit het ek dit so intens beleef soos toe my beursie iewers in die ingewande van die Londense moltreinstelsel – of was dit dalk op een van die talle rooi dubbeldekkerbusse? – weggeraak het nie.
Dis die aand voor die geskied¬kundige 46664-konsert ter ere van Madiba se negentigste verjaardag en ek sit moedeloos in die gietende reën sonder belgeld, bank- en kredietkaarte en ’n reispas duskant die Canada Water-stasie in die buitewyke van Londen.
‘‘Please, I’m lost. No money, no ticket. I’m from South Africa. I’m here for Nelson Mandela’s birthday,’’ bedel ek ’n rygeleentheid by ’n bestuurder van ’n no. 381-bus.
En voor ek my oë uitvee, het hy my voor die deur van die gewilde Suid-Afrikaanse musiek-kroeg Aardvark in Rotherhithe aan die Teems afgelaai.
Mandela se naam maak beslis deure oop – en nie net bus-deure nie. Tot die gewoonlik stroewe doeanebeamptes op die Heathrow-lughawe het skielik ontdooi toe ek vertel ek is spesiaal in die land om tata Madiba se konsert te dek.
‘‘Nice job you’ve got,’’ is al wat die beampte sê terwyl hy die Britse poorte deur sekerheid vir my laat oopgaan...
DIE konsert vir Madiba is groot nuus in Engeland. ‘‘Stars shine for Nelson’s special day’’ en ‘‘Man, this guy has important friends,’’ is van die opskrifte by foto’s van Madiba by Bill Clinton en Gordon Brown of by Oprah Winfrey en Robert de Niro, Will Smith en Elton John...
Sowat 520 beroemdes daag op vir die gala-aand in Hyde Park waar Madiba-kosbaarhede voor die konsert vir miljoene opgeveil word ten bate van sy MIV/vigs-bewusmakingsveldtog in Afrika. Elton bie vergeefs teen Oprah en sy dok £1,4 mil¬joen (meer as R22 miljoen)
op vir ’n brief in Mandela se handskrif.
Nadat daar in die week voor die konsert druk bespiegel is of Madiba sy stem gaan voeg by die protes teen pres. Robert Mugabe se verkiesingsirkus, spreek hy hom wel die aand uit oor ‘‘die tragiese mislukking van leierskap in Zimbabwe’’ .
En as Mandela praat, luister die wêreld. Soos die Kanadese sangsensasie Josh Groban sê: ‘‘Elke woord wat jy in sy teenwoordigheid sê, is ’n verlore geleentheid om te hoor wat hy te sê het.’’
In Hyde Park lyk dit amper soos by die Bokke se Wêreld-beker-oorwinning met Suid-Afrikaanse vlae en ’n see van groen Springboktruie. Baniere juig: ‘‘Nelson rocks!’’ Vuvuzelas laat die Britte keer op keer in hul bier stik. ‘‘Sho¬sholoza,’’ dreunsing Suid-Afrikaners tussen rock-ballades deur.
Die Grammy-wenners die Soweto Gospel Choir is reg deur die konsert op die verhoog om met hul engelesang en helder klere ’n Suid-Afrikaanse geur aan elke liewe liedjie te gee. Plaaslike musieksterre soos Kurt Darren, Sipho (Hotstix) Mabusa en Loyiso is daar om in Vusi Mahlasela se woorde ‘‘die kinders van Afrika op te roep om te sing, want dit is die musiek van die mense’’.
Swart en wit, oud en jonk, Brit en Boer is hier saam om een rede: om soos U2 se Bono, die Britse F1-renjaer Lewis Hamilton, die akteurspaar Will Smith en Jada Pinkett Smith, Quincy Jones, Leona Lewis en Annie Lennox dankie te sing vir die man wat vergewe het eerder as om te vergeld.
En toe Johnny Clegg saam met die aktivis-folksanger Joan Baez die liedjie Scatterlings of Africa sing, word dit die klankbaan vir uitgewekenes en vlugtelinge van die vasteland.
’n Zimbabwiese vlag en ’n wit vlag met ’n blou vredesteken wapper soos ’n gebed oor die skare. ‘‘Ons eis vryheid vir Zimbabwe en vra julle om julle uit te spreek teen die bedrieglike verkiesing daar. Demokrasie vir Zimbabwe!’’ skree Johnny Borrell, hoofsanger van die rockgroep Razorlight, in ’n T-hemp van die opposisieparty, die MDC.
‘‘Ek wil nie net nog ’n sterwende en verhongerde vlugteling wees nie,’’ sing die Soedannese hip-hop-kunstenaar Emmanuel Jal ’n bietjie later. Hy is as sewejarige kindersoldaat deur ’n Britse hulpdienswerker saam met 150 ander kinders gered en na Engeland gebring.
‘‘Neem Nelson Mandela as ’n voorbeeld. Doen die regte ding,’’ roep Josh Groban wêreldleiers op voor hy saam met Vusi Mahlasela die liedjie Weeping sing.
Nadat talle Afrikaanse uitgewekenes gehoop het Kurt Darren sal darem ook ’n Afrikaanse liedjie kan sing, wou die organiseerders nie eens toelaat dat hy ’n Afrikaanse versie by die liedjie Gimme Hope, Joanna inglip nie. Tog lewer hy een van die aand se hoogtepunte op toe hy dit saam met die reggae-legende Eddy Grant sing.
VIR die Suid-Afrikaners in die gehoor kan nie eens Amy Winehouse of selfs Queen Madiba se kollig steel nie. Ná byna drie uur van harde rock en reggae kon jy skielik ’n speld in die park hoor val toe hy aan die arm van sy vrou, Graça Machel, oor die verhoog skuifel tot in die kollig.
Die skare van meer as 40 000 hou hande vas. Vreemdelinge het in daardie paar minute vriende geword. Hierdie konsert is ’n gebeurtenis waarvan ons eendag vir ons kinders sal sê: ‘‘Ek was daar.’’
In die gewyde stilte is dit kompleet asof almal asem ophou. Op daardie magiese oomblik is dit vir almal duidelik: Hier voor ons op die verhoog word geskiedenis gemaak. Dit is heel moontlik die laaste keer dat Madiba voor so baie mense in die openbaar sal verskyn.
‘‘Asseblief, waai vir die mense,’’ moet Graça haar man aanpor. Toe glimlag hy daardie bekende, sonnige glimlag en hy waai vir die skare wat skree-sing: ‘‘For he’s a jolly good fellow. Nelson, Nelson. It’s in your hands! We are in you hands!’’
Toe praat hy en roep die konsert in herinnering wat met sy sewentigste verjaardag onder die Free Mandela-vaandel gehou is: ‘‘Vriende, twintig jaar gelede het Londen ’n geskiedkundige konsert gehou. Oor die water heen het julle ’n oproep vir ons vryheid gedoen en dit het ons tronkselle bereik. Daarom staan ek vandag in Londen hier voor julle: vry.
‘‘Dis ’n wonderlike geleentheid, maar ons werk is ver van klaar af. Dit is tyd vir nuwe hande – dit is nou in jul hande. Asseblief, vriende, hou vol met jul steun,’’ sê hy voor hy weer met Graça se hulp van die verhoog stap.
Liefderik sê sy hoorbaar oor die luidspreker: ‘‘Kom, vat my skouer sodat ons kan aanbeweeg.’’ Soos Stephen Fry, die gerespekteerde Britse akteur, regisseur, komediant, skrywer en ’n aanbieder by die geleentheid sê: ‘‘Reg deur die konsert kon ek dit voel – die liefde wat soos branders in ’n see van liefde vir mnr. Mandela teen die verhoog gebreek het. Vat hierdie liefde saam met julle.’’
Dat ek Londen toe moes kom om hierdie gevoel van absolute verwondering en hoop weer te beleef! Vir die eerste keer in maande is ek trots Suid-Afrikaans.
As ek maar net met ’n erdekruik deur hierdie skare kon hardloop en hul gees van liefde, welwillendheid en gemeen-saamheid kon opvang.
Dan sou ek dit uit die vliegtuig oor my land kon uitgiet wanneer ek na die plek van my hart se suidpunt terugkeer.
Kort ná elf op Vrydag 27 Junie, met die laaste akkoorde van Free Mandela wat deur die strate van Londen opklink, word ek in die begeestering van my medekonsertgangers opgeneem.
Hulle neurie hierdie proteslied deur die strate van Mayfair en die res van die middestad van Londen heen, in die moltreine en op stasies.
Hierdie positiewe energie dra my terug Suid-Afrika toe waar ek wil bly sing: ‘‘Bevry Mandela van siekte, pyn, hartseer – en die dood.’’

Romanse in Rome
Deur Lucia Swart
AAN die pragtige Cindy Nell se linkerhand skitter ’n allemintige diamant en hierdie keer weet sy sommer dit gaan net daar aan haar ringvinger bly.
‘‘Dit kon nie meer spesiaal gewees het nie,’’ vertel die TV-aanbieder en voormalige Mej. Suid-Afrika van haar verlowing aan die Johannesburgse sakeman Clive Roberts (36) in Rome.
‘‘Maar hy kon net ’n toutjie om my vinger gebind het en ek sou ook ‘ja’ gesê het,’’ laat hoor sy en kyk met oë na hom wat net so blink soos daardie knewel van meer as vier karaat aan haar ringvinger.
Net meer as anderhalf jaar gelede is Cindy (26) se verlowing met die krieketster Jacques Kallis verbreek, maar nou het sy weer geluk gevind.
Hier in ons kantoor in Johannesburg is haar vingers liefderik met dié van haar aanstaande verstrengel. Hulle is ’n aantreklike paartjie: Hy met sy rooiblonde hare en ligte vel, sy met haar donkerkop en sonbruin vel.
Aan die begin van verlede maand het sy glad nie vermoed hy wil ná ’n verhouding van net meer as ’n jaar die jawoord vra nie. En nog minder dat dit op ’n romantiese vakansie in Italië sou gebeur.
‘‘Ek het eers gedink ek sou haar vra as ons op Capri is, maar in Rome het ons een aand by Tre Scalini op die geskiedkundige Piazza Navona gaan eet,’’ vertel hy.
‘‘Dit was so spesiaal, maar dit is toe die een aand wat ek nie die ring by my gehad het nie.’’
Clive het heeltyd die ring in sy broeke se geldsakkie weggesteek. ‘‘Ek het geweet sy sou iets agterkom as sy ’n boksie in my tas sien,’’ verduidelik hy. Die volgende aand, 5 Junie, het hy haar oorreed om weer na dieselfde restaurant te gaan. En terwyl musikante romantiese kitaarmusiek getokkel het, het hy op sy een knie gaan staan.
‘‘Hy het gesê hy is lief vir my met sy hele hart en wil hê ons moet die res van ons lewe saam wees. En toe vra hy my om te trou,’’ vertel Cindy. ‘‘En weet jy wat was haar antwoord?’’ vra Clive. ‘‘Sy het gesê: ‘Jy speel seker.’ ’’
‘‘Toe vra hy my: ‘Is dit jou fi¬nale antwoord?’ Ek het begin huil en gesê natuurlik sal ek met hom trou,’’ vertel sy verder. Hulle kyk vir die soveelste keer diep in mekaar se oë. ‘‘Ek is die gelukkigste man op aarde om haar te hê,’’ sê hy. Dan skud sy haar kop. ‘‘Nee, babe, ek is die gelukkige een.’’
HUL paadjies het al in 2003 gekruis toe sy vir ’n kitsverbruining na ’n salon is wat sy verbruiningsproduk, Caribbean Tan, verkoop.
‘‘Maar ons was albei nog in ’n verhouding en het mekaar nie weer daarna gesien nie,’’ vertel Cindy, ’n aanbieder van die leefstylprogram Pasella.
Clive, wat oorspronklik elektroniese ingenieurswese geswot het, was op 26 die jongste mens tot nog toe in die land wat ’n tegnologie-onderneming, MMW, op die Johannesburgse aandelemark gelys gekry het.
Daarna het hy die skoonheidsbedryf betree en ’n maatskappy met die naam Cosmetix gestig. Hy was aan die begin van 2007 vir sake in Los Angeles toe hy Cindy toevallig in ’n hotel raakloop. Sy het daar modelwerk gedoen.
‘‘Ons was toe albei enkel¬lopend en daar was onmiddel¬lik ’n vonk tussen ons. Ons het saamgekuier en terug in Suid-Afrika ’n paar keer gaan uiteet. Ons was eers net vriende, maar die verhouding het baie vinnig ernstig geword,’’ vertel sy.
Sy glo vas hy is die man vir wie sy al jare bid. ‘‘Ek dink God het net een man vir my en dit is Clive. Ek het Hom so mooi gevra om vir my die volmaakte man te stuur, en Hy het. Ek is so gelukkig.’’
Sy het kort daarna by hom in Morningside, Johannesburg, ingetrek. ‘‘Ek het altyd gesê ek sal nie weer met ’n man saamwoon voor ek getroud is nie, maar toe my en Clive se verhouding ernstig raak, was ek so min by my eie huis dat dit net beter was dat ek by hom intrek. Ek dink ook ek het diep in my hart geweet hy is die een.’’
Voor hul vertrek Italië toe het Clive saam met die bekende juwelier Jack Friedman die plati¬num¬ring met ’n vierkantige diamant in die middel en drie ronde diamante aan weerskante vir Cindy ontwerp.
‘‘Dit was nie moeilik nie, want ek het geweet waarvan sy hou,’’ vertel Clive. ‘‘Die groot ding was dit moes ’n verrassing wees. En dit was moeilik om dit vir haar weg te steek. Sy is ’n vreeslik nuuskierige mens,’’ terg hy en trek sy verloofde stywer teen hom vas.
Dit het soms fyn beplanning gekos om op lughawens deur sekerheid te gaan sonder dat sy besef daar is ’n verloofring in sy broeksak.‘‘Dit was ’n groot verrassing,’’ sê Cindy en plant ’n soen op Clive se wang.
Dit was vir haar belangrik om ’n man te kry met dieselfde waardes as sy, sê sy. ‘‘Ons is albei baie gelowig en bid elke dag saam. Ons praat oor alles en buiten dat ek vir hom lief is, is hy my beste vriend.’’
Respek vir mekaar en vir ander mense is vir hulle baie belangrik. Juis daarom was sy so ontsteld toe sy met hul terugkeer van die vakansie hoor ’n vrou teen wie sy kort tevore vasgery het, beweer nou Cindy het haar afbrekende goed toegesnou.
Sy het in Sandton met haar Jeep Cherokee van agter teen Palesa Ramudibe se Citi Golf vasgery. Volgens mediaberigte het sy vir Palesa gesê: ‘‘As ’n mens kyk na die soort kar wat jy ry, kan jy sien jy is een van daai mense wat nie ver in die lewe sal kom nie.’’
Cindy ontken dit. ‘‘My ma ry ’n Citi Golf en sy is ’n wonderlike vrou. Buitendien is materiële goed nie vir my belangrik nie. Dit het my diep seergemaak.’’
Maar nie eens hierdie onaangenaamheid kan haar opgewondenheid oor die troue demp nie. Die paartjie wil teen aanstaande Februarie of Maart op Clive se plaas naby Nottingham Road in die Middelland van KwaZulu-
Natal afhaak. Sy wil beslis ’n tradisionele balrok dra en oorweeg dit om al die gaste te vra om ook wit te dra vir ’n sprokies-effek.
En natuurlik wil hulle kinders hê. Hulle is baie positief oor die land en sien uit daarna om hul kinders hier groot te maak.
‘‘Hier is soveel negatiewe dinge wat gebeur, maar ek glo verandering kan nie sonder uitdagings kom nie. Ons het ’n prag-tige land met baie geleenthede en ons is opgewonde daaroor om hier te bly,’’ sê sy.
Clive trek sy vingers liefderik deur haar hare. ‘‘Ek wou vir jou iets spesiaals gee, want jy is so spesiaal,’’ sê die verliefde man.
En as die ring so besonders is, kan ’n mens jou klaarmaak vir ’n troue so reg uit ’n sprokie...

LeChaim en liefde in die bos
DIS al laatmiddag op ’n winterdag, maar die Afrika-son bak nog met mening op die glansmense neer wat hierheen gestroom het vir ’n troue in die bos – ’n heel besonderse een.
Vergeet van ’n giggelende blommemeisie of ’n strooimeisie wat moet hand bysit met die bruid se sluier. Want hierdie bruid het nie een nie, ook nie eens ’n ruiker nie. En sy dra nie wit nie.
‘‘Ag, asseblief,’’ lag Edith Venter (57), stralend in pruimkleur aan die sy van haar bruidegom,
Johnny Schwartz, ’n finansiële raadgewer. ‘‘Dis my vierde keer voor die kansel en Johnny se tweede. Hoekom moet ons die tradisionele trou-ding doen? Ons is klaar daarmee.’’
Edith, eksvrou van die multimiljoenêr Bill Venter, eertydse sosiale vlinder en deesdae ’n partytjiebeplanner, is juis bekend vir haar humorsin en die vermoë om met haarself te spot.
Voeg ’n innemende geaardheid hierby en dis g’n wonder nie dat soveel van Suid-Afrika se voorste sakemense en vermaakkunstenaars die rit na die Thornybush-wildreservaat naby die Krugerwildtuin aangepak het vir die twee dae lange huweliksviering.
Tweehonderd gaste, onder wie die voormalige Mejj. Suid-Afrika Amy Kleinhans-Curd en Vanessa Carreira-Coutroulis, die aktrises Brümilda van Rensburg en Catriona Andrew, die TV-aanbieders Leanne Manas en Baset-sana Kumalo en die biljoenêr
Patrice Motsepe en sy vrou, dr. Precious Moloi-Motsepe, het geduldig in die son sit en wag tot die bruidspaar in ’n safari-voertuig opdaag.
Toe staan hulle soos een man op terwyl bruid en bruidegom op maat van Frank Sinatra se treffer It Had to Be You hand aan hand in die paadjie afstap. Die gaste klap hande toe die paar onder ’n afdak in die bos gaan staan. Met dié dat Johnny (49) Joods is en Edith ’n Christen, het hulle alle godsdienstige seremonies laat vaar.
Tegnies is die twee al klaar getroud. ’n Huweliksbeampte het hulle vroeër die week amptelik by hul huis in Sandton getrou.
Maar vir Edith en Johnny was die ondertekening van die huweliksregister ’n blote formaliteit.
Wat hulle betref, trou hulle nou hier in die winterson in die oop veld by Thornybush – die plek waar Johnny homself beloof het hy sal trou as hy ooit weer afhaak. Hulle het ook al twee keer saam hier vakansie gehou en dit hou vir hulle be-sondere herinneringe in van die dae toe hulle verlief geraak het.
Die bruidspaar kyk diep in mekaar se oë terwyl hulle trou beloof. Gordon Cohen, ’n doktersvriend, lei die seremonie. Johnny mompel saggies sy woorde.
‘‘Hy is so senuagtig,’’ sê Edith, soos altyd vol selfvertro